
Bloedsomer deur Sidney Gilroy (Human & Rousseau, 2024)
Bloedsomer
Sidney Gilroy
Uitgewer: Human & Rousseau (2024)
ISBN: 9780798184212
Epub ISBN: 9780798184229
Sidney Gilroy skryf soos ’n joernalis. En dit is ’n kompliment. Toeganklik en sonder ritse byvoeglike naamwoorde. Op die man af. Soms selfs byna gestroop. Hy fokus net op die storie wat jou nie vir ’n oomblik los of aandagafleibaar maak nie. Die lekker kort hoofstukke maak die reeds maklike leesproses nog makliker.
Krimi’s is een van die gewildste genres. Die rede wat al daarvoor aangevoer is, is dat die booswig, anders as in die werklike lewe of met niefiksie, selde met moord wegkom. Die leser beleef dan ’n heerlike soort schadenfreude.
Bloedsomer strek oor twee dekades. Die rede daarvoor is dat dit al manier was waarop Gilroy die ontvouing van die Heemstra-familie se tragedie kon verhaal.
Op Bloedsomer se agterplat word gevra wat Die Clowns, ’n Russiese skeepskaptein en die matriarg van die vooraanstaande Heemstra-familie se testament gemeen het. Klink nogal sinister.Voeg daarby orgaan- en mensehandel en die interessante karakter, Petunia Moraleng, voormalige stasiebevelvoerder op Parys wat haar rang kwyt is en oorgeplaas is na Mooibaai toe, ’n idilliese vakansiedorp waar die ondenkbare gebeur. Sy moet dan boonop aan speursersant JP Hendriks rapporteer wat haar nie juis simpatiekgesind is nie.
Die ander karakters, soos Arno, Heila, Monja en Albaster, is so uiteenlopend soos maar kan kom.
Daar is in die aanloop tot die moorde oorgenoeg om jou te ontstel: ’n onverbiddelike vaderfiguur, kindertrauma, ’n disfunksionele gesin, disrespek teenoor vroue, en vreesbevange plaaswerkers.
As hoofondersoekers in ’n duistere moordsaak moet Petunia en JP saamwerk.
Dit volg nadat ’n vakansieganger ’n afgryslike toneel met sy hommel se kamera vasvang waar ’n bebloede bondeltjie mens in ’n afgeleë stuk veld lê. Die spanning loop hoog wanneer ’n foto van nog ’n slagoffer in ’n stegie in die onderdorp soos ’n veldbrand in die media versprei.
Hy beskryf hulle soos volg “Jonk. Lenig. Halfnaak.”
........
Wat die meeste beïndruk, is hoe op aarde Gilroy, ’n sterk, gespierde Afrikaanssprekende man, dit oortuigend regkry om in ’n vrou se kop te klim. Dit moes moed en emosionele insig gekos het. En dan nog boonop iemand van ’n ander ras en kultuur as syne.
........
Wat die meeste beïndruk, is hoe op aarde Gilroy, ’n sterk, gespierde Afrikaanssprekende man, dit oortuigend regkry om in ’n vrou se kop te klim. Dit moes moed en emosionele insig gekos het. En dan nog boonop iemand van ’n ander ras en kultuur as syne.
Patricia is ’n sterk, vreeslose, uitgesproke en komplekse karakter – nie ’n katjie om sonder handskoene aan te pak nie.
Sy is aanvanklik onpeilbaar, maar eendimensioneel is sy nie.
Gilroy slaag daarin om onder die harde en formidabele uiterlike ’n mens met empatie en deernis te beskryf. ’n Vrou met ’n groot hart wat met toewyding werk, al dink jy aanvanklik sy is te afstandelik.
Nog iets wat veral niefiksieskrywers/lesers beïndruk, is die deeglike navorsing wat hy moes doen om feitelik te oortuig.
Fiksieskrywers suig nie net ’n storie uit hul duim nie. Hulle lees op, voer onderhoude met kenners en besoek die plekke waar die storie afspeel. Ek haal byvoorbeeld my hoed af vir die skrywer Martin Steyn wat ’n outopsie bygewoon het om eerstehandse inligting vir een van sy krimi’s te kry.
........
Fiksieskrywers suig nie net ’n storie uit hul duim nie. Hulle lees op, voer onderhoude met kenners en besoek die plekke waar die storie afspeel.
........
Daardie grillerige misdaad, orgaanhandel, moes heelwat navorsing geverg het. Sonder om te klink of hy ’n mediese woordeboek ingesluk het, kry Gilroy dit reg om die prosedures in medies-forensiese terme beskryf.
Gilroy deins ook nie daarvoor terug om ’n liggaam te beskryf en so te bepaal hoe lank iemand al dood is nie.
Soos: “‘En sy is nou maar ’n paar uur dood,’ kom dit van JP. ‘Check hoe styf is dit nog van die rigor mortis. Dit disappear mos eers na twenty-four hours.’”
Dialoog wat lekker lees. Nes regte mense in die regte lewe praat.
Gilroy se vriendskappe met polisie-amptenare (so het hy al in onderhoude gesê) asook ’n kursus in speurondersoeke wat hy meegemaak het, dra daartoe by dat hy die polisieprosedures ook raak kon beskryf.
Hy het al daarvan melding gemaak dat hy graag sy verhaal en karakters in ’n omgewing plaas wat hy self ken. Hy doen moeite om sy misdaadtonele self te besoek en met al sy sintuie waar te neem.
Agterstrate, ravyne, verlate velde, dongas en grotte.
Hy het al vertel dat hy oor klowe en van hange af klouter om ’n realistiese beeld te verkry.
Mens lees en leer ook in Bloedsomer meer oor die geestesversteuring disassosiatiewe identiteitsteuring (DID), volgens sielkundiges ’n uiters seldsame maar verwikkelde toestand. Dit bied ’n welkome afwisseling vir bipolêre gemoedversteuring wat die afgelope jare besonder baie aandag van die media gekry het.
Na DID is in die verlede verkeerdelik as ’n “gesplete persoonlikheid” verwys.
Geen boek is te donker vir humor nie, want dit verlig die spanning vir ’n wyle.
........
Geen boek is te donker vir humor nie, want dit verlig die spanning vir ’n wyle.
........
Soos: “Dominee Robertson is ’n kort man wat lyk asof hy die bolaag van sy bleskop in ’n tragiese insident met ’n plat graaf verloor het. Sy bakore ding met sy hoof mee om die vernaamste posisie.”
So skryf hy ook; “Asof beurtkrag so pas opgehef is, gaan die ligte in JP se kop aan.”
Sy beskrywings soos “Die portrette is vol dramatiese tonele van swane wat op mere vaar of hemelhoë gebergtes waarbo wolke in die blou hemelruim dryf” laat mens glimlag.
Oor die slot swyg ek. Kom ons sê maar net dis nie wat mens verwag nie. Hou maar jou hart vas – veral met die ontplooiing van die Roan/Arno-karakter.
Bloedsomer is Gilroy se vierde en hopelik nie laaste boek nie. (Sy werk is al as spanningsfiksie, misdaadromans, domestic noir, verhoudingsromans en rillers beskryf.)
Ek wil weer van en meer oor Petunia lees, en ek hoop sy word gou bevorder.
Sy verdien dit.
Lees ook:

