Titel: Middernag
Skrywer: Sidney Gilroy
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798180542
Anders. Ja, dit is hoe Middernag deur Sidney Gilroy opgesom kan word. Dié roman is die tweede uit die skrywer se pen en kan afsonderlik van Klikbek, sy debuutroman, gelees word. Die titel staan sentraal in die ontsluiting van die storielyn. Nie net verwys Middernag na ’n rondloperkat nie, maar dit simboliseer die onderwêreld van Harrismith wat na sononder lewe kry.
Die gemeenskap van Harrismith word geruk deur twee kinderverdwynings en ’n verminkte vierjarige wat in ’n roomyskarretjie gevind word. Kaptein Brummels, wat baie naby aan aftrede is, en sersant Sollie Mthembu van Bloemfontein se hulp word ingeroep. Baie gou word die ander kant van Harrismith se samelewing uitgelig. Die grusaamheid van die vonds in die roomyskarretjie span die spanningslyn snaarstyf. Dan wil-wil sersant Mthembu nog boonop die ondersoek aan die vermeende moordenaar “Die Slagter” wat destyds verwoesting onder jong kinders in Bloemfontein gesaai het, koppel.
Temas en kwessies wat in die storielyn ingewerk is, sluit die onderwêreld van dwelms, dobbelverslawing, homoseksualiteit, BDSM, poligene huwelike, trauma en sangomas in.
Die sukses van die roman is deels te danke aan die besonderse beskrywing van die landskap. Dit besit ook die vermoë om die leser se verbeelding te aktiveer. Op sommige plekke moet die skrywer egter daarteen waak om nie te veel te vertel nie, maar eerder te wys. Die realistiese beelde wat daar van Suid-Afrika geskets word, maak die gebeure meer geloofwaardig. Beurtkrag en die invloed wat dit op die inwoners het, is netjies ingewerk. Die pynlik gedetailleerde beskrywing van hoe polisiedossiere werk en hoe die ondersoekproses verloop, neig om die storielyn te onderbreek, maar dwing die leser om na die realiteit van ’n werklike polisieondersoek te kyk.
Gilroy kry dit reg om ’n donker tema soos selfdood humoristies voor te stel. Die beskrywing van Meisie Swart wat al telkemale selfdood probeer pleeg het, het my laat glimlag. Haar onsuksesvolle pogings begin met die druk van ’n kontinentale kussing teen haar gesig. Tydens ’n verdere poging gaan sit sy in haar motor met ’n oop Bybel langs haar met die hoop dat vergassing die ding sal doen. Sy oorweeg dit om haar polse te sny, maar daarvoor sal sy in die bad moet klim. Klein probleempie: Sy is te groot vir die bad. Sy sal ook eers op ’n dieet moet gaan voordat sy haarself kan ophang, want anders gaan die tou breek.
’n Moontlike haakplek vir baie lesers sal die Sotho-woorde wees wat met tye in die dialoog voorkom. Dit kan verskoon word, want dit help om suksesvol konteks vir die gebeure te skep. Die toeval van kaptein Brussels wat sy ou verlore jeugliefde raakloop, is ook ámper net te groot.
Die ondersoek begin aanvanklik traag, vang spoed, vertraag weer, en dan vind al die legkaartstukkies wonderbaarlik hul plek. ’n Geykte leser van speurromans sal miskien voor sersant Mthembu antwoorde op die belangrike vrae hê. Tog word alle drade aan die einde vasgebind.
Nou wat maak Middernag anders as die “gewone” speurroman? Eerstens wil dit voorkom of daar twee protagoniste is. Kaptein Brussels en sersant Mthembu se persoonlike verhale word meesterlik inmekaar gevleg. Hulle uiteenlopende verhale vanuit verskillende etniese agtergronde is boeiend en goed gedoen. Die twee karakters wyk ook af van die tipiese protagonis wat gewoonlik in speurromans aangetref word. Nie één vloek of het ’n “verslawing” nie. Hiermee verbreed die skrywer beslis die genre.
Tweedens is daar die realistiese gebeure wat op plekke dalk absurd mag voorkom. Dit het aan my gekrap, want alles wat in die verhaal gebeur, kan tog in die werklikheid ook gebeur. Dit is net vreemd om dit swart op wit te lees.
Ek beveel Middernag vir almal aan wat al gewens het vir ’n boek wat van die gewone resep afwyk. Ongeag die literêre bagasie wat elke leser het voordat die roman gelees word, besit die roman die vermoë om die leser in die middernagtelike ure steeds oor die raaisels te laat wakker lê.
Kommentaar
Sersant Mthembu is besig om te ontwikkel. Sy toekomstige hede moet nog vertel word. Die storielyn lees met gebalanseerde spanning. Welgedaan.
Klink goed.