Regsalmanak: Die onstuitbare BMW

  • 0

jutalaw600

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Fotobron: www.cardomain.com

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou
Regsalmanak: Die vere maak die voël
Regsalmanak: Die rokende bus en die motorfietsryer met trane in sy oë
Regsalmanak: "Die tjek is innie pos"
Regsalmanak: Protes en brandstigting
Regsalmanak: Sal ‘n rekenaar eties kan optree? En wat van liegbekke ontmasker?
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang
Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande
Regsalmanak: Tyd om die roede ook in Suid-Afrika te spaar?

Iets waaroor ek nog nie in Regsalmanak geskryf het nie, is die soms nogal ingewikkelde kwessie rondom die jurisdiksie van ons howe. Vir die man op straat is dit Grieks, maar as ek dit aan die hand van 'n paar eenvoudige voorbeelde verduidelik, sal jy gou sien waaroor dit gaan.

As iemand van, sê maar, Oudtshoorn op besoek in Londen deur 'n Londense taxi omgery word, kan hy nie in Oudtshoorn se hof 'n skadevergoedingseis teen die Londense taxi instel nie, want die hof van Oudtshoorn sal nie jurisdiksie hê om die saak te verhoor nie.

As dieselfde man van Oudtshoorn anderkant die berg in George deur 'n taxi omgery word, kan hy óók nie 'n eis in die landdroshof van Oudtshoorn instel nie want weer sal daardie hof nie jurisdiksie hê nie. Hy sal die eis op George moet instel, want dit is waar die ongeluk gebeur het.

Kom ons neem 'n ander voorbeeld. Gestel Frikkie, wat in Stellenbosch woon, ry Paarl toe en hy sluit daar 'n kontrak met Gerrit. Gerrit kom nie sy deel van die kontrak na nie en Frikkie besluit om 'n eis teen Gerrit in te stel. Frikkie sal dan nie in die landdroshof van Stellenbosch die eis kan instel nie; hy sal Paarl toe moet gaan, want dit is waar die kontrak gesluit is.

Die landdroshof van Paarl sal ook om ‘n ánder rede jurisdiksie hê om die saak te verhoor, want Gerrit is binne die regsgebied van daardie hof woonagtig.

Die saak wat ek vandeesweek wil bespreek, is 'n goeie illustrasie van presies hoé ingewikkeld die vraag of 'n hof in 'n bepaalde geval jurisdiksie het om 'n saak te verhoor, kan word.

'n Sekere mnr Thomas van Kaapstad het op 21 Junie 1991 tydens 'n ligte misreëntjie met sy BMW 535-motorkar in De Waalrylaan gery. Die BMW se spoedbeheerstelsel was aangeskakel, maar dit het skielik buite werking geraak en die motor het versnel. Mnr Thomas kon die spoedbeheer nie kanselleer nie en uiteindelik is hy met sy BMW en al deur 'n veiligheidsheining langs die pad. Die motor is afgeskryf en mnr Thomas is ernstig beseer.

'n Deskundige wat die BMW se spoedbeheerstelsel ondersoek het, het bevind dat daar wel 'n fout was. Ten spyte van veiligheidsmaatreëls was dit tog moontlik vir vog om die stelsel binne te dring, wat 'n kortsluiting kon veroorsaak het.

Mnr Thomas het in die hooggeregshof in Kaapstad 'n skadevergoedingseis teen BMW Suid-Afrika ingestel. Sy probleem was dat die BMW-hoofkantoor in Rosslyn naby Pretoria in Gauteng is. Dit is ook waar die BMW vervaardig is en waar die foutiewe spoedbeheermeganisme in sy motor ingebou is.

In sy eis het hy aangevoer dat BMW Suid-Afrika nalatig was deur 'n foutiewe spoedbeheerstelsel in sy voertuig in te bou; dat hul versuim het om die spoedbeheerstelsel behoorlik te toets; en dat hul nalatig was om 'n voertuig met 'n foutiewe spoedbeheerstelsel deur hul handelaar in Kaapstad aan mnr Thomas te verkoop.

BMW Suid-Afrika se vernaamste verweer was dat die hooggeregshof in Kaapstad nie jurisdiksie het om die saak te verhoor nie, aangesien die onregmatige daad waaroor mnr Thomas gekla het – die nalatige montering van 'n foutiewe spoedbeheerstelsel – nie in Kaapstad nie, maar naby Pretoria, gepleeg is.

Mnr Thomas, daarenteen, het geargumenteer dat die spoedbeheerstelsel in Kaapstad buite werking geraak het; dat die botsing waarin hy beseer is en sy voertuig afgeskryf is, in Kaapstad plaasgevind het; en dat die voertuig in Kaapstad aan hom verkoop is.

Daar was ook verskeie ander tegniese punte waarmee ek jou nie sal verveel nie.

Regter Van Reenen het werklik baie moeite gedoen om die regsposisie noukeurig na te vors en in 'n baie interessante uitspraak[1] het hy uiteindelik beslis dat die hof in Kaapstad wel jurisdiksie gehad het om die saak te verhoor. Die regter het daarop gewys dat sekere elemente van die onregmatige daad in Gauteng gepleeg is terwyl ander elemente in Kaapstad gepleeg is.

Hy het egter BMW se argument dat ál die elemente van die onregmatige daad binne die regsgebied van die Kaapse hof gepleeg moes gewees het ten einde aan daardie hof jurisdiksie te verleen, verwerp. Die regter was tevrede dat die belangrikste en die meeste elemente van mnr Thomas se saak teen BMW binne die jurisdiksie van die Kaapse hof plaasgevind het.

Verder het hy daarop gewys dat BMW 'n regsplig teenoor ál die gebruikers van sy voertuie het wat inhou dat BMW alle redelike stappe moet doen om te verseker dat hulle voertuie sonder defekte wat ernstige beserings kon veroorsaak, is. Daardie regsplig geld oral en word nie ingekort deur gebied, tyd of die identiteit van die persone wat die voertuie gebruik nie.

Die enigste vereiste wat die regter gestel het, is dat die regsplig net teenoor wettige gebruikers van BMW se voertuie geld. Dit wil dus lyk asof die regter meen dat indien 'n BMW gekaap word en sy spoedbeheer dán buite werking raak, die kaper nie agterna 'n eis teen BMW kan instel as hy in die daaropvolgende botsing beseer word nie.

Ek kan regtig nie sê wat die uiteinde van die saak was nie. Vermoedelik is dit geskik nadat BMW se tegniese punt – oor ‘n gebrek aan jurisdiksie – misluk het.

Daar is in die spindokterbedryf ‘n gesegde dat enige nuus goeie nuus is. Met ander woorde: of jy negatiewe of positiewe publisiteit kry, maak nie regtig saak nie: publisiteit is publisiteit. Skynbaar geld dié “wet” egter nie vir “groot” instansies soos BMW nie.[2] Vra maar vir Volkswagen, ná hul dieselfiasko in die VSA.

 

[1] Thomas v BMW South Africa (Pty) Limited 1996(2) SA 106 (CPD)

[2] http://www.comparativeagendas.info/wordpress/wp-content/uploads/2015/06/Grossman-CAP-Lisbon.pdf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top