Voordrag by die bekendstelling van die program
vir die vyftigjarige vieringe
Afrikaanse Taalmonument, Paarl
Saterdag 30 November 2024

Jean Meiring, voorsitter van die raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, by die bekendstelling van die program vir die vyftigjarige vieringe, 30 November 2024 (foto: verskaf)
Jean Meiring, raadsvoorsitter van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), het die programrede gelewer by die ATM se bekendstelling van dié instellings se feesprogram vir 2025 – wanneer beide entiteite 50 jaar vier. Hier is nog agtergrond van die geleentheid. Lees die toespraak hier onder.
Had ons vooraf waarskuwing van verlede naweek se Groot Sterfte, het die uitnodiging vir hierdie geleentheid dalk anders gelui. Dalk het ons gevra dat u u “jongeliedsklere” aantrek, dat u ’n “purper mantel” oor u skouers dra, en “sandale met goud deurvleg” aan u voete. Dat u die “verlokking” so blou om u oë verf sodat hulle soos dié van ’n minnaar kan brand. En dat u in u hare olie hang, en dat u “sierade van silwer” aan u hande dra, dat u u tong “met roos en bergwater” invryf, en dat daar in u oksels “welriekende muise” glinster.
In 2025 word die Taalmonument 50.
In ’n mens se lewe dui hierdie ouderdom op ’n middeljarigheid, op ’n stadig word, op die koms van mankoliekheid, en kruipende melankolie.
Maar in die lewe van ’n monument is dit maar die eerste oogwink.
........
In ’n mens se lewe dui hierdie ouderdom op ’n middeljarigheid, op ’n stadig word, op die koms van mankoliekheid, en kruipende melankolie.
Maar in die lewe van ’n monument is dit maar die eerste oogwink.
........
Dis natuurlik ook nie volledig waar nie. Juis ’n jaar of wat gelede het die voorbladberig van Die Burger een Saterdag, na aanleiding van die vorige dag se vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee, uitgebasuin dat die monument – ons monument, hierdie monument – aan ’t kraak en wankel is.
Maar die besonderhede van, en die uitdagings verbonde aan, die instandhouding van die monument – wat ’n saak van groot erns is – is nie die hooffokus op ’n dag wat op viering gerig is nie.
Vyftig: 2025 minus 50 jaar bring ons by 1975.
Dít beteken natuurlik hierdie stuk brutalistiese skoonheid het in ’n baie ander Suid-Afrika tot stand gekom. Die Suid-Afrika van 1975 was een wat streng volgens ras- en ander lyne verdeel was. Trouens, die hoofdoel van die leeuedeel van die regering van toe se opdrag was juis om mense uiteen te hou. Om grense en mure te bou, en om die aan-jou-kant-bly van die muur pligsgetrou te polisieer.
.......
’n Mens moes ’n betreklik onwetenskaplike benadering tot die lewe en tot die ooglopende feite gehad het om nie in te sien dat Afrikaans juis, as teenpool tot die formele Nederlands van die laat 19de eeue, uit hoeveel stukke inheemsheid gekreoliseer is nie.
.......
Die geval Afrikaans was natuurlik ’n netelige een. ’n Mens moes ’n betreklik onwetenskaplike benadering tot die lewe en tot die ooglopende feite gehad het om nie in te sien dat Afrikaans juis, as teenpool tot die formele Nederlands van die laat 19de eeue, uit hoeveel stukke inheemsheid gekreoliseer is nie.
Reeds in die middel-1800’s het die (onder meer) taalkundige Arnoldus Pannevis besef dat daar reeds op die strate, in die kombuise en gaandeweg ook in effe meer formele ruimtes ’n nuwe taal aan ‘t word is. Hy het hom gou daarvoor begin beywer dat dit Afrikaans genoem word – eerder as Kaaps-Hollands. Daardie naam self was ’n stellinginname, die sny van ’n band en die uitdruklik maak van ’n ander ene.

Petro Gordon (foto: verskaf)
Hy en ander Paarliete wou graag die Bybel in Afrikaans vertaal. Daarom het hulle besluit om ’n vereniging op die been te bring wat sigself beywer vir die erkenning van Afrikaans as skryftaal. Só is die Genootskap van Regte Afrikaners – die GRA – op 14 Augustus 1875 hier in die Paarl gestig. Dit het gebeur in die huis enkele kilometer van hier wat vandag die Afrikaanse Taalmuseum huisves.
Natuurlik weet ons nou dat dít maar een deel van die verhaal is, dat daar sedert die laat 18de en vroeë 19de eeu in die Bo-Kaap etlike myle van hier af weg – ironies in ’n ander godsdiens en in ’n ander skrifstelsel – heelwat werk gedoen is om Afrikaans tot skryftaal te formaliseer.
Dat uitheemse name soos Pannevis en Effendi (wat ’n handleiding vir Moslems uit die Arabies in Afrikaans maar in die Arabiese skrif oorgesit het) aan die stuur van dié prosesse gestaan het, is ironies.

By die bekendstelling van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se program vir die vyftigjarige vieringe, 30 November 2024 (foto: verskaf)
Die geskiedkundiges teken die boeiende verhaal op van hoe hierdie ontluikende straat- en kombuistaal as skild opgeneem is vir ’n tipe taalnasionalisme wat later in ’n rassenasionalisme ontaard het. Dikwels wonder ek hoe die geskiedenis anders kon verloop het indien daar, veral in die dekade ná die einde van die Suid-Afrikaanse Oorlog in 1902, ánder stellinginnames gemaak was. As die beperkte swart stemreg in die Kaap van toe uitgebrei was. Maar dís natuurlik nie wat gebeur het nie; dis bloot ’n boeiende denkoefening.
Wat wel gebeur het, is iets anders. Iets wat ons almal alte goed ken.
Hoe dit ook al sy, in die vroeë jare veertig, kort ná die historiese Ossewa-trek, het pogings van stapel gegaan vir die oprig van ’n taalmonument. Wat ’n mens ook al van ’n monument dink vir iets lewends soos ’n taal is ’n ander saak, maar in 1893 is daar reeds ene – vir die Hollandse taal – in die Oos-Kaapse dorp Burgersdorp opgerig.
Toe die beweging in die 1940’s begin, was die fokus egter op die Paarl, juis omdat die ontstaan van Afrikaans toe beskou is as die uitkoms van die arbeid van die Eerste Taalbeweging en die GRA.

Joha van Dyk by die bekendstelling van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se program vir die vyftigjarige vieringe, 30 November 2024 (foto: verskaf)
Dié monument is inderdaad op 10 Oktober 1975 ontsluier, ’n eeu ná die tot stand bring van die GRA en boonop 50 jaar nadat Afrikaans in 1925, grotendeels deur die ywer van CJ Langenhoven, ’n amptelike landstaal geword het.
Tog is dit verrassend dat dié monument vir Afrikaans wat in daardie tydsgewrig tot wording gekom het, daar uitsien soos dit wel daar uitsien.
Reeds in 1964 is 12 argitekte uitgenooi om aan ’n wedstryd vir die ontwerp deel te neem. Die monument moes die kulturele, akademiese en staatkundige groei van Afrikaans uitbeeld. Ook moes dit van ver af gesien kon word.
Ná dié proses is die argitek Jan van Wijk se aanskoulike ontwerp gekies.
Die suile en bollings hier rondom ons vertel die volle geskiedenis van Afrikaans. Die suile aan die linkerkant wanneer ’n mens die monument betree, toon die invloed van die Wes-Europese tale en kulture op Afrikaans, waaronder Nederlands, Duits, Frans en Portugees. Hulle begin hoog en sak na benede, om die minder wordende Europese invloed op Afrikaans uit te beeld.
Die muurtjie op die trap na die monument toe waar ’n mens verbystap wanneer jy die monument binnekom, stel die invloed van die tale van Suidoos-Asië, en in hoofsaak Maleis, voor. Dié muurtjie staan dus tussen Wes-Europa en Afrika.
Die podium aan die agterkant van die amfiteaterruimte hier in die sentrum van die monument, en die drie koepels daarop, beeld die invloed van die Khoikhoi en ander Afrika-tale, soos Xhosa, Zoeloe en Sotho, uit. Anders as die Europese suile neem dié koepels in grootte toe, nes Afrika se invloed op Afrikaans toeneem.
Die monument se ten hemele gaande hoofsuil verbeeld die groei van Afrikaans en die toekoms – Langenhoven se “snel stygende boog”.
Toe die monument op 10 Oktober 1975 ingewy is, is die geleentheid deur 40 000 mense bygewoon. Die dag was ’n rare allegaartjie.
Eerste minister BJ Vorster het ’n toespraak gemaak. Interessant, Adam Small se Afrikaanse gedig “Nkosi sikelel’ iAfrika” (“God seën Afrika”) is voorgelees. Daar was ’n koorfees. Die Afrikaanse digter Olga Kirsch, wat ná dekades stil was en kort vantevore weer in Afrikaans begin dig het, is uit Israel gebring om dit by te woon.
Die skrywer Kirby van der Merwe vertel hoe hy in ’n aparte “kleurlingbussie” moes ry om die semiveelrassige opening van die Taalmonument by te woon.
*
’n Ander aspek van die monument waaraan die museum al heelwat navorsing gewy het, is die bouproses self.
Dit het twee jaar geneem: van 1972 tot 1974. Die koste het R700 000 beloop. Dis gebou van ’n spesiale betonmengsel van sement, wit sand en Paarl-graniet.
Vaklui met gespesialiseerde kennis en ervaring is gekies om die uitdaging van die ingewikkelde ontwerp ’n werklikheid te maak. Die verskillende tipes werkers word op die ATM se webblad genoem. ’n Mens moet hulle beskrywings net opsê om onder die indruk van die fisikaliteit van hul onderskeie baantjies te kom. Daar was voormanne, vragmotorbestuurders, staalsnyers, staalvleggers, staalbuigers, skrynwerkers, hyskraanoperateurs, loonklerke, tydbeamptes, werktuigkundiges, bouers, messelaars, stoormanne, algemene werkers.
En dan was daar tolke.
Die bouperseel was ’n eksperiment in veeltaligheid. Die mense is nou al meesal oorlede, maar sou dit nie ’n boeiende ondersoek wees nie om te peil hoe presies taaloordrag op dié bouperseel gebeur het?
Benewens plaaslike werkers was daar ook baie kontrakwerkers uit die destydse Transkei. Hulle het in hostelle in Mbekweni tuisgegaan. En hulle moes pal hul “dompas” byderhand hê.
*

By die bekendstelling van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se program vir die vyftigjarige vieringe, 30 November 2024 (foto: verskaf)
En hier is ons nou – byna 50 jaar later, in die week dat Breyten Breytenbach, een van hierdie taal Afrikaans se grootste digters, die ultieme, die laaste muur oorgesteek het. Dit was natuurlik met sy woorde dat ek u aan die begin hiervan opnuut uitgenooi het.
In 1977 is hy immers vervolg terwyl hy reeds vir hoogverraad in die tronk was, onder meer vir ’n komplot uit die tronk om dié monument op te blaas.
Hy is op daardie aanklag vrygespreek. Gelukkig staan die Afrikaanse Taalmonument boonop steeds.
........
Die toekoms van hierdie monument sal nie ’n maklike ene wees nie. Die uitdagings – benewens die elementale aanslag op beton – is legio, en so wyd opgeteken dat ek hulle nouliks hoef te herhaal.
........
Die toekoms van hierdie monument sal nie ’n maklike ene wees nie. Die uitdagings – benewens die elementale aanslag op beton – is legio, en so wyd opgeteken dat ek hulle nouliks hoef te herhaal.
Maar die Afrikaanse Taalmonument het reeds, onder die geïnspireerde leierskap van Michael Jonas, die toekoms binnegetree: om die museum en monument ’n bewaar- en oordenkingsplek te maak vir en van al die baie kompleksiteit in Afrikaans – ladings en ladings ironie en baie verrassings – waarop ek reeds gewys het.
Dis ’n plek wat aan Afrikaans in al sy wonderlike verskeidenheid gewy is – waaroor die digter Diana Ferrus in ’n vers skrywe:
Uit die mond van slawe, Europeërs, inheemse volke,
dans sy op die maat
van oer-oue tromme en handgemaakte kitare,
dra sy kostuums van vele kleure
en sing sy in ’n duisend stemme.
Lees ook:
Persverklaring: Uitsonderlike gebeure sal Paarlse ikoon se 50ste vier
Persverklaring: "Wie en wat word in 2025 gevier?" vra Taalmonument
Die Taalmonument: ’n simbool van die stryd tussen politici en skrywers
Verskeie Afrikaanse taalgedenkstrukture en een Afrikaanse Taalmuseum
Wit en bruin staan saam oor Afrikaans by ATM (Afrikaanse Taalmonument- en museum)
Kommentaar
In Sabiepark, private natuurreservaat in Mpumalanga, het Jan van Wyk 'n huis gebou wat jy dadelik as eiefamilie van die monument herken. Ook die ingang se suil verklap sy herkoms. Van Wyk het diep spore getrap so tussen al die spore van die wild wat hier onbelemmerd dwaal.
Ek het die oorspronklike, handgeskrewe boek van Johan van Wyk in my besit.
Indien enige iemand belangstel, kontak my met 'n aanbod.
Beste Jackie. Verwys jy na 'n boek van die Taalmonument se argitek Jan van Wijk? Kontak dan gerus Chantelle de Kock
Kurator
+27 (0)21 872 3441
navorsing@taalmuseum.co.za