Volgens die ATM se direkteur, Michael Jonas, bied die gewilde jaarlikse paneelbesprekings mense die kans om na te dink oor Afrikaans se komvandaan en kennis te neem van nuwe taalverwikkelinge. “In 2025 vier die Afrikaanse gemeenskap onder meer 100 jaar se amptelike Afrikaans, die ATM se 50ste bestaansjaar en die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) se stigting 150 jaar gelede,” sê hy. “Gegewe die omstredenheid oor sommige aspekte hiervan, is vanjaar se tema oor presies wie en wat ons vier, soos belig deur uiteenlopende kenners, juis wat ons benodig.”
Die paneellede is Courtneigh Ess, Christo van der Rheede, Theuns Eloff en Izak de Vries met Willemien Brümmer as gespreksleier. Ess is ’n deeltydse mededosent in Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van die Wes-Kaap, waar sy haar doktorsgraad oor die kulturele argief onderliggend aan die letterkunde van Afrikaanse vroueskrywers uit die Overbergstreek doen. Van der Rheede het onder meer grade in sielkunde en tale, dien op verskeie Afrikaanse kultuurinstellings se rade en is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting. Eloff was onder meer rektor van die Noordwes-Universiteit en dien tans as voorsitter van die Dagbreek Trust, die Trust vir Afrikaanse Onderwys asook die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis. De Vries is ’n vryskutjoernalis en projekbestuurder wat betrokke is by ’n aantal instellings wat Afrikaans as ’n verwelkomende, inklusiewe ruimte bevorder. Brümmer is ’n bekroonde Afrikaanse joernalis en skrywer wie se 2008- kortverhaalbundel op die kortlys vir die Jan Rabie-prys vir innoverende skryfwerk was.
Afrikaanse Taaldag word op 14 Augustus herdenk as die datum waarop die GRA in 1875 in die Paarl gestig is in wat nou die Taalmuseum is. Die GRA het hulle beywer vir die amptelike erkenning van Afrikaans deur dit tot ’n skryf- en kanseltaal te verhef.
Die geleentheid op 16 Augustus neem tussen 17:00 en 18:00 in aanvang wanneer gaste kan registreer en op ’n verwelkomingsdrankie getrakteer word. Die bespreking is vanaf 18:00 tot 20:00 waarna ’n heerlike ete en wyn bedien word.
Plekke is beperk, dus bespreek voortydig by Stefanie Rasztabiga via 021 872 3441 of kommunikasie@taalmuseum.co.za – teen 15 Augustus om 16:00 op die laatste. Besonderhede by taalmuseum.co.za.
Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat onbeperkte toegang tot die ATM, bistro en Volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.
Kommentaar
Met slegs dr Theuns Eloff as Afrikaner teenoor 4 woke teenafrikaners sal dit maar 'n skewe gesprek wees.
Nee nee Hanno, hoe kan jy beweer Eloff is 'n Afrikaner? Hy was dan deel van die Dakar-volksverraaiers wat met die kommuniste geheul het. En was ook 'n voormalige direkteur van die De Klerk-stigting. Jy weet, FW de Klerk wat met die kommuniste onderhandel het?!
Jy sal maar liefs ver moet wegbly, ja.
Cochenville, dr Theuns Eloff is die voorsitter van bg Afrikaansviering. Hy was rektor vd PU vir CHO. Hy het ook die onlangse AfrikanerVerklaring aangevoor. Ek weet jy wat? Ekself het in die 1992-referendum JA gestem!