Persverklaring: Uitsonderlike gebeure sal Paarlse ikoon se 50ste vier

  • 0

Cameron Gertse (links) het die nuwe logo (regs) vir die Afrikaanse Taalmonument en -museum ontwerp. Foto: verskaf

Afrikaanse museum en monument loods 2025-feesprogram op glansgeleentheid

Dit gaan ’n jaar wees om te onthou! Só het Michael Jonas, die direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) op Saterdag 30 November 2024 belowe tydens die vermaaklike bekendstelling van dié instelling se feesprogram vir 2025 wanneer beide entiteite 50 jaar se bestaan vier. Daarna is ’n nuwe webtuiste, logo en buiteluguitstalling onthul terwyl verskeie kunstenaars ook opgetree het. Die hoogtepunt was ’n lieflike skemerpiekniekkonsert met Refentse, Elandré en Andriëtte in die intieme tuinteater wat die dag se verrigtinge op ’n hoë noot afgesluit het.

“Vandag is ’n monumentale gebeurtenis en my voorreg om die opwindende feesprogram vir 2025 met u te deel,” het Jonas aan die voet van die monument op Paarlberg gesê. “Dit is daarop gemik om die instelling se ontstaan, ontwikkeling en toekoms in al haar gedaantes te vier. Ons kan immers vandag terugkyk na die by tye omstrede verlede, argumente – vir of teen – haar bestaan, onderstrominge en self botsende ideologieë. Ten spyte hiervan is ’n ikoniese landmerk op die Afrika-kontinent verewig.

“Haar bestaan is onmoontlik sonder die volgehoue ondersteuning van ’n inklusiewe taalgemeenskap, strategiese vennote en ruim skenkings, waarvoor ons baie dankbaar is. Ons hoop op nog 50 jaar van taalvoortreflikheid,” het Jonas bygevoeg toe hy die ATM-raadsvoorsitter, Jean Meiring, aan ’n uitgelese groep gaste voorgestel het. Hulle het onder andere Helena von Schlicht, burgemeester van die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit, ATM-raadslede, redakteurs en bekendes in Afrikaanse taalkringe ingesluit.

Volgens Meiring is die lewe van ’n monument en museum soos die ATM in ’n veranderende wêreld soos vandag s’n selde eenvoudig, en het dit dikwels met allerlei vooroordele en wanpersepsies te kampe. “Maar die werklikheid is iets waarop ’n mens trots kan wees: ’n lewende instelling wat met vindingrykheid die volle spektrum van die Afrikaanse leefwêreld oordink en vier, wat vir almal, ook vir nie-Afrikaanssprekendes, haar arms oopwerp,” het Meiring gesê. “Die ATM is ’n opwindende, moderne plek wat na die volgende halfeeu uitsien.”

Die toesprake is afgewissel met optredes deur verskeie digters, ’n Maleierkoor en ’n strykorkes asook die aankondiging oor die wenontwerp vir die instelling se feeslogo.

Vroeër vanjaar het die ATM ’n kompetisie vir ’n logo geloods, met R10 000 op die spel. Tientalle inskrywings is ontvang en meer as ’n duisend aanlyn-stemmers het uiteindelik op die skepping van Cameron Gertse (24) besluit. “Ek het nooit ooit gedink dat ek, die leerder wat net-net deur sy vakke geskuur het op skool, as die nommer 1-ontwerper vir die wêreldbekende Taalmonument se logo gekroon sou word nie!” het hy verbaas gesê.

“Op skool was ek dol oor Afrikaanse mondelinge, want dit het my die geleentheid gebied om, naas kuns, ’n bietjie bo die top akademiese leerders uit te styg. Ek is baie lief vir die taal en vind dit fassinerend om na Afrikaanse programme te luister, veral na die aanbieders en gaste se breë woordeskat.” Volgens Gertse, ’n Wellingtonner en grafiese ontwerper van beroep, “was die vermoë om myself visueel uit te druk nog altyd vir 'n ontsnapping uit die raamwerk waarbinne daar van ons verwag word om in te beweeg en te dink”.

Sy gevoelens sluit aan by die monument se nuwe Groen Galery-uitstalling wat kreatiewe kragte met Ons Klyntji gesnoer het om ’n diverse keur van hul 2024-zine se tekste te vertoon. Klyntji is ’n onafhanklike webjoernaal, gefokus op diverse en progressiewe kuns en kultuur. Francois Lion-Cachet, uitgewende redakteur en afstammeling van ’n bydraer tot die oorspronklike publikasie in die 1800’s, reken “dit is wonderlik is dat Ons Klyntji – gebore in die Paarl – deur hierdie samewerking met die ATM weer in hierdie omgewing gevier en bespreek word. Die Ons Klyntji-projek het te doen met die naspeur van Afrikaans se ontkieming en al die rigtings waarin dit vandag groei.”

Vir 2025 beplan die ATM – naas die gewone piekniekreeks en viering van nasionale dae – ook nog piekniekkonserte, ’n skoolkoorfees, ’n reeks artikels oor Afrikaanse se komvandaan en toekoms, ’n spesiale feesbylae asook verskeie Afrikaans Amptelik 100- en ander verrigtinge. “Hopelik word ons nie vanjaar gekortwiek deur ’n virus soos in 2020 tydens ons 45ste nie,” het Jonas ter afsluiting geskerts. “Ons gaan dubbel en dwars daarvoor opmaak!”

  • Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, of besoek taalmonument.co.za.

Lees ook:

Programrede: In 2025 word die Afrikaanse Taalmonument 50

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top