Op dees aarde: Die Taung-kind – hoe hy die mens verander het

  • 2

Die Taung-kind (Australopithecus africanus) soos dit by die Universiteit van die Witwatersrand gehuisves word. Foto’s van die Wits-versameling is deur Elsabé Brits geneem en verskyn met toestemming van Wits.

  • Elsabé Brits skryf ’n gereelde rubriek op LitNet.
Een van die wêreld se belangrikste hominiedfossiele is 100 jaar gelede in Suid-Afrika gevind. Die ontdekking van die Taung-kind (Australopithecus africanus) het nié net uiteindelik gelei tot Sterkfontein as een van die rykste fossielterreine op aarde nie, dit het ook rassistiese en godsdienstige sienings oor die ontstaan van die mens ’n wetenskaplike nekslag toegedien.

Dit was die Taung-kind wat bewys het dat die mens se gemeenskaplike voorsaat in Afrika ontstaan het. Nié in Europa nie, en nié in Asië nie. Ook nie in Mesopotamië nie.

Dié storie, wat miljoene jaar oud is, begin in 1924.

Raymond Dart, kundige in anatomie, het dié belangrike grondslag by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) gelê. Die bronne tot sy beskikking was maar skraps en hy het met ’n anatomiemuseum begin en sy mediese studente gevra om enige monsters wat hulle kon opspoor, vir hom te bring.

Daar was net een vrou destyds in sy klas: Josephine Salmons, en sy het vir hom ’n aapskedel gebring wat uit die kalkklip geskiet is by die Buxton Limeworks van die Northen Lime Company naby Taung. Dart het dadelik versoek dat nog kalkklip na hom gestuur word – en twee kratte is per trein na hom gestuur.

Uiteindelik het hy die skedel uit die kalkklip bevry, glo met ’n beitel en breinaalde.

Dart publiseer in Februarie 1925 sy wetenskaplike werk, “Australopithecus africanus: the man-ape of South Africa”, in die vaktydskrif Nature.

Hy het geskryf: “It is therefore logically regarded as a man-like ape. I propose tentatively, then, that a new family of Homo-simiadce be created for the reception of the group of individuals which it represents and that the first known species of the group be designated Australopithecus africanus, in commemoration, first, of the extreme southern and unexpected horizon of its discovery, and secondly, of the continent in which so many new and important discoveries connected with the early history of man have recently been made, thus vindicating the Darwinian claim that Africa would prove to be the cradle of mankind.”

Hoekom is dit ’n hominied (of “man-like ape”, soos dit destyds bekendgestaan het)? Sy maaltande is groot, en die tipiese lang snytande van ’n bobbejaan ontbreek. Die snytande is klein soos dié van ’n mens.

........
Hy het sy kop regop gehou – wat ’n mens kan sien indien jy na die skedel kyk, en daarom het hy op twee bene geloop. ’n Hominied wat op twee bene loop, het ook sy hande vry gehad – daar is ’n koëvolusie tussen dié van die hand en die brein.
........

En die belangrikste van alles: Hy het sy kop regop gehou – wat ’n mens kan sien indien jy na die skedel kyk, en daarom het hy op twee bene geloop. ’n Hominied wat op twee bene loop, het ook sy hande vry gehad – daar is ’n koëvolusie tussen dié van die hand en die brein.

Darwin het vroeër gesê die mens het in Afrika ontstaan, en hiermee het Dart die bewys gelewer. Hierdie wese het op twee bene geloop.

Dié nuus is nie goed ontvang nie. Dart se aansprake het ook teen fundamentalistiese godsdiensoortuigings oor menslike oorsprong ingedruis. Inderdaad, die berugte Scopes Monkey Trial-verhoor het kort na die Taung-nuus begin.

Nadat Dart se werk bekend geword het, was die neerslag so groot dat dit hom erg getraumatiseer het. Oorsee en hier het kundiges sy werk verwerp en wou hulle Au. Africanus nie amptelik plaas op die stamboom van menslike voorsate nie.

Buiten die Scopes-verhoor en die hardnekkige oortuiging dat die mens onmoontlik in Afrika kon ontstaan het, was veral Britse wetenskaplikes nog skaam-kwaad omdat hulle uitgevang is deur die bedrog van die Piltdown Man. Dié poets se brein was groot en hy het groot aapagtige tande gehad, terwyl die Taung-kind se brein klein was, met tande baie soos dié van ’n mens. Die klein brein was net te veel om te aanvaar, saam met baie diep gelowige oortuigings wat evolusie verwerp.

Foto’s van die Wits-versameling is deur Elsabé Brits geneem en verskyn met toestemming van Wits.

Robert Broom het egter wel aan Dart se werk geglo. In 1934 het hy by die destydse Transvaalmuseum (nou die Ditsongmuseum) in Pretoria begin werk en in 1936 by Sterkfontein na fossiele begin soek.

Geklee in sy swart pak en gestyfde boordjie het hy by die terrein opgedaag. In dié tyd het hulle sowaar nog plofstof gebruik om die hardnekkige rots weg te blaas! In Augustus 1936 het hy ’n hominiedskedel en tande gevind en dit Plesianthropus transvaalensis genoem. Steeds was mense nie oortuig nie.

........
In 1947 is nog ’n skedel by Sterkfontein gevind. Dit is deur Broom Plesianthropus africanus gedoop. Die media het die skedel gou “Mev Ples” gedoop. Dit was duidelik dat dié fossiel die volwasse weergawe van die Taung-kind was.
........

In 1947 is nog ’n skedel by Sterkfontein gevind. Dit is deur Broom Plesianthropus africanus gedoop. Die media het die skedel gou “Mev Ples” gedoop. Dit was duidelik dat dié fossiel die volwasse weergawe van die Taung-kind was. Nog meer bene is gevind: ’n femur, rugwerwels, ’n onderkaak met tande, en ’n bekkenbeen – dit was duidelik nie ’n aap nie, maar soortgelyk aan mense: ’n hominied.

Dit was die deurbraak waarna hy jare lank gesoek is.

Broom het aan die einde van sy lewe fanaties gewerk om ’n wetenskaplike verslag hieroor af te handel. Hy het dit op 6 April 1951 voltooi en in sy dagboek geskryf: “Now that’s finished ... and so am I.”

Hy is dieselfde aand oorlede.

Uiteindelik is Plesianthropus africanus  herklassifiseer na Australopithecus africanus. “Mev Ples” en die Taung-kind is dieselfde genus en spesie. Daar is stééds ’n debat of Mev Ples manlike of vroulik was – maar hoe dit al sy, dit is hoogs onwaarskynlik dat haar/sy populêre naam ooit sal verander.

Intussen is meer as 600 fossiele van Au. Africanus by Sterkfontein en Makapansgat gevind, meestal deur navorsers verbonde aan Wits. En honderde navorsingsartikels is deur die jare net oor dié spesie geskryf.

Foto’s van die Wits-versameling is deur Elsabé Brits geneem en verskyn met toestemming van Wits.

Die Taung-kind was drie jaar oud toe hy dood is. Die melktande sit nog in die skedel, het X-strale gewys. In die graslandskap met die klipkoppies, wat in meer as drie miljoen jaar min verander het, was die enigste skuilplekke grotte.

Die kloumerke sit steeds in sy oogkaste waar ’n roofvoël hom destyds opgetel het. Dié raaisel oor sy dood is in 2006 opgelos deur Lee Berger, ’n paleontoloog, wat die merke aan die oogkaste vergelyk het met die merke wat groot roofvoëls aan ander primate laat.

Uiteindelik het Sterkfontein en die groter Wieg van die Mens-gebied ’n Wêrelderfenisgebied geword waar talle nuwe hominiedspesies asook verskeie dier- en plantspesies van drie miljoen jaar gelede tot so onlangs as 235 000 jaar gelede ontdek is, en steeds ontdek word.

Die aapdebat

.......
Die sketse van die aap wat op sy kneukels loop tot die man wat regop loop, is verkeerd.  Dit moet in die vorm van ’n boom, of eerder bos, met talle vertakkings wees.
.......

Die mens stam nié van ape (of bobbejane) af nie – dit is ’n  fout. Die mens se voorsate en die groot primate (sjimpansees, oerang-oetangs, bonobo’s en gorillas) se voorsate déél ’n gemeenskaplike voorsaat.

Ons het dus ’n gemeenskaplike voorsaat wat ons deel met die groot primate waarvan ons minstens sewe miljoen jaar gelede geskei het. Elkeen van dié het toe in sy eie stamboom vertak en afsonderlik ontwikkel.

Dit beteken nié dat evolusie liniêr is en van minder na meer kompleks loop nie – die sketse van die aap wat op sy kneukels loop tot die man wat regop loop, is verkeerd.  Dit moet in die vorm van ’n boom, of eerder bos, met talle vertakkings wees.

Die vraag: “Hoekom is hier nog ape?” weerspieël dus ’n doelbewuste en ongeligte mening oor evolusie. Hoe en waar alles vandaan kom, word gerugsteun nie net deur fossiele en geologie nie, maar deur DNS.

Lees ook:

Op dees aarde: Rotskuns van die San – uitbeelding wys ’n oerdier

Vroegste bewyse nóg van moderne mense wat na Europa migreer het

Die eerste skoene: spore van ou plakkies tot hoëhakskoene

Ou DNS wys bron van siekte

Die mens was amper nie hier nie

  • 2

Kommentaar

  • Johann H Claassen

    Dankie. Ek lees ook graag oor Lee Berger en sy span se ontdekkings en bevindinge. Dit maak die verstaan van baie dinge makliker.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top