Die eerste skoene: spore van ou plakkies tot hoëhakskoene

  • 1
Die nederige plakkie, of sandaal, het dalk reeds so lank as 150 000 jaar gelede sy verskyning in Suid-Afrika gemaak. Die ontwikkeling van klere, en skoene, was een van die grootste verskynsels in menslike evolusie en komplekse denke.  Uiteindelik het skoene ’n ganse kultuur van mag en gender geword.

Daar is moontlike bewyse dat mense so vroeg as in die Middelsteentydperk (75 000 tot 150 000 jaar gelede) skoene gedra het. Dit beteken dat mense komplekse kognitiewe vermoëns en praktiese vaardighede gehad het heel vroeër as wat vermoed is.

In die meeste gefossileerde voetspore van hominiede en Neanderdalmense is hulle kaalvoet. Maar op drie plekke aan die Suid-Kaapse kus is daar gefossileerde voetspore waar mense ’n tipe sandaal gedra het. Die enigste ander plekke ouer as 30 000 jaar waar daar ook sulke voetspore is, waar mense ’n tipe skoen gedra het, is almal in Wes-Europa. Dié vier plekke sluit ook een plek in waar Neanderdalmense geloop het.

Die werk is onlangs in die vakjoernaal Ichnos gepubliseer.

Bernhard Zipfel, verbonde aan die Instituut vir Evolusionêre Studies aan die Universiteit van die Witwatersrand, dink die tipe skoen wat gedra is, was soortgelyk aan plakkies. Dit is soortgelyk aan die skoene wat die San gedra het.

Die oudste bekende voetspoor wat toegeskryf kan word aan Homo sapiens is sowat 153 000 jaar oud. Dit is in die Tuinroete Nasionale Park. Foto: Charles Helm.

Die kenners, van wie Zipfel een was, het verskeie tipes plakkies en sandale gemaak en dit gebruik om op die rotse en sandduine te loop in dieselfde gebied waar die gefossileerde spore gevind is. Uit die eksperimente is vasgestel dat ’n oop ontwerp met ’n harde sool met spore wat op matige sagte, maar tog klewerige sand gemaak is, soortgelyk is aan dié wat gefossileer het.

Gewoonlik om hominiedspore te identifiseer is die teenwoordigheid  en riglyning van toonafdrukke belangrik, maar indien ’n skoen gedra is, sou dit nie moontlik gewees het nie. Daarom is soortgelyke spore gemaak om te verseker dat die fossiele nie bloot weens swak preservering of erosie is en bloot lyk soos skoenmerke nie. Daar moes ook ’n buitelyn van ’n voetspoor wees, en merke is gesien waar die sandale se rieme aan die sole geheg was.

........
Die oudste skoene wat bewaar gebly het, is die Fort Rock-sandale wat in die 1930’s in droë grotte in Oregon ontdek is.
........

Terwyl verdere studie nodig is, en gesoek word na nog sulke spore, is die bewyse nog nie klinkklaar nie. Charles Helm, ’n navorsingsgenoot aan die Afrika-sentrum vir kuspaleowetenskap, wat die studie gelei het, sê die Kaapse kuslyn is ’n ideale plek om te soek. Die kombinasie van die ryk argeologiese rekord en die tipe rots is net reg. Dit is ook bekend dat die beengereedskaptegnologie toe reeds ontwikkel het om mense in staat te stel om die sandale te vervaardig.

Die oudste skoene wat bewaar gebly het, is die Fort Rock-sandale wat in die 1930’s in droë grotte in Oregon ontdek is. Dié sandale, waarvan daar heelwat gevind is, is van wildealsbas en ander vesels gemaak en nie van leer nie – die oudste is sowat 10 200 jaar oud.

Spore wat gemaak is deur mense wat vermoedelik skoene gedra het aan die Kaapse suidkus. Foto: Charles Helm.

Onlangs is twee pare sandale saam met ander items in ’n grot in Spanje gevind. Die een paar het ’n geweefde sool en die ander ’n harder een; beide is gemaak van Spaanse gras. Daar is ook vesels gevind wat vermoedelik tussen die tone gekom het en wat geheg is aan ’n vlegsel aan die sool en wat weer agter die enkel vasgemaak is.

........
Die eerste skoene was daar om praktiese redes: om jou voete te beskerm en warm te hou. ’n Besering aan jou voet kon maklik jou dood veroorsaak het.
........

Die eerste skoene was daar om praktiese redes: om jou voete te beskerm en warm te hou. ’n Besering aan jou voet kon maklik jou dood veroorsaak het. So was dit vir duisende jare met al beterwordende tegnieke en materiale. Totdat klere, en skoene, mode geword het.

’n Houtstaf en sandale wat sowat 6 200 jaar oud is, wat in ’n grot n Spanje gevind is. Foto: Mutermur Project.

In die Victoria & Albert-museum in Londen is ’n paar netjiese puntskoene wat uit riete gevleg is. Dit is meer as 3 000 jaar oud en óf ’n man óf ’n vrou kon dit gedra het, net soos die sandale van die San, en die skoene wat Ozti die ysman gedra het toe hy 5 300 jaar gelede in die Alpe dood is. Die sole is gemaak van beervel, die boonste deel van takbokvel wat met ’n dun repie koeivel aan die sool vasgemaak is. Binne-in was gras en ’n net gemaak van basvesel.

Die koms van hoë hakke

Dit is onduidelik wie eerste hoë hakke gedra het, maar daar is berigte dat dit in die 10de eeu in Persië vir mans ontwerp is. Dit het glo gerieflik in die stiebeuels ingekliek wanneer jy perdry.

Die chopine was ’n gewilde skoen in die 15de tot die 17de eeu, nie baie prakties nie, en die ryk vroue wat dit gedra het, het hulp nodig gehad om daarmee te loop. Dit was meer soos ’n platformskoen as ’n hoëhakskoen.

Daar word gesê dit was die invloed van die Persiese hoë hakke wat uiteindelik in Europa uitgekom het en die aristokrate daar beïndruk het. Maar mans het aanvanklik eers die hoë hakke gedra as simbool van manlikheid en status. Vandaar die uitdrukking “well-heeled”.

Van die eerste vroue wat hoë hakke begin dra het, was die invloedryke Catherine de Medici – die Renaissance-koningin van Frankryk. Teen die 17de eeu het net aristokrate (mans en vroue) hoë hakke gedra en net die koningin mag rooi hakke gedra het.

........
Mans het aanvanklik eers die hoë hakke gedra as simbool van manlikheid en status. Vandaar die uitdrukking “well-heeled”.
.......

Met die koms van die Verligting is daar anders gedink oor die rolle van vroue en mans in die samelewing. Mans is gesien as rasionele wesens en vroue nie. Daar is weggedoen met die grimering, pruike, hoë hakke en ander “vroulike” elemente in mansklere. Hulle skoene en klere het stroef geraak, saam met vele ander aspekte van kultuur.

Die tendens is verder versterk met die koms van die Victoriaanse era, maar in dié tyd het vroue ook stewels met hoë hakke begin dra. Groot voete is as onaantreklik gesien. Mans is gesien as die aktiewe denkendes, en vroue as die onaktiewe niedenkendes. Die skoene en klere het dit vir baie lank weerspieël. Sosiale norme oor gender het diep vatplek gekry. Die hakskoen het egter gebly en die seksuele konnotasies daarmee het nie ongesiens verbygegaan nie.

Daar is studies wat sê dit laat ’n vrou meer aantreklik lyk, dat dit haar lewensmaat meer op sy hoede maak, en dat dit seksuele kompetisie tussen vroue veroorsaak.

Gee dit aan die draer ’n gevoel van mag, hoogte en beheer, of nie? Is dit status, mode of iets om te begeer? Wie weet, maar dit is steeds ná al die eeue daar.

Lees ook:

Die mens was amper nie hier nie

Genetika, 70 jaar

Die supermassiewe gravitasiekolk in die middel van die Melkweg

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top