Ou DNS wys bron van siekte

  • 0

 

“Pormose-man” wie se skedel duisende jare gelede deur ’n pyl deurboor is in wat vandag Denemarke is. DNS van hom en ander antieke mense het golwe van migrasie regoor Europa gewys. Foto: Deense Nasionale Museum.

’n Reuse ontleding van antieke DNS het daartoe gelei dat navorsers die historiese migrasie van sekere gene in ons Europese voorsate kon ontleed. Dit het gewys waar verspreide sklerose (VS) ontstaan het, en hoekom.

Dié navorsing is pas in vier akademiese artikels in die vakjoernaal Nature gepubliseer deur ’n internasionale span van 175 kundiges van die Universiteite van Cambridge en Kopenhagen. Die kenners het die wêreld se grootste antiekemensegenebank geskep deur die DNS te ontleed in die bene en tande van 1 600 mense wat tot 34 000 jaar gelede regoor westelike Europa en Asië geleef het.

Indien ’n mens die genetiese evolusie wat in Eurasië plaasgevind het sedert die laaste ystydperk (12 000 jaar gelede) tot nou modelleer, is daar ’n paar bevolkingsgroepe wat tot verskillende mates bygedra het tot hedendaagse Europese genome. Jagter-versamelaars van die Midde-Ooste, die area bekend as Kaukasus (tussen die Swart See en die Kaspiese See), asook boere van Anatolië.

Genetika wys Europa is geleidelik bevolk deur moderne mense wat van Asië af gekom het van 45 000 jaar gelede. Die laaste groep wat die weste van Europa bereik het, was die veeboere van Anatolië sowat 5 000 jaar gelede. Hedendaagse mense van Europese oorsprong dra gene van al die groepe, maar die invloed wat dit op geografiese gebiede het, verskil.

Die DNS van mense in antieke grafte van die mesolitiese en neolitiese tydperke, bronstydperk, ystertydperk, Viking-era en Middeleeue is gebruik. Dit is met 400 000 DNS-profiele van hedendaagse Europese mense vergelyk.

........
Diegene met voorsate van die suide van Europa se kanse om bipolêre gemoedstoornis te kry is hoër, en dié van die noorde om VS te kry.  
........

Indien jou voorsate van die noorde van Europa af kom, is jy waarskynlik langer en ligter as diegene van die suide van Europa. Diegene met voorsate van die suide van Europa se kanse om bipolêre gemoedstoornis te kry is hoër, en dié van die noorde om VS te kry.  

En indien jou voorsate jagter-versamelaars was, het jy ’n hoër risiko om tipe 2-diabetes en Alzheimer se siekte te ontwikkel. Húlle voorsate is weer van Oos-Europa.

Van die grootste vondste van die studies was oor VS, ’n outo-immuniteitsiekte wat meestal onder wit mense voorkom. Dit is skaars onder ander groepe, maar kom wel voor.  Die immuniteitselle val die brein en spinale koord sistematies aan.

Voorheen is 233 gene gevind wat verband hou met VS, maar dit is die eerste keer dat die oorsprong van die siekte bepaal kon word. Die risiko om VS te ontwikkel oor jou leeftyd, is 1 uit 400 indien jy van Europese afkoms is, en twee uit drie pasiënte is vroue.

Hoewel die meeste van Europa se bevolking 15 000 jaar gelede jagter-versamelaars was, het byna al die groepe teen 5 000 jaar gelede na boerdery oorgeskakel. In dié tyd het mense ook plaasdiere – dus makgemaakte diere – gehad.

So eenvoudig soos dit mag klink, het die betreklik vinnig skuif egter ’n reuse impak op mense se genetiese samestelling gehad, onder meer deur die meng met ander bevolkings en die ontstaan van die eerste nedersettings. Meer mense naby mekaar en tussen diere het aansteeklike siektes laat ontstaan.

........
Daar is geen aanduiding dat die gene op daardie stadium nadelig was vir mense nie. Intussen het ons omgewing natuurlik verander, ons het entstowwe en antibiotika, en higiëne is nou skoon saak.
........

Deur geneties terug te stap in die tyd, het navorsers gesien daar was ’n groot migrasie van die Jamnaja-herders na wes- en noord-Europa vanaf die Pontic-steppe waar hulle gewoon het. Dit is ’n groot area in die ooste van Europa en Rusland. Dié veeboere het die risikogene wat VS veroorsaak, met hulle saamgebring, maar op dié stadium was die gene voordelig, omdat dit hulle juis beskerm het teen verskeie patogene.

Omdat hulle skape en beeste aangehou het, was hulle blootgestel aan verskeie patogene. Die individue met die betrokke genetiese variante het uiteindelik ’n groter kans op oorlewing en voortplanting gehad.

Daar is geen aanduiding dat die gene op daardie stadium nadelig was vir mense nie. Intussen het ons omgewing natuurlik verander, ons het entstowwe en antibiotika, en higiëne is nou skoon saak.

Evolusie en seleksie het die mens gehelp om patogene te beveg, maar die risiko laat ontwikkel om verspreide sklerose te ontwikkel. Illustrasie: SayoStudio.

Die natuurlikeseleksieproses, ’n deel van evolusie, is nie staties nie. So het die komplekse immuniteitstel ook bly verander en aanpas.

Mense wat immuniteitstelselgene het wat hulle in staat stel om die kombinasie van aansteeklike siekte te beveg in hulle lewe, sal kinders hê wat dieselfde gene weer oordra. Dit is hoekom die immuniteitstelsel van mense wat vandag leef, geneties gesproke ook die produk van seleksie is. So is dit ook met ander eienskappe.

Deur meer antieke en ander genetiese monsters van Afrika in studies in te sluit, sal ons nog meer leer oor wat ons voorsate aan ons nagelaat het. Ons voorsate is lank nie meer stil nie; hulle gene praat in ons.

VS is dus ’n genetiese aanpassing by sekere omgewingsfaktore wat in die voorgeskiedenis plaasgevind het. Volgens die studies sal dit die manier waarop die siekte nou behandel en benader word, verander. Om Viking-gene te hê het dus destyds gehelp om infeksie te beveg, maar nou laat dit soms die liggaam teen homself draai.

Lees ook:

Die eerste skoene: spore van ou plakkies tot hoëhakskoene

Die mens was amper nie hier nie

Vetsug, jou gene en die mediese wetenskap

 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top