Op dees aarde: Rotskuns van die San – uitbeelding wys ’n oerdier

  • 1

Antieke rotskuns van die San op die plaas La Belle France in die Vrystaat onthul die oudste bekende uitbeelding van ’n uitgestorwe disinodonte. (Foto: Wits)

  • Elsabé Brits skryf ’n gereelde rubriek op LitNet.

Antieke San-kunstenaars het sowat 200 jaar gelede ’n uitgestorwe dier wat miljoene jare gelede in suidelike Afrika geleef het, op ’n rotspaneel geverf. Die verf van die dier op die rotspaneel moes plaasgevind het nadat hulle dié spesie se fossiele gesien het.

Dié navorsing deur Julien Benoit, paleontoloog aan die Universiteit van die Witwatersrand, is onlangs in die vakjoernaal PLoS One gepubliseer.

Die kunswerk was ’n uitbeelding van ’n terapsied, wat ’n disinodonte genoem is, wat tussen 260 miljoen en 200 miljoen jaar gelede geleef het. Dié diere, wat voorlopers van die soogdiere was, se fossiele is volop in die Karookom se landskap.

Die paneel waarop die werk voorkom, is sowat 1,2 m lank en is deel van ’n groter een met nog diere van sowat 10 m lank. Dit is ontdek op die plaas La Belle France in die Vrystaat. “Terwyl die beeld op ’n vreemde manier soos ’n walrus lyk, is daar nie sulke diere in Afrika nie,” sê Benoit, wat die werk herinterpreteer het.

Die dier wat uitgebeeld word, het twee prominente strukture wat geïdentifiseer word as slagtande of langtande. Hulle lyk soos dié van die gefossileerde skedel van ’n disinodonte wat ooreenstem met die plaaslike San-mite, wat hierdie dier as ’n uitgestorwe spesie uitbeeld.

Sy tande wys reguit af, anders as in die San se uitbeeldings van ander langtanddiere (werklik of in fantasieë), waarin die tande altyd na bo wys.

Dit verskil ook van ’n olifant deur die afwesigheid van ’n slurp. Karnivore, dassies en seekoeie word gewoonlik in San-rotskuns met hul mond toe uitgebeeld, maar wanneer hulle wel hul tande wys, word beide die boonste en onderste tande duidelik uitgebeeld.

Die dier van La Belle France het slegs boonste slagtande, soos ’n disinodonte. Dit blyk dus nie ’n lewende dier te wees nie, of ’n skepping wat gedeeltelik op ’n bestaande dier gebaseer is.

“Die San het tussen gefossileerde voetspore, bene, skedels en tande van lank uitgestorwe reptiele geleef en gejag,” sê Benoit. “Hierdie skildery verskaf oortuigende bewyse dat hulle nie net hierdie fossiele ontdek het nie, maar ook probeer het om die lewende dier in hul kuns te rekonstrueer.”

.........
Dit is interessant dat die geverfde dier se liggaamshouding die “doodshouding” naboots wat algemeen in gefossileerde geraamtes gesien word, wat die verband met paleontologiese bevindings verder versterk.
.........

Benoit het talle fossielbene in die onmiddellike omgewing van die grot gevind, wat die teorie ondersteun dat San-kunstenaars hul uitbeelding op werklike fossielontdekkings gebaseer het. Dit is interessant dat die geverfde dier se liggaamshouding die “doodshouding” naboots wat algemeen in gefossileerde geraamtes gesien word, wat die verband met paleontologiese bevindings verder versterk.

’n Saamgestelde foto wat die rotskuns van die uitgestorwe disinodonte, saam met ’n fossiel van die spesies en ’n kunstenaarsvoorstelling van die rotskuns, toon. (Illustrasie: Wits)

Die kuns is na raming nie later nie as 1835 gemaak, voor die eerste wetenskaplike beskrywing van disinodonte in 1845 deur die Britse paleontoloog sir Richard Owen. Hierdie tydlyn vestig die San as baanbrekerpaleontoloë wat uitgestorwe spesies lank voor die formele wetenskaplike gemeenskap herken het en kon uitbeeld.

“Hierdie bevinding is buitengewoon. Dit dui daarop dat die San-mense besig was met paleontologie lank voordat Westerse wetenskaplikes selfs geweet het hierdie wesens bestaan,” sê Benoit.

........
“Hierdie bevinding is buitengewoon. Dit dui daarop dat die San-mense besig was met paleontologie lank voordat Westerse wetenskaplikes selfs geweet het hierdie wesens bestaan,” sê Benoit.
........

’n San-mite herinner daaraan dat “enorme monsters” wat nou heeltemal uitgesterf is, baie lank gelede in Suider-Afrika rondgeloop het. Hierdie verhaal kan verwys na die disinodont-fossiele van die Karoo wat die San ontdek en probeer interpreteer het. Die studie van die La Belle France-grotskildery en sy geheimsinnige dier ondersteun dit.

“Die disinodonte is dalk uitgebeeld as ’n ‘reëndier’, ’n mitiese wese in die San-kosmologie. Hulle kon dalk ’n spesiale betekenis in San-skilderye gehad het.”

Waar kom die fossiele vandaan?

Die gesteentes van die Karookom (Karoo-supergroep) beslaan meer as die helfte van die grondoppervlakte van Suid-Afrika en is ruimtelik oor ongeveer 300 000 vierkante km versprei.

Die Karookom in Suid-Afrika is wêreldbekend omdat dit ’n deurlopende rekord van die oorgang van die Perm na die Jura bewaar. Suid-Afrika het die enigste aaneenlopende rekord van fossiele van 300 miljoen jaar (die Karboon) tot 180 miljoen (die Jura) jaar gelede. Met van die mooiste fossiele van “soogdieragtige reptiele”.

Terapsiede was “soogdieragtige reptiele” en is die oerouers van die soogdiere, insluitend mense. Een groep van die terapsiede was die disinodonte. Alle spesies van disinodonte was herbivore en hul groottes het gewissel van klein grawers tot reuse blaareters.

Hulle het onder andere die Permiese massa-uitsterwing van 252 miljoen jaar gelede oorleef en het die dominante landherbivore in die Middel- en Laat Trias geword.

.........
Destyds was daar berge so hoog soos die Himalaja-gebergtes in Suid-Afrika en die oorskot hiervan is aan die suide van die Karookom – dele van die Swartberge.
.........

Destyds was daar berge so hoog soos die Himalaja-gebergtes in Suid-Afrika en die oorskot hiervan is aan die suide van die Karookom – dele van die Swartberge. Sediment van dié bergreeks is noordwaarts gedra en in die Karookom neergelê. Die oudste dele van die ou kuslyn in die Karoo is tussen die dorpe Rietbron en Laingsburg, en is 266 miljoen jaar oud. Die Karoo-see het met sediment bly vul tot aan die einde van die Perm – ’n era – tot sowat 252 miljoen jaar gelede, toe die laaste mariene toestande in die noorde nog voorgekom het.

Maar dit het nog miljoene jare geneem voor die eerste soogdiere dominant geraak het. Die dinosourusse, vlieënde reptiele, en baie unieke seediere het eers ontwikkel. Daarna het nóg ’n massa-uitwissing die aarde getref – 65 miljoen jaar gelede – toe die dinosourusse se era verby was.

As dit nie gebeur het nie, is dit onwaarskynlik of soogdiere – en die mens – dominant sou geword het. Die terapsiede en hulle nasate wat die groot uitwissings oorleef het en tot ons gelei het, se fossiele lê in die Karoo. In daardie oerbegraafplaas van die landskap.

Die navorsing van Benoit herskryf nie net die geskiedenis van paleontologie nie, maar beklemtoon ook die diepgaande wetenskaplike begrip en skerp waarnemingsvaardighede van inheemse gemeenskappe. Dit open nuwe weë om rotskuns te interpreteer en die komplekse verhouding tussen antieke volke en die prehistoriese wêreld rondom hulle te verstaan.

Lees ook:

Vroegste bewyse nóg van moderne mense wat na Europa migreer het

Ou DNS wys bron van siekte

Die eerste skoene: spore van ou plakkies tot hoëhakskoene

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top