NATi-aansoeke oop vir produksievoorleggings

  • 0

Cornelia Faasen (Foto: verskaf)

Indien jy ’n idee vir ’n teaterproduksie het en graag jou produksie op die planke wil sien, moet jy góú spring. Die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) se aansoeke is oop vir rolspelers in die teaterbedryf om ’n voorlegging vir ’n produksie in te stuur vir oorweging vir 2021 en 2022.

Volgens NATi se webtuiste is hulle op soek na “nuwe, innoverende idees in ’n verskeidenheid genres: musiekteater, drama, komedie, dans- of bewegingsteater en lewende kuns”. Alle aansoeke moet teen 1 Junie 2020 om 17:00 ingedien word.

NATi is ’n inisiatief wat daarop fokus om Afrikaanse teater te ondersteun, te bevorder en te befonds, en sodoende Afrikaanse produksies op die planke te bring. Oor die jare het NATi al gehelp om verskeie produksie-idees tot realiteit te omskep en na kunstefeeste oor die land te stuur. Dié produksies sluit onder andere in die bekroonde Koningin Lear met Antoinette Kellermann, Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais en Neels van Jaarsveld wat by verskeie kunstefeeste die aandag getrek het. Antjie Krog was verantwoordelik vir die teks en Marthinus Basson vir die regie.

So het NATi ook al vir talle jong opkomende kunstenaars die geleentheid gebied om hul werk op die verhoog te sien, soos die jong Herschelle Benjamin se bekroonde In Slavenhuis 39.

Cornelia Faasen, die hoof uitvoerende beampte van NATi, vertel meer oor waarna hulle op soek is wanneer hulle idees vir produksies oorweeg, en gee raad vir enigeen wat beoog om ’n idee in te skryf.

Koningin Lear (Foto: Nardus Engelbrecht)

Is daar enige spesifieke kriteria of voorskrifte waaraan die voorstelle moet voldoen?

Omdat ons binne so ’n kreatiewe omgewing werk, beoordeel ons elke voorstel of voorlegging op eie meriete. Daar is nie een lys kriteria wat in yster gegiet is nie; daar is eerder ’n reeks kriteria wat ons in ag neem. Ons probeer die teaterlandskap elke jaar opnuut beoordeel en kyk na waar daar nuwe temas of aktuele onderwerpe is wat aandag vereis, watter opkomende kunstenaars geleenthede gegun behoort te word, hoe ons na ons meer ervare kunstenaars kyk. Is daar ’n goeie balans tussen nuutgeskepte werk en bestaande of vertaalde werk? Is daar ’n goeie balans tussen avant-garde en grensverskuiwende werke en ook kommersiële werk? Is daar te veel eenpersoonsvertonings? Of is daar te veel groot stukke met groot stelle wat net in bepaalde lokale kan speel by feeste en wat baie geld kos om op toer te gaan? Wanneer ons tematies na die werk kyk, moet ons ook in ag neem dat daar genoeg diversiteit in die tipe werk en soort Afrikaans is wat op die verhoog geplaas word. Ons gehore is divers en ons kunstenaars ook – ons moet seker maak dat ons feeste en ook ’n organisasie soos NATi dit reflekteer. Ons kyk ook ernstig na die vraagstuk of kommersiële werk wat self ’n inkomste genereer deur kaartjieverkope, finansiële ondersteuning geniet versus moeiliker werk wat nie so goed sal verkoop nie, maar baie meriete het. Dan worstel ons met die vraag of ons verantwoordlikheid juis lê by werk wat andersins nie die lig sal sien nie omdat dit te duur is en dat ons juis ons fondse daarvoor moet aanwend.

Koningin Lear (Foto: Nardus Engelbrecht)

Wanneer ons die legkaart laat pas het, is wanneer ons die besluite neem. Ons konsulteer baie wyd met die Feesteforum en neem die besluite saam met hulle om ook hul unieke behoeftes te dien – feeste is ons heel belangrikste vennote en daarom moet ons in ag neem wat die feeste se unieke profiele is en spesifieke hoe gehore by feeste verskil. Nie alle produksies werk by alle feeste nie en daarom moet ons kyk na unieke pakkette vir elke fees.

Uiteindelik is ons oogmerk om die bedryf en al die rolspelers te dien – daar is baie faktore wat ’n rol speel waarvan gehore of selfs kunstenaars nie eens altyd bewus is nie. Daar is wel baie opinies … en dis lekker, so ek luister graag na wat mense vir my vertel oor wat ons eerder moet doen. So leer mens wat mense se persepsies van goed is en dis ook belangrik. Ek spandeer onder normale omstandighede 50% van my tyd in afsprake met rolspelers om na mense se idees te luister en raad te gee of die groter prentjie te skets. Dis ’n ongelooflike voorreg om in so ’n posisie te wees waar kunstenaars jou vertrou in die toets en konseptualisering van hul werk en om te sien hoe dit later gestalte vind op die verhoog. Ons betrek ook in die siklus (soos vorige kere) ’n onafhanklike paneel om ook te help lees en ’n verslag op te stel vir die feeste, wat as ekstra maatreël dien in ons besluitnemingsproses.

In Slavenhuis 39 (Foto: Vulture Photography)

In Slavenhuis 39 (Foto: Vulture Photography)

Julle noem dat voorkeur gegee sal word aan werk wat grensverskuiwend of uitdagend is en selfs kruisbestuiwend tussen genres werk. Wat presies bedoel julle hiermee?

In hierdie onsekere tyd wil ons graag kunstenaars uitdaag om kreatief om te gaan met hulle werk en die manier waarop hulle dink oor die rol van die kunste, en spesifiek die teater. Ons het gevoel dat die laaste paar jaar ’n sterk bloeitydperk was vir ’n bepaalde soort teater, maar dat teaterkunstenaars toenemend werk skep met ’n “mark” in gedagte of die idee van die verkoopbaarheid van hul werk. Ons wou hul ’n bietjie bevry van dié boeie en aanmoedig deur te sê NATi is oorspronklik in die lewe geroep met die idee dat grensverskuiwende werk wat nie andersins die lig sal sien nie, deur ons befonds word. Ons wil so ’n bietjie teruggaan na ons “wortels”. Ons het die laaste paar jaar baie aandag gegee aan feeste se versugting vir werk wat kaartjies verkoop, omdat feeste afhanklik is van die inkomste (aangesien ons die ontwikkelingskoste dek), maar ons hoop dat ons kunstenaars volgende jaar vir ons nuwe insigte gaan bring oor die veranderende wêreld waarin ons leef.

In Slavenhuis 39 (Foto: Vulture Photography)

In Slavenhuis 39 (Foto: Vulture Photography)

Ek is redelik seker gehore gaan ’n behoefte hê aan ligter werk, maar terselfdertyd het die wêreld en ons perspektiewe daarop onherkenbaar verskuif die laaste drie maande, en ons kunstenaars moet daaroor besin. Ons kan nie volgende jaar net komedie of eenpersoonsvertonings aanbied nie. Ons moet onsself uitdaag. Daarom wil ons vir kunstenaars die versekering bied dat daar nog ’n behoefte is aan werk wat nuwe vorme ondersoek (aanlyn teater moet nou ondersoek word) solank die vorm en inhoud met mekaar gesels. En dan moet daar kruisbestuiwend gedink word – ons hoop om volgende jaar te kan voortgaan met feeste, maar indien dit nie moontlik is nie, gaan ons baie kreatief moet wees oor hoe ons teater by die mense gaan uitkry – terwyl ons respek betoon teenoor teater as medium en nie enige nonsens net met ’n selfoonkamera afneem en gehore laat betaal daarvoor nie. Ons moet kwaliteit bo alles stel en seker maak ons kunstenaarsgemeenskap het werk en ’n inkomste – so iewers tussen al die oorwegings lê die antwoord. In ’n neutedop: Wees innoverend. Dit is hoe ons teater in die nuwe wêreld waarin ons nou leef, gaan red. En hoe kunstenaars hulself gaan red. Sonder dat ons dink om alles aanlyn te doen, ten koste van inhoud en kwaliteit, is die antwoord. Dit is beslis nie.

Nog ’n produksie van NATi, Valsrivier (Foto: Greteli Fincham)

Moet die teks van die produksie nuutgeskep wees of kan dit ’n bestaande teks wees wat iemand op die planke wil bring?

Dit moet nuutgeskep wees, maar ons sal bestaande tekste oorweeg indien dit ’n nuwe perspektief of stem toevoeg tot die teks en indien dit duidelik is dat die teks geweldig relevant of belangrik is.

Moet die produksie in Afrikaans wees?

Ja, ons is ’n organisasie wat Afrikaans in al sy variëteite bevorder deur middel van teater, maar veeltalige tekste sal oorweeg word solank Afrikaans steeds prominent is.

Nog ’n produksie van NATi, Valsrivier (Foto: Greteli Fincham)

Waarna kyk jul wanneer julle voorstelle oorweeg? Wat laat ’n voorstel uitstaan?

As ’n eerste stap moet die kwaliteit van die aansoek uitstekend wees – dit moet volledig wees, met al die nodige dokumente. Onvolledige aansoeke sal onder geen omstandighede oorweeg word nie. En dan soek ons vars, nuwe idees wat nog nie tevore op die verhoog gesien is nie. Ons oorweeg alle aansoeke met dieselfde aandag en sorg, maar ons soek nie dié jaar dieselfde herkoude goed nie – ons is juis op soek na vernuwing. Volgende jaar of die jaar daarna kyk ons weer na ander faktore, maar vir 2021 soek ons die beste kreatiewe denke van ons kreatiewe mense. Kunstenaars moet dink en omgaan met ons huidige omstandighede. Ons soek nie ’n klomp virusstukke nie, maar ons kan ook nie maak of ons nie nou gekonfronteer word met ’n klomp goed nie.

’n Produksie van NATi, Swerfgoed (Foto: verskaf)

Watter wenke het jul vir iemand wat ’n idee wil inskryf vir oorweging?

Maak seker jou begroting is korrek en realisties. Dit reflekteer baie sleg op ’n aansoek indien jou begroting nie met die nodige sorg opgestel is nie – ons kan dit dadelik sien. Dit beteken óf jy gee nie om nie, óf jy weet nie wat jy doen nie. Dit is dus die heel eerste ding waarna ek kyk. Tweedens, moenie ligtelik omgaan met inligting nie – moenie vir my sê Sandra Prinsloo speel in jou stuk as daar geen manier is dat dit gaan gebeur nie! As ek ’n rand gehad het vir elke aansoek wat ek al ontvang het die laaste paar jaar waarin Sandra gaan speel, of wat Marthinus Basson gaan regisseer, was ek al baie ryk.

Wat sou julle sê om mense aan te moedig om hul voorstelle in te skryf?

Ons is die enigste organisasie van ons soort in die land (nie net die enigste in Afrikaans nie) en ons tree op as befondser, vervaardiger, ondersteuner, ontwikkelaar en biegmoeder. Om deur NATi befonds te word, is ’n unieke ervaring wat jou as kunstenaar ’n geweldige platform gun om jou drome te laat waar word.

’n Produksie van NATi, Katvoet (Foto: Retha Ferguson)

As jou voorstel gekies word, wat beteken dit? Hoe staan NATi jou by om jou produksie op die planke te bring?

Dit wissel dramaties van produksie tot produksie en ook van fees tot fees en jaar tot jaar. In sommige gevalle verskaf ons al die befondsing, in sommige gevalle befonds ons speelvakke, en soms maak ons ’n klein bydrae omdat kunstenaars ontwikkelingsgeld nodig het. Die kreatiewe ondersteuning en aanmoediging bly egter deur die bank dieselfde.

Ek dink ook NATi het oor die jare ’n reputasie opgebou as ’n organisasie wat kunstenaars wyd ondersteun, maar ’n bepaalde status aan produksies verleen wanneer ons dit wel ondersteun. Amper soos ’n stempel van kwaliteit of ten minste dat daar ’n baie bepaalde rede is waarom die werk ondersteun moet word – weet net, as dit jonger kunstenaars is, en jy dink nie die kwaliteit was so hoog nie, dat ons wel om verskeie redes die potensiaal raaksien. Ook glo ons dat ons nie jaar na jaar dieselfde mense kan ondersteun nie, ten einde die botter so dun as moontlik oor almal te smeer.

’n Produksie van NATi, Katvoet (Foto: Retha Ferguson)

Wat is sommige van die produksies wat NATi al oor die jare opgelewer het?

Ag, die lys is eintlik eindeloos...


  • Om ’n voorlegging vir ’n produksie in te stuur vir oorweging besoek NATi se webtuiste.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top