Aardklop 2018: Swerfgoed, onbesonge kultusteater

  • 1

Met Anna-Mart van der Merwe, Nicole Holm, Richard September en Andrew Laubscher Regie: Tinarie van Wyk Loots Teks: Bauke Snyman Ontwerp: Jemma Kahn Produksie- en verhoogbestuurder: Michael Garbett Vervaardiger: ’n Ko-produksie tussen NATI, die Baxter-teatersentrum, Kunste Onbeperk en die US Woordfees Moontlik gemaak deur: KunsStig


Daar is maar net iets aan distopiese vertellings – iemand se unieke voorstelling van ’n onbekende vervalle wêreld, vermeng met die rillende (en dikwels onvermydelike) subteks van geweld wat kan walg en terselfdertyd betower.

Die openingstoneel van Swerfgoed sal die niksvermoedende gehoor in die halfdonker na hul kaartjie laat vroetel om te kyk of hulle nie per ongeluk by ’n Boetie se sussie se watsenaam-produksie beland het nie. Maar ’n skielike gewelddadige wending stel ’n mens dadelik gerus. Water is immers die olie van die toekoms en bring ironies genoeg die onsuiwerste in mekaar uit – iets wat duidelik word as die verlate Motel Stillewater op sy kop gekeer word.

Swerfgoed herinner deurgaans aan ’n Afrikaanse teaterweergawe van ’n geslaagde Quentin Tarantino-projek. En net soos laasgenoemde is die oorspronklikheid van die teks en regie van so ’n aard dat dit die enkele gebreke daarvan sorgeloos verbloem.

Die nie-chronologiese benadering is doeltreffend. Dit gee die nodige diepte wat verhoed dat die stuk soos sommige ander apokaliptiese verhale karikatuuragtig word. Dit breek ook die tonele op sodat dat die "andersheid" daarvan meer verteerbaar is vir ’n gehoor wat halfpad deur waarskynlik voel asof hulle deur ’n mini-atoombom getref is. Hierdie nie-liniêre vertelling kon wel met behulp van bykomende hulpmiddels die teks beter verpak het. ’n Mens dink dadelik aan Marthinus Basson se meesterlike weergawe van Roland Schimmelpfennig se Die Vrou Vantevore waarin daar deurgaans van flikkerende datums gebruik gemaak word sodat die gehoor nie heeltemal verdwaal in die verwarring van tydspronge nie.

Verder, alhoewel September se martelingstoneel uitsonderlik is, veroorsaak sy gelyktydige vertolking van die moteleienaar se twee kinders onnodige verwarring.

Die teenmiddel vir bogenoemde tekortkominge is Van Wyk Loots se algemene regie-flair, wat sorg vir oomblikke van briljantheid. Wie sou kon dink ’n voëlhok as kopstuk en swemklere as prisoniersdrag kan sorg vir ’n onvergeetlike tronktoneel? ’n Vreesaanjaende ontmoeting met ’n gemaskerde patriarg verdien ’n pluimpie (en kultusaanhang!) en is ’n toneel wat die gehoor êrens in die toekoms nog nagmerries gaan gee.

Snyman se teks bevat elemente van Griekse tragedie en absurde teater wat deur Albert Camus in die sestigs vervolmaak is. Maar waar laasgenoemde uiteindelik ontrafel in ’n kookpot van irrasionaliteit en (uiteindelik) algehele donker en stilte, bied Swerfgoed ’n rasionele oplossing – heel gepas as ’n mens dink aan die vernuwing wat water aan dorheid kan meebring.

Die spel is voortreflik. Holm as die verontnugterde (durf ek sê ietwat platvloerse?) moteleienaar word met oortuiging vertolk, met genoeg sensitiwiteit vir die komplekse aftakeling van menswees wat met ’n distopiese wêreld gepaardgaan. Terselfdertyd is dit besonders om Van der Merwe as anti-held te sien. Haar amperse stille teenwoordigheid is die gom wat alles bymekaar hou.

Maar dit is uiteindelik Laubscher en September se ondersteunende rolle wat die kollig steel. Laubscher se vertolking van die wraakgierige tog versukkelde seun (in sy ewe treurige Barney-kostuum) verdien lof – dit verg ʼn gesoute akteur om so ʼn komplekse tritagonis oortuigend te speel. Daarteenoor is September se veelsydigheid uitstekend en ʼn aanwins tot Afrikaanse teater.

Dis jammer dat heelwat mense tydens die vertoning uitgestap het. Ook dat die reaksie van dié wat wel gebly het, maar aan die flou kant was. Swerfgoed verdien die applous wat dit nooit gekry het nie. En tog kry ’n mens die idee dat dit die betrokkenes min skeel. Soos dit ware kultusteater betaam.

  • Constant van Graan is resensent, skrywer en senior lektor verbonde aan die Noordwes-Universiteit

Aardklop 2018: ’n onderhoud met Tinarie van Wyk Loots oor Swerfgoed

 

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Al die tannies en ooms wat uitgewaggel het met omtrent elke oorgangstoneel het dit soveel meer genotlik gemaak!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top