Toyota US Woordfees 2020 Instagram-resensie: Die dinge van ’n kind

  • 1

“Stick with me, baby. Ek kan nie belowe dat ek jou famous sal maak nie. Maar jy sal fun hê langs die pad.” Die meeste boekvrate en bibliofiele kan sonder om ’n oog te knip aanhalings uit hulle gunstelingboeke opsê, en hierdie drie sinnetjies val sonder twyfel in dié ikoniese opsê-kategorie. 26 jaar na sy verskyning is Die dinge van ’n kind steeds een van Marita van der Vyver se gewildste werke. Die besluit om dié coming-of-age (met heelwat outobiografiese gegewens) vir die verhoog te verwerk, was eintlik ’n no-brainer.

Die hoofkarakter, Mart Vermaak, voel haar hele lewe lank effe ontuis. Die politieke klimaat, die grensoorlog, te veel verlies en onvervulde drome dra by tot haar ewige ongemak met die wêreld, maak nie saak waar sy haarself bevind nie. Die jonger Mart word sterk beïnvloed deur haar ouer broer Simon, sy vriend Pierre en haar beste vriendin Dalena (die spreker van die drie ikoniese sinne). Die ouer Mart staan steeds gebuk onder die nadraai van verskeie sleutelgebeure in haar jeug. Gaan sy ooit die nodige rustigheid vind?

Cintaine Schutte skitter in die rol van die jonger en ouer Mart. Met slegs ’n lyfdraai of ’n kopknik weet jy watter een van die twee Marte aan die woord is. (Die naatlose oorgange word verder versterk deur Schalk Joubert se hipnotiserende klankbaan en welgekose musiek.) Die gehoor gly gemaklik saam van ’n koshuiskamer in die fiktiewe Swartrivier na ’n woonstel in Londen, van ’n sweterige tienerpartytjie na ’n traumatiese roudiens. (Laasgenoemde toneel sorg vir een van dié hoendervleisoomblikke van die stuk.) Schutte, onder die bedrewe regisseurshand van Nicole Holm, is eenvoudig briljant. Toegegee, sy is gewapen met ’n wonderlike teks, maar om vrou-alleen ’n gehoor vir bykans 90 minute moeiteloos in die palm van jou hand te hou? That is no mean feat. Die dinge van ’n kind is ’n feeshoogtepunt. Gaan kyk dit gerus.

#woordfees2020 #dingevannkind
@woordfees @cintaineschutte @fakingfrench @schalkjoubertmusic @strachanalexa @margitmeyerrodenbeck
(✏ Nadine Petrick @nakadien)

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Magda Vermeulen

    Briljant en ditto op elke woord van die bostaande resensie. Dis ’n reis deur die psige van die Afrikaner in daardie deurmekaar grootwordtyd of eerder grootwordstryd. ’n Vergestalting van Calvinistiese skuldgevoelens oor ontwakende seksualiteit en die misleiding van ’n volk ... Wat is waar en wat is nie? Wat waar is, is dat ons almal eintlik stukkend is en sit met die letsels van ons persoonlike en volkie se hartseer geskiedenis. Waarom anders het ek dan so gehuil?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top