Toyota US Woordfees 2020: Dominique Botha oor Valsrivier op die verhoog

  • 0

Valsrivier, Dominique Botha se hoogs aangeskrewe debuutroman van 2014, maak vanjaar by die Toyota US Woordfees ’n buiging as toneelstuk. Theatrerocket vervaardig die produksie wat deur Saartjie Botha vir die verhoog verwerk is. Janice Honeyman is die regisseur en die rolverdeling spog met Anna-Mart van der Merwe, Stian Bam, Tinarie van Wyk Loots, Robert Hindley, Wiseman Sithole en Peggy Tunyiswa.

Robert Hindley en Tinarie van Wyk Loots is Paul en Dominique Botha in Valsrivier wat vanjaar by die Toyota US Woordfees debuteer. (Foto: Lindsey Appolis)

In 2019 het Theatrerocket, wat ’n uitstekende reputasie opgebou het met produksies soos Die reuk van appels en Kamphoer, vir Dominique genader met die voorstel om die boek in ’n verhoogstuk te omskep. “Rudi Sadler en Johan van der Merwe van Theatrerocket het dadelik ’n droomspan saamgeroep vir die projek en sodoende my goedkeuring en vertroue gewen,” vertel sy.

Dominique Botha (Foto verskaf)

Die verwerking van Valsrivier, waarvan die prosa dig, poëties en liries is, na dialoogformaat vir die verhoog moes beslis ’n uitdaging gewees het. Dié taak het Dominique uit die staanspoor oorgelaat aan die kundigheid en gerekende vermoëns van Saartjie Botha. “Ek het my boek aan Saartjie toevertrou oor ’n toebroodjie en ’n koppie tee in Stellenbosch se Botaniese Tuin. Ek glo die boek is in baie veilige hande en voel geëerd dat Saartjie daarmee wou worstel.”

Was sy bang dat die liriese aanslag van die prosa in die omskakeling verlore sou gaan? Daaroor het Dominique ’n nugtere benadering, want prosa en drama verskil immers soos dag en nag. “’n Roman bevat beide prosa en dialoog. Die prosagedeeltes verlangsaam die ritme van die vertelling, en die dialoog versnel dit weer. ’n Verhoogstuk bestaan hoofsaaklik uit dialoog, en het dus uit die staanspoor minder liriese moontlikhede.” Boonop bring die verhoogverwerking ’n nuwe dimensie en ’n tweede lewe in ’n nuwe genre, weliswaar binne die beperkte ruimte van die verhoog.

“Wat maak drama boeiend?” vra Dominique. “Ek dink dis spanning en glo dus dat die toneelstuk op verhoudings eerder as op beskrywings geskoei sal word.”

Gebeure in die roman word chronologies aangebied, en die vertelling strek oor 27 jaar en vele landskappe. “Dis uiteraard onmoontlik, en onwenslik, om so iets getrou op die verhoog te wil weergee,” sê sy. “Nog voor die gehoor van slaapsiekte omkom sal die begroting geblaas word.”

En wat doen ’n mens ná alles om ’n rivier, lieflik alomteenwoordig in die boek, op die verhoog aan die vloei te hou? Dié uitdaging is gelukkig Saartjie Botha s’n; as prosaskrywer beperk Dominique haar tot die domein van haar verbeelding. “Die vertolking van Valsrivier op die verhoog is juis nog ’n watergat wat oopgeboor is uit die ondergrondse bron van die verbeelding. Elke skeppende poging is ’n soeke na water en soms maak ’n oog oop op ’n fontein, en miskien selfs ’n rivier. Daarin lê die meesleurende vermoë van kuns om jou uit die huidige na die ewige te ruk, al is dit net tydelik.”

Peggy Tunyiswa en Wiseman Sithole speel die rolle van Mary en Abel Dlamini in Valsrivier. (Foto: Lindsey Appolis)

Valsrivier het ’n sterk outobiografiese inslag, en dit vertel die verhaal van Dominique en haar oorlede broer Paul. ’n Mens kan nie help om te wonder hoe die herbesoek aan daardie pynlike geskiedenis die skrywer raak nie. Destyds, met die verskyning van die roman, het Botha in ’n onderhoud met Joan Hambidge opgemerk: “Met nabetragting sou mens kon sê dat die kortwieking van my broer se kreatiewe impuls uiteindelik vleuels gegee het aan my eie stem.”

Is die verhoogstuk, jare na die verskyning van die boek, nou ’n effens minder pynlike viering van Paul se nagedagtenis, of boor dit weer are van verdriet raak? “Ek weet eerlik nie hoe ek die toneelstuk gaan ervaar nie,” sê Dominique. “Die pyn is vir baie jare lank nie meer rou nie, maar mens weet nooit. Wat ek wel geleer het, is dat elke begrafnis wat ek bywoon eintlik ’n herhaling is van daardie eerste en verskriklikste een.” Die ondersteuning van haar familie vergemaklik alles. Dominique beskou beide die boek en die toneelstuk as ’n viering van herinneringe aan Paul, asook van hul ouers se “onverskrokke lewensuitkyk”.

Om met ’n produksiehuis soos Theatrerocket saam te werk, sorg vir sy eie opwinding. Dominique is beïndruk met die geselskap, en boonop koester sy sedert haar grootwordjare romantiese gedagtes oor verhoogmense. “Die reisende teatergroepe en konserte van weleer was ’n regte hoogtepunt. Ek glo Theatrerocket vergestalt die ou gebruik van sigeuners wat met waens rondgeswerf het en die vlam van musiek maak en stories vertel lewendig gehou het. Teater en kultuur met ’n klein ‘k’ was nog altyd ’n agent vir verandering en ondermyning van enige heersende orde.”

Anna-Mart van der Merwe en Stian Bam is Sandra en Andries Botha in Valsrivier. (Foto: Lindsey Appolis)

Wat sê ’n skrywer vir die formidabele span akteurs wat in die verhoogstuk Valsrivier optree? Of is dit raadsaam om jouself eerder op die agtergrond te hou? “Ek sê by voorbaat baie, baie dankie vir julle belangstelling, kundigheid en toewyding. Ek en my familie voel enorm geëerd om deur julle ons gedeelde geskiedenis te kan herleef.” Dominique het nog nie die span ontmoet nie, maar hoop dat dit binnekort gaan gebeur.

Iewers het ’n voëltjie gefluit dat daar ’n digbundel van Dominique Botha op pad is. Met haar poëtiese stem wat lesers in Valsrivier bekoor en ’n string literêre pryse verower het, kan dit natuurlik nie anders nie. Die blye nuus is dat sy dié opwindende gerug kan bevestig, al is dit nie sonder ’n ligte bewerasie nie. “Ek moet erken dat ek bietjie hoogtevrees opgetel het na die onvoorstelbare ontvangs van Valsrivier. Ek is ook ’n bangbroek, lui en my aandag is versnipper deur te veel belangstellings en verantwoordelikhede.”

Maar dit is Joan Hambidge wat Dominique een aand in ’n restaurant gekonfronteer het oor haar digterlike vrese: “Moenie jou umwelt as ’n alibi gebruik om nie te dig nie.” Die bundel is later vanjaar op die rakke. “Met Joan se begeesterende aanmaning in gedagte, hoop ek dat ’n boom sal sterf vir die druk van my bundel voor die haan op die jaar kraai,” sê Dominique die digter.

En hier is ’n voorsmaak van wat lesers kan verwag:

die kind wat geen perke geken het nie

jou broertjies en susters was so hartseer
soos speenkallers in die reën
nat snoete in die ysterdrukgang
van bloederige naelstring tot slagpaal
pa het in sy bakkie gesit en rook
ma het die goedkoopste kis gekies
om die volkies te wys
mens mors nie geld op dooies nie

jou kis het woekery weerspreek
sonder die donker viool van jou hart
die polsende klok van jou heroïese vreugdes
onder verhewe kruissteek van spreeukloue gestil
op ’n katafalk van planke
was jou vel groen soos jong piesangs
wat ons by die kruidenier
van Madeira Fruits gekoop het
hy’t nooit Engels kon leer nie
wat het ons geweet van die leivore
wingerde en kantwerk van sy vaderland?
met ons skurwe hakskene veldsere en douwurm
het ons gelag vir die Porra

die ure het saffraan gesprinkel oor
die gebarste appels van jou oë
ons Midas van die alledaagse
deur jou gesien het alles mooi geword
die kere toe ma soms gelukkig was
haar stem ’n geskeurde blom van sy
in die kombuis waarheen ons gewals het
met ’n mandjie vol eiers en vere en skyt
om meel deur die sif te mors

niemand woon meer daar nie
die vlei fluister deur die gange
uile staan wag op niks

jou grafsteen het geswel
soos ’n brood uit die sooie
die vryheid waarna jy gesmag het
andries se oudste mooiste slimste
was ’n smerige verskiet van sterre
’n skag in leem gedolwe
’n skuiling teen somer

ons het boxertwak gerol
om die pappery van nagte te blus
en dronk op jou graf gedans

’n kooltjie brand nog soms in pa se oog
fyn linte rook uit die sprokkelhout van katarakte
wanneer hy tastend deur rammelende laaie
vir zam-buc, veters, kaart en transport
die god in hom laat huil

ons strydros wat stotterend
weerligkettings
roggelend oor die aarde sleep

 

Kom kyk Valsrivier by die Toyota US Woordfees: 6–11 Maart by die Adam Small Ouditorium. 

 

 

Vervaardiger: Theatrerocket
Teks: Saartjie Botha (na die roman deur Dominique Botha)
Regisseur: Janice Honeyman
Stel- en beligtingsontwerp: Wolf Britz
Verhoogbestuurder: Kaylie van Heerden
Ondersteun deur NATi
Met: Anna-Mart van der Merwe, Stian Bam, Tinarie van Wyk Loots, Robert Hindley, Wiseman Sithole en Peggy Tunyiswa

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top