Koningin Lear skop stof in mededingers se oë by Kannas

  • 0

Die debuutteaterproduksie Koningin Lear het skoonskip gemaak by vanjaar se Kanna-toekenningsgeleentheid by die Colourlab in Kaapstad. Dié produksie het nie minder nie as agt Kannas ingepalm. Die Kannas vereer uitnemende bydraes tot die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). Die fees, wat in Maart plaasgevind het, het vanjaar sy 25ste bestaansjaar gevier.

Akteurs van die produksie Koningin Lear

’n Kleurvolle aand was dit inderdaad by die Colourlab, met uitspattige dekor wat genooides begroet het soos hulle ’n glasie op die aand geklink het. Gaste kon heerlik kuier op die balkon wat oor die skitterende stadsliggies uitkyk voordat daar binnetoe beweeg is vir die aand se verrigtinge. Die aktrise Lee-Ann van Rooi was die aanbieder vir die aand.

Antoinette Kellerman vertolk die titelrol in Koningin Lear en het die Kanna vir beste aktrise gewen. Marthinus Basson, wat die regie behartig het, het weggestap met die Kanna vir beste regisseur en beste teaterontwerp. Die produksie is ook aangewys as die beste teateraanbieding én beste debuutwerk.

Antoinette Kellerman

Anna-Mart van der Merwe het die Kanna vir beste vroulike byspeler ontvang vir haar spel in die toneelstuk, en Edwin van der Walt die Kanna vir beste manlike byspeler.

Edwin van der Walt

Koningin Lear is ’n eietydse herverbeelding van William Shakespeare se King Lear deur die Vlaamse skrywer Tom Lanoye. Antjie Krog het die teks in Afrikaans vertaal, waarvoor sy die Kanna vir uitnemende literêre bydrae ontvang het. Die toneelstuk lewer onder meer kommentaar oor die magsug in die moderne sakewêreld.

Antjie Krog

Die Kanna vir die beste opkomende kunstenaar is toegeken aan Devonecia Swartz vir haar spel in Jakkals en Wolf Onbeperk. Craig Morris is bekroon as die beste akteur vir Johnny Boskak voel ’n bietjie … Rudi van der Merwe het die Herrie-prys vir die outobiografiese stuk Lovers, dogs and rainbows ontvang.

Devonecia Swartz

Die Kanna-prys vir die beste musiekproduksie het gegaan aan My Miriam Makeba Story with Sima Mashazi. ’n Gesamentlike uitstalling van Donald Wasswa van Uganda en Onyis Martin van Kenia, Imagining tomorrow, is bekroon vir die beste bydrae tot visuele kuns. Paul Bayliss en Thabo Seshoka is die kurators van Imagining tomorrow.

Sima Mashazi

Jaco Conradie het die Kanna ontvang vir tegniese uitnemendheid na aanleiding van die uitmuntende tegniese ondersteuning wat hy jaarliks aan produksies by die fees verleen. Daleen Witbooi is met ’n spesiale Kanna vir diens aan die KKNK vereer. Witbooi is die afgelope 20 jaar ’n werknemer van die KKNK. Volgens Hugo Theart, die fees se artistieke direkteur, is Witbooi se onbaatsugtige diens en lojaliteit aan die fees van onskatbare waarde.

Hugo Theart

Vanjaar se Kanna-paneel het bestaan uit Mareli Stolp, Diane de Beer, Rafiek Mammom, Tracey Saunders, Wayne Muller, Alby Michaels, Lizabé Lambrechts en Gary Naidoo.

2020 se KKNK-fees vind vanaf Dinsdag 24 Maart tot Sondag 29 Maart 2020 in Oudtshoorn plaas.

Die Kanna-wenners

Die volledige lys Kanna-wenners:

Beste opkomende kunstenaar
Devonecia Swartz, Jakkals en Wolf Onbeperk  

Beste bydrae tot visuele kuns
Imagining tomorrow

Beste manlike byspeler
Edwin van der Walt, Koningin Lear 

Beste vroulike byspeler
Anna-Mart van der Merwe, Koningin Lear

Beste akteur
Craig Morris, Johnny Boskak voel ’n bietjie… 

Beste aktrise
Antoinette Kellermann, Koningin Lear

Beste regie
Marthinus Basson, Koningin Lear

Beste musiekproduksie
My Miriam Makeba Story with Sima Mashazi

 Beste teateraanbieding
Koningin Lear

 Beste debuutwerk
Koningin Lear 

Beste teaterontwerp
Marthinus Basson, Koningin Lear

Tegniese uitnemendheid
Jaco Conradie

Kanna vir uitnemende literêre bydrae
Antjie Krog, Koningin Lear

Herrie-prys
Rudi van der Merwe, Lovers, dogs and rainbows

Spesiale Kanna vir diens aan die KKNK
Daleen Witbooi

  • Foto's geneem deur Oakpics
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top