US Woordfees 2019: ’n onderhoud met De Klerk Oelofse

  • 0

De Klerk Oelofse tree vanjaar op by die US Woordfees en Yolanda Wessels vra hom oor sy verskillende produksies.

Hoe en wanneer het jy betrokke geraak by die Woordfees?

Die Woordfees het nog altyd ’n baie spesiale plek in my hart. Ek het as student vir die fees gewerk as ’n plekaanwyser om ’n ekstra geldjie te verdien, maar ook om produksies verniet te kan kyk. Dit was ’n fantastiese leerskool om as jong student na ’n verskeidenheid produksies te kon kyk en ook te sien hoe hulle elke aand, afhangend van die gehoor, kan verander. Van daar was ek nog elke jaar in een of ander hoedanigheid by die Woordfees betrokke. Verlede jaar het ek ook 22 vertonings by die fees gedoen, so met dié dat ek dit vanjaar ewenaar, noem ek nou die Woordfees sommer my “homeground.”

By hoeveel produksies is jy vanjaar betrokke?

Ek is vanjaar by vyf produksies betrokke, wat beteken ek gaan ongeveer 22 vertonings in die tien dae doen.

In watter produksies gaan jy te siene wees?

Babbelagtig

Bal-oog & Brommel: Milnerton

Kleedkamer blues

My mense is die kluts Kwyt

Nêrens, Noord-Kaap.

Betrokkenes by die produksie Kleedkamer blues

Wat kan feesgangers verwag en wat dink jy gaan gunstelinge wees?

Ek dink Babbelagtig gaan feesgangers verras. Daar is nog nooit so ’n produksie op feesverhoë aangebied nie en ek het by KKNK gevind dat mense instap met die idee dat dit ’n kinderproduksie is en uitstap met die besef dat ons almal maar klein mensies is.

Bal-oog & Brommel: Milnerton is ook nogal ’n unieke stukkie teater. Twee akteurs, een musikant en ’n wit blok op die verhoog geplak. Dis fisiese teater en mimiek ontmoet Quentin Tarantino, so dis basies die Sewes-rugbyformaat van teater.

Hoe besluit jy/julle watter produksies om in te sluit en hoe pas jy alles in in ‘n skynbaar báie vol dagboek?

Die besluit berus nie altyd by ons as kunstenaars nie. Ons lê maar die stukke aan die feeste voor en dan word dit gekeur of nie. Ek is gelukkig vanjaar dat drie van die stukke wat ek verlede jaar op ander feeste geopen het, by die Woordfeesprogram ingesluit is. Buiten hulle het die fees ook twee stukke (Bal-oog & Brommel: Milnerton en Nêrens, Noord- Kaap) teruggenooi vir nog ’n speelvak by die Woordfees na dit so populêr was op verlede jaar se program.

So ja, my skedule is nogal rof voor die fees, maar as ’n mense goed vooruit beplan is daar genoeg tyd om aan elke produksie die aandag te gee wat die stuk verg.

Die akteurs van Nêrens, Noord-Kaap

Is jy tans slegs akteur of ook self betrokke by die produksie of enigiets ander tov toneelspel/fees?

Ek is ook die vervaardiger van Babbelagtig, so ek moet so tussenin nog ’n bietjie na daai admin ook omsien. Dit is egter vir my verskriklik lekker, omdat ek so lief vir die stuk en die mense in hom is.

Is jy by ander feeste betrokke en hoe ervaar jy die Woordfees en die gees daar?

Ek gaan later in Maart na die KKNK toe ook, waar ons My mense is die kluts kwyt doen.

Elke fees het sy eie unieke feesgees, ja. Dis vir my nogal lekker dat elkeen ’n bietjie anders is. Soos ek vroeër genoem het, voel die Woordfees nou maar vir my soos “tuisgrond”. Dit is waar ek my craft aangeleer en geslyp het en nou kry jaar na jaar kans om dit daar op die proef te stel.

Jy self is ‘n baie veelsydige kunstenaar: van teater, toneel, film tot radio en televisiereekse. Dan is jy boonop vaardig met ander aksente! Dit is nie baie akteurs wat dié talent het en daarin slaag nie!

Ek dink ek is eintlik nogal sleg met aksente, veral internasionale aksente. Ek dink die aksent in Hotel byvoorbeeld is iets wat meer natuurlik na my toe kom omdat dit ’n aksent is wat ek gereeld genoeg hoor. Buiten dit moet ek baie lank en hard werk om ’n aksent onder die knie te kry.

Jou loopbaan het as sulks al op skool begin toe jou ma jou aangemoedig het om aan eisteddfods deel te neem. Van daar het jy in 2010 jou honneursgraad in drama in Stellenbosch verwerf en in 2011 die toekenning vir die mees belowende student ontvang.

Deur die jare is jy vir verskeie teaterproduksies benoem en het ook toekennings gewen. (Fleur du Cap Teatertoekenning vir Beste Ondersteunende Akteur in ‘n musiekproduksie vir Liewe Heksie: Flower Power (genomineer in 2016) asook die Absa Kanna-toekenning by die KKNK vir die rol, die kykNET Fiësta-toekenning vir die beste solo optrede in 2015 in Na-aap (genomineer), die Clover Aardklop-toekenning vir beste akteur in 2014 vir Na-aap, die US Dramadepartement se beste-akteur-toekenning 2009 (wenner) en 2014 (genomineer), ‘n Goue Sleutel-toekenning as Internasionale Akademiese Presteerder top 15% in 2010. In 2010 is jy aangewys as die beste akteur en wen jy die Absa KKNK-toekenning. In 2011 het jy die Fleur du Cap Teatertoekenning as mees belowende student gewen en in 2014 die Naledi Teatertoekenning vir Balbesit.) Hoe ervaar jy dié erkennings, veral omdat jy nog nie ‘n volle dekade in die vermaaklikheidsbedryf is nie?                                                                                             

Die erkenning is altyd wonderlik en ek is ongelooflik dankbaar daarvoor. Ek dink dit raak gevaarlik as ’n mens begin werk maak met toekennings in gedagte. Mens moet werk maak wat jou as kunstenaar uitdaag, nie wat jy dink pryse gaan wen nie.

Jy noem teater is jou eerste liefde – ervaar jy dit steeds so?

Een honderd persent! Ek dink dis waarna ek vroeër gehint het toe ek beskryf hoe dit was om as student by die Woordfees te kon sien hoe dieselfde produksies aand na aand verander – teater is ‘n lewende organisme wat saam met die kunstenaar en die gehoor groei en ontwikkel. Hoewel televisie en film van die grootste spansporte op aarde is, is hulle nie altyd ’n akteurvriendelike medium nie.

Geniet jy die reisaspek daarvan en die interaksie met teater- en feesgangers?

Die reisaspek is vir my een van die bonusse. Ek was gelukkig genoeg om verlede jaar al nege provinsies in ons land te sien. Ek sal dit vanjaar weer wil doen en dalk selfs ’n paar van die buurlande explore. Ek vind dat jy in jou eie land, tussen jou eie mense net so ’n groot kultuurskok kan kry as enige ander plek in die wêreld.

Om die vermaaklikheidsbedryf jou eie te maak en as voltydse roeping te volg is dalk nie die maklikste in Suid-Afrika nie – is dit waarom jy eers oorweeg het om logistieke bestuur te studeer? Wat het tog jou kop geswaai om eerder jou hart te volg en drama te gaan studeer?

Ek het actually nie ’n clue wat logistieke bestuur is nie. ’n Pel van my broer het op ’n dag vir my gesê “daar is moerse baie geld as jy dit gaan doen”. Toe skryf ek maar in vir dit, wat ook al dit is. My hart was nooit in dit nie, though. Ek het geweet ek wil dalk drama swot en na ek vir Neels van Jaarsveld en Quintin Krog in Boks van Marthinus Basson by Aardklop gesien het, het ek geweet ek móét drama gaan swot en dit móét in Stellenbosch wees, al gaan ek eendag niks geld maak nie.

Watter doelwitte sou jy graag wou bereik en wat sou jy sê is jou “bucket list” as akteur?

My groot droom is om vir die produksie wat ek vervaardig het, Babbelagtig, ’n speelvak in Kaapstad te laat gebeur. Daar steek iets uiters spesiaal in daai produksie en dit verdien ’n speelvak in die stad. Ek sê nie net hierdie goed omdat ek dit vervaardig het nie. As ek nie destyds die Slava’s Snow Show by Kunstekaap gesien het nie, sou ek nooit die idee vir Babbelagtig gekry het nie en net so hoop ek ook om met dié stuk vir gehore ’n ervaring te bied wat hulle sal inspireer.

US Woordfees 2019: Volledig bygewerkte program nou beskikbaar

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top