US Woordfees 2017: Wolf Britz gesels oor Piekniek by Mpande, née Dingaan

  • 0

Wolf Britz (Foto: Naomi Bruwer)

As ’n werk wat oorspronklik in 1988 geskep is, waar sou jy sê pas Piekniek by Dingaan in die konteks van Suid-Afrika se geskiedenis in?

Piekniek by Dingaan was ’n seminale teks vir Afrikaanse teater. Daar is al baie dinge daaroor gesê, en daar is baie goed wat mense nie nou meer kan onthou nie. Selfs akteurs wat daarin gespeel het, en met wie ons gepraat het, moes diep in hulle geheue krap om daaroor te kon praat.

Omdat die regering op daardie stadium ’n sekere uitkyk gehad het op wat mense se realiteit was, wat Dingaan basies gedoen het was om ’n stem te gee aan wat baie besig was om te dink, maar wat hulle dalk onder omstandighede nie in die publiek kon uiter nie.

Sodra een persoon iets hardop sê, en daar is ander mense wat daarby aanklank vind, dan begin mens ’n tipe beweging. Ek het byvoorbeeld met Mark Hoeben gepraat as deel van ons voorbereidings, en hy onthou dat Engelse mense in rep en roer was toe dié stuk by Grahamstad gedebuteer het. Hulle het gedink dat daar ’n stereotiepe Afrikaner is, en kon nie glo dat Afrikaanse mense ook so uitgesproke oor die land en die regering kon wees nie.

Wat was jou aanslag ten opsigte van navorsing, en watter gevolgtrekkinge het jy tydens die proses bereik?

Daar was ’n paar bronne in terme van argiewe en koerante wat ek geraadpleeg het. Die internet ook, maar dit was nie veel hulp nie, aangesien baie van wat mens daar vind, merendeels opinies is en dus moeilik is om te verifieer.

Behalwe Mark het ek ook met Marthinus Basson en Gustav Geldenhuys onderhoude gedoen. Tydens my gesprek met Gustav het ek egter agtergekom dat as mens nou ’n kabaret begin skep, dit beter is om nie meer so in die verlede vir materiaal te delf nie.

Ek het gevoel dat die bronteks begin inscribe wat ons nou wil doen, en dit was vir my belangrik om weg te beweeg daarvan af en te kyk na aktuele kwessies wat nou relevant is vir ons land en ons gemeenskap. Ons wou die oorspronklike gees en struktuur van Dingaan probeer behou, maar nie net ’n tribute show daarvan maak nie. Dit is dus waar Piekniek by Mpande, née Dingaan gebore is.

Kan jy asseblief bietjie meer oor die stuk se titel gesels?

Mpande kaSenzangakhona was Dingaan se opvolger, net soos ons stuk ook ’n opvolger van die oorspronklike teks is. Die née tussen die twee is aanduidend van ’n tipe huwelik. Omdat Dingaan en Mpande ook beide leiersfigure was, is hulle dus ideaal vir ’n kabaret wat kyk na mag en hoe ons humor kan gebruik om mag te ondermyn. So dra ons dus deur ’n paradoks nuwe inligting aan die gehoor oor.

Wat kan mens verwag om te sien/beleef wanneer jy ’n kaartjie vir hierdie stuk koop?

In 2017 probeer ons definieer wat protesteater is, alhoewel ek nie dink daar is een spesifieke definisie daarvoor nie. Ons lewe ook nou in ’n tyd waar informasie en tegnologie meer toeganklik is vir die publiek as wat dit in 1988 was. Ons sit nie dié stuk aanmekaar terwyl daar apartheid en sanksies is nie. Dit gesê, terwyl baie dinge verander het, is daar ook maar baie goed wat eintlik net dieselfde gebly het.

Op die ou einde is Mpande ’n poging om twee verskillende Zeitgeists te probeer saamvleg en te vergelyk. Ons probeer vasstel hoe ons wyse van dink en lewe verander het in die laaste 30 jaar. Ons het nie nou ’n apartheidsisteem waarna ons kan vinger wys nie, en ons het nie een common enemy nie. Dit raak moeilik om te sê watter issues is belangriker as ander. Die probleme is meer kompleks, en ons word gelaat met meer vrae as antwoorde. Diversiteit, en die kompleksiteit van perspektiewe, word in dié stuk na die voorgrond gebring.

Ons wegspringplek is Afrikaans, maar ons poog ook om weg te beweeg daarvan en om wyer uit te kring. Niks kan in isolasie gebeur nie. Sodra jy binne ’n geslote sisteem begin werk – as daar nie ’n exchange van energie is nie – dan gaan entropie op en implode dit die hele sisteem. So, ons kyk na taal en ons kyk na bestaan in ’n hedendaagse Suid-Afrika.

Wat mens sal sien op die verhoog, is ’n reeks sketse wat hierdie dinge aanraak. Die impetus daaragter is dat ons as kunstenaars nie by sekere gevolgtrekkinge kan uitkom nie. Ons kan net die vrae vra, maar as samelewing is ons nog steeds in prosesse van kritiese denke en bevraagtekeninge van wat dit is wat ons reg doen.

Daar is ook kunswerke deur Abri de Swardt, asook goeie spel deur ’n lekker geselskap wat Nicole Holm, Marlo Minnaar en Ilana Cilliers insluit. José Dias, wat sewe tale kan praat, doen baie interessante dinge met die musiek.

Laastens, hoe kan kabaret help om plaaslike sosio-ekonomiese en politieke gesprekke aan die gang te sit?

Kabaret het nog nooit in ’n boksie gepas nie. Dit is aanduidend van die lewe en stagneer nooit. Daarom kan ons nie daarvan verwag om nog steeds die Weimar-republiek se idees en ideale onder die loep te plaas nie. Daar is ’n plek vir kabaret in Suid-Afrika juis omdat die sambreelterm vir die genre ’n plek is om te kan aanpas en om oorlewing te kan aansny.

Bedreiging is ’n goeie katalisator vir nuwe perspektiewe en oorlewingstrategieë. Dis altyd die swart skaap wat vir jou ’n perspektief kan gee op die res van die groep. As jy na ’n samelewing wil kyk, moet jy praat met die mense wat op die grens funksioneer. Hulle gee vir jou ’n parameter, en dit help jou om ’n beter idee te vorm van hoe die kern van daardie samelewing funksioneer.

Kabaret is iets wat homself die geleentheid gee om na plekke te gaan wat nie mainstream is nie, en wat op slim maniere dinge opsom sodat ons dit op ’n eenvoudige manier kan verstaan. Dis nie pretentious nie. Dis pretending.

Piekniek by Mpande née Dingaan word op 6 Maart om 20:30, 7 Maart om 17:00 en 11 Maart om 17:30 en 20:30 opgevoer. Alle vertonings vind by Rynse Hoër Meisieskool (Rhenish) op Stellebosch plaas, en kaartjies kos R130 (vooraf) of R150 (by die deur). Sien www.woordfees.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top