![]() Foto: LAPA
|
|
Sêgoed van Maretha Maartens “Skryf is soos die maak van wyn. ’n Mens het ’n sekere lewenservaring nodig, ’n sekere rypheid. Dis baie belangrik om nie te skryf oor ’n lewensfase wat jy nog nie beleef het nie.” (Dolos, April 1988) “Dink, tob, lag, leef, soek, delf, tik, skryf en asemhaal kan sinonieme raak. Dalk is dit al wat ek omtrent my skryfloopbaan wil sê. Ek skryf omdat ek soek en dink, ontdekkings maak, kwaad raak, ’n waarnemer is, ekstases beleef, by geleentheid meer intense ontmoetings met God het.” (Inligtingstuk van Tafelberg-Uitgewers) “My man is vir my ’n groot inspirasie. Hy kom met idees wat hy dink ’n goeie tema vir ’n verhaal kan wees en is ook een van my beste kritici.” (Volksblad, 25 April 1984) “Natuurlik staan ek nie onverskillig teenoor kritiek nie. Ek is nie blasé of hardgebak nie. Ná (en te midde van) kritiek gaan ek maar net voort: as skryf jou lewenstaak is, kan jy nie anders nie. Ek hou my steeds oop vir sinvolle kommentaar op wat ek skryf. Ek het net ’n probleem met mense wat lang betoë, ook oor die radio, lewer oor ’n boek wat hulle kennelik nie gelees het nie.” (Boekewêreld, 3 September 1997) Oor verkragting: “Die vrou moet opeis wat hare is. Daar is te lank gepraat oor die psige van die verkragter en deur dié gesprek het die waarde en die psige van die vrou verlore geraak.” (Beeld, 9 November 2001) Wat is vir haar regtig die lekker in die lewe? “Om saam met my gesin nuwe plekke te ontdek. Of dit nou Okiep of Venesië is. Om vry te wees en alles wat die aarde my bied te leer ken en te ervaar.” (Die Kerkbode, 13 Julie 1990) “Ek skryf omdat geen mens wat soveel ervaar, uitgeskryf kan raak nie. As ek iemand sien sukkel om ’n ervaring te verwerk, of as ekself met ’n probleem worstel, skryf ek daaroor.” (Die Burger, 31 Mei 1988) “My Christenskap speel ’n belangrike rol in my skryfwerk. Ek weier om ’n boek te skryf wat sonder hoop eindig, omdat ek ’n Christen is en glo in ’n Almagtige God wat vir ’n gestremde kind berusting kan gee, of vir ’n kind na ’n egskeiding weer lewensbly kan maak.” (Die Burger, 31 Mei 1988) “Dis maar net gelukskote dat ek die een prys na die ander vir my skryfwerk ontvang. Want eintlik weet ek nie of my boeke rêrig goed genoeg is vir pryse nie.” (Die Burger, 31 Mei 1988) Oor haar stadige werkswyse: “Ek sal geen rus of duurte hê as ek weet dat daar iewers in die teks swakhede is wat ek later moet regstel nie. Ek dink ek is ’n bietjie té perfeksionisties daarvoor. So, ek werk stadig en moeisaam voort en tik alles wat ek neerstip direk.” (Lantern, Februarie 1991) “Ek dink humor het ’n versagtende invloed en omdat jy humor onthou, onthou jy dan later dit wat gesê is.” (Vrouekeur, 6 Junie 2003) “Skryf is ’n groei- en rypwordingsproses. En ek het die stadium bereik dat ek skryf waarin ek glo. Nie om iemand te behaag nie. So, ek verwag veel meer kritiek vorentoe.” (Sarie, 21 Februarie 1990) Waarteen kom sy in opstand? “Dit is ’n woedende verset. My persoonlike droom is daar moet meer boeke soos dié van Dalene Matthee op die Suid-Afrikaanse mark wees. Ons vervreem ons lesers. As hulle die hele tyd minderwaardig voel as hulle in ’n ontoeganklike boek moet delf, dan skram hulle later weg en mis só werke wat hulle kon geniet het.” (Volksblad, 7 April 1990) “My ervaring van skryf gaan haal ek uit die veld. Eendag ná reën het ek in ’n uur se tyd 25 werktuigies van die San in die veld opgetel. Skryf is vir my iets soortgelyks. Jy loop in ’n landskap van die gees en jy tel hierdie dinge op. Nie altyd aangenaam nie, maar wel dinge wat ek gevoel het ek móét ondersoek.” (Volksblad, 17 Maart 2015) Skryf is vir Maretha ’n pynlike proses: “Ek skryf nooit maklik aan enige ding nie, nie eens aan ’n kort rubriek nie. Ek is ’n broeier, tobber, neuroot, tonnelgrawer, soeker.” (Vrouekeur, 30 Desember 2016) Oor resensente en resensies: “Ná byna vyf dekades in die skryfbedryf bly ek verras oor sommige resensente se merkwaardige insigte in en aanvoeling vir iemand anders se kreatiewe werk. Die meanies het hulself ook al herkenbaar gemaak! Oor negatiewe resensies wroeg ek deesdae net ’n paar dae lank, maar dan bring die volgende dae genoeg van hul eie ellendes of vreugdes en is die storm in die skrywersiel verby.” (Vrouekeur, 30 Desember 2016) As vroue huil…: “Ek glo vroue huil uit woede wanneer hulle ervaar dat mense na aan hulle nie oor dieselfde dinge nadink as hulself nie. Hulle huil ook in selfverwyt as hulle besef dat hulle iemand na aan hulle te lank toegelaat het om hulle na willekeur te beskadig. Dan huil vroue uit dankbaarheid vir genade en liefde (veral God s’n) in ’n dikwels genadelose wêreld.” (Vrouekeur, 20 Februarie 2001) |
Gebore en getoë
Maretha Maartens is op 22 Junie 1945, ’n sneeudag in die Vrystaat, in Bloemfontein gebore. Volgens daardie jare se standaarde moes sy eintlik nie bly lewe het nie, want haar geboortegewig was maar in die omgewing van die outydse twee pond. Sy is in ’n skoendoos tussen watte aan die lewe gehou.
Die gesin het op Jacobsdal gebly totdat Maretha ses jaar oud was. Haar pa, Matthys Johannes Strydom, was ’n polisieman en haar ma, Jacoba Danilina (Kotie) (gebore Diederichs), ’n huisvrou.
Hulle het na Petrusburg, ook in die Vrystaat, getrek, waar nog twee dogters, Adri en Ryna, gebore is.
“My pa was ’n man wat alles sorgvuldig kon verwoord sodat kinders met goeie Afrikaans grootgeword het. (Hy is oorlede op 58-jarige ouderdom.) My ma weer was die storieverteller, van spook- tot dorpstories, maar veral van die slaplagsoort – en sy vertel hulle steeds,” vertel Maretha aan Esme Mittner. (Sarie, 26 Maart 1986)
Maretha vertel dat haar pa ’n “ongeletterde” was: “’n weeskind wat beeste in die berge van die Langkloof opgepas het. Maar terselfdertyd was hy ook briljant, met ’n soort musikaliteit wat hom, met standerd ses agter sy naam, in staat gestel het om die een musiekinstrument na die ander te bemeester, om verbande te lê en taal en poësie te waardeer. Hy het my eerste tikmasjien, ’n draagbare Olivetti, vir my gekoop en aan my die opdrag gegee om myself ordentlik te leer tik. Dit het ek in my standerd ses-jaar gedoen.” (Inligtingstuk van Tafelberg-Uitgewers)
Sy onthou haar kinderjare as ’n rustige tyd op die Vrystaatse platteland met min aardse rykdom, maar tog ’n baie geborge lewe. Daar was ’n redelike ouderdomsverskil tussen Maretha en haar twee jonger susters, met die gevolg dat sy in ’n wêreld van haar eie grootgeword het, alleen gedink en alleen gespeel het.
Maretha vertel aan Dolos (April 1988) dat haar ouers ’n groot aandeel in haar liefde vir boeke en vir die skryf daarvan gelewer het. Haar moeder het altyd stories vertel en het ’n baie lewendige verbeelding gehad en kon die wonderlikste stories uitdink. Haar sin vir humor was ook wonderlik. Haar vader was op sy beurt ’n fyn waarnemer en het haar aandag op dinge gevestig en haar geleer om op te let na dinge rondom haar. Hy was ’n man met sy voete stewig op die aarde en het ook by sy kinders ’n liefde vir ander mense gekweek en dat elke mens kosbaar is.
Haar ma het die drie dogters ook geleer om spaarsaam te wees en dat jy jou drome kan verwesenlik. “Sy het baie opgeoffer,” vertel Maretha, “want sy was ’n jong weduwee op 48 toe my pa op 58 sterf. Sy het ons drie meisiekinders alleen universitêre opleiding laat kry en ons ná ons studie oorsee gestuur. Ek weet nie hoe sy dit reggekry het nie, want sy het nie gewerk nie, maar sy het gespaar.”
Reeds as kind het Maretha stories geskryf. Sy glo dat as ’n mens graag wil skryf, jy dit van kleins af doen. Anna van Zyl, eertydse boekresensent van Volksblad, het ’n invloed op haar lewe gehad, vertel sy aan Alet Coetzer. (Volksblad, 25 April 1984)
In Dolos (April 1988) brei sy verder uit: “Daar was ’n afdeling vir kinders in die koerant en Maretha het vroeg reeds daarin gepubliseer en is baie aangemoedig. Ek het bydraes vir die Klein Volksblad gelewer, asook vir Môrelig en Naweekpos.”
Van hierdie jeuggeskriffies is later by die Sentrale Pers in Bloemfontein gedruk onder die titel Die lekkerlees-kinderboek onder Maretha se nooiensvan Strydom. Dit is ’n samevatting van die geskriffies wat in Môrelig verskyn het en is geskryf en geteken toe sy tussen 13 en 15 jaar oud was.
Oor haar tienerdroom om ’n mediese dokter te word, vertel Maretha aan Elsabé Pepler (Insig, September 2000): “Ek het ’n slagoffer van voorstedelike stereotipering geword toe die skoolhoof my sonder meegevoel ingelig het dat vroue nie dokters word nie. Sy moet ’n man kry wat vir haar kan sorg, en sy sal haar ouers se geld mors as sy medies gaan studeer. Ek het verpletter huis toe geloop met ’n hart wat huil, en toe sommer lukraak tale op universiteit gaan studeer. Later onderwys.”
IL de Villiers (Sarie, 21 Februarie 1990) wou by Maretha weet watter soort tiener sy was: “Ek is ’n geslote mens. En het al dikwels daaroor gewonder.
“Maar ek het in ’n huis grootgeword waar die woorde ‘vrees’ en ‘kan nie’ nooit gebruik is nie. My pa het net standerd ses gehad, ’n weeskind, maar die soort mens wat ons na buite geneem en gesê het: ‘Kom kyk! Kom kyk hoe stoot die eerste mielies uit die grond. As jy die eerste plantjies sien, weet jy die ander sal volg. So is die opstanding uit die dood. So is Christus die eersteling van die oes.’
“Wanneer ons van Krakeelrivier na Port Elizabeth gery het, het hy gesê: ‘Ons gaan nie met die gebaande weë nie, ons ry deur die wonderskone Gamtoosvallei.’ Net so. Hy het ons grootgemaak om te kyk en waar te neem en te luister. En om vreesloos te waag en jou eie mens te wees.
“My ma het die merkwaardigste sin vir humor. Ek het dus in ’n huis van geluk én van waagmoed grootgeword.”
Sy bring haar hele skoolloopbaan deur aan die Hoërskool Petrusburg waar sy in 1963 matrikuleer met onderskeidings in ses vakke.
Verdere studie en werk
Na skool is Maretha na die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein waar sy haar inskryf vir ’n BA-graad met tale. Sy het byna elke taal wat aangebied is, in haar kursus ingesluit: Afrikaans, Engels, Nederlands, Duits, Frans, Suid-Sotho en Latyn, en het ook sielkunde geneem. Sy verwerf haar BA-graad cum laude in 1966.
In 1967 gaan verpleeg sy in die HF Verwoerd-hospitaal in Pretoria en in 1969 in die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein. Sy het op die diploma in verpleging besluit omdat sy nie geweet het watter rigting sy met haar graad wou inslaan nie.
In 1970 tree Maretha in die huwelik met Hennie Maartens, ’n skoolklasmaat, en in 1971 behaal sy haar BA Honneurs in Engels (cum laude), ook aan die UOVS. Hulle oudste dogter, Danila, word gedurende dié tyd gebore.
Aan die begin van 1973 verhuis die gesin na Stellenbosch, waar Hennie, ’n bietjie later as die meeste ander studente, met sy teologiese opleiding begin. Terwyl hy studeer, werk Maretha vir ’n jaar lank as prinsipale van die ACVV-versorgingsoord/kleuterskool te Stellenbosch en behaal ook haar Sekondêre Onderwysdiploma aan die Universiteit Stellenbosch. Sy ontvang die SAOU-medalje vir die beste onderwysstudent. Sy werk ook as aflosdosent in didaktiek in die Fakulteit Opvoedkunde. Hulle tweede dogter, Naomi, word op Stellenbosch gebore.
Ná Stellenbosch vertrek die Maartens-gesin na Oos-Londen, waar Hennie leraar was by die NG Gemeente Oos-Londen, vandaar na die NG Gemeente Welkom in die Vrystaat, en daarna na Bloemfontein, waar Hennie predikant was by die NG Gemeente Noordhoek. Hier het hulle gebly tot en met Hennie se aftrede. In 1992 het hulle vir hulle ’n huis buite die gemeente gebou waar sy en haar man ’n oopruim-studeerkamer kon deel: “’n regte werknes, die hart van die huis, met boekrakke vol boeke, ’n musieksentrum, ’n kaggel, ’n plek van rustigheid, al raas die tarentale en lawaai die hadidas buite”.
Maretha het vir tydskrifte soos Sarie, Huisgenoot, Rooi Rose, Fair Lady en soms ook Tydskrif vir Letterkunde verhale geskryf. Sy het nooit boek gehou van die aantal verhale wat in tydskrifte verskyn het nie, maar daar was talle kortverhale en ongeveer tien vervolgverhale wat later meestal in boekvorm uitgegee is, behalwe dié wat in Naweekpos verskyn het. Sy beskou hierdie verhale as die aanloop tot haar latere skryfwerk, en die persoon wat die meeste daarop aangedring dat sy móét skryf, is haar man Hennie.
Vanweë die aard van die pastorie- en kerklike lewe beland sy op die terrein van meer geestelike boeke; ook saam met haar man. En as gevolg van haar lewe saam met haar kinders en gedurige kontak met kinders en ander jongmense ook op die terrein van kinder- en jeuglektuur.
Maretha het verkies om ’n tuisbly-ma te wees en om haar volle gewig as predikantsvrou te probeer ingooi en geen buitenshuise beroep te aanvaar nie. Deur haar betrokkenheid by kerkwerksaamhede in hulle eie gemeentes, asook elders, het sy die grootmaak van hulle dogters as ’n groot taak ervaar en het, sover moontlik, haar sogenaamde vrye tyd gebruik om te skryf. Sy het selde vir inspirasie gewag – om vrye tyd te hê, was in sigself inspirasie genoeg – en sy het die lewe só vol moontlikhede gevind dat die lewe vir haar te kort was om alles op papier te stel. Sy het dus vroeg en laat geskryf, met baie onderbrekings, en die lewe self as die voedingsbron van haar skryfwerk ervaar: om volkome stilte en hope afsondering te hê, kon dalk tot onproduktiwiteit lei.
Maretha se heel eerste vervolgverhaal, Stormvoël, het in 1970 in Sarie verskyn en is in 1975 deur HAUM in boekvorm gepubliseer.
In 1986 word Verste grens gepubliseer nadat dit in Sarie as vervolgverhaal verskyn het. Sy het besluit om ’n werklike grensverhaal te skryf nadat sy ’n tipiese windlawaai-drank-en-vloek-rolprent oor die soldatelewe gesien en sy ma’s ontsteld buite die bioskoop onder mekaar hoor vra het: “Is dit waaroor ons seuns ‘army’ toe gaan?” vertel sy aan Esme Mittner. (Sarie, 25 Maart 1986)
“Ek het eers deeglik navorsing gedoen voordat ek die roman aangepak het. Eers het ek by die Weermag verlof gevra om self die grens van Namibië te besoek. Dit is geredelik toegestaan en ek het met die Flossie opgevlieg om agt dae in die operasionele gebied deur te bring.
“Ek het op plase en op basisse gebly, in die huise van Staande Mag-lede geslaap, in Buffels gery, in ’n Puma-helikopter gevlieg en van troepies tot bevelvoerders ontmoet; maar veral die vroue van die Staande Mag leer ken, want dit is ’n man se wêreld wat deur die vrou mak gemaak word.” Die gevolg van die besoek was baie stories wat inmekaar gevloei het om een meesleurende en insiggewende verhaal te vorm.
Verste grens was die wenner van die FAK-Prestige-prys vir Ontspanningsleesstof in 1986. Haar reaksie nadat sy verneem het dat sy hierdie prys gewen het, was as volg: “Ek was verras én bly – veral bly omdat Verste grens soveel opoffering van my as vrou geverg het.” (Volksblad, 27 Julie 1987)
“Dit is ’n verhaal wat binne die aktualiteit van daardie jare van Suid-Afrika afgespeel het. Dit lê die vernietigende uitwerking van die grensoorlog op ons alledaagse lewe bloot en is geskryf vir die duisende ouers en jongmense wat hierdie ontwrigting en ellende in hulle eie lewens gevoel het. Terselfdertyd het dit diepte-insig verskaf aan diegene wat ver van die grensoorlog verwyderd was.” (Beeld, 7 Julie 1987)
“In die boek is Sarah de Vries vir die grootste gedeelte van die roman die fokalisator,” is in die Suidwester van 27 Maart 1987 geskryf.“Sy bevind haar teen haar sin op Oshakati, waar almal oorlog eet, slaap en leef, en dit is grotendeels deur haar oë dat die leser kennis maak met die verskillende fasette van die grensoorlog: die man se strewe om deur die oorlog die verste grense van menswees te beproef; die verwardheid van die jong meisie wie se kêrel as troepie grens toe gaan en daar tot die uiterste beproef word; die troepie se eie besef van ’n grens wat bereik is en wat oorgesteek moet word; die moeder se bereiking van die ‘verste grens van ma-wees’ en die wete dat sy haar dogter op die lewe probeer voorberei het, maar dat sy nie namens haar ’n keuse kan maak nie.
“Die oorskakeling van Sarah se fokalisering na dié van die jong grenssoldaat Hannes self, vind onopvallend en gemaklik plaas en verplaas die leser telkens na die binnelewe van ’n jong persoon wat tot die uiterste beproef word. Só word die boek ook boeiende leesstof vir jeugdiges.”
Die resensent van die Suidwester het verder geskryf: “Maartens besit die vermoë om ’n verhaal so vlot en boeiend te vertel dat ’n mens nie anders kan as om enduit te lees nie. Ook deins sy nie terug vir ’n ‘moeilike’ gegewe nie. Wat opval van haar hantering van hierdie soort gegewe, is die feit dat sy bereid is om dit tot in sy onaangenaamste konsekwensies te ondersoek. In hierdie opsig is sy een van die ‘dapperste’ skrywers in Afrikaans.
“Juis vanweë haar keuses van sulke temas kan sy miskien beskuldig word van wat soms ‘emosionele afpersing’ van die leser genoem word. Ek meen dat haar temakeuse wel sommige van haar werke aan universaliteit laat inboet en gee dit aan hulle iets van ’n gevallestudie-gevoel.”
Anna van Zyl van Volksblad (1 November 1986) stem saam met die opsomming op die omslag dat Verste grens ’n kragtige roman oor oorlog, menswees en veral vrouwees is. “Die boek is ’n besonderse leesavontuur vanweë die suiwerheid van insig en die oorwoë beelding.”
In 1993 is Verste grens vir die verhoog verwerk deur Wim Vorster en het die première in die André Huguenet-teater in Bloemfontein plaasgevind met Ernst Eloff as die regisseur. Die boek is ook vir skole voorgeskryf.
Terwyl Maretha aan Verste grens geskryf het, het sy ’n ernstige siekte opgedoen, vertel sy aan Esme Mittner. Maar ten spyte daarvan dat sy baie van die tyd in groot pyn verkeer het, het sy aangehou skryf. Sy het dit gedoen omdat die verhaal móés klaar.
“Ek noem hierdie tyd van my lewe die ellendigste tyd,” sê sy aan Mittner. “Ek het in dié tyd geleer van tot sterwens toe siek wees en van geloof en vertroue. Iewers, lyk dit my, moet ’n skrywer in donker dieptes wandel. Ek hou nie daarvan nie, maar wanneer ek daar deur is, weet ek dat dit die skryfwerk en my mens-wees goed gedoen het.”
Maretha het deur die jare nie geskroom om oor onderwerpe te skryf wat haar na aan die hart lê, maar dalk omstrede kan wees nie. So is die boek Ruitevrou: ’n ware verhaal van emosionele en liggaamlike mishandeling in 1997 gepubliseer, waarmee sy midde-in ’n vuurwarm debat beland het. In Rapport (13 Julie 1997) som Hanlie Retief die boek as volg op: “Dit vertel die verhaal van Riana Maree wat haar verloofde, dr Hannes Hiemstra, ’n bekende Bloemfonteinse chirurg, met ’n rewolwer geskiet het. Maree, wat reeds twee keer vantevore getroud was, bedryf ’n gastehuis naby ’n hospitaal. Sy skiet Hiemstra deur die spaarkamerdeur in sy huis in ’n spogbuurt. Hy sterf twee dae later in die Hippokrates-hospitaal. In die hof getuig Maree van Hiemstra se liggaamlike en geestelike aanrandings en word sy onskuldig bevind aan moord. Die boek eindig met: ‘Op ’n dag loop sy na die telefoon toe, bid ’n skietgebed en skakel ’n skrywer.’”
Die feite waarop Ruitevrou gebaseer is, is as volg: Retha Nel het haar verloofde, Hennie Lubbe, ’n bekende chirurg van Bloemfontein, op 11 September 1994 in sy huis met ’n rewolwer geskiet. Hy is later in die Hydromed-hospitaal oorlede. ’n Hofsaak het gevolg en tydens die hofsaak vertel Nel vir die hof hoe Lubbe haar aangerand en verneder het. Sy was reeds twee maal getroud. Sy word vrygespreek.
Alwyn Lubbe, pa van dr Hennie lubbe, het gedreig om die verspreiding van die boek stop te sit vanweë die boek “se eensydige blik op my seun se dood”, skryf Hanlie Retief in Rapport (13 Julie 1997). Frik Nel, tweede man van mev Nel, het ook gedreig met ’n hofsaak teen Maretha weens die “skeefgetrekte en dikwels onwaar gegewens” in die gedeelte oor Riana Maree se tweede huwelik. Die vraag was toe: Is dit feit of fiksie?
Hieroor het Maretha aan Hanlie Retief gesê: “Die verhaal het oor my pad gekom. Ek het nie uitgegaan en dit gaan soek nie.
“Ek ontken of erken niks nie,” het Maretha gesê. Sy was versigtig om te veel te sê as gevolg van dreigende hofsake en ook omdat baie mense besef het die boek is op werklike gebeure gebaseer. “Ek reageer nie op die publiek, op énigeen se insinuasies nie. As mense hulle daarmee wil identifiseer, moet hulle dit honderd persent kan bewys.
“Enige skrywer haal koerantopskrifte aan, maak van joernalistieke taal gebruik. Daar was onlangs ’n koerantberig oor ’n miljoenêr-arts se dood. Dit kon net sowel Riana se verhaal gewees het. Natuurlik is dit ’n boek wat mense se stories bevat. Dis ’n roman, met net een uitgangspunt, vanuit een perspektief.
“Ek het dit baie na aan die werklikheid gewaag, ek is die eerste om dit te sê. Maar dié ‘na aan die werklikheid’ is eerder die werklikheid van iets meer as ’n paar mense se ondervindings. Dit gaan om ’n sindroom in die samelewing, dat ek ’n senuwee in die samelewing wil blootlê.”
Op die omslag van die boek is die titel verder omskryf: “’n Ware verhaal van emosionele en liggaamlike mishandeling.” En dit gaan dus vir Maretha eerder oor die verhaal van “mishandeling” wat in so baie huwelike voorkom – so baie dat sy dit as ’n sindroom sien: “Dis hoekom daar op die agterblad staan dis ’n verhaal wat op ’n duisend maniere deur tienduisend vroue beleef word. Daar is stukke van die verhaal wat suiwer fiksie is. Ek kon mos nie elke emosie uit ’n vrou tap nie? Ek het hele tonele self gefabriseer.
“Ek het nie ’n saak daarmee om in die verlede van enige persoon wat hom of haar hierin identifiseer, te gaan delf nie. Ek sou eerder wou hê dat die aansprake van die boek voorgelê word aan terapeute en sielkundiges en gesinsadvokate om te kyk of dit tref waarheen dit mik. Dis hoekom dit geskryf is.
“Dit gaan oor die psige van ’n vrou wat emosioneel en liggaamlik mishandel word. Die gemeenskap besef nie hoe intens en geweldig dit is nie. Ek het die sindroom oor ’n lang tydperk raakgesien. Dis so identifiseerbaar, so afgebaken soos die Down-sindroom. Dit het altyd dieselfde patroon. Ek noem dit: obsessiewe huweliksjaloesie wat dan uitloop op emosionele of liggaamlike mishandeling.
“Dis nie dat die vrou in my boek onskuldig is nie. Ek het dit nie so probeer skets nie. Die man en vrou wat in so ’n situasie beland, het spesifieke persoonlikheidsprofiele. Maar dit kan eintlik met enigeen gebeur wat ’n bietjie naïef en goedgelowig is. Daar is toenemende isolasie by die vrou, daar is vrees en abnormale gedragspatrone. En daar is altyd berou by die man. Die mans is nie ’n spul skurke nie, daar is net totale onbegrip by albei partye vir mekaar. Die groeiende frustrasie van die vrou omdat sy mishandel word, en van die man omdat sy behoeftes nie aangespreek word nie, neem hulle na die afgrond toe. Dit word ’n primitiewe toneel binne die vier mure van dikwels respektabele huise. Hulle beweeg van geveg tot geveg, van kneusplek tot kneusplek, afgrond toe. Onstuitbaar.
“Aan die einde van Ruitevrou vra Riana: ‘Wat doen jy as jy doodgemaak het en doodgemaak is?’ Ek het hierdie woorde baie sorgvuldig gekies. Dis ’n skuldbelydenis. Van wie ook al. Sy kom tot die ontdekking dat die oplossing, die bevryding, nie is dat ’n man dood is nie. Die vryheid is dat sy vergewe is, en dat sy hom vergewe het. En dat mense moet weet hoe gevaarlik gebroke mense kan word. Die waarheid van hierdie verhaal, is die waarheid van die bestaan van hierdie sindroom. In al sy grusaamheid en al sy ergheid.”
Sy was besig met navorsing vir ’n wetenskaplike boek oor die onderwerp toe Ruitevrou oor haar pad gekom het, sê Maretha. “Ruitevrou dien nou as die prikkel, die voorloper, vir Sprong na die lig, wat die sindroom wetenskaplik sal ondersoek. In die paar weke sedert Ruitevrou op die mark is, het ek talle oproepe van vroue gekry. Baie het aangebied om saam met my te werk aan Sprong na die lig. En al hierdie vroue het nie ’n saak met die karakters in die boek nie, hulle het die verhaal nodig gehad. Hulle identifiseer hulle met die sindroom, dit gee ’n naam aan dit wat hulle nou al vir jare mee saamleef.”
Wat het die skryf van die boek aan Maretha persoonlik gedoen? wou Retief weet. “Dit het my geruk. Uitmekaar geskeur. Soms het ek gewonder of dit gesond is om myself so geweldig met haar te identifiseer. Maar ek het besef dat ek die emosies self moes deurleef, dat ek Riana moes word.”
En of sy haar met Riana kon identifiseer? “Ons is totaal uiteenlopende mense. Die raakpunte wat ons gekry het, was die raakpunte van egte emosie. Haar verhaal was ’n spieëlbeeld van die sindroom wat ek in die talle briewe gevind het. En: Die waarheid is ongelooflik erg, dis miskien hoekom mense dit nie wil hoor nie.”
Sy sou graag Ruitevrou vertaal wou sien in Engels en swart tale sodat dit wyer kan reik. “Dis uiteindelik ’n vroue-ding.”
Ruitevrou was ook op ’n ander vlak vir Maretha Maartens ’n venster op ’n nuwe ervaring. Sy was in 1996 by die boekeskou in Frankfurt, Duitsland. Sy vertel: “Een van die belangrikste boeke daar, was Isabel Allende se boek Paula. Dis die ware verhaal van hoe Allende se probleemkind dood is. En uit hierdie gegewe moes Allende ’n stuk waarheid vir haarself haal. Haar slotsom: Life is about losing everything.
“Ek, Maretha Maartens, skryf nie bloot as ’n private plesiertjie nie. Ek wil iets bydra. Isabel Allende het. En daardeur het sy my geraak, met haar filosofie wat uit ’n roman kom en nie uit ’n teksboek nie. Dis my droom om ook so ’n roman te skryf. Dit sal vir my heerlik wees as ek daarmee ’n stukkie baanbrekerswerk kan doen, op my eie manier. Dat dit Paula se plek kan inneem op Frankfurt se boekeskou as ’n boek met betekenis, wat deur álmal verstaan word. Dit is waaroor dit vir my gaan.
“Ek het nooit verwag dat dit soveel opslae sou maak nie, dat ek met hofsake gedreig sou word nie. Ek wou net hê dat hierdie verswygde seer nou aangespreek word. Dis al. Dis waarby ek staan en val.”
Gretel Wybenga skryf in Rapport (21 September 1997): “(…) hierdie roman word nooit meer as ’n gevallestudie nie, waarskynlik goeie illustrasiemateriaal vir einste wetenskaplike boek wat Maartens nou aan die skryf is. Dit spreek van ’n saak, die saak van vrouemishandeling, só luid en só blatant dat alle vorme van suggestie, van verbeeldingryke skryf, van dieperliggende emosionele gedrewendheid, van fyner vormbewustheid wat deurslaggewend is in die goeie romankuns, ’n totaal mindere rol speel.”
In 1998 is Marike: ’n reis deur somer en winter deur Carpe Diem Uitgewers in Vanderbijlpark gepubliseer. Dit is die outobiografie van Marike de Klerk, vrou van FW de Klerk, eertydse staatspresident van Suid-Afrika, en Maretha het nou met Marike saamgewerk met die skryf van dié boek.
Volgens Maretha was daar aanvanklik nie sprake van die egskeiding toe Marike haar dertig geskrewe bladsye by die uitgewer aangebring het nie. Dit het later as slothoofstuk bygekom. Die laaste gedeelte is Marike se epiloog in haar eie woorde. (Volksblad, 26 Mei 1998)
“Die biografie is dié van ’n doodgewone vrou wat van klere hou en ’n seun met swak oë het – en aan die sy van ’n staatshoof moet leef. Die gevolgtrekking is dat ’n staatshoof in eensaamheid loop. Hy het ál minder geleentheid om saam met sy vrou en gesin deur te bring. Uiteindelik betaal die gesin die prys van roem.”
Vir Joan Kruger (Rapport, 2 Augustus 1998) is die verhaal van Marike se lewe slegs ’n lukrake uitpak van foto’s, “’n versameling anekdotes waarvan sommiges wel amusant is, maar tog so beuselagtig ontersaaklik teen die agtergrond van die tyd se ‘Groot Gebeure’. En die spieël wat sy ophou vir die Afrikaanse vrou, spreek van so ’n verbluffende politieke naïwiteit wat ’n mens verleë anderpad wil kyk. Daar is ’n sekere, soms aangrypende eerlikheid as Marike oor haar vroeër kinderjare vertel, maar die belangrike gebeurtenisse wat vir hoofopskrifte gesorg het, word net heeltemal verswyg of in niksseggende formulerings afgehandel. (…)
“Dit is eers in die slothoofstuk, die een oor FW en Elita, die een wat ons almal onbeskaamd gretig in koerante en tydskrifte gelees het, dat daardie stem van eerlikheid deurkom,” skryf Kruger. “Skielik is daar bitterheid teenoor politieke vyande te bespeur, skroei daar iets van ’n besef van die vreesaanjaendheid van menslike alleenheid deur en word lyding ook hoorbaar medelye.”
Adèle Dempers het in Volksblad (17 Augustus 1998)geskryf dat die boek gemaklik lees, maar dat die styl eerder aan ’n roman herinner as aan ’n outobiografie. “Maartens se kenmerkende styl slaan sterk deur en die gebruik van soetsappige frases pas nie. Die kursiewe gedeeltes wat Marike se gedagtes uitdruk, is ook steurend en oorbodig. Vir mense wat verwag om ’n beter insig in die politieke ontwikkelinge ten tye van FW se bewind te kry, sal dit ’n teleurstelling wees, want ’n politieke relaas is die boek nie. Die bied eerder ’n intieme blik op die lewe van die vroue van politici, met die opwinding en frustrasies wat daarmee gepaardgaan.”
Na Marike en FW de Klerk se egskeiding is ’n Plek waar die son weer skyn in 1999 by Carpe Diem uitgegee waarin Marike, met Maretha Maartens se hulp, vertel van die pad van verwerping en eensaamheid wat sy ná die egskeiding moes loop.
Maretha Maartens was ook die skrywer van Elsje Blair se lewensverhaal, Ek droom van ’n droom. Dit vertel die verhaal van Blair, oud-joernalis by die Volksblad en suster van die bekende swemmer, Ryk Neethling, se stryd teen kanker.
Elsje is een van ’n baie bekende en begaafde sportfamilie in Bloemfontein en haar droom was om ’n swemkampioen te word. In 1992 in haar graad 8-jaar is sy met breinkanker gediagnoseer. Sy het in 2010 besluit om haar storie te vertel en ’n boek te skryf: “Mense het my nog altyd gevra wanneer doen ek dit. Dit was soms ’n sielewroeging, ek was baie keer in trane.” (Volksblad, 22 Augustus 2012)
Maartens vertel aan Jana van der Merwe in Volksblad dat van Elsje se stories skreeusnaaks was, en ander kere is daar weer gehuil: “’n Verhaal moet die toets van die waarheid kan deurstaan,” sê Maartens. “As ’n verhaal nie eg is nie, as dit nie waterdig is nie, dan sal ek dit nie skryf nie.”
Elsje was van mening dat Maretha daarin geslaag het om haar karakter goed uit te beeld: “Ek en Maretha het vir ’n jaar en ’n half lank mekaar in koffiewinkels gekry. Ek het ook my dagboek wat my kankerbehandeling van klein meisietjie tot volwasse vrou aanteken, aan haar gegee. Sy het ook met my naaste familie onderhoude gevoer.”
In 2012 word Liglopers by CUM gepubliseer. Dit vertel die verhaal van die sanger Andries Hendrik Potgieter, agteragterkleinseun en naamgenoot van die Voortrekkerleier. Sy ma het geglo dat hy haar alleenkind was, terwyl hy geweet het hy is ánders.
Op sewejarige ouderdom is hy gemolesteer en op 18 was hy aan dwelms verslaaf – kokaïen, ketamien en crystal meth. In 2008 het hy egter sy lewe verander. Hy is na ’n rehabilitasiesentrum waar hy Die beste ding since popcorn van Maretha Maartens gelees het. Die boek het hom geweldig aangegryp en hy het haar gebel: “Dit was soos om ’n godin te bel,” het hy aan Estée de Villiers (Volksblad, 10 April 2012) gesê.
Tydens die bekendstelling van Liglopers het Maretha gesê dat sy maar huiwerig was om die boek te skryf: “Ek en Andries Hendrik het egter ’n baie lang pad saam gestap en ek het besef dit is ’n merkwaardige storie van keuses.”
Die boek het ook ander “medeskrywers” gehad, sy verloofde, Sya van der Walt, is ’n politieke joernalis, en Potgieter se ouers het ook bydraes gelewer. Volgens Sya is die boek gemik op lesers tussen 16 en 35 jaar oud.
Nadat hy gerehabiliteer is, het Potgieter sendingwerk in Suid-Afrika, Swaziland en Mosambiek gedoen: “Ek het myself gevind in sending,” het hy gesê. “Ek het uitgevind dat ek alleen in my eie kultuur wil werk. Dit was ’n baie moeilike tyd.”
Maretha is in 2015 weer betrokke by die skryf van ’n ware verhaal toe Yolandé Korkie die verhaal van haar en haar man, Pierre Korkie, se ontvoering deur Al-Kaïda en Pierre se dood later, aan Maartens vertel het. Korkie het die boek in Engels geskryf en Maretha het dit in Afrikaans vertaal, met Korkie se hulp. Dit is deur CUM uitgegee onder die titel 558 dae: ’n ware verhaal.
Korkie het aan Vicus Bürger (Volksblad, 31 Maart 2015) vertel dat sy die verhaal in Engels geskryf het omdat dit die taal van haar hart is, terwyl Afrikaans die taal van Maretha se hart is: “Maar Maretha vertaal nie net die verhaal nie. Sy skryf ’n vertaling wat van ‘verstaan’ spreek. Benewens die vertaling, verhelder en ondersteun sy my Engelse vertelling met wysheid en insig wat sy oor die jare heen as skrywer opgedoen het. Ons kom weekliks, of gereelder, bymekaar. Ek luister na haar Afrikaanse verstaan-vertaling en ons deurtrap kontekstuele konsepte. Die begrip wat sy as eerste leser toon, is ook deurentyd ’n barometer om te toets hoe verstaanbaar ek skryf.”
In 2022 verskyn Klankgrens: ’n oorlog teen geloof en hoop by LAPA. En hier word vir die eerste maal geskryf oor die posttraumatiese stresversteuring van soldate in die Grensoorlog en die uitwerking wat dit op hulle vroue gehad het. Die boek is gebaseer op die vertelling van Magda Slabbert van Bloemfontein en is tot ’n roman verwerk deur Maretha Maartens.
In Kerkbode (15 Maart 2022) skryf Elmarie Dercksen as volg: “Magda Slabbert, getroud met Rufus, ’n beroepsoldaat tydens die Bosoorlog, nou afgetree as regiment-sersantmajoor van 1 Spesiale Diensbataljon, het haar lewensverhaal aan Maretha Maartens vertel. Dit het die ervare storieverteller Maartens drie jaar geneem om dit neer te pen in hierdie boeiende roman.
“Die hoofkarakter Jo verteenwoordig elke vrou wat alles in die stryd gewerp het om God se beloftes in hulle eie en hulle geliefdes se lewe te bewaarheid; om geloof en hoop in haar gesin en in haar eie menswees te behou. Ons leer ken haar stryd met die grootmaak van drie kinders as amper-enkelouer, as eggenoot van ’n professionele soldaat; haar vrees om nie te weet of iemand jou liefhet nie; haar deursettingsvermoë en toewyding. Hoewel haar dogter haar eers laat in die vertelling uitvra oor hoe ’n mens dit máák, hou ons haar dop terwyl sy vir die soveelste keer aangaan en doen.
“Hoewel Slabbert beklemtoon dat haar verhaal nie noodwendig almal se verhaal is nie, is dit in hierdie boek juis die persoonlike wat universeel word. Dit verwoord ’n ganse generasie, asook hulle ouers en kinders, se trauma as gevolg van oorlog.
“Die leeservaring is egter maklik en meesleurend, want die verhaal het tekstuur en atmosfeer. Die karakters is geloofwaardig, die intriges in die uitgebreide familie verhelderend. Ten spyte van die ernstige onderwerp is dit geensins ’n neerdrukkende boek nie. Verweef met die vertelling, stel die boek vrae oor ons verstaan van God, verbond en genade, maar vermy ook prekerige antwoorde. Dit laat ’n mens nadink oor hoe elkeen van ons ons heil uitwerk te midde van ’n harde – en soms selfs brutale – werklikheid. Aan die einde is die kleinste vlam van hoop oor, ironies genoeg nie na ’n veldslag nie, maar na ’n Covid-siekbed. Dit is genoeg om die leser te laat beleef dat ’n nuwe begin moontlik is.
“Die verhaal vra ook moeilike vrae aan die leser oor man en vrou se rolle in die huwelik en die samelewing, oor middelmisbruik en ander hanteringsmeganismes, oor trauma en ons skanse.”
Maretha het tydens die bekendstelling van Klankgrens aan Leana Lategan vertel dat sy al baie lank met die idee geloop het dat die verhale van die vroue en kinders wie se mans gekneus van die Bosoorlog af teruggekom het, vertel moet word. (Netwerk24, 27 April 2022)
“Dit is geensins ’n biografiese verhaal nie, maar dit skep ’n prentjie van mense uit daardie tydperk se belewenisse. Feite is met fiksie verweef. Ek het talle fiktiewe karakters geskep om ’n spesifieke deel van die storie te vertel.”
Magda het verder vertel: “Ek het dikwels getwyfel of ek regtig ’n storie beet het. Die talle vroue wat in dié situasie was en die boek gelees het, het my egter oortuig dat dit ’n verhaal was wat vertel moes word. Wat mense nie besef nie, is dat die oorlog lank ná na die oorlogsgebeure in die gesin voortwoed.
“Dit word versterk deur die band wat daar in weermagkringe is met dié manne van verskillende eenhede wat gereeld saamkom en kuier. My man, Rufus, het my baie in die projek gesteun. Hy het ook gehelp dat die karakters in die roman ‘soldatetaal’ praat.”
In 2000 was Maretha midde-in ’n polemiek oor die gewilde Harry Potter-reeks. Sy het in haar rubriek in Volksblad geskryf dat hoewel “Potter in die goeie leef, hy boosheid bemin en dat ouers twee keer moet dink voordat hulle dié boeke vir hulle kinders vir Kersfees koop.”
Die briewe in die meningsrubrieke van die verskillende koerante in Suid-Afrika het vir weke lank gegons soos voor- en teenstanders van Maretha se mening hul opinies uitgespreek het. Ook Kerneels Breytenbach van Human & Rousseau, wat die Harry Potter-boeke in Afrikaans uitgegee het, het tot die polemiek toegetree deur te sê dat dit hom ’n beklemming gee om te dink dat iemand van Maartens se statuur dié soort dinge kan verkondig wat sy in haar rubriek geskryf het. (Volksblad, 13 November 2000)
In 2001 is Jacoba Afrikaner deur Tafelberg uitgegee. Dit het die kortlys gehaal van 2001 se Sanlam/Insig/Kwêla-romanwedstryd onder die titel Magdalena Afrikaner.
Maretha vertel aan Sarie van 14 November 2001: “Dit is die verhaal van ’n Nama-vrou wat van haar familie op haar geboorteplaas vervreem word wanneer sy saam met haar geliefde na Katatura buite Windhoek in Namibië gaan. Weens omstandighede moet sy op die Groot Ashoop in die Kupferberg gaan woon. Dit is ook die verhaal van ’n predikantsfamilie van Windhoek en die onderlinge spanninge. Dit gaan onder meer oor die sinloosheid van oorlog en die misbruik van vroue in Afrika.”
Van die karakters in Jacoba Afrikaner bestaan werklik. Maretha vertel verder aan Sarie: “Ons is in die winter van 2000 Namibië toe, onder meer om die Groot Ashoop by Kupferberg te besoek, om die landskap en atmosfeer in te neem. Ek het ’n jaar of wat tevore ’n Nama-vrou, Wilhelmina Afrikaner, ontmoet, wat tans ’n skuiling vir straatkinders en wesies in Katatura bedryf. Windhoekers het my van haar vertel. Sy het ’n ruk op die Groot Ashoop gewoon en my vertel wat in die tyd van die Angolese grensoorlog daar gebeur het.
“Haar vriendin het daar doodgebloei. Sy het God gevra om haar daar weg te kry en ’n gelofte afgelê om vir ander haweloses te sorg. Kort daarna is sy deur ’n wit vrou in haar motor se bagasiebak weggeneem. Hierdie vrou was so goed vir haar soos ’n eie ma. Wilhelmina het haar gelofte gestand gedoen en die skuiling wat sy gevestig het, is ’n bevestiging van die innerlike krag en die geloof van ’n merkwaardige vrou.”
Dit was vir Maretha belangrik om hierdie verhaal te vertel, omdat Afrika ook haar vasteland is en dat sy altyd bewus was daarvan dat sy nie genoeg oor die geskiedenis van Afrika weet nie: “Hoe meer sy oor die Herero- en Namavolk nagevors het, hoe helderder het sy geweet dat hierdie verhale vertel moes word.
“Ek wou ’n verhaal uit die lewe self skryf, want sy is ’n vrou van Afrika. By die skryf van Verste grens in 1986 het ek reeds geweet ek wil oor Afrika en sy mense skryf, veral oor my mede-Afrikane wie se geskiedenis ek nie geken het nie. My gees en denke was ook ryp vir dié verhaal. Verder het alles wat ek vir my navorsing gelees het, een wete bevestig: oorlog verwoes na alle kante.”
Reeds in 1983, met die skryf van Voor die oog van hierdie son, het sy geweet dat sy van harte ’n romanskrywer is. “Maar vir Jacoba Afrikaner moes ek ryp word. Daar was baie roman-stil jare. Tog was daar deurgaans ’n dieper bewuswording van sowel die lig- as die skadukante van die Suid-Afrikaanse werklikheid. Met my jeugverhale sou die oplettende leser dalk die vermoede kon kry dié predikantsvroutjie is aan die dink. En dat daar in van my ander boeke ’n soeke was na wat reg is.” (Sarie, 14 November 2001)
In ’n onderhoud met Elretha Britz en Hennie van Coller (Volksblad, 17 Desember 2001) het hulle dit aan haar gestel dat Jacoba Afrikaner ’n felle aanklag teen ons koloniale verlede is en wou hulle weet wat haar tot dié insig gebring het, aangesien Verste grens eintlik nog positief oor die grensoorlog was. Maretha se reaksie hierop was: “Die navorsing vir Verste grens is in 1986 onder beskerming van die Suid-Afrikaanse weermag gedoen. Elkeen van die weermaglede met wie ek in aanraking gekom het, het in die saak geglo. Ek het Verste grens geskryf soos dit geskryf is omdat ek tóé net soveel geweet het.
“Toe die politieke toneel verander en baie Suid-Afrikaners emigreer, is ek met myself, my denksisteme en ons keuse om net hier te bly, gekonfronteer. Afrika was nog altyd in ons albei se bloed. Maar eers moes ons vergifnis vind, want ’n vollediger prent van die werklikheid het begin ontvou. Ek het elke vorm van bewustelike of onbewustelike aandadigheid aan ander se dood, vernedering, verarming en aan die totstandkoming van die sogenaamd verlore generasie, aan God bely. Ek en Hennie doen dit steeds.
“Jacoba Afrikaner is dus die boek ná die skuldbelydenis. Maar dit is ook die verhaal van die oorlogskade in die gesinslewe en psige van my eie mense. Ons sit almal met oorlogskrapnel.”
Oor die geskiedenis van die Namas en wat feit en wat fiksie is, verduidelik Maretha aan Britz en Van Coller: “Die geskiedenis van die Afrikaner-sibbe is histories nagevors en so korrek moontlik weergegee. Jacoba is egter ’n fiktiewe karakter, maar wat sy op die ashoop beleef, is ’n weergawe van die herinneringe van Wilhelmina Afrikaner van Katutura. So ook is die Herero-seun, Tuvahi Kapuuo, en sy familie fiktiewe karakters, maar die gemeenskapslewe en opstande in die Old en Main Location is histories nagevors. Die name van die mense wat in die groot opstand van 10 Desember 1959 gesterf het, het ek van die munisipaliteit van Windhoek ontvang.”
En of sy met Jacoba nou wegbeweeg van die “pienk-boekie-mark”? “‘Pienk boekies’ is ’n goeie woordskepping wat miskien nou uitgedien is. Ek sê dit ook sommer namens ander skrywers van geestelik inspirerende boeke. Ook Christenskap is ’n groeiproses; niemand kom kant en klaar, soos ’n porseleinpop, sonder groeimoontlikhede in die wêreld van volwasse spiritualiteit aan nie. Die skrywers van Afrikaanse geestelike boeke is byna voor die voet aan die groei. Ek hoop dat ook ek al groeiend wegbeweeg van die dinge van ’n kind – stagnasie was nog nooit die wil van God nie. Terloops, behalwe in die ure ná erge blootstelling aan die son, voel ek selde besonder pienk.
“Pot vol winter het op die sensuurraad se tafel beland. Toe Smaartie is skeel in 1993 verskyn, was baie mense woedend omdat daar ’n boek vir kinders oor seksuele misbruik in gesinsverband verskyn het. In Ruitevrou is die tema van emosionele en liggaamlike mishandeling van vroue aangepak. Dit het lankal tot my deurgedring dat mensvervaardigde grense nie noodwendig die grense is waar skrywers wat belydende Christene is, druipstert en gemuilband moet omdraai nie.”
Hennie van Coller skryf in sy resensie (Volksblad, 10 Desember 2001) van Jacoba Afrikaner: “Ondanks Afrikaanse prosaskrywers se gerigtheid op die geskiedenis het daar na my wete nog geen omvattende roman (soos wat destyds in die vooruitsig gestel is) as herinterpretasie van die grensoorlog verskyn nie.
“Maretha Martens se Jacoba Afrikaner is alleen daarom al besonders. Nie net fokus dit op die grensoorlog nie, dit beskryf in der waarheid die hele historiese aanloop daartoe. In die proses word die wortels van inheemse volke, soos die Namas, oopgegrawe en in ’n kreatiewe vermenging van fiksie en feit, bykans poëties weergegee. Terselfdertyd word ook aangetoon dat die blanke nog altyd neergesien het op Afrika en sy inheemse volke. In dié roman val die klem veral op koloniale vergrype teen die inheemse volke van Suidwes. Onbevange eerlikheid in die herskepping van die verlede (aldus een van die motto’s) word in dié roman beslis geïllustreer. Naas werke van Karel Schoeman, is Jacoba Afrikaner waarskynlik een van die skerpste postkoloniale aanklagte teen blanke politieke onderdrukking in ons geskiedenis. Terselfdertyd is dit ’n feministiese diskoers omdat mans as geweldenaars - veral as verkragters of oorlogvoerders - skerp onder skoot kom. [... Daar] word korte mette gemaak met geykte opvattings oor die heroïese van oorlogvoering en ‘Christene’ sonder empatie.
“Aan die hand van skynbaar losstaande stories word in die roman getoon hoe menslike lotgevalle dikwels gedetermineer word en verband hou. Daar is eerstens die storie van Bas Pretorius, eertydse predikant en nou joernalis vir ’n sensasieblad, en sy gesin. Die jongste, Rupert, ly aan die Prader-Willi-sindroom, Hennie is ’n soldaat wat stelselmatig ‘bossies raak’ in Angola en Rika, in haar laaste skooljaar, het ’n verhouding met ’n Koevoet. Laastens is daar sy vrou, Sasja, met ’n mislukte selfmoordpoging agter die rug, wat naarstig probeer om liggaam en siel aan die gang te hou. Al die karakters bevind hulle in ’n ‘waste land’ - op ’n geestelike ashoop.
“Daarnaas word die stories vertel van ander ‘ashoopbewoners’: Jacoba Afrikaner, uit ’n trotse geslag wat weens rassevooroordele tot ’n letterlike ashoopbestaan verdoem is. Sy en haar vriendin Grace word op ’n wrede manier seksueel misbruik deur blanke mans. Dan is daar Koopman (nes Bas ’n gewese leraar) wat pille op die ashoop vergader. Só ontsnap hy aan die waansin veroorsaak deur ’n persoonlike tragedie waarin rassediskriminasie ook sentraal gestaan het.
“Ook Hennie bevind hom op ’n ashoop en Rika se vriend, Douglas, se lewe is eweneens in skerwe, hy is ’n getraumatiseerde kinderverkragter en geweldenaar.”
Van Coller skryf verder: “Die roman sou baie baat kon gevind het by meedoënlose (self)kritiek en die flinke gebruik van ’n rooi pen, aangesien daar ’n hebbelikheid in die roman is om gegewens tot patrone te manipuleer of simboliek daaruit te pers. En ook is daar ’n oordaad aan mooiskrywery – wat jammer is, want dit is ’n werk met baie eienskappe: deeglike navorsing, ’n diep peiling van menslike drifte en die skadukant van die menslike bestaan, asook ’n skerp blootlegging van die trauma wat oorloë bring. Wat ’n grootse roman kon wees, is nou bloot onderhoudend.”
In Rapport (25 November 2001) het Louise Viljoen ook gemeld dat die sterkste tonele in die roman dié is wat op die ashoop afspeel. “Die tonele tussen Jacoba en haar ashoop-vriendin Gladys is soms ontroerend mooi in hul saaklike omgang met ’n gruwelike werklikheid. Ook die kras taalgebruik van die mense op die ashoop klink veel meer oortuigend as byvoorbeeld die gedeeltes waarin ons die vyftienjarige Jacoba in Hooglied-terme oor haar verliefdheid op Tuvahi hoor dink.
“Hierdie roman is al in die media vergelyk met Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena wat in 1978 verskyn het (ongeveer dieselfde tyd waarin die gebeure in Jacoba Afrikaner afspeel). Om dié vergelyking in perspektief te stel, moet ’n mens onthou dat Joubert se roman oor ’n swart vrou verskyn het in die hoogty van apartheid, terwyl Maartens se roman gepubliseer word in ’n tyd waarin dit reeds algemeen geword het om die vergete geskiedenisse van gemarginaliseerde gemeenskappe ‘op te skryf’ in romans.
“Anders as Joubert kan Maartens haar ook nie altyd daarvan weerhou om handelinge wat boekdele vir hulself spreek, op ’n abstrakte manier te verduidelik nie. Dat sy wel die krag van suggestie ken, blyk uit die slot van die roman waar Jacoba Afrikaner en Bas se paaie vir die eerste keer kruis.
“Die presiese omvang van Bas se skielike insig word uitstekend vasgevang in die moment waarop hy sy arm sit om die meisie wat ruk van die skok oor Gladys se dood: ‘Hy trek haar dus nader en druk haar teen hom vas. Hy kry die reuk van bloed, van iets verskrikliks.’
“Hierdie veelseggende oomblik word bederf wanneer dit eksplisiet simbolies gemaak word deur die woorde: ‘Afrika stort deur hom.’
“Daarby is daar ook op ander punte in die teks nog sprake van dieselfde stereotipering van Afrika, hetsy as die Groot Verskriklike of die Onverstaanbare Ander (op die flapteks word daar selfs nog van die ‘Donker Kontinent’ gepraat). Ondanks hierdie voorbehoude is dit ’n besonder leesbare, maar ook ryk en gevarieerde roman wat berus op deeglike navorsing.”
Maretha se kortverhaal “Nagbrief” het in 1987 die eerste prys in ’n landwye kortverhaalwedstryd ingepalm. Die wedstryd is deur Hans Strydom-uitgewers aangebied en die kortverhale moes oor die Groot Trek handel. “Nagbrief” handel oor die nag by Bloukrans en Boesmansrivier.
In 1993 is Maretha saam met Winkie Direko aangewys as Ons Stad en die Bloemfonteinse Publisiteitsvereniging se Bloemfonteiner van die Jaar. In 1994 het die Bond van Oud-Kovsies Maretha met die Cum Laude-toekenning vereer vir haar uitsonderlike prestasie in die skryfkuns.
Jong Dames Dinamiek het in 1993 hulle Prestige-toekenning aan Maretha gegee vir haar uitstaande bydrae tot die breër gemeenskap, en in 1995 is sy vereer met die Vrou vir Vroue-toekenning van die ATKV vir haar besondere bydrae in die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Sy is ook in 2011 deur Solidariteit Helpende Hand vereer vir haar bydrae tot die Afrikaanse literatuurskat. Ruda Landman en Sandra Prinsloo was van die ander vroue wat só vereer is.
Maretha het al vroeg in haar skrywersloopbaan erken dat sy destyds min tyd gehad om te skryf. Sy het in 1986 aan Esme Mittner (Sarie, 26 Maart) gesê dat dit egter nooit werklik té min is nie. As sy eers begin, gaan dit volstoom. Sy skryf selde oor, maar stel vooraf vir haar in haar gedagte ’n altyd groeiende diagram op oor hoe die hoofstukke in mekaar gaan pas en oor die onderlinge verhoudings van haar karakters. “Maar natuurlik neem hulle in ’n stadium oor en word hul hul eie mense.”
Terwyl sy met haar huiswerk besig is, is dit vir haar belangrik om vrede in haar gemoed te hê, al worstel die liggaam met stofsuier en waslap. Só kry sy dit reg om inwaarts te keer, wat vir haar nodig is om haar verhaal uit te dink. “Die werklike skryf van die manuskrip vind plaas nadat ek genoeg oor my besems en vloerlappe en bondels wasgoed heen gebroei het.”
Maretha is ’n baie gewilde spreker by vroueverenigings en bied ook lesings aan by kerke, skole en ander organisasies en verenigings. In 1992 het sy in Amerika vroue wat by die Suid-Afrikaanse Ambassade in New York werk, asook amptenare se vroue, toegespreek oor hoe om persoonlike eensaamheid te hanteer en persoonlik sterk te bly ter wille van die roeping wat hulle daar het.
Marietjie Smith het in Lantern (Februarie 1991) as volg oor Maretha Maartens geskryf: “Vir haar is haar skrywerskap tweede natuur en uit alles wat sy aanpak, straal haar veelsydigheid, innemende sensitiwiteit en mensliewendheid. Sy beoefen haar kuns ter vervulling van ’n basiese behoefte en vertel dat as sy ’n ruk lank nie by haar skryfwerk uitgekom het nie, sy baie rusteloos en onvergenoegd raak en redelik moeilik om mee saam te leef.
“Maretha het ’n wye belangstellingsveld wat strek van musiek en die teater tot museums en ander gebiede van historiese belang. Die lewe dien as voedingsbron vir haar tekste wat ook haar veelsydigheid illustreer: kinderboeke en jeugliteratuur, ontspannings- en liefdesverhale, volwasse leesstof met ’n sosiogeestelike inslag, dagboeke met ’n godsdienstige inslag en motiveringsboeke met ’n geestelike inslag.”
Nadat haar dogters gebore is en groter geword het, het Maretha se skryfwerk ’n ander wending geneem: “Toe my kinders self begin lees, het ek besef dat daar ’n groot behoefte vir maklike, eg Afrikaanse kinderverhale is en ook vir meer gesofistikeerde jeugverhale,” vertel sy aan Alet Coetzer. (Volksblad, 25 April 1984) “Die jeug is ryp vir aktuele onderwerpe en word dikwels onderskat. Ek het besluit om self vir my kinders boeke te skryf en so is My dik boek vir beginnerlesertjies en Rowe val af vir tieners gebore.”
In ’n jeugverhaalkompetisie wat die uitgewers JP van der Walt in 1983 uitgeskryf het, het Maretha die eerste prys gewen vir haar verhaal Moedhou Maria dis donkermaan. Sy vertel verder aan Coetzer: “My inspirasie kom van die lewe self en ek gebruik realistiese situasies as agtergrond in my verhale. Ek het ook nie vooraf ’n beeld van my karakters nie en hulle word vanself gevorm deur die situasies in die boek.
“In Gezina en die bruin wind het ek die Bloemfonteinse konsentrasiekamp vir vroue en kinders tydens die Anglo-Boereoorlog as tema gebruik. Om my geskiedkundige feite agtermekaar te kry, moes ek baie navorsing doen. So het ek eers aan die einde van die verhaal besef dat Gezina se sussie eintlik ’n klein astrante meisietjie was, sonder dat ek dit so bedoel het.
“My belangstelling in onderwerpe wissel van tyd tot tyd en ek glo dat ’n mens oor enigiets entoesiasties kan raak. My kinderboek Die bomelaars gaan oor verwaarlooste katte en het sy oorsprong gehad toe ons een nag na ons eie kat gesoek het.”
Maretha maak van situasies wat in die werklikheid gegrond is, gebruik; dus moet sy eers die omstandighede goed ondersoek voordat sy begin skryf aan ’n storie. Vir haar roman Een ligjaar wat afspeel in die mynwêreld, het sy twee maal in ’n myn afgegaan om haar te vergewis van die omstandighede daaronder. Haar jeugverhaal Een pakkie mieliepitte (Sidwell’s seeds in Engels) speel weer af in ’n plakkerskamp. Sy en Hennie, haar man, het een Sondagmiddag in die reën deur só ’n kamp gery om ’n indruk te kry van hoe dit daar lyk.
Maretha beskou pryse ter bekroning van haar boeke as “bonusse”, tog het die pryse vir veral haar kinder- en jeugverhale nie agterweë gebly nie. Sy het die Sanlamprys vir Jeuglektuur vier keer ontvang: vir Die sakmense in 1985, Oor die nek van die draak (Silwer) in 1988, Plek van die dolfyne (Goud) in 1990 en Spinnekopsomer (Brons) in 1992. Die sakmense het ook die Credo-prys in 1986 losgeslaan en Gezina en die bruin wind die HAUM-De Jager-prys vir boeke oor die Groot Trek. Die inkvoël se Duitse vertalingis in 1993 bekroon met die Katholische Kinderbuchpreis der Deutschen Bischofskoferenz en die Afrikaanse weergawe is in 1988 opgeneem in IBBY se White Ravens-keur – een van net drie Afrikaanse boeke wat daardie jaar so vereer is. Filippa se planeet ontvang in 1989 die Volkskas Bank-prys en Is Gideon dan ’n swart skaap? is in 1988 bekroon met die Groot Trek Herdenkingsfeeskomitee se prys vir verhale oor die Groot Trek in die kategorie vir verhale vir kinders tussen nege en elf jaar oud. In 2015 is Maretha saam met Karel Schoeman en Corrie Scheepers deur die Bloemfonteinse Afrikanerkultuurraad (BAK), in samewerking met die FAK, vereer vir hulle uitstekende bydraes wat hulle op verskillende gebiede in Afrikaanse kultuurorganisasies gelewer het. Hierdie prestige-vertoonvenster van individue wat konstant uitnemende diens lewer aan hulle onderskeie organisasies en gemeenskappe het twee jaar gelede herleef en dit is vanjaar die derde keer dat die toekennings uitgedeel word. Maretha het dit ontvang vir haar bydrae op die gebied van jeuglektuur. (Volksblad, 13 Junie 2015)
Die Credo-prys is deur NG Kerk-Uitgewers toegeken vir Christelike lektuur van hoogstaande gehalte. Sy het dit vir Die sakmenseontvang omdat dit ’n besonderse jeugverhaal is: “Dit het ’n aangrypende, aktuele tema waarin persoonlike en maatskaplike probleme in die lig van Christelike waardes aangesny en op sensitiewe wyse verbeeld word.” (Die Transvaler, 1 Mei 1986)
In Volksblad van 9 Junie 1986 vertel Maretha dat die twee hoofkarakters in Die sakmense – ’n wit karakter wat ’n dialise-sakkie moet dra en ’n swart seun wat onder plastieksakke in Onverwacht grootword – albei op ware karakters gebaseer is: “Die growwe grint van die land is die papier waarop die verhaal geskryf is lank voordat dit met pen op papier aangeteken is. Dit is ’n tyd waarin ruimte geskep moet word sodat naasteliefde kan seëvier. Naasteliefde is die kader waarbinne versoening gevind kan word.”
Maretha het in Oor die nek van die draak oor die kinders van die Groot Trek geskryf. “Al die karakters in my boek het werklik bestaan,” vertel sy aan Trudie Myburgh (Die Burger, 31 Mei 1988), “behalwe die hoofkarakter vir wie ek vry moes hou om al die ander waar te neem. Maar die ander se storie is die storie van die geskiedenis. Ek sou baie graag wou hê kinders moet uit my boeke leer. Dit sou wonderlik wees as kinders wat Oor die nek van die draak gelees het, vir my sê nou verstaan hulle die Groot Trek beter.”
Maretha se veelbesproke jeugverhaal ’n Pot vol winter verwerf die Andrew Murray-prys as die beste boek in die afdeling vir algemeen-godsdienstige publikasies. Maretha het vertel dat sy en haar man op Rhodes in die Oos-Kaap vakansie gehou het toe sy gehoor het dat sy die prys ontvang het: “Dit was ’n volslae verrassing. Ek het nooit eens aan die moontlikheid gedink nie.” (Volksblad, 5 April 1990)
Dit handel oor tienerseks en het landswyd opspraak veroorsaak. In die boek is daar ’n redelik eksplisiete beskrywing van ’n sekstoneel tussen twee jongmense. Met die storie wou Maretha niemand afskrik van seks nie, want, vertel sy aan IL de Villiers (Sarie, 21 Februarie 1990), “as ’n mens Hooglied lees, sien jy die Here het bedoel dat seks een van die wonderlikste dinge van Sy skepping moet wees. In die regte omstandighede en op die regte tyd natuurlik. Ek wil nie ’n bangmaak-tannie wees nie. Ek wou net die waarheid vertel. Dis jammer dat die boek nou juis daarom bespreek word, maar ek dink nie die pad van die leuen, ook met seks, word dikwels genoeg uitgespel nie. Ek moet die waarheid skryf, soos dit is.”
’n Pot vol winter het sekerlik danksy die omstredenheid uitstekend verkoop en na agt maande is meer as 30 000 eksemplare verkoop. Dit was ook die eerste Afrikaanse jeugverhaal wat deur ’n publikasiekomitee bekyk en goedgekeur is. Daarby was dit die naaswennervan die ATKV-Prosaprys vir goeie gewilde Afrikaanse prosa. ’n Filmweergawe van die boek is ook vrygestel. Paul Venter was die draaiboekskrywer.
Dit vertel die verhaal van Elizabeth, ’n tiener, wie se ma en pa op skei staan as gevolg van haar pa se verhouding met ’n ander vrou.
“Sy dink en praat in tipiese tienertaal,” het Elsabe Steenberg in Beeld van 6 November 1989 geskryf, “met verwysings na haar wêreld waarin sy met ander verwarde tieners in aanraking is en waar haar ouers se komende egskeiding ’n al groter verskrikking word. Dit dien as die grootste motivering vir die feit dat sy haar laat ompraat om saam met Kurt, wat lank haar vriend was, maar met wie sy al vandat hy weermag toe is, nie meer so goed klaarkom nie, Naval Hill toe te gaan. Daar verloor sy kop en vind die ‘gewaagde’sekstoneel op die agtersitplek van die motor plaas. Skok, skuld en vrees vir ’n moontlike swangerskap laat haar miergif drink.”
Elsabe Steenberg (Beeld, 6 November 1989) skryf verder: “Elizabeth se deurmekaar stukke gedagtes soos sy met die dood worstel, word juis in hoofstuk nege (die vrugbaarheidsgetal) weergegee. Die uiteinde is dat sy nie swanger is nie, langsaam herstel van haar selfmoordpoging, en ten slotte kan terugkeer huis toe. Maar haar ouers se egskeiding gaan deur; alles kom dus nie meteens en onrealisties reg nie. Hierdie boek verken ten diepste ’n tiener se verhouding met God. Die pragtige, positiewe karakter, tant Hoender, in wie die implisiete outeur sterk deurkom, gee perspektief op die seksdaad en ook op God wat vergewe en die beste stuk van die mens bewaar omdat dit ‘te kosbaar is om te vernietig’ (72).
“Dit kan nie weggeredeneer word dat té veel krisisse in die verhaal saamgetrek word nie, maar dit word met verantwoordelikheid en groot taalvaardigheid hanteer. Nou is die weg gebaan dat meer sodanige werke (...) in die toekoms gepubliseer (kan) word en met vrug deur ouer jeugdiges gelees (kan) word.”
Henning Pieterse het in Mei 1992 se Tydskrif vir Letterkunde ’n resepsieverslag van ’n Pot vol winter saamgestel en daaruit het dit geblyk dat net Annemarie van Wyk ’n ongunstige resensie geskryf het. Volgens haar word die ander karakters in die boek, veral Elizabeth se ma, te vlak uitgebeeld. Hulle onvermoë om met Elizabeth te kommunikeer, word byvoorbeeld nooit werklik verklaar nie, en daarom is die slot onbevredigend.
André le Roux (Die Burger, datum onbekend) spreek hom uit oor die onsekerheid wat heers oor wat tieners wil lees. Die bekende kritikus Ia van Zyl (Republikein, 6 Oktober 1989) het die boek aangeprys as ’n deurbraak in die Afrikaanse tienerliteratuur.
In haar Huisgenoot-bespreking beklemtoon Lucia Gomes die deurbraak wat gemaak is met ’n Pot vol winter: “Want ’n Pot vol winter is maar die eerste in ’n hele reeks nuwe tienerboeke waarvan ’n sprong in die duister gewaag word met temas wat tot dusver dikwels in Afrikaans taboe was.”
Van die tieners wat die boek gelees het, het gemeen dat daar te veel klem op die negatiewe gelê word en dat die hoofkarakter net kla en dat alles vir haar sleg is. Die seksbeskrywings was vir die meeste van hulle nie so erg nie, aangesien sommige televisieprogramme veel erger is en daar baie boeke in biblioteke is waarin ook seksbeskrywings voorkom. Ander het gesê dat dit ’n fantastiese boek is waaruit hulle baie geleer het.
’n Pot vol winter is later ook in Engels vertaal.
Met Smaartie is skeel, wat in 1993 verskyn het, het Maretha haar weer op die pad van omstredenheid bevind. Dit is as wenner van die ATKV-Kinderboekprys aangewys in die afdeling 10 tot 12 jaar.
In Smaartie is skeel spreek Maretha Maartens die probleem van seksuele misbruik van kinders aan. Hierdie probleem word egter nie altyd so maklik opgelos nie, omdat dit “ons geheim” is, skryf Chris Jooste in Volksblad van 27 September 1993.
Hy skryf verder: “Anita se pa en ma kom nie so goed oor die weg nie, moontlik omdat haar ma so vet geword het en vir haarself onaantreklik is. Toe begin Anita agterkom dat haar pa se sagte aanraking van haar ontluikende lyfie nie meer vir haar lekker is nie en dat sy nie meer alleen saam met hom wil wees nie. Dit is later net by Smaartie, Anita se skeel skilderkatjie, dat sy veilig voel. Smaartie is die enigste een wat ook die skadukant van die ‘ander’ pa ‘raaksien’.”
“Deur vernuftige, eerlike en sensitiewe vertelling berei Maartens die jong leser voor op die trauma van ’n pa wat homself ontbloot aan sy tienjarige dogter met die doel om homself te bevredig,” skryf Barrie Hough in Insig (November 1993). “Dit is ’n dapper en baie nodige boek wat die probleem ferm, maar onsensasioneel, benader. Dit is ’n pluspunt dat die skryfster die pa nie karikatuuragtig as ’n boef uitbeeld nie, maar as ’n mens met swakhede. Die slot is gesetel nie in ’n skielike magiese oplossing nie, maar in emosioneel beseerde mense wat na mekaar uitreik in ’n poging om na ’n oplossing te begin soek. Smaartie is knap gekonstrueeren is ’n beduidende bydrae in die sogenaamde ‘kinder/tienerprobleem’-genre.”
Sy wil nie met boeke soos ’n Pot vol winter, of haar jongste, Smaartie is skeel, sensitiewe onderwerpe “oopskryf” nie, sê Maretha aan Elfra Erasmus. (Beeld, 17 Augustus 1993) “Ek skryf omdat ek net te veel met dié dinge te doen kry. Dit is dikwels kinders wat ek goed ken en wat vir my spesiaal is. Daarom het ek die ding by sy naam genoem en nie daaroor in beeldspraak geskryf nie.”
Tydens haar navorsing wat sy vir Smaartie is skeel gedoen het,het sy agtergekom dat in huise waar die molestering gebeur, die kinders gewoonlik nie die probleem wil aanspreek nie, as gevolg van ’n vrees dat hulle pa en ma hulle nie meer sal liefhê nie. Wanneer Anita se ma uiteindelik agterkom dat Anita se pa haar molesteer, loop dit uit op ’n gesprek tussen die ouers en ’n voorneme om hulp vir die probleem te gaan soek.
“‘Korrektiewe’ soos hierdie word op verskeie maniere in die verhaal verweef. Die pa word nie net as ’n negatiewe karakter geteken nie. Geen kind glo in elk geval sy pa is net sleg nie. Hy het sy pa lief. En juis in hierdie opsig gaan Smaartie verder as die stereotipiese boek oor die onderwerp, waar dit ’n buurman of iemand anders is wat ’n kind molesteer,” sê Maretha aan Erasmus. “Om kinders te help, word die telefoonnommer van Kinderlyn minstens drie keer in die storie genoem en bevat die verhaal ’n gesprek tussen Anita en die ‘Kinderlyn-tannie’. In die boek is daar ook ‘’n reeks normale pa’s’, pa’s wat hul dogters op die skoot tel en op ’n gesonde manier aan hulle aandag gee.”
Maretha het ook later in haar skryfloopbaan begin om verhoogstukke te skryf – net nog ’n voorbeeld van haar veelsydigheid as skrywer. In 1994 het sy Die Kruiskoning geskryf. Dit is op Goeie Vrydag in 1994 op Mooigenoeg net buite Bloemfontein in die buitelug met beligting en klank opgevoer. Maretha het gesê sy glo die evangelie is die beste nuus en dat die enigste ware weg tot versoening tussen mense van alle rasse ’n ontmoeting om die kruis is.
In Februarie 2015 is Kruiskoning – ’n Passiespel weer op die planke gebring in die Sand du Plessis-teater, maar hierdie keer as ’n musiekblyspel deur die Bloemfonteinse gospelsanggroep InsideOut.
In 2002 is haar stuk Die wind sal nooit weer ophou waai nie tydens die Volksblad-Kunstefees in Bloemfontein op die planke gebring. Dit is ’n toneelstuk oor gestremdes, en van die rolle word deur gestremdes gespeel. Daar is Muriel Maduo wat ’n rolstoelgebruiker is en min gebruik van haar arms en hande het; Nolan Visser, ’n parapleeg; Lize Botha, wat met krukke beweeg; Sophie Booysen, ’n depressielyer; Bennie Olivier, bo 50 en blank; Carina Snyman, met professionele opleiding; Pieter Venter, dramadosent; en Martie Pretorius, gebaretaaltolk.
Die spelers is deur Nico Luwes, hoof van die Dramadepartement aan die UV, afgerig en hy het dit duidelik gestel dat die gehalte van die verhoogstuk op professionele vlak nie vir ander produksies gaan terugstaan nie. (Volksblad, 21 Junie 2002)
“Die stuk handel hoofsaaklik oor mense met gestremdhede wat begin wonder waarom hulle so uitgeskuif op die rand van die samelewing leef,” vertel Maretha. “Dit handel oor verlies, oor wat met mense gebeur as hulle verlies net aanvaar. Ek hoop dit bring die teaterganger by drie selfondersoekende vrae uit:
- Móét ek - of ek nou met ’n bepaalde soort liggaamlike gestremdheid moet cope en al dan nie - die verlies as ’n afsnypunt in my lewe aanvaar?
- Durf ek, in reaksie op ander se verlies, bydra tot daardie mens se verlies aan lewensgehalte en menswaardigheid?
- Is die verlies van ledemate- en liggaamsfunksies wel die grootste verlies wat die mens kan ly?
“Daar is verskillende subtemas, herkougoed vir ná die tyd. Een is die seksuele uitbuiting van veral swart vroue met liggaamlike gestremdhede. Omdat dit ’n gesinsdrama is, vind eksplisiete verkragtingstonele nie op die verhoog plaas nie, maar die feit word sonder om doekies om te draai, op die tafel gelê.
“Die wind sal nooit weer ophou waai nie is ’n stuk uit en van Afrika. ’n Amptenaar van die departement van gesondheid gaan spreek mense oor vigsvoorkoming toe. Die rukwinde van Noord-Kaap kom deur die klowe aan.
“’n ‘Gesin’ van drie, elkeen met sy eie vorm van gestremdheid, woon in ’n sinkhuis. Die aggressie wat in ’n groot persentasie blanke Afrikaanssprekende mans aangetref word (ons genetiese poel bevat die gene van heelwat adrenaliengedrewe en serotonienbehoewende fanatici) sal die wenkbroue waarskynlik op die Engelse platteland laat lig.”
Sy hoop die stuk sal grensverskuiwend wees. “Dat Luwes as gerekende regisseur dié uitdaging met soveel entoesiasme en toewyding hanteer, is reeds grensverskuiwend. Dat ’n klompie amateurs met rolstoele en krukke en al op wieke van die wind in ’n kunstefees ingevlieg kom en vooraf uitstippel dat hulle so goed soos enigiemand anders op die verhoog gaan wees, is besonders. Dat mense met ernstige liggaamlike gestremdhede die rolle van mense met gestremdhede op so ’n skaal vertolk, is ongewoon.
“Dat die volle dialoog vir gehoorgestremde mense en dowes toeganklik gemaak gaan word deur ’n professionele Gebaretaaltolk wat saam met die akteurs oefen, is nie algemene praktyk nie. Dan hoop ek ook dat die sein dat die tyd van ’n ‘foei-foei’ en ‘bly eenkant’ verby is, helder genoeg sal deurkom. Dit voel vir my asof juis in ondeurdagte frases soos ‘die gestremde gemeenskap’ ’n donker potensiaal van uitsluiting, van anders-maak en van distansiëring opgesluit is.
“Die stuk vertel van ’n ‘gestremde gemeenskappie’ in ’n sinkhuis. Hulle wil nie langer so ’n ‘gemeenskappie’ – eintlik ’n mikrokosmos van die groter ‘gestremde gemeenskap’ – wees nie. Hulle wil deel van die menslike gemeenskap wees.”
Maretha het verkies dat mense met gestremdhede self die rolle moet vertolk bo niegestremdes, omdat hulle vir hulself kan praat. “Hulle aanvaar eienaarskap van wat uitgebeeld word. Hulle evalueer en verifieer die egtheid en waarheid van wat opgevoer word. Hulle redigeer die teks, voeg daaraan toe, skrap wat nie van toepassing is nie.
“Waarom, ook, moet mense met gestremdhede uit plekke van versorging en afsondering aangery word om toe te kyk hoe hul lewe uitgebeeld word? Die akteurs is deel van die gemeenskap. Ons struikel soms oor hul krukke, ja, net soos oor driewiele en skaatsplanke in ons eie huise. En dis oukei. Dit is ’n bevrydende ervaring vir almal.”
Maretha voel baie sterk daaroor dat die “wind van verandering” wat volgens die gestremde gemeenskap nooit weer gaan ophou waai nie, dus ’n weiering is van die nuwe generasie mens met liggaamlike gestremdhede om as “anders” en hulpbehoewend beleef en behandel te word.
“Dit maak alles net soveel makliker vir almal,” meen Maretha. “Die mens met die stomasakkie en die verlamde bene hoef nie meer deur ’n berg vooroordele en skewe aannames te sukkel om kontak met ander mense te maak nie. En die mens wat slegs aan hoofpyn, hoë bloeddruk, impotensie, bysiendheid, oorgewig, spatare, sooibrand, ’n maagseer en ’n groter wordende bles ly, hoef nie meer ’n onnodige verleentheid in die geselskap van eersgenoemde mens te hanteer nie.”
In 2003 het Maretha weer die oog gevang by die Volksblad-Kunstefees met ’n diep, menslike drama getiteld Carwatch. Lulu Botha het die rol gespeel van Glenda, ’n gesoute karwag van Bloemfontein, en Gerben Kamper was die regisseur. Hy het ook die oorspronklike stuk herskryf en aangepas vir die verhoog.
Lulu het aan Maretha vertel dat sy karwagte begin dophou het en tot die besef gekom het dat niemand nog hulle probleme aangepak het nie – hoe hulle leef en wie hulle is nie. Maretha het begin skryf en die uiteinde was ’n Suid-Afrikaanse drama.
Sy het met ’n klomp karwagte gesels. Die antwoorde wat hulle op haar vraag gegee oor wat van hul werk vir hulle lekker is, bevat dié sleutelsin: “As mense vriendelik met my is.” Dié sin, en ’n droom wat Maretha gehad het, het aanleiding tot Glenda se ontvlugtingsdanstonele gegee.
Maretha het aan Nols Nieman (Volksblad, 11 Junie 2003) vertel: “Ek het een nag vol verlange na my dogter in Ierland aan die slaap geraak. Ek droom toe van dans en musiek, seker omdat die verlange byna soos ’n dansmetgesel vir my geword het. Kort ná die openingstoneel het ek ’n danstoneel van verlange vir Glenda geskryf - verlange na erkenning, skoonheid en verlore jeug. Glenda se droomdanstonele sê presies wat karwagte se sleutelsin sê: ‘Dis lekker as mense vriendelik is met my.’ Dit weerspieël Glenda se soeke na menslike warmte. Haar eerste man het selfmoord gepleeg en sy is toe met ’n man getroud ‘wat te goed vir woorde is’. Hy behandel haar vieslik, maar sy wil so graag hê dat hy haar ’n bietjie erkenning gee en styf teen sy hart vasdruk. Glenda het ook probleme met haar kinders, soos ’n werklose seun, en moet dubbelskofte werk om vir haar dogter se matriekafskeidrok te betaal. Sy breek haar vir die gesin, maar die vrou met die harde uiterlike wat nie op die parkeerterrein met haar laat mors nie, luister na Klassieke keur oor die radio. Niemand sal kan raai hoe teer sy is nie. Die toneelstuk is ’n dubbelstorie en het ook kommentaar op gesinsgeweld, kapings en rooftogte.”
Ander verhoogstukke wat ook opgevoer is, is Die Kripkoning, ’n Kersspel, Een middag in Nasaret, ’n Kersspel vir kinders, Woesklip, kindertoneel, asook Die Klipdassie-kommune (’n eietydse evangeliese verhoogstuk) en Mars, ’n musiekspel vir laerskoolleerlinge wat op versoek van die Laerskool Willem Postma in Bloemfontein ontwikkel is.
Met die publikasie van Maretha se roman Monument in 2013 beskryf Jeanette Ferreira (LitNet, 7 November 2013) dit as die “roman in Maartens se oeuvre wat die diepste delf”. Sy gaan verder: “Die titel roep duidelik assosiasies met oorloë op, en dié is daar, van die Anglo-Boereoorlog tot plaasmoorde, wat deur sommige as ’n soort oorlog beskou word. Dit vorm egter meestal die agtergrond waarteen die meer individuele konflik afspeel, in die besonder familieverhoudings.”
In ’n onderhoud op LitNet (30 Julie 2012) met Danila Liebenberg (Maartens se dogter) vertel sy meer oor die ontstaan van Monument: “Ek is deur Pieter Strauss en Magdaleen Schoch van die Voortrekkerbeweging genader met die idee dat daar ’n roman geskryf behoort te word om saam te val met die gedenkfees rakende die onthulling van die Vrouemonument in Bloemfontein op 16 Desember 1913. So ’n konsep moes aan ’n uitgewer voorgelê word. Die konsep is voorgelê en deur Tafelberg Uitgewers aanvaar.”
Oor die storie vertel Maretha verder aan Liebenberg: “Jare gelede het ek een oggend, terwyl ek en Hennie [Maretha se man] op pad Kimberley toe was, vir hom gesê: ‘Dié streek – Kimberley, Jacobsdal, Perdeberg, Florisbad, Petrusburg, Bloemfontein, Winburg en die gebied Ficksburg en Clarens se kant toe – is toegewaaide en toegevalle geskiedenis: Voortrekkergeskiedenis, diamantveldgeskiedenis, Anglo-Boereoorlog-geskiedenis, ANC-geskiedenis. Dit is ’n ondersoekende skrywer se droomlandskap. Ek wil nog eendag oor hierdie gebied skryf.’
“‘Eendag’ het aangebreek en ek het in Monument met die vingernael aan die bolaag van wat hier is, begin krap. Monument oorspan honderd jaar in Sentraal-Suid-Afrika.”
In 2016 word Maretha se roman Hanna by Lux Verbi gepubliseer en met hierdie eerste Bybelroman begeef Maretha haar op nuwe terrein. Dit is die verhaal van een van die mees tragiese figure in die Ou Testament, skryf JB Roux in Vrouekeur (30 Desember 2016).
Hy wou by Maretha weet hoekom sy vir Hanna gekies het – daar is tog baie ander aangrypende vroue in die Bybel: “Dit was nie my besluit nie. Ek het nie vir Hanna gekies nie – die uitgewer het. Ek was verras toe hulle my gevra het om Hanna se lewensverhaal te skryf. Ek skryf eintlik historiese romans, liefdes- en gesinsverhale en semi-biografiese boeke.
“Daar is nie noodwendig ’n verband tussen die ‘stryd’ om moderne vroueregte en verhale soos dié van Hanna nie,” vertel sy verder aan Roux. “Daar is geen stryd wanneer daar geen ander agenda is as om in die kop en lyf van ’n vrou wat in die Ystertydperk geleef het, te klim nie. Vroueregte was nie deel van Hanna se bestaanswerklikheid, frustrasies of drome nie.
“Terwyl ek navorsing gedoen het oor Hanna se leefwêreld – die huise, landboumetodes, godsdiensbeoefening, landskap, pelgrimstogte en veral vrouwees in daardie verre tyd – is ek ingesleur in ’n wêreld soos dit ongeveer 1 100 VHJ was. Min vroue kon lees. Tamaties het nie bestaan nie. Leeus en wolwe – nie misdadigers nie – het mense bedreig. Kinderloosheid was ’n lewensramp.
“Ek het al baie so half van die kantlyn af daaroor besin of Bybelromans nie ‘heiligskennis’ is nie. Om ’n Bybeldeel in ’n skrywer se eie woorde en uit haar perspektief oor te vertel, dingetjies by te sit en dalk weg te laat…
“My persoonlike uitgangspunt met Hanna was toe dat ek geen woord tot enige direkte boodskap of bepaling van God durf toevoeg nie. Ook nie tot die woord van Jesus of die Gees-geïnspireerde geskrifte van die apostels, indien ek weer eendag so iets sou aanpak nie. Direkte woorde van die Drie-Enige God is onaantasbaar.
“Verder kom baie van die navorsing uit die Bybel self en ek gaan baie noukeurig daarmee om. As Elkana, Hanna se man, byvoorbeeld volgens die Bybel ’n Leviet was, kan ek hom nie uitbeeld as ’n nakomeling van Sebulon nie. As sy stamboom in die Bybel opgeteken word, hou ek daarby. (…)
“Dieselfde geld vir Hanna: Ek moes álles opspoor wat oor haar in die Bybel geskryf is. As daar niks oor haar ouers, geboortegesin, woonplek en so meer in die Bybel staan nie, kon ek dit waag om ’n fiktiewe gesin vir haar te skep. Dit beteken dat ek ook buite-Bybelse, maar betroubare bronne in my navorsing gebruik het.”
Maretha dink ook die roman Hanna bevat lewenswaarhede vir almal wat nie kry wat hulle wil hê nie: “Hoe hou jy jou geloof te midde van onvervulde begeertes en gebede wat nie verhoor word nie? Hoe het Hanna dit in die Bybelse milieu van die Ou Testament gedoen?” sê sy aan Elretha Britz. (Die Burger, 31 Oktober 2016)
Riette Rust is die resensent van Hanna op LitNet (23 Maart 2016): “Met Hanna voldoen Maretha Maartens aan al dié vereistes (wat van ’n Bybelroman verwag word). En meer. Hanna is ’n knap roman wat aards en sintuiglik aangebied word. Die hoofkarakter is die Hanna van 1 Samuel 1:2. Sy is Elkana se vrou en Samuel se ma. Die hooftema is kinderloosheid. Nie lig nie, nee. Anders as wat dikwels afgelei word, is dit juis belangrik dat ’n goeie Bybelroman nie soetlik of sonnig hoef te wees nie.
“Dit moes intense toewyding geverg het om met die beperkte gegewe oor die Bybelse Hanna ’n verhaal te kon skep wat jou vasgryp, laat huil en soms laat glimlag. Merab, die vroedvrou, is byvoorbeeld ‘fris soos ’n man en het ’n stem wat by haar breë skouers en gespierde boarms pas’. Wat ’n karakter!
“Die skrywer slaag uitstekend daarin om sóveel fasette van kinderloosheid vas te vang dat die verhaal steeds relevant is. Veral vir vroue. Hulle sal hulle kan inleef in die hoofkarakter se wroeginge teenoor God en teenoor haar man se bykomende vrou, asook in Hanna se twyfel aan haarself as geskikte huweliksmaat. (…)
“Maartens moet die Bybel, veral Samuel, goed ken om die milieu, tradisies en gebruike van daardie tyd so lewensgetrou te kan weergee. Sy moes ook heelwat navorsing gedoen het sodat die leser nie ’n oomblik aan die egtheid van die gegewe twyfel nie. (Dit bly darem érg dat ’n vrou haar aan haar man moes onderwerp en hom haar heer en meester moes noem. Om nie te praat van 12-jarige meisies wat trou en swanger raak nie!) Selfs insekte en reptiele is nagevors. (…)
“Ook die name van karakters is ‘Ou-Testamenties’: Seruja, Gesron, Jispan. Die Bybelse verwysings in Hanna is besonder leersaam. Dis hier waar die eindnotas op bl 261 nuttig te pas kom. En indien jy oor die betekenis van ’n woord twyfel, raadpleeg jy eenvoudig die woordelys op bl 259. ’n Ghannab is byvoorbeeld ’n dief, en ruach gees.
“Maartens se taalgebruik en beeldspraak is treffend en pas by die ou beskawing in. Jy wil dit dikwels herlees. Soos: ‘Haar skoonpa se eie verhaal was soos ongesuurde brood met bitter kruie.’
“Die dialoog werk goed. Net soms kan jy dalk wonder of ’n pa wel sulke hogere begrippe aan sy jong kinders sou probeer verduidelik. Soos: ‘Elkana vertel hulle van die ark wat hy nog nooit met sy eie oë gesien het en nooit sal sien nie – die onaantasbare kis met die getuienis van die ewige verbond van God se goedgesindheid en die Goddelike plan met die wêreld daarin.’ Hoe het hy dit oorgedra? kan die leser wonder. (…)
“Ten spyte van dié mindere kritiek, is die lees van Hanna ’n sielsverrykende ervaring. Die roman is besonder goed deurdink en deurleef.”
In Beeld van 10 Oktober 2016 skryf JB Roux: “Soos enige roman wat op ’n historiese werklikheid gegrond is, is die groot uitdaging vir die skrywer om getrou te bly aan die inligting wat beskikbaar is – én om dit aan te vul met fiktiewe karakters en gebeure wat naatloos daarby inskakel.
“Maartens doen dit meesterlik. Die skrywer het dié boek met erns en respek (vir haar karakters en die Bybelstorie self) geskryf. Die heldin is hartseer en wroegend, maar Hanna is nie morbied nie. Dis ’n boek vol hoop en deernis, realisties geskryf. Hanna is ’n hoogtepunt in ’n jaar waar die uurglas – so voel dit – veels te vinnig na die Kerstyd haas.”
In April 2019 is Hanna as verhoogproduksie tydens die Paastyd in die Sand du Plessis-teater op die planke gebring met Susan Coetzer in die rol van Hanna. Maretha self het die teks vir die verhoog verwerk en die regisseur was Michelle Hetzel. Dit is nie ’n musiekblyspel nie – die musiek bestaan hoofsaaklik uit Psalms wat deur Louis Britz verwerk is.
In 2019 verskyn Maretha se volgende Bybelroman en die keer fokus sy op Sara, vrou van Abraham. Die titel is dan ook Sara.
Sy vertel aan Gerda-Marié van Rooyen (Stronk, 2 Julie 2019) dat sy aan die begin baie geworstel het met Sara se onderdanigheid aan Abraham. “Vroue moet hulle nooit as ’n minderwaardige gespreksgenoot sien nie. Sara was onderdanig aan haar man deur hom respekvol as ‘my heer’ aan te spreek en nooit sy naam sleg te maak wanneer sy van hom praat nie, maar as gelyke met hom gepraat het.”
Maartens het die idee vir die boek gekry nadat sy ’n artikel in die New York Times gelees het oor die vlak van beskawing wat reeds in die oertyd bestaan het, soos dit blyk uit waens met houtwiele wat gevind is. Abraham het op hierdie roete waar die vonds ontdek is, getrek: “Ek lees baie en het eers begin skryf nadat ek ’n geheelbeeld in my kop gehad het oor die aardrykskunde van die streek en baie navorsing gedoen het.
“Die spanning in die boek is verwoord nadat ek heel eerste spanning binne myself ervaar het,” het sy aan Annette de Wet vertel op die ATKV-verhoog tydens 2019 se Vrystaatse Kunstefees. “Sara het nie saam met Abraham na Hebron gegaan nie. Sy moes ook innerlike konflikte ervaar en die mense van haar tyd moes ook humor gehad het.
“Humor is ook kort-kort sigbaar in Sara soos wanneer ’n karakter na haar tweeling verwys as ‘Druppel’ en ‘Nog ’n druppel’.”
In sy resensie in Rapport van 17 Februarie 2019 skryf JB Roux dat hy reeds nadat Maartens Hanna geskryf het, die gevoel gehad het dat Bybelromans die genre is wat vir haar bedoel is en “dat al haar werk tot in daardie stadium – met apologie aan die skrywer – vingeroefeninge was”.
Roux som die storie van Sara as volg op: Sara gaan na die woestyn nadat haar man, hul seun, twee slawe en ’n pakdonkie vertrek. Sy word deur ’n skerpioen gesteek en “heidense” vroue versorg haar terwyl sy om haar lewe veg.
“Die aangrypende verhaal van Sara en Abraham wat deur God aangesê word om hul seun aan Hom te offer, speel grootliks in Sara se gedagtes af. Sy mymer oor haar lewe saam met Abraham, haar jarelange kinderloosheid, intense droogtes en Hagar, Sara se slavin, by wie Abraham op Sara se aandrang ’n kind, Ismael, verwek het. Haar herinneringe aan haar en Abraham as jong egpaar en aan Isak as kind en jong man is heuningsoet.”
Om herinnering as verteltegniek te gebruik, is nie ’n nuwe tegniek nie, maar dit is nog altyd ietwat ongewoon, skryf Roux, en dit is een wat net sommige skrywers suksesvol kan gebruik en Maretha Maartens is een van hulle.
Hy gaan voort: “Die taalgebruik is fors, maar daar is tog liriese oomblikke, soos (die jong Isak se) ‘heuningbystemmetjie’ op bl 46. Om ’n afgeronde, geloofwaardige boekkarakter te maak van iemand wat in die bronteks kripties en soms misleidend beskryf word, is ’n groter uitdaging as om iemand uit jou verbeelding op te tower. Ook hier wys Maartens haar vaardigheid.
“Die karakters strook met die Bybelse voorstelling, maar word uitgebeeld as ménse wat dínk en vóél. Die denkbeeldige karakters wat die skrywer geskep het om die verhaal te help ‘vorm’, soos Gasael en sy outistiese dogtertjie, Idra, voel asof hulle hier hoort en nie net bygesleep is nie.
“’n Bybelroman is ’n historiese roman wat noukeurige navorsing oor die gebeure én gedetailleerde kennis van die omgewing en die lewenswyse verg. Maartens gaan verder deur alternatiewe bronne te gebruik om die korrektheid van die Bybel uit te daag.”
Vir Roux is die ooglopendste ooreenkoms tussen Maartens se twee Bybelromans, Hanna en Sara, die uitbeelding van vróúwees en die feit dat beide onvrugbaar is. “Vir sowel Hanna as Sara was hul onvrugbaarheid ’n beproewing, en die vreugde toe hulle in hul ouer jare elkeen wel ’n seun gehad het, onmeetbaar. Albei romans breek subtiel dog beslis die tradisionele siening oor Ou Testamentiese vroue af: Dat hulle willose wesens was wat onder palmbome sit en koring maal het.
“’n Mens wonder waarom Maartens besluit het om ’n tweede Bybelroman oor dieselfde kwessies en temas as die eerste een te skryf. Wat is daar ná Hanna nog te sê oor ’n Ou Testamentiese vrou wat wroeg oor onvrugbaarheid, jubel toe daar oplaas ’n swangerskap is en vreugde daarin vind om aan God en haar man onderdanig te wees? Maar al doen Maartens dit wéér, doen sy dit net so boeiend en aangrypend soos die eerste keer.”
Lapa Uitgewers gee in 2020 Maretha se jongste jeugroman, Bethel se berg, uit. Dit is dan ook saam met Jan Vermeulen se boek, Baster, die naaswenner van LAPA se jeugromankompetisie van 2019.
In Rapport (27 Desember 2020) het Magdel Vorster beide bogenoemde twee stories baie geniet. Met Bethel se berg bied Maartens aan lesers van ongeveer 11 jaar en ouer ’n blik op die lewens van ’n gesin in die vroeë 1980’s in Suid-Afrika. Die 13-jarige Bethel Hendrix is die verteller, maar dit doen geen afbreuk aan die feit dat die boek soos “gesinsmemoires” lees nie.
Vorster gaan voort: “Bethel se ma was ’n jong hippie wat met haar beminde in die Knysnabos gewoon het. Nou, jare later, is sy nogmaals swanger terwyl sy as enkelma met haar vier kinders (Bethel en haar drie broers, Jimi, Max en Richie) by twee verskillende pa’s in hul geel kombihuis die land deurkruis. Hulle is op pad na êrens waar hulle hopelik eendag gewone mense kan wees en in die huis met mure waarvan Max droom, kan bly.”
Op LitNet (3 Maart 2020) gesels Naomi Meyer met Maretha Maartens oor Bethel se berg. Maretha vertel waar die inspirasie vir die skryf van dié boek gekom het: “Bethel se berg het uit die inspirasie ontstaan, daarom begin ek maar by die inspirasie of die sneller, want dié was onvoorsiens en oombliklik.
“Op Vrouedag 2019 was ek een van die sprekers tydens ’n Vrouedag-geleentheid vir die personeel van ’n hospice in Bloemfontein. Daar ontmoet ek een van die ander sprekers, ’n dame wat die vorige jaar ’n PhD verwerf het. Terwyl ons voor die geleentheid saam tee drink, vra ek of sy ’n gebore en getoë Vrystater is. Sy skud haar kop: ‘My ma was ’n hippie. Ek was in agt verskillende skole gewees.’ (Dalk laat my geheue my in die steek – dit kon meer as agt gewees het.)
“Dit was die sneller. ‘Moet my asseblief vandag niks verder vertel nie,’ het ek gekeer. ‘Ek wil u toestemming vra om hierdie stukkie inligting die vertrekpunt van ’n jeugverhaal te mag maak.’ Sy het gelag, dalk net so verras oor my reaksie as ek oor haar mededeling. Ek het toestemming ontvang en die storie oor ’n hippie-ma en haar drie soorte kinders kom loop en uitdink en later geskryf.”
Meyer wou verder by Maretha weet of sy vooraf reeds geweet hoe die verhaal gaan eindig of waarheen dit op pad is – of het die verhaal organies ontwikkel: “Tydens die uitdinkfase was dit ’n uitgemaakte saak dat Bethel-hulle by ’n huurhuis naby die see sou uitkom. Dat Anna Hendrix met Pips (die jongste baba) op die heup die voordeur sou oopsluit. Dat alles mooi en stemmig sou eindig (...) sien. Maar ons kon nie van die piekniekplek in die Du Toitskloofpas af wegkom nie. Dit is immers Bethel se berg: die plek waar sy afskeid neem van ’n lewe wat nooit as gewoon beskryf sou kon word nie. Die verhaal het dus inderdaad organies ontwikkel en eindig by – of in – die paradys.”
Anke Theron resenseer Bethel se berg op LitNet (8 Desember 2020): “Dié novelle kan beskryf word as ’n belewenis of blik op die lewe. ’n Blik op Bethel se lewe. Haar werklikheid. Iets wat baie goed werk in jeugboeke en wat beslis tieners se aandag trek, is om ’n belewenis te kan ‘lees’. Veral ervarings wat hulle nie in hulle alledaagse lewe sal teëkom nie. Die leser het die geleentheid om insig in Bethel se belewenis te verkry deur middel van die verhaal. Indien die leser soortgelyke ervarings gehad het, of selfs net stories gehoor het oor die Bosoorlog, sal die leser al die implikasie sien in Bethel, Jimi en die tweeling se lewens. Vir jong lesers wat in die 1980’s nie eers ’n vonkel in hul ouers se oë was nie, verskaf dit ’n blik op ’n tyd in Suid-Afrika se geskiedenis toe dinge ’n heel ander sosiale dinamika gehad het, soos die engheid in ʼn plattelandse dorp; en dan is Bethel se ma boonop die predikant se dogter.
“Bethel se ervarings, van haar verspring-ambisies omdat sy nie skoene daarvoor nodig het nie tot die grondboontjiebottertrok wat omslaan, herinner aan ’n ander meisie wat ook sulke wedervaringe beleef het: Claudie Thompson, in Swartskaap (2009) deur Odette Schoeman. Claudie het ses boeties en een sussie, maar net sy en haar broer Theuns het dieselfde pa. Ek dink as Bethel en Claudie saam kon gaan tee drink of ervarings uitruil, sou hulle goeie vriendinne word.
“Die narratief dra Bethel se verhaal goed, al word daar ook sosiale kommentaar in die agtergrond gelewer. Die bomme wat geplant word en die betogings gebeur in die agtergrond. Die leser is bewus van die tyd waarin dit afspeel. Veral wanneer Bethel se ma, hoogswanger, noodgedwonge op ʼn ‘kleurling’-dorp moes oorstaan vir die geboorte van Pip, die jongste sussie. Hulle moes vir ’n ruk skoolgaan op Williamsville. Die skoolhoof sê dan vir hulle: ‘En julle is wit. Die wit skool is op die dorp’ (bl 115). Tog is dit Bethel se verhaal waarmee jy saam loop deur Petrusville, Beaufort-Wes tot in die Kaap.
“’n Goeie jeugroman het die neiging om ’n indruk te laat op ’n jong leser, veral as dit gaan oor iemand van hul eie ouderdom wat ’n heel ander lewe lei as hulself. Daar is baie lewensvrae om oor na te dink en mens kry insigte in ander se leefwêreld wat jy nie noodwendig self ervaar nie. Dit is dié tipe boek wat mens insig gee in ander se omstandighede en jou net herinner dat jy nie altyd weet hoe moeilik ander se lewens is nie. Hierdie verhaal sal jou nog lank laat dink nadat jy die boek neergesit het. Waarnatoe nou Bethel?”
Maretha het aan Marietjie Smith (Lantern, Februarie 1991) vertel dat elke skryfvorm eiesoortige eise stel. In ’n sekere sin is jeugverhale vir haar die moeilikste omdat sy eintlik “te oud is” om dit te skryf. “Omdat ek nie meer ’n jongmens is nie en my tydens die skryfproses weer in hulle wêreld moet indink en inleef, sou ek sê dat hierdie verhale vir my die moeilikste is.
“Romans is vir my die maklikste. Daarin kan ek veronderstellings maak; ek kan aanvaar dat die volwasse leser oor sekere voorkennis beskik sodat ek hom/haar nie oor alles hoef in te lig nie. Dit is vir my lekker om ’n bietjie intelligent te mag speel in ’n roman vir die volwasse leser. Daarom is dit vir my seker die aangenaamste.
“Miskien is geestelike publikasies die bevredigendste, omdat ek voel dat as ’n mens die Here ken, jy iets het om te sê en dinge het wat jy met mense wil deel. Dis vir my oneindig bevredigend om die sin van die lewe, soos ek dit ervaar, met mense in geestelike lyding te deel. Op hierdie wyse mag ek dit dan ook direk deel sonder dat iemand meen dis prekerig, pedanties, didakties of wat ook al, want die werk word geskryf deur een worstelaar wat tot ’n ander probeer deurdring. (…)
“Wanneer ek begin skryf, gaan ek die werk paragraaf vir paragraaf deur. Sou iets nie na my sin lees nie, het ek vroeër jare die hele bladsy oorgetik of woorde met Tipp-Ex uitgehaal. Vandag is dit makliker op die rekenaar. Ek werk stap vir stap, sodat wanneer ’n spesifieke stuk klaar is, dit finaal is.”
Marietjie Smith skryf verder: “Maretha beskik oor ’n unieke temperament en gawes en benut die lewenslesse wat op haar weg kom, ten volle. Die mooiste woorde wat sy nog ooit geskryf sien staan het, is in Johannes 11, waar Jesus aan Martha sê: ‘Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat in My glo, sal in alles ewigheid ooit sterwe nie. Glo jy dit?’
“So glo Maretha opreg dat ’n mens alles moet aanpak met die hulp van die Groot Gewer. Wanneer ’n mens haar boeke gelees het en daaroor nadink, weet jy waarin die geheim vir die een suksesboek na die ander – asook vir ’n volledig-ryke menswees – opgesluit lê,”aldus Marietjie Smith.
Maretha het in 1998 die redakteurskap van die nuwe Christelike vrouetydskrif Finesse op haar skouers geneem. Haar ideaal vir Finesse was dat dit ’n keurige, verfynde, wellewende, skerpsinnige en verfrissende publikasie moet wees, vertel sy aan Alet Rademeyer. (Beeld, 13 Februarie 1998) “Dís die beeld wat ons wil uitstraal. Daar is al lank ’n groot behoefte aan ’n uitgesproke Christen-tydskrif. Met Finesse wil ons wegbeweeg van die beeld dat Christene naïewe, versukkelde, ‘agter-die-bos’ mense is wie se mening nie tel nie. Die tydskrif gaan goeie waardes, insig en deurdagte teologie voorstaan. Ons wil nugter én vrolik wees.”
Sy het in 2000 om persoonlike redes as redakteur van Finesse bedank. “Ek móés bedank en ’n nuwe rigting inslaan. Verskillende gesigspunte en perspektiewe oor die redaksionele beleid en inhoud, ja, dit wás die oorsaak.” (aan Elsabé Pepler, Insig, September 2000)
Maretha is ook ’n gesoute rubriekskrywer wat oor die jare bydraes gelewer het vir Volksblad, Vrouekeur, Rooi Rose en Finesse. Sy vertel aan Estee Booyens in Vrouekeur (6 Junie 2003) dat haar rubriektemas uit ’n kaleidoskopiese werklikheidspersepsie kom. “Ek het so ’n verspotte streep en ek dink dit is maar dié sin vir humor wat van my ’n rubriekskrywer gemaak het. Al wat ek weet, is dat dit een van die heerlikste dinge is om humoristiese stukke te skryf.”
Publikasies:
Lektuur vir volwassenes
|
Publikasie |
Anderkant Swartklip |
|
Publikasiedatum |
1975 |
|
ISBN |
0869660977 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Pluimboeke |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Lea, Lea |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0868121681 (hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Stormvoël |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Eindpunt |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Koms van die wolf |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die Midas-seisoen |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Tuin van die geel magrietjies |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Een ligjaar |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Voor die oog van hierdie son |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Nederlands 2002 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Verste grens |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Pretoria: Folio |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
|
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Vlug van die Eden-mens |
|
Publikasiedatum |
1988 (Grootdruk) |
|
ISBN |
0795914164 (hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Daan Retief |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Ses wenverhale. Saam met SC Brink, Eben Engelbrecht, Pieter Pieterse, Betrand Retief en Engela van Rooyen |
|
Publikasiedatum |
1988 |
|
ISBN |
0798123206 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Ekstasies en frustrasies |
|
Publikasiedatum |
1991 |
|
ISBN |
1868290611 (hb) |
|
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
|
Literêre vorm |
Sketse |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Vygies en ander vreugdes |
|
Publikasiedatum |
1992 |
|
ISBN |
18682891006 (hb) |
|
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
|
Literêre vorm |
Sketse |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Suurtjies en stralers |
|
Publikasiedatum |
1993 |
|
ISBN |
1868121081 (hb) |
|
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
|
Literêre vorm |
Sketse |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Poegaailyf of vonkeloog? |
|
Publikasiedatum |
1994 |
|
ISBN |
186829143X (hb) |
|
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
|
Literêre vorm |
Sketse |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Halte Tevredenheid: ’n reisverhaal met ’n verskil |
|
Publikasiedatum |
1994 |
|
ISBN |
1868291863 (sb) |
|
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
|
Literêre vorm |
Reisverhale |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Omnibus: Die koms van die wolf; Die Midas-seisoen en Voor die oog van hierdie son |
|
Publikasiedatum |
1994 |
|
ISBN |
0624032833 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Kitskos en korrels |
|
Publikasiedatum |
1995 |
|
ISBN |
9781868292004 (sb) |
|
Uitgewer |
Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy |
|
Literêre vorm |
Resepteboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Jy maak ’n verskil |
|
Publikasiedatum |
1995 |
|
ISBN |
0627020887 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
|
Literêre vorm |
Sketse |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Kwelkatryn of Kanniedood? |
|
Publikasiedatum |
1995 |
|
ISBN |
1868292371 (sb) |
|
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
|
Literêre vorm |
Sketse |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Van Riemvasmaak tot rose: ’n kykie op die lekkertes van die lewe |
|
Publikasiedatum |
1996 |
|
ISBN |
1868293106 (sb) |
|
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
|
Literêre vorm |
Sketse |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Ruitevrou: ’n ware verhaal van emosionele en liggaamlike mishandeling |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Vanderbijlpark: Carpe Diem |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Marike: ’n reis deur somer en winter. Saam met Marike de Klerk |
|
Publikasiedatum |
1998 |
|
ISBN |
1919719334 (hb) |
|
Uitgewer |
Vanderbijlpark: Carpe Diem |
|
Literêre vorm |
Biografie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
’n Plek waar die son weer skyn. Soos aan Maretha Maartens vertel |
|
Publikasiedatum |
1999 |
|
ISBN |
9781919719788 (sb) |
|
Uitgewer |
Vanderbijlpark: Carpe Diem |
|
Literêre vorm |
Biografie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Gesinsomnibus |
|
Publikasiedatum |
1999 |
|
ISBN |
9780799326413 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van der Walt |
|
Literêre vorm |
Algemeen |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Jacoba Afrikaner |
|
Publikasiedatum |
2001 |
|
ISBN |
0624040305 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
2001 kortlys van Sanlam/Insig/Kwêla-romanwedstryd |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Gaan na die pottebakker se huis |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
186823598X (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Struik Christelike Boeke |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Gawe van die liefde |
|
Publikasiedatum |
2004 |
|
ISBN |
0624042502 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Mirre |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Seën wag op Sinai |
|
Publikasiedatum |
2005 |
|
ISBN |
0624043355 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Mirre |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Engel van Ethiopië |
|
Publikasiedatum |
2006 |
|
ISBN |
0624043703 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Mirre |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
My liefling is ’n wolkeman |
|
Publikasiedatum |
2007 |
|
ISBN |
9780624045885 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Mirre |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Katryn van die klipdassies |
|
Publikasiedatum |
2008 |
|
ISBN |
9780624046301 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Mirre |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Sondag van die silwer see |
|
Publikasiedatum |
2010 |
|
ISBN |
9780624047940 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Mirre |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Laduma van die liefde |
|
Publikasiedatum |
2011 |
|
ISBN |
9780624052708 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Mirre |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Ek droom van ’n droom. Saam met Elsje Neethling Blair |
|
Publikasiedatum |
2012 |
|
ISBN |
9781431603411 (sb) |
|
Uitgewer |
Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy |
|
Literêre vorm |
Biografie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Liglopers. Saam met Andries Hendrik Potgieter |
|
Publikasiedatum |
2012 |
|
ISBN |
9781431603428 (sb) |
|
Uitgewer |
Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy |
|
Literêre vorm |
Biografie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Monument |
|
Publikasiedatum |
2013 |
|
ISBN |
9780624063148 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die slotman |
|
Publikasiedatum |
2014 |
|
ISBN |
9781415321899 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Struik Christelike Media |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Ons het jou lief, Lukas: ’n ware verhaal van liefde en oorwinning |
|
Publikasiedatum |
2014 |
|
ISBN |
9781415326695 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Struik Christelike Media |
|
Literêre vorm |
Biografiese roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
558 dae: ’n ware verhaal. Soos vertel deur Yolande Korkie aan Maretha Maartens en in Afrikaans vertaal deur Maartens |
|
Publikasiedatum |
2016 |
|
ISBN |
9781431615988 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Christelike Uitgewersmaatskappy |
|
Literêre vorm |
Biografie |
|
Pryse toegeken |
Wenner Andrew Murray / Desmond Tutu-prys 2017 |
|
Vertalings |
Engels 2016 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Hanna |
|
Publikasiedatum |
2016 |
|
ISBN |
9780796319661 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Lux Verbi |
|
Literêre vorm |
Godsdienstige roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Melodie-omnibus 2. Saam met Wilmarí Jooste en Babsie Jacobs |
|
Publikasiedatum |
2017 |
|
ISBN |
9780624083498 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Sara |
|
Publikasiedatum |
2019 |
|
ISBN |
9781415341940 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Lux Verbi |
|
Literêre vorm |
Godsdienstige roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Klankgrens: ’n oorlog teen geloof en hoop. Saam met Magda Slabbert |
|
Publikasiedatum |
2022 |
|
ISBN |
9781776351244 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
|
Literêre vorm |
Biografiese roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Kinder- en jeuglektuur
|
Publikasie |
’n Pakkie mieliepitte |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
|
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Grys kat, grys kat, jy laat vir Anja hoes |
|
Publikasiedatum |
1984 |
|
ISBN |
0907992242 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Waterkant |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Swart Griet is vas |
|
Publikasiedatum |
1984 |
|
ISBN |
0624021297 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
1986 eerste prys vir 11–14-jariges in SANRA-wedstryd |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Moedhou, Maria, dis donkermaan |
|
Publikasiedatum |
1984 |
|
ISBN |
079930784X (hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van der Walt |
|
Literêre vorm |
Jeugverhaal |
|
Pryse toegeken |
Eerste prys in Van der Walt se Jeugverhaalkompetisie 1983 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Die sakmense |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624022072 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
|
|
Vertalings |
Nederlands Zakjesmensen 1997 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Gezina en die bruin wind |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Pretoria: HAUM-Literêr |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
HAUM-De Jager-prys |
|
Vertalings |
Engels Ring around the moon 1987 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
My dik boek |
|
Publikasiedatum |
1982 |
|
ISBN |
0624017370 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Rowe val af |
|
Publikasiedatum |
1983 |
|
ISBN |
0624018954 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die bomelaars |
|
Publikasiedatum |
1984 |
|
ISBN |
0624020320 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die inkvoël |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624024636 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
|
|
Vertalings |
|
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Oor die nek van die draak |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Sanlamprys vir Jeuglektuur Silwer 1988 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Op Filippa se planeet |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Pretoria: Van der Walt |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Volkskas Bank-prys vir Jeuglektuur 1989 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Zek en die skoenlappers van die nag |
|
Publikasiedatum |
1989 |
|
ISBN |
0947025588 (hb) |
|
Uitgewer |
Melville: Pro Biblia |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Is Gideon dan ’n swartskaap? |
|
Publikasiedatum |
1989 |
|
ISBN |
0795918992 (hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Daan Retief |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Groot Trek Herdenkingsfeeskomitee se wedstryd vir verhale oor Groot Trek 1988 – 1ste prys vir verhale vir kinders tussen nege en elf jaar |
|
Vertalings |
Engelse vertaling deur Madeleine van Biljon Black sheep 1989 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
’n Pot vol winter |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0798629967 (sb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Andrew Murray-prys 1990 |
|
Vertalings |
Engels A pot of winter 1992 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Plek van dolfyne |
|
Publikasiedatum |
1990 |
|
ISBN |
0624029794 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Sanlamprys vir Jeuglektuur Goud 1990 |
|
Vertalings |
1997 Duits Bucht der Delfine |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
In die hemel eet ’n mens mieliepap |
|
Publikasiedatum |
1991 |
|
ISBN |
0628034903 (hb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die keerpunt |
|
Publikasiedatum |
1991 |
|
ISBN |
1868291146 (sb) |
|
Uitgewer |
Vereeniging: CUM |
|
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Geagte mejuffrou Snob |
|
Publikasiedatum |
1992 |
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Pretoria: Daan Retief |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Engels 1992 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Spinnekopsomer |
|
Publikasiedatum |
1992 |
|
ISBN |
0624031721 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Sanlamprys vir Jeuglektuur Brons 1992 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Smaartie is skeel |
|
Publikasiedatum |
1993 |
|
ISBN |
0798633019 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: HAUM-Literêr |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
ATKV-Kinderboekprys 10–12 jaar 1994 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die nagkat |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Engels 1998, 2004, 2006 deur Tafelberg-Uitgewers |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die baba luister |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
|
Literêre vorm |
Prenteboeke |
|
Pryse toegeken |
Baba- en Kleuterkinderboekwenner |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Vicky bou ’n dam |
|
Publikasiedatum |
2003 |
|
ISBN |
0625033027 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Nasou Via Afrika |
|
Literêre vorm |
Beginnerslees |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
’n Trollie vol tjips |
|
Publikasiedatum |
2004 |
|
ISBN |
0798666021 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Kagiso Education |
|
Literêre vorm |
Beginnerslees |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Met Hazel oor die hobbels |
|
Publikasiedatum |
2004 |
|
ISBN |
0798666013 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Kagiso Education |
|
Literêre vorm |
Beginnerslees |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Koes vir die strykstok, spinnekop! |
|
Publikasiedatum |
2004 |
|
ISBN |
1868154467 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Aktuapers |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Die beste ding since popcorn. Saam met Hendrik Rocher |
|
Publikasiedatum |
2006 |
|
ISBN |
1770002669 (sb) |
|
Uitgewer |
Roodepoort: CUM |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die prins se naam is Knietjies. Saam met Beatrice Pringle |
|
Publikasiedatum |
2013 |
|
ISBN |
9780620559645 (sb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Bethel se berg |
|
Publikasiedatum |
2020 |
|
ISBN |
9780639601298 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
|
Literêre vorm |
Jeugroman |
|
Pryse toegeken |
2019 naaswenner LAPA se jeugromankompetisie |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Toe ons in Ghrieshuis was |
|
Publikasiedatum |
2022 |
|
ISBN |
9781776351435 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
|
Literêre vorm |
Jeugroman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Boeke deur Maretha Maartens met ’n godsdienstige strekking
- Al die dae van my vrouwees met God: 366 oordenkings spesiaal vir jou. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2004 [ISBN 9781770000698 (sb)]
- Aljander, aljander: ’n nadink-dagboek vir kinders. Kaapstad: Lux Verbi, 1985 [ISBN 9780869971567 (sb)]
- Beloftes van reën en dou. Wellington: Bybelkor, 1988 [ISBN 9781770000698 (sb)]
- Beloftes vir vroue pienk. Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 2005 [ISBN 9781868238712 (sb)]
- Beloftes vir vroue pienk. Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 2005 [ISBN 9781868238729 (sb)]
- Botterblom: 366 dagstukkies wat jou menswees met lig en waarheid sal vul. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2014 [ISBN 9781431606030 (sb)]
- Bybelse dagboek vir vroue: geloof is ’n leerstyl. Wellington: Lux Verbi, 2003 [ISBN 0796301735 (sb)]
- Deur baie of deur min. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2002 [ISBN 9781868298938 (sb)]
- Deur hierdie wolk: gesprekke oor doodgaan en leef. Pretoria: De Jager-HAUM, 1987
- Deur trauma. Boek 1-5. Pretoria: LAPA, 2006
- Die Bybel en my gemoed. Pretoria: LAPA, 2003 [ISBN 9780799331769 (sb)]
- Die geïllustreerde Kinderbybel. Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 1997, 2004 (Ook in Engels beskikbaar)
- Die groot huweliksboek. Maretha Maartens, redakteur. Pretoria: LAPA, 2003 [ISBN 0799331759 (sb)]
- Die nes wat ons bou. Kaapstad: Lux Verbi, 1994 [ISBN 9780869974711 (sb)]
- Die stiltetyd Bybel vir vroue. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1995, 2007 [ISBN 9781770004504 (sb)]
- Die swart sak en die engel Esta. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1997, 2003 [ISBN 9781868293957 (sb)]
- Ek gaan anders wees. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2000
- Ek wil U sien, Here. Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 1998 [ISBN 9781868232949 (sb)]
- Elke dag naby God. Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 2006 [ISBN 9781415300060 (sb)] (Ook in Engels beskikbaar)
- En daar het stilte gekom. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1994 [ISBN 9781868292233 (sb)]
- En die beste was die krisis. Pretoria, LAPA, 2000 [ISBN 9780799328042 (sb)]
- Gebed kan my lewe verander. Kaapstad: Lux Verbi, 1991
- Geliefd en veilig by U, Here: 366 treë nader aan die wil, wese en werke van God. Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 1999
- God antwoord jou. Saam met Hannes Burger en Johan van Schalkwyk. Pretoria: Carpe Diem, 1997
- God gee om. Wellington: Lux Verbi, 1992
- Groot genoeg om te weet. Wellington: Lux Verbi, 1991
- Haelstorms en kannabolle. Pretoria: Aktuapers, 1994 [ISBN 9781868151812 (sb)]
- Heel en helder: ’n leefgids vir elke christenvrou. Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 2003 [ISBN 9781868234035 (sb)]
- Help, ek word weer vet!Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1993
- Here, dis ek, Magriet. Pretoria: Bybelkor, 1988
- Hoe God ons dra. Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 2004 [ISBN 9781868236961 (sb)]
- Hoe God ons heelmaak wanneer ons gebroke is. Kaapstad: Struik Christelike Media, 2005 [ISBN 9781868238293 (sb)]
- Huisdagboek. Pretoria: Orion, 1991
- ’n Jaar van gebed. Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 1993 [ISBN 9781868231676 (sb)]
- Juis nóú – elke dag se genade. Engedi, 1994 [ISBN 9780798635035 (sb)]
- Jy maak ’n verskil. Pretoria: Van Schaik, 1999 [ISBN 9780327020889 (sb)]
- Kinderkos: wenke en stories vir almal wat met kinders werk. Kaapstad: Lux Verbi, 1989
- Koelkop en doelgerig: ’n oorlewingsgids vir christenvroue in die werksplek. Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 2000
- Koning van kleivoetmense. Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 1998
- Koring en komyn: hoe om vandag ma te wees. Pretoria: Protea Boekhuis, 1994 [ISBN 9781874960010 (sb)]
- Kromskouertjiedae en Langpad. Windhoek: Media vir Christus, 1991
- Kwelkatryn of kanniedood. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1995
- Maak my anders, Here! Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1992
- Maak my ’n fonteinvrou, Here! Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 1996
- Moeilike mense. Samesteller: Maretha Maartens. 2002
- Mooi loop, meisiekind! Wellington: Bybelkor, 1990
- Motte en magrietjies. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1992
- My allerkleinste Kinderbybel. Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 1997
- My kind op die stormsee. 1998
- Net tussen my en God: ’n Bybelse dagboek vir dogters. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2002
- Nimfies en bosbere: vir tieners vasgevang in die woud van hedendaagse keuses. Pretoria: Carpe Diem, 1997
- Nuwe sandale. Pretoria: Orion, 1992
- Om elke dag te cope. Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 2012
- Om kinders groot te maak… Pretoria: Daan Retief, 1986
- Om waarlik te leef. Saam met Hennie Maartens. 1986
- Ons mooiste Kersfees. Roodepoort: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1983
- Ons twee wil trou. Kaapstad: Lux Verbi, 1991
- Oud genoeg vir nagbriewe. Kaapstad: Lux Verbi, 1988
- Pluk vir my ’n kosmos. Saam met A Otto. Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 2003 [ISBN 9781868235513 (sb)]
- Poegaailyf of vonkeloog. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1994
- Roeiers op die rugbreekrivier. Kaapstad: Lux Verbi, 1993 [ISBN 9780869974391 (sb)]
- Ryker as Dawid: oordenkings oor Psalms. Kaapstad: Lux Verbi, 2012 [ISBN 9780796315939 (sb)]
- Ryker as die tempelkore. Saam met Hennie Maartens. Kaapstad: Lux Verbi, 2014 [ISBN 9780796316301 (sb)]
- Saam met God wanneer jy as vrou deur ’n egskeiding gaan. Pretoria: Carpe Diem, 2007
- Sakdagboek: 366 dae saam met God. Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 2001 [ISBN 9781868233441 (sb)]
- Seën vir ’n kleinkind. Kaapstad: Struik Christelike Media, 2011 [ISBN 9781415315392 (sb)]
- Seisoene van die hart. Kaapstad: Struik, 1996
- So werk ’n tiener se ratwerk. Saam met Naomi Maartens. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1994
- Sonneblomme en middernaglelies: ’n bittersoet blik op vrouwees. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2000 [ISBN 9781868295647 (sb)]
- Terug na die begin: 52 studies oor die boek Genesis. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2006
- Totdat jy vry is. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2010 [ISBN 9781770008472 (sb)]
- Uiteindelik vrede. Kaapstad: Lux Verbi, 1991
- Van ongenooi na ingenooi. Kaapstad: Struik Christelike Media, 2020 [ISBN 97781415341940 (sb)]
- Van riemvasmaak tot rose: ’n kykie op die lekkerstes van die lewe. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1996 [ISBN 9781868293100 (sb)]
- Vreugdekruid en vrede. 2001
- Vrouwees met God. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2004
- Vry om te dien. Pretoria: Orion, 1994
- Vrymoedige gesprek met God. Saam met Hennie Maartens. Kaapstad: Tafelberg, 1982
- Vygies en ander vreugdes. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1992
- Waaroor vroue wonder. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2001
- Wenvroue. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1995
- Witklippiejaar: Bybeldagboek vir meisies wat Jesus Christus liefhet. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2011 [ISBN 9781770009424 (sb)]
- Woordbelofte vir ’n meisie: 101 waarhede uit die Bybel om jou te versterk. Pretoria: Carpe Diem, 2007 [ISBN 9781920156718 (sb)]
Onder Maretha Strydom
- Die lekkerlees-kinderboek. Bloemfontein: Sondagskool Boekhandel, 1965 (saamgestel uit bydraes wat sy vanaf 13-jarige ouderdom aan die kindertydskrif Môrelig gelewer het)
Artikels oor en deur Maretha Maartens
- Bekende oud-Kovsies vereer. Ons Stad, 17 Maart 1994
- Bezuidenhout, Ronell: Ronell gesels met Maretha Maartens
- Boekvrae aan … Maretha Maartens. Sarie, 14 November 2001
- Booyens, Estee: As die trane loop. Vrouekeur, 20 Februarie 2004
- Booyens, Estee: ’n Kop vol kennis! Vrouekeur, 6 Junie 2003
- Botha, André: Maartens besig met slim, maar gemene spel – uitgewers. Volksblad, 14 November 2000
- Breytenbach, Kerneels: Sulke verkondigings gee ’n beklemming om die hart. Volksblad, 13 November 2000
- Britz, Elretha: BFN-kunstenaars skep nuwe musiekspel. Volksblad, 15 Oktober 2014
- Britz, Elretha en Hennie van Coller: Stresvlak in pastorieë het nog altyd gepla. Volksblad, 17 Desember 2001
- Coetzer, Alet: Volksblad het haar laat skryf. Volksblad, 25 April 1984
- Credo-prys vir predikantsvrou. Die Transvaler, 1 Mei 1986
- De Villiers, IL: Maretha Maartens: beroering om “pot vol winter”. Sarie, 21 Februarie 1990
- De Vries, Willem: Boek oor Korkie kompleks, gevaarlik – Maartens. Volksblad, 17 Maart 2015
- Du Preez, Suzanné: Met die eerste oogopslag… Rapport-Tydskrif, 24 Mei 1992
- Du Toit, Fanie: Toneelstuk vir gestremdes gou hier [Die wind sal nooit weer ophou waai nie]. Volksblad, 20 Mei 2002
- Gericke, Marietjie: Dié appels val nie van die boom. Ons Stad, 14 Oktober 1993
- Gericke, Marietjie: Maartens se skryfwerk op planke as blyspel. Bloem-Naweek, 20 Februarie 2015
- Gericke, Marietjie: Passiespel in buitelug naby stad opgevoer. Ons Stad, 24 Februarie 1994
- Gericke, Marietjie: Sy kies om nie ’n hartseer mens te wees nie. Ons Stad, 24 Februarie 1994
- Gomes, Lucia: Dít het my geïnspireer. Vrouekeur, 27 Desember 2002
- Grobler, Cobus: Maartens gaan feesrede lewer by Geloftefees op Losdoorns. Volksblad, 10 Desember 1996
- Horn, Andreij: En dan is jy vry. Volksblad, 7 April 1990
- Hough, Barrie: Dié prys Maartens se 11de bekroning. Rapport, 29 Mei 1988
- Internasionale Kinderboekdag 2023: Maretha Maartens se “Daar was ’n laaitie”. LitNet, 5 April 2023
- JDD vereer Maretha … Rooi Rose, 15 Desember 1993
- Kenners is wenners. Vrystaatse Biblioteke, Oktober–Desember 1992
- Kruger, Joan: ’n Nuwe droom vir Maretha. Rooi Rose, 18 Februarie 1998
- Lategan, Leana: Leesklubspreker kan vele mantels omhang. Volksblad, 12 November 2001
- Lees oor tienerseks. Beeld, 13 Mei 1992
- Maartens, Maretha: Angus Buchan en sy Mighty Men: Maretha Maartens reageer. LitNet, 2 Mei 2013
- Maartens, Maretha: ’n Boek wat my lewe verander het. Beeld, 29 Oktober 2001
- Maartens, Maretha: Chemo [kortverhaal]. LitNet, 20 Oktober 2017
- Maartens, Maretha: Die Klipdassie-kommune [foto]. Volksblad, 1 Maart 2004
- Maartens, Maretha: LAW FOR ALL’s Top Ten: “Exit” by Maretha Maartens. LitNet, 20 November 2020
- Maartens, Maretha: Nie van hoorsê nie, Here deur Frits Gaum [resensie]. LitNet, 16 Oktober 2013
- Maartens, Maretha: Nonnetjie van Aardt se laaste dag op aarde [kortverhaal]. LitNet, 24 Mei 2022
- Maartens, Maretha: Peperboom [gedig]. Maroela Media, 7 Augustus 2020
- Maartens, Maretha: There is no us: a reader’s impression of Eye brother horn by Bridget Pitt. LitNet, 18 Mei 2023
- Maartens, Maretha: Wat doen ons wanneer ons bid?: ’n resensie. LitNet, 6 Augustus 2013
- Maartens ontken boeke oor Harry is satanisties. Die Burger, 13 November 2000
- Maartens was “soekend” oor Harry Potter. Die Burger, 15 November 2000
- Maretha Maartens
- Maretha Maartens
- Maretha Maartens se “Hanna” vanjaar die Paastyd-stuk. Volksblad, 23 Januarie 2019
- Maretha Maartens. Vrouekeur, 26 Desember 2016
- Maretha pleit vir SA. Volksblad, 24 April 1986
- Maretha spog met rits toekennings [Bloemfonteiner van die Jaar-wedstryd]. Ons Stad, 29 Oktober 1992
- Mense en gebeure [foto]. Volksblad, 13 Junie 2015
- Mentz, Lientjie: Bybelse vroue herleef. Netwerk24, 7 Maart 2019
- Mentz, Lientjie: “Hanna” raak harte aan [toneelstuk]. BloemNuus, 18 April 2019
- Mentz, Lientjie: “Tydlose emosie” sal gehoor bekoor. BloemNuus, 28 Februarie 2019
- Meyer, Naomi: LAPA-jeugromankompetisie 2019: ’n onderhoud met Maretha Maartens. LitNet, 3 Maart 2020
- Mittner, Esme: Eers broei sy, dan skryf sy. Sarie, 26 Maart 1986
- Muller, Braam: Carwatch skep boeiende teater. Volksblad, 10 Julie 2003
- Muller, Braam: Maartens se stuk ’n aanbieding om te bewonder [Die wind sal nooit weer ophou waai nie]. Volksblad, 11 Julie 2002
- Myburgh, Trudie: Pryse is net gelukskote, sê Maretha Maartens. Die Burger, 31 Mei 1988
- Nel, Terry: Maretha Maartens skryf 68ste boek. Die Burger, 6 Oktober 1993
- Nieman, Nols: Karwagte erken op kunstefees. Volksblad, 11 Junie 2003
- Nieuwoudt, Una: Die waarheid moet uit, sê Maretha. Die Burger, 30 April 1992
- O’Connor, Michelé: Afrikaan-vrou moet opeis wat hare is, sê Maartens. Beeld, 9 November 2001
- Otto, Eben: ’n Goeie leier stap voor, sê Maretha Maartens. Vrydag, 13 Desember 1996
- Pepler, Elsabé: Maretha Maartens: die tweede bekering. Insig, September 2000
- Persverklaring: Maretha Maartens oor die skryf van jeugboeke. LitNet, 23 Mei 2023
- Petrick, Nadine: Vyf vinnige vrae … aan Maretha Maartens
- Pople, Laetitia: Maretha Maartens wen 1ste prys met gedig vir haar ma. Netwerk24, 7 Augustus 2020
- Prestige-prys vir ’n Pot vol winter
- Pretorius, Charmaine: Maretha Maartens oor haar lewe. Dolos, April 1988
- Prys vir Maretha. Volksblad, 9 Oktober 1987
- Rademeyer, Alet: Nuwe glanstydskrif vir die Christenvrou wil verfrissend wees. Beeld, 13 Februarie 1998
- Roux, JD: Oor Hanna, resensente & donker sjokolade. Vrouekeur, 30 Desember 2016
- Rubriekskrywer se kop in ’n uienes. Die Burger, 14 November 2000
- Skrywers pleit opnuut by US oor Afrikaans. Die Burger, 12 Desember 2005
- Smith, Marietjie: Veelsydige skryfster: Maretha Maartens. Lantern, Februarie 1991
- Steenkamp, Enelle: Woesklip het kinders in vervoering. Volksblad, 15 Julie 2004
- Steyn-Bezuidenhout, Christa: Maretha Maartens: “Afrikaans is die taal waarin ek die Here leer ken het.” Maroela Media, 18 November 2020
- Tancred, Elise-Marie: [Waarom moet ons die waarheid praat?]. Rooi Rose, 10 Junie 1998
- Uitsonderlike 15 vroue vandag vereer. Volksblad, 9 Augustus 2011
- Van Niekerk, Danie: Pastoriema in die oog van ’n boekstorm. Boekewêreld, 3 September 1997
- Verlies van menswaardigheid onaanvaarbaar, sê Maretha [Die wind sal nooit weer ophou waai nie]. Volksblad, 21 Junie 2002
- “Was nóg slim, nóg berekenend”. Beeld, 15 November 2000
- Wasserman, Herman: Uitgewers gooi wal oor Harry Potter se “bande met Satan”. Die Burger, 13 November 2000
Maretha Maartens se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2011-11-24 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


