Monument: Gesprek oor om die boek op te rig

  • 0

Titel: Monument
Skrywer: Maretha Maartens
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624063148

 

Koop Monument by Kalahari.com.

Danila Liebenberg voer 'n onderhoud met Maretha Maartens oor haar jongste roman.

Dis die skrywer van Monument aan wie jy die vrae rig wat op die podium by die boekefees van die Vryfees langs jou die plek inneem. Ja, dis die veelbekroonde skrywer, maar dis ook jou ma. Of dít die vrae se stel makliker of moeiliker maak, kan jy dus enersyds moeilik en andersyds maklik bepaal. Jy ken die reise en weë waarop sy inligting versamel. Jy weet van die nag-ure waartydens karakters in boeke weldeurdag en weldeurleef tot lewe geskep word. En jy beleef haar deursettingsvermoë en bewonderenswaardige kenmerk om dag na dag te bly skep. Daarom staan daar ’n Monument vandag in boekvorm op die tafelgesprek, voorafgegaan deur ’n ry van méér as 150 gepubliseerde boeke.

Danila Liebenberg (DL): “Wat het jou gemotiveer om Monument te skryf?”

Maretha Maartens (MM): “Ek is deur Pieter Strauss en Magdaleen Schoch van die Voortrekkerbeweging genader met die idee dat daar ’n roman geskryf behoort te word om saam te val met die gedenkfees rakende die onthulling van die Vrouemonument in Bloemfontein op 16 Desember 1913. So ’n konsep moes aan ’n uitgewer voorgelê word.  Die konsep is voorgelê en deur Tafelberg Uitgewers aanvaar.” 

DL: "Waaroor gaan die storie?"

MM: “Jare gelede het ek een oggend, terwyl ek en Hennie [Maretha se man] op pad Kimberley toe was, vir hom gesê: ’Dié streek – Kimberley, Jacobsdal, Perdeberg, Florisbad, Petrusburg, Bloemfontein, Winburg en die gebied Ficksburg en Clarens se kant toe – is toegewaaide en toegevalle geskiedenis: Voortrekkergeskiedenis, diamantveldgeskiedenis, Anglo-Boereoorlog-geskiedenis, ANC-geskiedenis. Dit is ’n ondersoekende skrywer se droomlandskap. Ek wil nog eendag oor hierdie gebied skryf.’ 

“’Eendag’ het aangebreek en ek het in Monument met die vingernael aan die bolaag van wat hier is, begin krap. Monument oorspan honderd jaar in Sentraal-Suid-Afrika.

“In die roman leef vyf generasies Diedericks-vroue hulle lewe hier. Hulle is:

  • Naïewe, onskuldige Jacomina wat tydens die Anglo-Boereoorlog saam met haar ma en ander vroue in Mogul se grot in die Korannaberg wegkruip en die Boerekommando’s aktief bystaan.
  • Angelina-met-die-vlek, die dogter van Jacomina en David Edwards van Hector MacDonald se Highlanders wat Kitchener se verskroeide-aarde-beleid in die Winburg-distrik uitgevoer het.  
  • Rebecca (Oumbecca) wat die liefde van haar lewe deur oorlog verloor het en die ou man met wie sy daarna trou, nie lief het nie. Oumbecca kan raakvat, raak-kyk, hekel en trourokke maak, maar nie skryf nie. Tog skryf sy ’n gedeelte van die Diedericks-sage.
  • Christina (Ma Chris), die Diedericks-vrou wat die meeste wegsteek, die meeste blaam dra en dalk uiteindelik die meeste onthul.
  • Margo Diedericks, ’n begaafde, denkende jong Afrikaanssprekende vrou wat vier jaar in Jerusalem gewerk het en met haar terugkeer na haar vaderland gekonfronteer word met die vraag of sy werklik nog hier hoort.

Monument se fiktiewe karakters leef tussen die niefiktiewe mense van die Anglo-Boereoorlog, soos Christiaan de Wet, president Steyn en Louis Botha. Margo Diedericks en Evangeline, die fiktiewe huishulp, se lewens word geraak deur die Marikana-mynwerkersopstand en die rol van die buurvrou, Genene Moll du Toit, wat haar man in ’n plaasmoord by Ficksburg verloor het en wie se ware verhaal deel van die roman uitmaak.

Monument is ’n oorlogsverhaal, ’n verskroeide-aarde-verhaal, die storie van die bywoners wat in Mushroom Valley dam gebou het. Dit is ook die verhaal van gewone hedendaagse Suid-Afrikaners wat buitengewoon moeilike besluite moet neem. Die titel dui op monumente van marmer, gietyster, sandsteen en graniet, maar ook op mense as monumente in ander se lewe.”    

DL: “Vertel meer van die seer en pyn wat die karakters moet oorkom.”

MM: “Oorlog verwoes, kanonne en vuur saai verwoesting en laat die mens keer op keer agter met niks anders as wilskrag en geloof nie. In hierdie boek is daar egter ander oorloë ook: bose oorloë agter vier mure, oorlog tussen man en vrou, vader en seun,  verskroeide aarde na moord op moord. Elke oorlog het sy geheime en laat haas onuitwisbare letsels op die psige van die land, die familie en die individu. Ek dink dat Christina Diedericks, wat haar pyn soveel jare lank vir haarself gehou het, meer gehad het om te oorkom as haar dogter of haar voormoeders.  Evangeline se lyding was vir my ’n openbaring. En na die monument wat uit Genene Moll du Toit se lyding verrys het, kan ek net in heilige ontsag opkyk.”

DL: “Hoekom is die boek juis aan jou susterskind, Peet du Plooy, opgedra?”
 
MM: “Peet du Plooy, my jongste suster se oudste seun, wat soos ’n broer vir ons jongste dogter was, is in die nag van 10 Maart 2013 op die ouderdom van 37 jaar in Johannesburg vermoor. Hy was ’n internasionaal-gerekende ekoloog, en sou op 11 Maart ’n internasionale kongres in Dar es Salaam lei. Ek het die tyding elfuur die volgende oggend ontvang. Dit was die week waarin die manuskrip by Tafelberg Uitgewers moes wees. Die woede en die wanhoop, die worsteling met God en die keuses van dié wat agterbly, het in die drie weke na die moord op Peet neerslag in die roman gevind. Margo en Hugo van Niekerk, die Winburgse onderwyser wat in die diep donker stroom-op bly swem, bereik die plek waar hulle weet: dit is te erg hier in Suid-Afrika – ons kan nie meer nie. Wat Margo en Hugo moet deurwerk, bevat iets van wat ons as familie deurgemaak het.

“Genene Moll du Toit het ’n keuse na haar man se dood gemaak en dit staan in Monument opgeteken. In Margo en Hugo se keuse staan nou ook iets van ons familie se keuses opgeteken. Monument is ’n kroniek van keuses wanneer net verskroeide aarde oorbly. Die storie begin by as en dwarrelende rook. Tydens die skryf van die laaste hoofstuk het ek geweet: die slot kan soos die begin wees. Ek kon Margo en Hugo se besluit nie ter wille van die boek manipuleer nie. Ek moes self die besluit neem.”

Die vyftig minuut lange fees verdwyn soos boustene in ’n monument. Terwyl die feesgangers uitstap, besef jy dat jy nagelaat het om te sê van die monumente wat die skrywer in die Afrikaanse literatuur staangemaak het en steeds bou. Tesame daarmee salueer jy die monumente wat sy ook op jou, as kind, se pad geplaas het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top