Sara deur Maretha Maartens: ’n lesersindruk

  • 0

Titel: Sara
Skrywer: Maretha Maartens
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320643

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Afrikaans het ’n ryk tradisie van Bybelse romans. Skrywers soos Jaco Tohm en Barend Vos se boeke pryk op menige padstal se rakke. Maretha Maartens is ook ’n skrywer wat geen bekendstelling nodig het nie. Ek reken die meeste mense het seker al een of meer van haar boeke gelees. In haar nuutste boek dramatiseer sy die karakter Sara, wat die vrou is van sekerlik die bekendste karakter in die Bybel, Abraham. As ’n godsdienstige figuur troon Abraham uit bo ander Bybelse karakters, en hy word nie net in die Christelike geloof erken nie, maar ook in Islam en die Judaïsme. Vir Christene is Abraham die vader van alle gelowiges. Dit is met Abraham dat Christene glo ook hulle God ’n verbond gesluit het.

Maar die storie is vol drama. Miskien moet mens net eers twee ander sake aanroer. Die eerste is dat mens nie hierdie soort verhaal sal kan waardeer as jy nie besef en aanvaar hoe ’n totale ander wêreld hierdie mense in gelewe het nie. Volgens ons standaarde van vandag was hierdie mense barbare. Mens vind vir Abraham waar hy knaend besig is om diere te offer vir sy God. ’n Bloederige affêre. En as hy nie diere offer nie, dan dryf hy handel met slawe. Ons kan onsself eintlik nie so ’n wêreld meer indink vandag nie. Nog minder hoekom sulke karakters as helde gesien word. Maar die verhaal help mens om daardie kultuur te verstaan.

Maar dalk meer gewigtig nog as al hierdie dinge, is die vraag na die historisiteit van die karakters en gebeure. Daar bestaan natuurlik geen konsensus of mense soos Abraham en sy vrou Sara ooit regtig bestaan het nie, en heelwat historici sal vir jou sê dat Abraham se verhaal waarskynlik ’n mitiese verhaal is. Dit is ’n verhaal wat ontstaan het om die aanspraak op bestaansreg van ’n groep mense te regverdig. Geen volk se ontwikkeling is lynreguit nie. Beslis ook nie die Israeliete s’n nie. Dit is ook moontlik dat hierdie verhaal uitsprake probeer maak oor die gebruik in daardie jare om eersgebore kinders aan gode te offer. Miskien was die verhaal ’n stuk kritiek op dié besliste barbaarse gebruik.

Hoe dit ook al sy, die drama in hierdie verhaal is oorbekend as jy ook in jou lewe Sondagskool gekry het. Die Bybel beweer dat die eerste mense op aarde in Mesopotamië gewoon het, in wat vandag Irak is. Hoewel Mesopotamië nie, sover my kennis strek, by die naam genoem word nie, kry Abraham, wie se naam aanvanklik Abram was, opdrag om te trek uit die stad Ur, in die suide van Mesopotamië uit, na ’n land wat aan hom en sy mense beloof word. God belowe ook aan Abraham dat Abraham se nageslag so baie soos die sterre in die hemelruim sal wees. Maar die belofte ten spyt, bly die arme Sara kinderloos. Abraham verwek intussen kinders by sy ander vroue, en veral sy seun Ismael, wat hy by Sara se slavin Hagar verwek, word ’n belangrike newekarakter. Sara raak later moedeloos en sy begin dink sy sal nooit kinders kry nie. Uiteindelik kry Abraham besoek van drie engele en dié beloof hom dat hy binnekort ’n pienkvoet sal verwek by Sara. En so het Isak sy opwagting gemaak, met pa Abraham wat al ’n 100 jaar oud was.

Maar nog was dit het einde niet van de drama. Met Isak nou ’n werklikheid, besluit God om vir Abraham te toets: Presies soos wat die ander volke se gode eersgeborene-offers eis, eis die God van Abraham dit toe nou ook. In ruil vir die land moet Abraham vir Isak offer. Ek het verwag dat Maartens laasgenoemde draad veel meer sal uitrek, en ’n sielewroeging daarvan sal maak van die arme Sara, maar dit gebeur toe nou nie in die boek nie. Sara was eintlik salig onbewus van die hele drama, waar Isak uiteindelik gespaar is toe God op die laaste oomblik ’n ram vir Abraham stuur om in die plek van Isak te offer.

Dit is duidelik dat Maartens baie moeite gedoen het met die navorsing vir die boek. Die boek word voorsien van ’n bronnelys wat aangewend was in die skryf van die boek. Die verhaal word vertel vanuit Sara se perspektief, en sy sterf natuurlik uiteindelik voor Abraham en hy begrawe haar op grond wat hy by die eienaars van die land koop. Na Sara se dood het Abraham weer getrou en nog verskeie kinders verwek. En dit is min of meer waar die storie ook eindig. Die boek lees redelik maklik, maar het my by tye bietjie die draad laat verloor. Daar word baie gebruik gemaak van ou Semitiese woorde, waarvan ’n lys agterin die boek voorsien word, maar hierdie vreemde woorde belemmer vir my ietwat die leeservaring, terwyl ek besef dat die doel eintlik was om die teks meer outentiek te maak.

Alles in ag genome is Sara egter ’n heel interessante en redelik stimulerende boek. Mens moet besef dat hierdie karakters, of hulle nou mities is of nie, ’n belangrike basis gevorm het van die Israeliete se nasionalisme. Die verhale is belangrike letterkunde wat ons vertel van die leefwêreld van daardie mense, en Maartens lewer ’n interessante dramatisering van die verhaal. Ten slotte dink ek hierdie is die soort boek waaroor mense baie verdeeld gaan wees. Ek het sekere aspekte van die boek stimulerend gevind, maar die boek het nie regdeur my aandag gegryp en deurentyd behou nie. Maar ek is seker daar gaan mense wees wat die teenoorgestelde ervaring sal hê.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top