Bethel se berg deur Maretha Maartens, ’n resensie

  • 0

Bethel se berg
Maretha Maartens
LAPA uitgewers
978 0 6396 0129 8
2020

Maretha Maartens is nie ’n vreemde skrywer op Afrikaanse boekrakke nie en dit is dus nie ’n verrassing dat Bethel se berg een van die naaswenners in LAPA se jeugromankompetisie van 2019 is nie. Behalwe kinder- en jeugboeke waarvoor sy bekroon is deur die HAUM-De Jagerprys, die M.E.R.-prys, Sanlamprys Goud vir Jeuglektuur, die Credo-prys en die J.P. van der Walt-prys, is sy aangewys as Bloemfonteiner van die jaar 1993, en sy ontvang Cum Laude-toekennings by die Bond van Oud-Kovsies vir haar uitsonderlike prestasies in die skryfkuns in 1994. By Jong Dames Dinamiek ontvang sy hulle Prestige-toekenning in 1993 en die ATKV vereer haar in 1995 met die Vrou vir Vroue-toekenning. In 2011 word sy deur Solidariteit Helpende Hand vereer vir haar bydrae tot die Afrikaanse literatuurskat.1

Maretha Maartens (Foto verskaf)

Maartens vertel self2 dat haar inspirasie vir hierdie verhaal ’n ontmoeting met ’n hoogsontwikkelde jong vrou was wat vertel het dat haar ma ’n hippie was en sy self in agt verskillende skole was. Die dame het haar toestemming gegee om hierdie stukkie inligting die vertrekpunt van ’n jeugverhaal te mag maak. So is die storie oor ’n hippie-ma en haar drie soorte kinders uitgedink en later geskryf.

Dis die onstuimige tagtigerjare. Bethel Hendrix, haar broers en hulle ma reis deur die land in ’n Kombi. Hulle leef ’n nomadiese bestaan en bly net vir ’n kort ruk in een dorp voor hulle na ’n volgende beweeg. Om die gesin aan die lewe te hou, verkoop Bethel se ma vetkoek. Maar oral waar hulle kom, is dit duidelik dat die gesin anders is. Dat hulle arm is. Dat hulle nie in ’n regte huis bly nie. Dat hulle ma anders lyk en dink. Dat daar nie ’n pa saam met hulle is nie. Al wat Bethel graag wil hê, is ’n plek waar sy haarself kan wees.3

1. Inleiding

As (lesergerigte) leser van Bethel se berg wil ek meld dat hierdie lees en herleesproses vir my ’n groot voorreg en uitdaging was. ’n Voorreg omdat dit uitstekend is en ek net enkele punte van kritiek het wat ek tussendeur sal noem. Ek is seker dat die jeugdige leser deur die lees van hierdie roman ’n liefde vir die boek en lees kan aankweek en dat die skrywer ’n (aktiewe) aandeel daaraan het. Dit was ook ’n uitdaging omdat die verhaal definitiewe literêre waarde het as novelle – uiteraard het ek genoop gevoel om hieroor meer te kommunikeer. Omdat die verhaal volgens my baie slim geskryf (gekonstrueer) is, wil ek die skrywer salueer deur dit so deeglik as moontlik te bespreek.

Hierdie lees- en ontledingsproses plaas ek binne die kader van hoofagente in die literêre kommunikasieproses soos deur Rosenblatt (1993)4 aangaande die Resepsie-Estetika (ook genoem responsbenadering) uiteengesit. Waar daar in die verlede veral gekonsentreer is op teksstudie, blyk dit uit die bespreking van die funksies van jeugliteratuur duidelik dat die ervaring van die leser tydens die leesproses baie belangrik is. Daarom ag ek hierdie nuwe paradigma nodig waardeur die bedoelde (ideale) leser5 ’n liefde vir die boek en lees kan aankweek en die skrywer ’n aktiewe aandeel daaraan het, terwyl die literêre vorming en ontwikkeling van kommunikasievaardighede nie nagelaat behoort te word nie.

Soos ek ook gemeld het in my resepsie en resensie-essay oor Fanie Viljoen se Offers vir die vlieë6, is die responsbenadering my lens as leser – dit behels ’n tweerigting-kommunikasieproses waarin die leser herskeppend reageer op die skrywer se weergawe van ’n bepaalde siening van hoe dit die teksproduksie en teksresepsie van kinder- en jeugliteratuur beïnvloed. Met teksproduksie word bedoel die daarstelling van ’n geskrewe teks, en teksresepsie behels die proses van teksrealisering deur die leser. Omdat die bedoelde leser ’n belangrike agent in die literêre kommunikasieproses is, is dit uiteindelik nodig om ook te bepaal wat die lesergerigheid van hierdie verhaal is.

In hierdie resensie bespreek ek eerstens (as “geïnformeerde leser” volgens Rossouw 2013) die literêre gehalte met verwysing na teksinterne elemente van Bethel se berg, daarna kyk ek na tekseksterne aspekte van die funksionaliteit van hierdie jeugnovelle in die kader van jeugliteratuur. Hiermee hoop ek om – in navolging van Rita Felski (2015, in Burger 2018:160)7 ̶  “eerstens dieper te delf” in die teks en “te probeer vasstel wat daarin bedek is of nie gesê word nie, en andersyds deur terug te staan en die teks in ’n groter konteks te plaas”. My eie ervaring van Afrikaanse jeugliteratuuronderrig aan hoërskoolleerders en onderwysstudente8 noop my om albei invalshoeke te gebruik, want jeugdige lesers se leesbelangstellings en -waardering is die “groter konteks”, terwyl die taalonderwyser die “dieper delf” behoort te medieer. Ek hoop dat hierdie ondersoek insiggewend kan wees en lesers uitnooi om bewus te wees van aspekte van jeugdige lesers en jeugletterkunde waaraan hulle nog nooit gedink het nie.

Ek gebruik voortdurend eindnotas as verwysingsbronne om die kritiese leser te begelei terwyl ek voortdurend die riglyne wat ek vir myself gestel het, interpreteer soos wat dit in Bethel se berg gemanifesteer word.

2. Literêre gehalte

Styl en genre

Die skrywer se styl as eerstepersoonsverteller in Bethel se berg is tipies van ’n narratiewe vorm – die memoire9 of lewensverhaal (ook genoem ’n herinnerings- of memorieboek) – wat die avonture en/of innerlike ontwikkeling van individue bied teen die agtergrond van ’n bepaalde tydruimtelike raamwerk vir individuele lesers. Die memoire/lewensverhaal maak gebruik van verskillende stilistiese middele, tegnieke en bestaande teksvorme (gefiksionaliseerde sowel as tradisionele outobiografie en geskiedenis). Omdat die tyd en ruimte soveel spanning om te oorleef veroorsaak, kan Bethel se berg selfs as tydruimtenovelle gelees word. Die verhaal kan ook as oorgangsnovelle (genoem die Bildungs- of opvoedkundige novelle) gelees word, omdat Bethel se ontwikkeling na die adolessente fase verbeeld word. ’n Vroeë kenner van Afrikaanse jeugletterkunde (Elsabé Steenberg 2013),10 meen dat jeugverhale novelles is en oorgangsliteratuur genoem word omdat die jeugdige steeds vooruit reik na volwassenheid in die proses van haar11 groei uit onvergenoegdheid of protes en dat dit gereflekteer word in hierdie subgenre.

As sodanig kan hierdie verhaal op die rak van wêreldletterkundige tekste staan, byvoorbeeld Jeanette Walls se hoofkarakters in haar herinneringsboek (en film) Glass Castle, wat handel oor ’n nomadiese gesin. In die Afrikaanse literatuur pas Bethel se berg by Michael de Jongh se nie-fiksie Karretjiemense van die Groot Karoo en Carol Campbell se Karretjiesmense. So ook kan Bethel se berg netjies saam met Berna Ackerman se Liesbet Delport se oorlogdagboek (1998) in dieselfde asem genoem word in verband met Afrikaanse jeugletterkunde wat ’n stukkie uit die hoofkarakter se lewe met geskiedkundige feite daarin bevat. Verder kan besondere ooreenkomste gevind word tussen Bethel se berg en Maartens se weergawe van die grensoorlog in Namibië en die hoofkarakter in Jacoba Afrikaner waar die hoofkarakter (as “grensweduwee”) alleen agterbly en swanger is. Laasgenoemde boek was in 2001 op die kortlys van die romanwedstryd van Sanlam, Insig en Kwêla.

Hoewel alle epiese verhaalsoorte toeganklik is vir die tiener (roman, novelle en kortkuns), word veral die novelle geëksploiteer (Steenberg 2013). As karakters word verkieslik jeugdiges gebruik sodat die jongmens haar met so ’n personasie kan identifiseer; volwassenekarakters word ook gebruik, maar selde laerskoolkinders. Laasgenoemde het my laat wonder of Bethel se berg onder jeugliteratuur kan sorteer, en of dit nie dalk eerder kinderliteratuur is nie. Tog is daar ’n oorgang vir Bethel na hoërskool aan die einde, wat dit dus wel ’n soort oorgangsverhaal maak.

...
Oor die algemeen is dit waar dat hoe interessanter die persoonlike of individuele geval was, hoe belangriker het die tema van konflik tussen die individu en haar milieu geword. Daarom kan ’n mens sê dat die element van konflik die fundamentele en belangwekkendste gegewe in die jeugnovelle is.
...

Oor die algemeen is dit waar dat hoe interessanter die persoonlike of individuele geval was, hoe belangriker het die tema van konflik tussen die individu en haar milieu geword. Daarom kan ’n mens sê dat die element van konflik die fundamentele en belangwekkendste gegewe in die jeugnovelle12 is. Hierdie tipiese vormbewustheid was eeue lank bepalend vir die essensiële element van die novelle, waar die formele hoedanigheid (van die gekanoniseerde roman) onverbreeklik verbind was met die argetipiese drang van die skrywer om ’n interessante gebeurtenis uit die lewe oor te vertel. Sodoende word nuuswaardige insidente en aspekte van vorm basiese bestanddele van die novelle. Die "moderne" novelle het ontstaan toe die gevestigde formele samelewingsverbande vloeibaar en gevolglik problematies begin word het. Die rol van ’n persoonlike lotsbestemming het toegeneem in dieselfde verhouding as wat bg. verbande verander het. Wat in hierdie paragraaf teoreties beskryf word, is tekenend van Bethel se reis, haar berg.

Bethel se berg is myns insiens ’n tipiese jeugnovelle – hoewel die formele hoedanighede van die jeugroman se narratief ook raakgelees kan word – waar dit handel oor ’n skandalige gebeurtenis (veral in die oë van Anna se ouers): Bethel se ma Anna is swanger met ’n baba van wie se pa ons nooit lees nie. Anna het kinders wat twee verskillende pa’s het, met wie sy nie getroud was nie en amper soos hippies (137) in ’n kommune in die Knysnabos gewoon het – en saam reis hulle alleen deur die land. Die teenwoordigheid van andersoortige sosiale klasse (wit nomadiese gesin en bruin karakters in townships) sou in die tyd waarin die verhaal afspeel (1983) ’n botsing van belange en gedragspatrone tot gevolg kon hê as gevolg van moontlike vooroordele en agterdog. Tog blyk laasgenoemde nie die geval te wees in Bethel se berg nie.

Die gesin reis as nomadiese enkelouergesin deur Queenstown, Clarens, Petrusburg en King Williamstown naby Springfontein. Oral moet die kinders skool toe gaan en opnuut aanpas by nuwe onderwysers, nuwe reëls en ander kinders. Uiteindelik kom hulle aan by Anna se ouers in die pastorie in Beaufort-Wes, en na baie konflik (“bomontploffings”, hoofstuk 23) help die grootouers deur geld te gee vir hulle verblyf in Strand naby Kaapstad.

Verteller en fokalisering

’n Onderskeid kan gemaak word tussen narratiewe stem en fokalisering13. Daarvolgens kan in letterkundige jeugtekste nagegaan word in watter mate ’n eksterne derdepersoonsverteller (abstrakte/implisiete outeur) of interne eerstepersoonsverteller geïdentifiseer kan word wat nie deelneem aan die storie nie, wat intieme kennis het van die karakters se innerlike gevoelens en gedagtes, en teenwoordig is wanneer die karakters veronderstel is om alleen te wees. In Bethel se berg het ons hoofsaaklik Bethel se ek-verhaal, en vanuit haar perspektief as fokaliseerder hoor die leser ook die stemme van haar boeties, vriende en ander karakters soos hulle stories vertel word.

Ten opsigte van die fokaliseerders in Bethel se berg kan gemeld word dat die fokalisering nie staties is nie, omdat dit beweeg tussen gepolariseerde groepe (Bethel, haar ma en boeties, oupa en ouma en die persone in hulle omgewing wat hulle ontmoet en met wie hulle in verhouding staan) en dinamies verskuif van buite na binne. Wanneer die fasette van fokalisering in ag geneem word14, is dit duidelik dat die perseptuele (sintuiglike) faset veral aan die orde kom wanneer die ruimte of atmosfeer uitgebeeld word. Ruimtelike fokalisering versterk dikwels die fokalisering van die gemoedstoestand of situasie van Bethel, terwyl die ruimte dien as beklemtoning van haar verwarring en konflik oor watter waardes sy in haarself kan integreer om sodoende haar identiteit te bevestig.

Wat die psigologiese faset van fokalisering betref, word die karakters se gedagtes en emosies gefokaliseer soos wat ons dit in Bethel se berg aantref. Dit sluit in kennis (bewussyn/wete/besef), vermoede (gissing en veronderstelling), mening (geloof/oortuiging), en geheue. Meestal is die verteller in die emosionele en ideologiese komponente van die teks neutraal, objektief en onbetrokke – die waardes word hoofsaaklik ideologies gefokaliseer vanuit die perspektief van die karakters. Dit is interessant om te sien dat veral die momente van spanning en konflik in die verhaal intense emosionele en ideologiese ladings dra.  

Die ideologiese fokalisering van norme en waardes waarvolgens die gebeure en karakters uitgebeeld word, is in Bethel se berg sowel implisiet (wat betref die fokalisering van karakters) as eksplisiet (soos gefokaliseer deur die karakters). Dit maak dit ook moontlik vir die verteller om stereotipes objektief te fokaliseer, soos wat gebeur in Bethel se berg. Subjektiewe fokalisering van karakters lig verder die tipiese stereotipes uit soos dit deur die karakters waargeneem word (later meer oor stereotipes onder bespreking van karakters). Dit is veral die polities-gelaaide apartheidsisteem in Suid-Afrika waar die hoofkarakters hierdie teenstellings teenkom tussen wat hulle verwag en wat die werklikheid is.

Bethel se berg bevat universele temas wat die ontwikkeling van eie identiteit uitbeeld, dat daar altyd (onverwagte) steunstelsels en hulpbronne is ten spyte van moeilike omstandighede, liefde teenoor verwyt, samewerking teenoor apartheid ten opsigte van kleur. Ek meen die berg wat Bethel moet uitklim, is om aan te pas en te groei, soos wat dit as metafoor na vore kom in haar fisiese ophardloop by Ongelukskop (87) en dat sy uiteindelik by Du Toitskloofpas naby Paarl “Die berg” vind (157). Volgens Maartens (in genoemde onderhoud) is dit “immers Bethel se berg: die plek waar sy afskeid neem van ’n lewe wat nooit as gewoon beskryf sou kon word nie”, waar die gesin kommerloos kan afpak en kampeer. Nou is die berge “soos ’n muur” – ’n paradys (158) waarna die kinders verlang het, sekuriteit en gevestigheid sonder die onsekerheid en vasgevangenheid van ’n nomadelewe in ’n kombi.

Die integrasie van norme en waardes waarvolgens die gebeure en karakters uitgebeeld word, is in Bethel se berg sowel implisiet (Bethel se fokus) as eksplisiet (ander karakters se fokus). Dikwels gebeur dit in Afrikaanse jeugtekste se ideologiese konteks dat hierdie narratiewe stem die ideale geleentheid bied om waardes oor te dra. In hierdie teks het ek nie die gevoel gekry dat daar gepreek word, of dat sedelessies of politieke propaganda verkondig word nie. Die skrywer het trouens alle soort inligting (wat dalk as pedanties gesien kan word) verbeeld in een van die karakters se woorde of dade soos wat dit telkens funksioneel en dus paslik was binne die spesifieke konteks:

  • Jimi se vertelling van die rugbyafrigter wat hom in Queenstown op “versterkwater” gesit het om te keer dat hy nie rook of motorfiets ry of vloek nie (43), en die “Freedom”-lied van die sanger Jimi Hendrix oor sy stryd teen dwelmmiddels (76);
  • Kulturele oordrag word gemanifesteer deur sosiale gewoontes en kulturele kritiek. Elias en Hes se ouma sorg vir die bestaan van ’n lewende tradisie, naamlik om die oupa se graf te gaan versorg wanneer dit sy verjaarsdag sou wees (80). Tannie Rosalind in die huiskerk in Williamsville gee inligting aangaande die konsentrasiekampe rondom die Anglo-Boereoorlog en Emily Hobhouse (123). Bethel se ma se gesprekke met Joupa en haar ouers herinner die kinders gereeld aan die Bos- of Grensoorlog (54, 142). Wanneer die gesin deur Bloemfontein ry, is daar koerantplakkate teen die lamppale wat bevestig dat die jaar 1983 ’n jaar van ontploffings was in Suid-Afrika (25) en dit word ’n subtiele voorspelling van die meer interpersoonlike “Bomontploffings in die Nasionale Gedenkwaardigheidshuis” (136) in die pastorie in Beaufort-Wes by die kinders se ouma Nella en oupa Karel.
  • Miss Holman sorg vir Bethel se kultuurskeppings met die “surprises” wat elke leerder moet beskryf (85), wat met haar kreatiewe denke en skeppende woordgebruik dalk sou kon ontwikkel om ’n dagboek te skryf. Later vind dit gestalte in Williamstown se eksamen vir standerdvyfs toe Bethel nie kon ophou om oor die lekker dinge te skryf en dit te onthou nie (120, 121). Bethel se kreatiewe taalgebruik deur middel van vele vars vergelykings en metafore het my opnuut bewus gemaak van die kreatiewe krag van taal en hoe dit ’n ewewig skep en moralisering voorkom.
  • Ook leer Bethel by Miss Holman oor logoterapie via Victor Frankl wat hoop gebied het aan slagoffers van die gaskamers in Europa tydens Hitler se bewind (92) – dit gee vir Bethel hoop om ook háár situasie krities te beskou, en sy ontwikkel ’n wil om betekenis daarin te vind – al is dit van dag tot dag;
  • Anna leer haar kinders om nie barbare te wees nie (20), ook nie “agtertangs en patterjots” nie (113);
  • Hes en Elias se ouma leer vir die tweeling wat die verskil tussen leuens en waarheid is (71) en dat hulle nie “kômmin ... ondergemiddeld en platvloers” (69) moet wees nie;
  • Anna verdedig haar kinders se optrede in verband met vleis en poeding en vertel hoe gesond (en vegetaries) hulle grootgeword het in die kommune met “patats en aartappels en spinasie en vetkoek en bokmelk ...”; sy verdedig ook vir Steffen en vertel dat hy “hom oor ’n mik gewerk” het vir haar en Bethel en Jimi, dat hulle “groot tuine gehad het”, hout gekap en opgetel en verkoop het (138).

Die dialoog is oral funksioneel en outentiek aangebied om te pas by die onderskeie karakters. Die gebruik van sleng waar dié soort taal byna die norm is, is aanvaarbaar, veral omdat dié betrokke sleng- of informele woorde redelik bekend is en die tienerleser dit onmiddellik sou herken en verstaan.

Die leser kry deur Bethel se herinnering aan haar pa (Joupa genoem, ’n beroepsoldaat, fotograaf en joernalis) se vertelling inligting aangaande “kuka shops en China shops” in Namibië, ook die “mahangu-bier wat mens in die kuka shops koop, les jou dors beter as water” (55). Volgens Joupa (in gesprek met Anna by ’n tiekieboks in een van die dorpe waardeur hulle ry) brou die plaaslike bevolking in Angola en Namibië dié bier van mannakoring. Ook leer die lesers van “ombike – ’n gisdrank met skop” wat Joupa by die mense in Ovamaboland leer drink het (56). “In die China shops het die skoene Chinese groottes. As jy groot voete het, moet jy ’n nommer 43 of 44 probeer opspoor. En by Aus het hy die wilde perde van die Namib gesien” wat hy ’n ‘perdedans’ sien doen het. Bethel “wens sy het dié woord uitgedink”, sy was kwaad vir Joupa want hy het “sy verhouding met ons getjip en die oor afgebreek” en sy drink nie uit afoor-koppies nie (55)  – dit is nog iets wat uit haar geskeur het. Tog is hier iets wat aantoon dat sy na haar pa aard.

...
Dit is interessant om vir Bethel te leer ken: dat sy klein toekomslappies in haar kop gehad het – sulke flenterlappies oor wie en wat sy wou wees.
...

Die perspektief van die eerstepersoonsverteller (Bethel) is betroubaar en verstaanbaar vir die leser, veral dat sy dikwels onseker is of twyfel en nie al haar gedagtes kan deel met die ander karakters nie. Ek is genooi om soos Bethel (via Miss Holman en Frankl) verder te kyk as haar omstandighede om liefde, aanvaarding, hoop op ’n toekoms en vrede te vind. Dit is interessant om vir Bethel te leer ken: dat sy klein toekomslappies in haar kop gehad het – sulke flenterlappies oor wie en wat sy wou wees. Sy wou vir oumense vetkoek bak en kos kook, of sy sou ’n char kon wees, meestal dinge wat haar ma gedoen het. Sy wou net nie ook in kroeë werk en op die toonbank dans nie (36). “Ek het nogal gedink ek sou met iemand trou wanneer ek groot is, hopelik met ’n boer of ’n bosbouer, want hulle lewe onder die oop hemel, of tussen die bome waar die aarde soos hout en ou donker grond ruik: grond waarin verrotte blare en plante ’n wonderlike geur kry. Grond waaruit varings en boslelies opkom” (36, 37). Aan die einde van die verhaal sien ons dat sy met Elias sou wou trou. Verder is Bethel lank (soos haar pa), haar sportsoort is hoog- en verspring, langafstande hardloop en sy klim Ongeluksnek maklik op (87).

Intertekstualiteit

Daar is verskeie intertekstuele verwysings as paratekste in Bethel se berg wat ’n uitbreiding van die primêre teks bied en bydra tot betekenisvorming. ’n Parateks is ’n element of middel wat die teks aan die leser medieer (Greyling 2009:209)15: “Aangesien die kreatiewe spel met parateks die grense tussen die teks en die parateks laat vervaag, vereis dit ’n sterk konsep, asook onderhandeling en samewerking van al die partye of agente in die literêre kommunikasieproses (skrywer, illustreerder, boekontwerper, uitgewer en leser) wat by die boek betrokke is.”

Genette (1997:4–5)16 onderskei tussen twee paratekstuele kategorieë, naamlik die periteks en epiteks. Die periteks is al die paratekstuele elemente wat by die boek self ingesluit is, soos omslae, notas en hoofstuktitels. Die epiteks is daardie paratekstuele elemente wat verwyder is van die boek, soos resensies en bemarkingsmateriaal.

Die skrywer van Bethel se berg maak aan die begin van die verhaal ’n vrywaringsverklaring (as talige parateks) wat dit duidelik maak dat alle persone en gebeure fiktief is, maar dat die geskiedkundige feite die waarheid is. Hierdie soort “disclaimer” is tipies van memoires, lewensverhale en outobiografieë wat gefiksionaliseer is.

Reeds voordat die leser die verhaal gelees het, word die leser se verwagtingshorison geprikkel deur ’n visuele periteks wanneer die omslag van die boek haar uitnooi om saam met Bethel in hulle outydse kombi met allerlei tasse op die dakrak te reis. Op die donkerrooi agterblad sien ’n mens – soos aan die begin van elke hoofstuk – ’n padkaart, en hier spesifiek loop die pad van Paarl na Strand. Eers heelwat later in die verhaal kry ons ’n driedimensionele prentjie van die kombi met sy “replika van die Woodstock-embleem op die skuifdeur: ’n wit duif op ’n kitaar se nek, alles teen ’n rooi agtergrond” (124), en dit bevestig die leser se vermoede dat die verhaal op ’n manier met hippies te make het. Aan die einde kyk ’n mens weer na die kaart en besef dat jy reg was toe jy gedink het hier is ’n reis wat eindig by Strand, naby Kaapstad.

Jimi Hendrix (A. Vente | WikiMedia Commons)

Nog peritekste in die verhaal kom voor wanneer Jimi verwys na die sanger Jimi Hendrix wat sy kitaar gespeel en gesing het by Woodstock volgens die Encyclopedia Britannica, en Jimi sing sy liedjie “Freedom” wat handel daaroor dat hy graag vry sou wou kom van dwelms (75–7). Gunstelingliedjies wat die kinders oor hulle ma se klein transisterradio’tjie geluister het nadat hulle die antenna oral langs die pad met stokkies en kleefband staangemaak het, was “Thriller” van Michael Jackson (1982) waarvan Jimi gehou het, die tweeling se gunsteling was “Buffalo Soldier” van Bob Marley & The Wailers (wie se musiek dalk geskryf en opgevoer was voor die tweeling se geboorte, 1965), en Bethel het gehou van “Girls just want to have fun” (1983) van Cyndi Lauper (130, 131).

Verder is daar baie inligting (as peritekste in die vorm van vertelling) vir die uitbreiding van die leser se ervaringshorison oor die mense en plante van Ovamboland (52–6), en in Bloemfontein is die genoemde plakkate van ontploffings (25). Deur intertekstueel te verwys na “ons Weermag en SWAPO en die People's Liberation Army of Namibia — die Namibiese Bevrydingsleër” (54), word die leser bewus gemaak van ’n ideologiese ruimte van die apartheidsjare in 1983, die jaar waarin die meeste van die fiktiewe gebeure plaasvind. Anke Theron17 meld tereg in ’n resensie (as epiteks) dat Bethel se berg aan jong lesers ’n blik op ’n tyd in Suid-Afrika se geskiedenis verskaf toe dinge ’n heel ander sosiale dinamika gehad het, soos die engheid in ʼn plattelandse dorp en die Bosoorlog. Lesers wat hierin belangstel, kan verder oplees oor hierdie stukke geskiedenis van Suid-Afrika.

Ek het bietjie ’n probleem daarmee dat hierdie plek Namibië genoem word, omdat dit op die tyd waarin die verhaal afspeel (1983), nog in Suid-Afrika bekend gestaan het as Suidwes-Afrika. Namibië het eers in 1990 onafhanklik van SA geword en die nuwe naam gekry, hoewel die VN dit reeds sedert 1968 so noem.18 

Karakterisering en register

Bethel se berg bevat ’n oorvloed van uiteenlopende karakters, van verskillende sosiomaatskaplike agtergronde en geslagte (mbt ouderdom en manlik/vroulik). Die karakters is gebalanseerd en het gelyke waarde. Elkeen van die karakters is goed uitgebeeld met duidelike hoofkarakters en newekarakters.

Soos reeds genoem, lig die fokalisering van karakters tipiese stereotipes uit. ’n Voorbeeld hiervan is dat die skoolhoof in Williamstown verbaas is dat hulle (die blanke) kinders in ’n bruin skool wil skoolgaan (115). Dit is veral die polities-gelaaide apartheidsisteem in Suid-Afrika waar die hoofkarakters hierdie kontraste teëkom tussen wat hulle verwag en wat die werklikheid op hulle reis is, veral by die bruin gesin wat vir hulle sorg in Williamstown. Die stereotipiese beskouing wat Ant Heavenly van wit kinders het, word deurbreek wanneer sy heel verbaas opmerk dat Anna se kinders bietjie “anders as die meeste wit kinders, maar regtig oulik” is (113). Selfs daar waar ’n mens stereotipie verwag (soos met Anna se agtergrond en haar godsdienstige ouers), ook die bruin gesin en Antie Heavenly (te midde van 1983 se apartheidspolitiek in Suid-Afrika) wat haar help om haar pasgebore baba te versorg, word die stereotipe telkens deurbreek, want die karakters tree uiteindelik so-te-sê “buite stereotipiese karakter” op – deur goed te doen in plaas daarvan om net te verwyt of beskuldig (Anna se ouers), deur as vriende (met Hes en Elias, later ook Antie Heavenly) saam te staan.

Die register is kenmerkend van multikulturele verhale, waar die dialoog van verskillende karakters uitbeeld wat die sleng of sosiolek van hulle spesifieke sosiomaatskaplike agtergrond is. Wat ek steurend gevind het in Bethel se berg, was die dialoog tussen Bethel en die Engelse onderwyseres, Miss Holman,  wat met haar “Engeland-Engels” praat, “sy was very, very British, amper soos die Koningin ... Engelse bene ... knopperige Engelse knieë” en gee vir Bethel “een van haar stywe, very British glimlaggies” (88, 92) ...” Miss Holman, wat Engels gee in ’n dorp waar dié wat Engels goed magtig is, ’n opwarmingstyd van ten minste ’n halfuur nodig het voordat hulle regtig met haar in Engels kan gesels” (52). Dit doen myns insiens geforseerd aan, omdat dié dame eintlik net Engels sou praat, maar tussenin word haar woorde in Afrikaans vir die leser gegee. In só ’n multikulturele omgewing sou dit volgens my heeltemal gepas wees vir haar woorde om deurgaans Engels te wees en dit sou haar selfs meer outentiek gemaak het, want die jeugdige leser (of ma of pa of onderwysers) sal dit tog kan verstaan. Sy is ’n belangrike karakter omdat sy so ’n morele invloed op Bethel gehad het, naamlik haar verduideliking van Frankl en dat ’n mens ’n keuse het om te reflekteer oor jou situasie – dit het beslis Bethel se denke en waardering van haar eie situasie beïnvloed.

Intrige en spannning

Die narratief in die novelle het gewoonlik ’n streng epiese vloei van begin na einde, en die sintaksis en dialoog (sowel as die interne gedagtegang van Bethel) word benut om die konflik te beklemtoon. Die epiese doelstelling van die skrywer van hierdie jeugteks is dié van versoening tussen Anna en haar ouers, waarin die konflik opgelos word. Die beweging tussen die begin, die einde en sentrale gebeure veroorsaak nie net spanning nie; hiermee word die hoofhandeling in die rigting van die moment van rus en vrede aan die einde gestuur.

Aan die begin maak ons kennis met die protagonis (Bethel) wie se antagonis eintlik die reis met afskeid en verlies is – haar berg. Hier leer ons die basiese konflik van die verhaal, wat onder andere gemanifesteer word in die verlies van vaderskap waar die kinders telkens moet verwys na hulle regte pa’s: Steffen Hendrix – pa van Bethel en Jimi, deur die kinders bekend as Joupa, ’n fotograaf en joernalis (43), en beroepsoldaat (137) is in Ovambo – die “O-land” volgens die kinders: Opuwo, Ondangwa, Oshakati, Ongwediva, Okahao, Okajandja, Otjiwarongo, Outjo). Die pa van die tweeling (Riekert Venter) is dood in die grensoorlog (143).

Daar is aanhoudend stygende handeling/gebeure, waar sekondêre konflikte bekend gemaak word, sowel as al die struikelblokke wat in die pad staan van Bethel (die protagonis), naamlik die skool en onderwysers, die leerders, en telkens nuwe plekke, nuwe reëls en uitdagings. Ook is die swangerskap van Anna ’n duidelike konflik wat baie van die gebeure beïnvloed.

Daar is verskeie intriges in Bethel se berg soos wat dit deur die spanning in verhouding tussen karakters uitgebeeld word. Die hoofintrige is volgens my Bethel se persoonlike berg wat sy moet uitklim, naamlik om te help om die kleiner kinders te versorg, te oorleef langs die pad, voortdurend afskeid te neem wat vir haar voel of stukkies van haar weggeskeur word. Hierdie beeld van lappies wat afskeur is ’n deurlopende tema wat telkens in verskeie vorme herhaal word deur middel van allerlei lappies. Voorbeelde hiervan is die volgende:

  • Wiskunde is haar losskeurvak, want al kon sy die Wiskunde doen, ry hulle weg en dit is die ene Wiskunde-rafels en -drade (33) en sy dink “die wiskunde van die ou skool het uit my geheue geskeur” (34), “soos ’n stuk geruite lap uit my brein geskeur” (36);
  • Elke keer wanneer hulle moes oppak en die lang pad vat, “het iets soos lap geskeur” (33);
  • “Ek het klein toekomslappies in my kop gehad. Sulke flenterlappies oor wie en wat ek eendag sou wees … dooie gedagtes oor myself as ek groot is, was aan die skeur” (36, 37);
  • Rafels en drade is agter haar ooglede, want iets “was alweer besig om los te skeur” (101);
  • Toe sy vir Hes en Elias moet groet, voel dit in haar hart “asof iets goed gelap en heel was. Asof rafels en los drade en toiings iets van die verlede was” (102), dit voel vir haar of hierdie ontmoeting en afskeid die einde is “van ’n wonderlike hoofstuk in die middel van ’n boek waarvan die laaste bladsye net uitgeskeur is” – dit beeld Bethel se hopeloosheid duidelik uit (105).

Die spanning is skitterend geskep deur die konflik in Bethel se berg wat intens gelaai is met emosies en waardes en opbou tot ’n hoogtepunt. Volgens my is daar beide ’n fisiese en emosionele klimaks in die verhaal.

Die fisiese klimaks vind plaas wanneer Anna op haar laaste is, die baba naby is om gebore te word en sy nie meer die kombi verder kan bestuur nie. Sy gaan lê en Jimi moet bestuur en met haar keps lyk of hy ’n volwasse vrou is. Hierdie voorval veroorsaak nogal baie spanning, selfs humor, omdat dit lyk of ’n verkeersbeampte hulle volg, totdat die baba Pips (vernoem na haar ouma van ma se kant) gebore word in Williamsville, en hulle goed versorg word deur ’n bruin inwoner, Antie Heavenly.

Die emosionele klimaks is wanneer die gesin by die pastorie in Beaufort-Wes aankom, waar Anna (Bethel se ma) se ouers (moontlik die eintlike antagoniste) woon. Hier vind die hewigste konflik plaas tussen Anna en veral haar ma, waar die kinders meestal die rusies en ernstige gesprekke aanhoor, maar nie werklik daaraan kan deelneem nie omdat hulle buitekant onder die venster sit en afluister. Hierdie verhaalmoment is tegelyk ook die krisis, waar daar ’n keerpunt kom: die ouers betoon deernis en sorg vir die gesin se verdere reis na en verblyf in Strand. Daarna is daar die dalende gebeure, die fase waarin die konflik tussen Anna en haar ouers opgelos word. Dit word gevolg deur die laaste reis, na Strand waar hulle genoeg geld en geskenke vir Kersfees by Oupa Karel en Ouma Nella ontvang (158–9).

...
Vir my as leser het die ongewone kennismaking van Bethel met Victor Frankl en die konsentrasiekamp by Springfontein my verder laat dink en wonder tot watter mate ek bewus is van my eie geskiedenis.
...

Volgens die Resepsie-Estetika is oop plekke goed vir die ontwikkeling van die leser se verbeelding. My verbeelding is aangewakker deur die proses waarin ek myself kon inleef in die lewens van ander asook die erkenning van motiewe en simbole, die bekende en die onbekende omgewing en gebeure. Vir my as leser het die ongewone kennismaking van Bethel met Victor Frankl en die konsentrasiekamp by Springfontein my verder laat dink en wonder tot watter mate ek bewus is van my eie geskiedenis. Dat dit juis Miss Holman (die Engelse onderwyseres met haar Britse maniertjies en uitspraak) is wat vir Bethel bewus maak van Emily Hobhouse en die Anglo-Boereoorlog is nogal verfrissend, omdat sy op ’n manier ’n tussenganger tussen Engeland en Suid-Afrika is, ten spyte daarvan dat Elias eendag gesê het “Miss Holman moet seker die eensaamste mens in Petrusburg wees” met min mense wat regtig goed Engels kon praat (52).

My eie analitiese en kritiese denke is geoefen omdat die lees van so ’n ongewone teks my gestimuleer het om te soek na die samehang of logiese opeenvolging van gebeurtenisse – lewe, siekte, afwesige vader en dood van die tweeling se pa in die Bos- of Grensoorlog, die optrede van verskillende karakters. Die verhaal het baie oop plekke – ons weet byvoorbeeld nie wie Pips se pa is nie en dit was vir my vreemd dat geen karakter direk hieroor navraag doen of melding daarvan maak nie – net Jimi maak ’n sydelingse opmerking wanneer hulle agterkom dat hulle ma verwag: “Babas het pa’s, Mamma” (19), waarna Anna se oë wyd gerek het. Ek sou verwag dat veral die tweeling met hulle vars waarnemings en spontane uitings en vrae iets hieroor sou sê of vra. Ook vertel Anna aan die huiskerklede met Pips se inseëning dat sy haar kind vernoem na haar “aanneem-ma ... Sy en my aanneem-pa het alles vir my gedoen” (122). Eintlik het laasgenoemde voorval by my as leser verwarring geskep, want nêrens anders in die verhaal word hierdie gegewe bevestig nie.

Agtergrond / milieu (tyd en ruimte)

Ruimte is binne die skryfkuns een van die sogenaamde skeppingselemente wat tot die kreatiewe skrywer se beskikking is. Die vier vertelkategorieë van die narratologie is ook die vier skeppingselemente van die skryfkuns, naamlik karakter, tyd, ruimte en gebeure19. Dit gaan in ’n jeugverhaal daarom om die "vertel" van die lewenstorie, die transformasie van die data van ’n lewe in die vorm van ’n narratief: die skep van ’n narratiewe identiteit, ’n fiktiewe wêreld, al sou dit op die werklikheid gegrond wees. Die ruimte van die jeugnovelle is dan per definisie ’n fiktiewe ruimte, al sou dit direk verwys na ’n lokaliteit wat in die werklikheid net so bestaan (het).

Epiese ruimte is gepersonaliseer omdat dit saamhang met wat die karakters doen en ervaar. Plekke en objekte bestaan in Bethel se berg ter wille van die betekenis wat dit vir die karakters het. Plekke van handeling en die ruimtelike kenmerke daarvan vorm daarom epiese speelruimtes (fisiese plekke) of belangeruimtes (karakters se emosies wat saamhang met fisiese plekke en karakters) eerder as blote lokaliteit. Onder epiese ruimte kan ons dus praat van die fiktiewe plekke in Bethel se berg waarbinne die handelinge van die karakters op ’n bepaalde tyd gebeur. Dit moet onderskei word van die werklike ruimte waarop die fiktiewe ruimte gebaseer is. Oop plekke in Bethel se berg kan daartoe bydra dat die leser deur middel van haar eie verbeelding of ervaring die agtergrond inlees in die verhaal, indien die bedoelde (ideale) leser wel bekend is met die dorpe in die land waardeur die gesin reis. Indien laasgenoemde nie waar is nie, kan die beskrywing van dorpe en karakters bydra tot die uitbreiding van die leser se verwysingsraamwerk.

Die vertelling soos deur Bethel se perspektief gee aan intieme ruimtes betekenis met iets soos die kombi, huise (Hes, Elias, Antie Heavenly s’n, die pastorie) en skole as konkrete ruimte. Sosiale ruimte belig die spanning tussen individue en die gemeenskap (en veral die ouers) as gevolg van hulle nomadiese leefwyse – spesifiek die spanning in verband met die vervreemde verhouding van Anna met haar ouers. Verder is hier in hierdie verhaal oop (die reispad en natuur) en geslote ruimtes wat naas mekaar gestel word. Inkluistering (“entrapment”) dui op fisiese of morele gevangenskap – soos wat dit in die kombi en klaskamers, ook die pastorie in Beaufort-Wes, verbeeld word; les bes ook die tweeling se pa wat in die bosoorlog dood is – dit beperk fisiese, psigiese, politieke en/of sosiale beweegruimte.

Dit is nie duidelik presies op watter datum gebeure plaasvind (behalwe dat dit in 1983 is en eindig net voor Kersfees) en oor hoeveel dae nie. Ons lees wel dat Anna vir ses maande ’n char by ’n ryk ou dame was (36). Sy het tekens van swangerskap getoon by ’n piekniekplek naby Dewetsdorp op pad Bloemfontein toe (19) toe hulle verder gereis het na Beaufort-Wes. Verder word gemeld dat Pips op agt maande gebore is (106) en dat die gesin vir 7 maande onder hulle oupa en oupa se dak was (137) – waarskynlik dus ongeveer vyftien maande nadat die reis begin het.

Die skrywer van Bethel se berg skep ’n narratiewe ruimte wat fisiese ruimte, denkruimte en sosiale ruimte letterkundig uitbeeld. Verder gee die skrywer aan intieme ruimtes betekenis wat identifikasie as abstrakte ruimte aan iets soos die kombi, huise (Hes, Elias, Antie Heavenly s’n, die pastorie) as konkrete ruimte koppel, terwyl sosiale ruimte die spanning tussen individue en die gemeenskap (en veral die ouers) as gevolg van hulle nomadiese leefwyse belig. Laasgenoemde verwys spesifiek na die spanning in verband met die vervreemde verhouding van Anna met haar ouers. Verder is hier in hierdie verhaal oop en geslote ruimtes wat naas mekaar gestel word. Inkluistering (“entrapment”) dui op fisiese of morele gevangenskap – soos wat dit in Bethel se berg in die kombi en klaskamers, ook die pastorie in Beaufort-Wes, verbeeld word – dit beperk fisiese, psigiese of sosiale beweegruimte.

Gesien in die lig van bogenoemde bespreking met betrekking tot agtergrond, is dit vir my duidelik dat die skrywer in Bethel se berg ’n ryk sekondêre (literêre) werklikheid geskep het wat deur al die karakters en gebeure bevolk word. Die fiktiewe plek(ke) in Bethel se berg waarbinne die handelinge van die karakters op ’n bepaalde tyd (1983) gebeur in dorpe in die land waardeur die gesin reis (Queenstown, Clarens, Petrusburg, Clarens, Williamsville by Springfontein, en uiteindelik Beaufort-Wes), stem baie ooreen met die werklike ruimte waarop die fiktiewe ruimte gebaseer is. Ouma Nella verwyt Anna oor al die ander plekke waar hulle was en die kinders oral moes skoolgaan: Cradock, Bultfontein, Wepener, Fiksburg (139).

Bethel se sintuiglike waarneming van plekke, mense en gebeure het my laat voel dat ek ook daar is – ’n mens kan saam met haar hoor, sien, ruik, voel. Dit gebeur spesifiek wanneer die kinders telkens self moet soek vir kos – die kleure, teksture en geure wat hulle daar aantref, is tipies van die uitbeelding van die ruimte. Watter leser sal nie die gebeurtenis rondom die grondboontjiebotter (23, 24), of Max wie se grafie-vat-poef groen was (73) vergeet nie – dit is treffend en humoristies. Dit versterk dikwels die gemoedstoestand of situasie van Bethel, wanneer sy dink aan plekke en gebeure waar haar ma gelag het in Knysna (72), terwyl die ruimte dien as beklemtoning van haar verwarring en konflik oor watter waardes sy in haarself kan integreer om sodoende haar identiteit te bevestig en hoe sy oor haar emosionele berg kan kom. “Vrede, liefde en musiek maak my gelukkig, net soos wat dit op ons kombi se deur geskryf staan” (121). “Papier ruik soos die aarde as mense in die woude naby Wildernis is. Partykeer ruik die papier droog en oud.”

Verder sien ons Bethel se besondere sensitiwiteit vir die natuur: Vir haar is die sierlike spronge van vlieënde springbokke hoogspringers, soos sy (94). Terwyl hulle op pad is na Beaufort-Wes, slaap die gesin een aand langs ’n dam en hulle kyk vir die wolke wat voor die maan verbydryf – “soos grys skepe hoog in die lug … Daar was maanlig op hulle seile” en sy sien vyf koedoes in die maanlig (134–5). Haar ma se kitaar het vir haar besondere betekenis en herinneringe – as haar ma daarop speel, lyk sy gelukkig en vry, soos wanneer hulle by die berg in die Du Toitspas oorslaap (157).

Nadat ek nou reeds die literêre elemente as teksinterne eienskappe hierbo bespreek het, beweeg ek in my ondersoek na die tekseksterne aspekte van die lesergerigtheid van Bethel se berg as jeugliteratuur.

3. Lesergerigtheid

Lessing-Venter en Snyman (2017:874)20 toon aan dat bedoelde lesers van die vierde vlak van leeswaardering (ouderdom ongeveer 12–14 jaar) hulle self vind in letterkunde, graag realistiese fiksie en eietydse probleemromans lees. Hierdie leeseienskappe van die bedoelde leser maak dit duidelik dat Bethel se berg in hierdie opsig beslis toepaslik is vir die teikengroep van jeugdiges aan die einde van hulle laerskoolloopbaan.

Tussen kind en tiener bestaan sulke ingrypende verskille dat dit vanselfsprekend ook ’n neerslag sal vind in hulle leesstof. Aanbieding en benadering van stof, omvang, keuse van temas, inkleding en inherente lewensbeskouing maak van jeugliteratuur iets wesenlik anders, hoewel daar by die grens tussen kind en tiener op elf/twaalf wel oorvleueling moontlik is (Steenberg 2013)21.

Die hoofkarakter (Bethel) is + 13 en haar boetie Jimi ’n jaar jonger, die tweeling Max en Richie is in Sub A, terwyl die baba Pips gebore word in Williamstown in die tyd waarin die verhaal afspeel (1983). Hulle ontmoet hul beste vriende (Hes en Elias) met amper dieselfde ouderdomme in Petrusburg.

Die verwysingsraamwerk van die jeugdige leser word uitgebrei deur die geskiedkundige inligting rondom die konsentrasiekamp by Springfontein waar vroue en kinders gedurende die Anglo-Boereoorlog rondom 1899–1902 gevange gehou is. Die verwysing na die lewe en werk van Emily Hobhouse in daardie jare om mense se nood te verlig, sowel as inligting aangaande die denke van Victor Frankl oor emosionele en geestelike oorlewing in moeilike tye, bevat inligting wat die leser dalk kan boei en stimuleer om meer daarvan uit te vind. Verder word daar – behalwe die pastorie en ouers van Anna, oupa en ouma van Bethel en Jimi Hendrix, Max en Richie Venter, en Pips – verwys na Beaufort-Wes wat die geboorteplek was van die hartsjirurg Christiaan Barnard (149), wat wêreldwyd opspraak verwek het deur die eerste hartoorplanting suksesvol te doen.

Lesers wat op skool deelneem aan die sportsoorte waarin onderskeidelik Jimi (rugby) en Bethel (landloop, hoog- en verspring) uitblink, sal die terme herken wat ter sprake kom: die “Fosbury flop” in hoogspring (46) en die “hitch-kick-tegniek” in verspring (47). Verder sal hulle kan identifiseer met die “heavy-metal-akkoorde” in die lorrie wat geknipmes het (21) en dat Jimi soontoe hardloop asof hy die Comrades wou wen (22). Selfs Jimi se gebruik van kragwoorde – tot vermaak van die tweeling – sal (dalk veral seuns) se lagspiere prikkel.

Ouer lesers – dalk ’n ma of pa of onderwyser van die jeugdige leser wat saamlees – sal kan assosieer met Jimi se uitbeelding van die sanger Jimi Hendrix se lied “Freedom” by Woodstock – iets wat hy in die Encyclopedia Britannica opgelees het (75, 76). Dit was vir my ’n verrassing om te lees dat die eerste van hierdie Rock-musiekfeeste (in 1969) op die melkplaas van Max Yasguri te Bethel in New York gehou is.22 Verder maak Ant Heavenly melding van “Braxton Hicks-kontraksies” (112) tydens Anna se tyd van kraam.

Vervolgens  bespreek ek wat die jeugteks se kommunikatiewe potensiaal is deur die kenmerke en behoeftes van kinders (as bedoelde lesers) in die puberteits- en laerskoolfase te noem en hoe dit manifesteer in Bethel se berg.

4. Potensiaal van die jeugverhaal om te kommunikeer met die bedoelde leser

Enige kind het sekere behoeftes, en haar aanpassing by die lewe word bepaal deur die bevrediging van daardie behoeftes of die gebrek daarvan. Die mens se begrip en insig groei deur ondervinding – ’n verryking van die lewe wat ook deur middel van boeke vir die leser beskikbaar is. Die kind se verbeeldingskrag kan haar help om Bethel se berg haar eie te maak. Daardeur identifiseer sy met die boek-karakters en –ervarings, en in werklikheid word daardie ervarings in die proses haar eie lewensondervinding. Boeke wat van betekenis is, het ’n “diepte” wat help om die kind se behoeftes te vervul en aan te pas by haar lewe en omstandighede.23

Gesien in die lig daarvan dat Bethel se berg se hoofkarakters Bethel en haar jonger broer Jimi, ook hulle vriende Elias en Hes (en dus die bedoelde leser) aan die einde van die puberteits- of laerskoolfase van ontwikkeling is, is dit gepas om te let op die volgende kenmerke van hierdie lewensfase24 en dat die karakters voldoen hieraan. My kritiese lees van die fiktiewe teks het ten doel om dit ook te bespreek in terme daarvan. Hieronder word nou gelet op die kind se behoeftes en ontwikkeling later in die puberteitsjare.

Behoefte aan sekuriteit

Die laerskoolkind in die besonder het behoefte aan materiële (fisiese en finansiële), emosionele en geestelike sekuriteit. Materiële sekerheid kan vernietig word deur rampe soos insolvensie en oorlog – en die bedoelde leser het nodig om te leer om ook in sulke omstandighede aan te pas. Dit word grootliks gedoen deur emosionele en geestelike sekuriteit wat veel sterker is as materiële sekerheid. In Bethel se berg kan die leser wie behoefte nie bevredig word in haar eie lewe nie, identifiseer met hierdie nomadiese gesin, wat letterlik van dag tot dag moet oorleef met wat tot hulle beskikking is.

Emosionele sekerheid word weerspieël in menslike verhoudinge, byvoorbeeld binne die familiekring, of vriendskapsverhoudinge. Ook hierdie sekuriteit kan vernietig word deur menslike toedoen, soos egskeiding, mishandeling en misbruik. Wat die leser in Bethel se berg aantref met die verhouding wat die kinders met hulle ma het, en die kennis oor hulle onderskeie pa’s, bevredig hierdie behoefte. So ook die ontmoeting, aanvaarding en vriendskap met Hes en Elias en hul ouers se gulhartige ontvangs, raad en hulp – die afskeid van hulle is dus groter as wat uitgespel word, en dit is goed so, omdat dit intuïtief deur die leser aangevoel kan word – dit is ’n oop plek in die verhaal.

Naas materiële en emosionele sekuriteit het die kind ook ’n behoefte aan ’n “geloof” aan iets groters en magtigers wat nie deur mislukkings, rampe of menslike verhoudinge vernietig kan word nie. Dit is ’n behoefte aan iets veel groters as die mens en haar wêreld – dit is ’n behoefte aan onder andere iets of iemand wat hoop bied, byvoorbeeld ’n rolmodel. Dit word nooit in Bethel se berg prekerig/dogmaties of didakties-godsdienstig aangebied nie, ten spyte daarvan dat Anna se ouers en die bruin gemeenskap in Williamstown diep godsdienstig is. Bethel leer by Miss Holman oor logoterapie via Victor Frankl (89) wat hoop gebied het aan slagoffers van die gaskamers in Europa tydens Hitler se bewind – dit gee vir haar hoop om ook haar situasie krities te beskou, te aanvaar, en betekenis daarin te vind – al is dit van dag tot dag. Lesers het ’n fyn aanvoeling vir die egtheid van enige soort prekerigheid en kan maklik daarteen rebelleer as dit kunsmatig aandoen, iets wat nie in Bethel se berg gebeur nie.

Behoefte om lief te hê en liefgehê te word

Hierdie behoefte hang baie nou saam met emosionele sekerheid, maar is so sterk by die puber dat dit apart genoem kan word.

Die kind se eerste ondervindinge hiervan is natuurlik binne die gesin/familie. Eintlik ontwikkel die kind se hele begrip van menslike verhoudinge uit die gesinsomstandighede. Daarom speel ’n gesinsverhaal soos Bethel se berg hier ’n groot rol, en dit beteken nie dat daar in die boeke net gelukkige gesinsverhoudinge moet wees nie. Dit is juis deur die uitbeelding van een of ander ongelukkige toestand in ’n gesin waardeur ’n jong leser kan groei – deur die identifisering met die probleme of deur te lees wat in ander families aangaan en begrip daarvoor te leer.

Bethel het ’n (onseker) herinnering van Joupa – sy onthou hoe sy “in die Knysnabos in ’n waentjie met fietswiele rondgetrek is ... Dit was ’n man met lang hare en ’n velbroek met broekspype wat net bo sy kuite opgehou het ... Was dit Joupa gewees wat my in die wipwaentjie getrek het?” (72). Sy kan egter nie onthou of hy haar ooit “op sy skoot gehou of rondgedra het nie” (16). Dit gee vir haar versekering as haar ma sê: “Joupa is lank en blond en hy moet in oorloë veg, Bethel. Maar eintlik haat hy dit. Hy maak geld bymekaar om vir ons almal te kan sorg” (16).

Anna doen moeite om haar kinders te vertel van hulle pa’s – die twee mans in haar lewe wat sy liefgehad het (143) – Steffen wat in die land van “O” is (53), ook Riekert Venter: “Max en Richie se pa het op die Grens gesterf” (142). Sy verdedig hierdie twee mans wanneer haar ma en pa negatief teenoor hulle is: “julle sal hulle nie uit my hart kry nie.  Ek sal nie toelaat dat julle die pa’s van my kinders afkraak en alles wat ek vir die kinders van hulle vertel, vernietig nie. My kinders het goeie pa’s” (143). Hierdie vertellings wat hulle direk by haar hoor en ook wanneer hulle sit en afluister in die grootouers se huis, gee vir die kinders emosionele sekuriteit. Ook herinner sy vir Max aan hulle “houthuis in die Bos” en dat dit ’n goeie plan sou wees om daar ’n “boomhuis te bou” (10).

In Bethel se berg is daar duidelike gespanne gesinsverhoudinge omdat Anna se obsessie om verder te reis ’n ingewikkelde invloed op die kinders het. Bethel raak moeilik betrokke by plekke en mense omdat sy reeds geleer het dat die afskeid wat telkens onvermydelik is, stukke uit haar skeur. Ook Jimi wil graag rugby speel en dit is moeilik om deel van ’n span te wees as ’n mens enige tyd weer kan vertrek.

Uiteindelik groei hierdie behoefte aan liefde en om lief te hê in die adolessent se soeke na ’n lewensmaat en ’n liefdesverhouding. Vir die jong kind is die behandeling daarvan in stories nog onpersoonlik. In Bethel se berg groei die vriendskap tussen Beth en Elias subtiel totdat die leser aan die einde sien dat sy graag met hom sou wou trou (159).

Behoefte om as deel van ’n groep aanvaar te word

Die kind in die puberfase het ’n behoefte om in ’n groep aanvaar te word, om ’n eie plek en identiteit te hê. Dit beteken aanvaarding in ’n groep of groepe wat vanuit die familie uitkring – die omgewing, ouderdomsgroep, vriendekring, skool, bevolkingsgroep, sportspan, ensovoorts. Daar ontstaan by die kind in hierdie leeftydsfase ’n sterk samehorigheidsgevoel en hulle identifiseer met groepe wat soos hulle dink en voel. In hierdie fase het kinders gewoonlik ’n groot verlange na kontak met kinders van dieselfde geslag. Dit verklaar die kind se voorliefde vir spanspele soos rugby, hokkie, sokker en netbal, en die neiging om by ’n groep van haar eie aan te sluit. Dit word selfs ook gemanifesteer in passiewe deelname as toeskouer. In ’n spansport kan van oortollige energie ontslae geraak word en die drang na prestasie en selfgelding bevredig word. Om die span te laat wen, vereis nie net sportvermoë nie, maar ook spangees en sportmanskap. In Bethel se berg kom hierdie behoefte – en die karakters se huiwering om betrokke te raak (soos bo genoem) – na vore in Jimi se behoefte om deel van die rugbyspan te wees. Bethel kies sportsoorte wat meer individueel is en pas by haar lang bene, naamlik hoog- en verspring en landloop.

Storieboeke wat oor hierdie soort onderwerpe handel, kan die kind help om die innerlike stryd wat sy ervaar oor hierdie soort situasies uit te sorteer en met haarself en haar omstandighede vrede te maak. Dit gebeur ook dan in Bethel se berg met al vier die ouer kinders in die gesin. Hulle help mekaar en is op mekaar aangewese, en hulle vriendskap met Hes en Elias is vir hulle kosbaar. Nog voorbeelde is Max en Richie se mondelinge in die taalklasse en hoe hulle met deernis (en humor) van mekaar en hulle gesamentlike ervarings in hulle nomadiese lewe praat (68–70).

Behoefte aan kennis

Hierdie behoefte kan ook as intellektuele sekuriteit beskryf word. Nie net begin die kind meer bewus raak van haar vermoë om op skool akademies te presteer nie, dit is ook die tyd waar kinders besondere vreugde vind in stokperdjies waar hulle met hulle hande kan werk en dinge kan versamel. Storieboeke kan ook ’n ryk bron van inligting word in hierdie verband. Dit is veral hier waar Bethel kennis opdoen by die begraafplaas in Springfontein, en waar sy die grafsteen sien wat verwys na Victor Frankl en die Lady of Logotherapy. Miss Holman sien haar belangstelling in boeke en skryf, sy praat met haar daaroor en verskaf vir haar ’n boek hieroor wat aan haar verdere kennis voorsien, vir haar betekenis het en haar help om haar situasie te verwerk (89).

Nog iets waarop in Bethel se berg gefokaliseer word, is die kinders se behoefte om inligting aangaande hulle afsonderlike pa’s te kry en later te vertel aan wie ook al hieroor wonder. Die kennis wat hulle by hulle ma kry, maak hulle trots op hulle pa’s.         

Behoefte aan avontuur

Die jeugdige ervaar ’n groot behoefte aan belewenis. Daarom word daar gesoek na die sensasionele, spannende situasies, gevaar en risiko’s, wat aansluit by ’n besondere avontuurlus. Daar is ook ’n belangstelling in vreemde lande en ontdekkingsreise. Hierdie belewenishonger verklaar die kind se vergrote belangstelling in jeugboeke en films (en deesdae TV en videospeletjies) in hierdie leeftydsfase.

Die kinders in Bethel se berg is almal baie nuuskierig om te hoor van Bethel en Jimi se pa (Joupa) wat in O-land is, se ervarings en avontuur op sy motorfiets, waar al die plekke se name met O begin (Ovambo, Oshakathi, Okavango) – dit maak hom vir hulle werklik en hulle luister graag as hulle ma sy briewe voorlees.

Selfs die reis deur die land voorsien vir die nomadiese kinders in Bethel se berg avontuur, omdat hulle aangewese is op die natuur en hulpbronne langs die pad (die windpomp en dam, die grondboontjiebotter). Uiteindelik is Jimi se ervaring om aan die stuur van die kombi te wees terwyl hulle ma se swangerskap nader aan die einde kom, ’n groot avontuur vir hulle almal. Elkeen moet haar deel doen, en hierdie reis vorder suksesvol tot by King Williamstown waar hulle by Antie Heavenly se huis versorg word en die baba Pips gebore word.

Behoefte aan ontspanning

Die jeugdige wat nie uiting vind vir haar avontuurdrang in die fisiese werklikheid nie, voel dikwels verveeld en het behoefte aan ontspanning. Ook wanneer daar by hulle nie ’n bewuste doelwit is om na te streef nie, lees kinders meestal vir ontspanning – omdat hulle dan vry is van opdragte of enige dwang. Lees vir ontspanning beteken ook afwisseling, daarom moet daar verskillende soorte boeke aan die leser beskikbaar wees. Hierdie boeke kan ook terselfdertyd die kind se emosionele behoeftes bevredig – in fiksie wat hulle vir ontspanning lees, moet daar nie ’n afwesigheid van karaktertekening wees nie. Psigologies is hulle steeds besig om te ontwikkel as mense, en die boeke wat hulle lees, behoort ook aan hierdie behoeftes te voldoen. In terme van hierdie behoefte aan ontspanning kan veral Bethel se nuuskierigheid om te lees gemeld word. Dit maak haar opgewonde voordat sy ’n boek oopmaak (121), want “dinge maak meer sin in boeke” (87).

Verder verwys hierdie behoefte ook na die lesers van hierdie verhaal. Vir my is dit duidelik dat die bedoelde leser wel met Bethel se berg sou kon identifiseer, enersyds as gevolg van die spanning en karakteruitbeelding, maar ook van die avonture in die reis vanaf die Knysna-bos deur die Oos-Vrystaat en Karoo tot in Strand. Vir die meeste stadskinders as lesers sou hierdie reis ongewoon wees en aan hulle ontspanning en ’n uitbreiding van hulle ervaringshorison bied.

Ontwikkeling van ’n eie waardesisteem

Tot dusver in die kind se ontwikkeling, het die volwassene in haar lewe (ouer of onderwyser) die verantwoordelikheid vir die kind se optrede gedra. In Bethel se berg leer die karakters (en daardeur die bedoelde leser) om te steun op mekaar en die hulpbronne in die natuurlike omgewing. Natuurlik is hulle ma ook ’n steunpunt as gevolg van haar meerdere kennis en ervaring, en die kinders respekteer haar daarvoor.

Die jeugdige leser kan in Bethel se berg deur die oë en gevoelens van Bethel en haar boeties bewus word daarvan om hul standpunt vanuit hulle waardes te motiveer. Dit word veral vergestalt wanneer die seuns hulle orals doen vir Hes en Elias se ouma wat ’n onderwyseres was.

Kinders in hierdie fase se wêreldbeeld word vergroot deur die toevoeging van idees en ideale, en ’n idealistiese wêreldbeeld is kenmerkend van hierdie lewensfase. Tog is die moderne jeugdige meer realisties omdat tegniese en finansiële oorwegings deesdae sterk invloed op kinders uitoefen. Aan die ander uiterste is daar diegene wat die weg van die minste weerstand kies en die heersende denke en lewensopvattings eenvoudig so aanvaar. Laasgenoemde is nie waar van die kinders in Bethel se berg nie, omdat hulle eintlik, terwyl hulle op reis in die kombi is, afhanklik is van nuus van hulle ma se transistorradio’tjie waar hulle haar help om die gebreekte antenna staande te hou op reis (131). Ook is Anna in kontak met Joupa via die tiekiebokstelefoonhokkies wat sy in verskillende dorpe vind (56, 100).

In hierdie stadium word Bethel en haar boeties se werklikheidsbeeld beïnvloed deur elkeen se eie persoonlikheid, omgewingsfaktore, aktiwiteite en uitdagings om selfstandig te wees. Hes en Elias se ouma het ’n belangrike invloed op die seuns soos wat sy hulle help met hulle individuele orals. Vir die jong leser kan dit baie genot verskaf om te lees van waar Richie en Max geleentheid kry om te praat oor hulle familie. Max vertel van sy lekkerste dag toe Jimmie ’n lelike woord geskree het (68) en hulle die grondboontjiebotter kon kry (69). Richie vertel van grafie-vat en dat Max se spinasiepoefie groen is. Hy verduidelik hoekom hulle vegetariërs is en dus nie vleis eet nie, want diere “moet eers bloei en hulle koppe moet eers afgekap word en hulle asems moet eers ophou voordat hulle vleis is wat mens kan eet ... Maar ék eet biltong en droëwors ... [want dit] is kurkdroë vleis, soos droëperskes. Mens kan dit eet. Dit is oukei” (70). In Williamsville moes die standerd vyfs ’n opstel skryf oor dinge wat hulle gelukkig en ongelukkig maak. Bethel kon nie ophou om oor die lekker dinge te skryf nie (120), wat vir haar baie help om te verstaan dat hulle lewe nie net probleme het nie en dat sy is soos haar ma, want “Vrede, liefde en musiek maak my gelukkig” (121).

...
Boeke wat lewenswaardes ontgin deur middel van stories, kan daartoe bydra dat die jeugdige leser saam met die hoofkarakters worstel om vanaf puberteit deur adolessensie tot volwassenheid te groei.
...

Dit is nodig dat die jeugdige leser (soos die karakters in die jeugnovelle) leer om self te dink en self te beoordeel om ’n vrye outonome persoonlikheid te kan ontwikkel. In hierdie verband kan weer melding gemaak word van die invloed wat Miss Holman (via Victor Frankl) op Bethel se denke en verstaan van die lewe het. Sosiale en kulturele kritiek (in Bethel se berg, die onderwysers) is noodsaaklik vir die bestaan van ’n lewende tradisie en vir verdere kultuurskeppings, spesiaal vir Bethel wat met haar kreatiewe denke en skeppende woordgebruik dalk sou kon ontwikkel om te skryf in ’n dagboek. Boeke wat lewenswaardes ontgin deur middel van stories, kan daartoe bydra dat die jeugdige leser saam met die hoofkarakters worstel om vanaf puberteit deur adolessensie tot volwassenheid te groei. Die ontginning van die sin en betekenis van die lewe via Frankl se verhaal, help vir Bethel (en die leser) om haar eie waardes en ’n waardige en aanvaarbare selfbeeld te ontwikkel.

Nadat ek aangetoon het in watter mate Bethel se berg voorsien in die behoeftes van die karakters in die jeugteks en bedoelde lesers, bespreek ek vervolgens hoe die jeugnovelle pas in die kader van die funksionaliteit van spesifiek jeugliteratuur.

5. Funksionaliteit van jeugliteratuur

’n Kenner van jeugletterkunde, Rita Ghesquiere (1993:113–21)25, dui aan dat jeugverhale drie funksies het, naamlik die psigologies-emosionele, die informatiewe (intellektuele) en maatskaplike funksies, wat dit onderskei van volwasse literatuur. Laasgenoemde hang myns insiens ook saam die ontwikkeling van kulturele geletterdheid, veral in ’n diverse maatskaplike landskap soos Suid-Afrika. Die ontleding van Bethel se berg aan die hand van hierdie funksies, maak dit vir my duidelik dat dit uitstekend is as jeugletterkundige teks.

Die psigologies-emosionele funksie hou veral verband met die identifikasieproses waardeur die leser insig verwerf in haar eie gevoels- en ervaringswêreld. In Bethel se berg is dit veral Bethel deur wie se oë en ervarings die leser ’n groter gevoeligheid vir onderlinge verskille tussen mense (verskillende geslagte, ouderdomme, kulture) ontwikkel. Bethel leer om haar eie gedrag en die gevolge daarvan te interpreteer, en dít lei daartoe dat sy (en die bedoelde leser) minder veroordelend teenoor ander kan staan.

Ook bied jeugliteratuur vir die tienerleser kompensasie vir die gebreke en onvolkomenheid van die werklikheid waarin sy leef, en sy kry kans om daarvan te ontsnap en haar wense te laat vervul. In hierdie opsig is Bethel se berg bevredigend, omdat Bethel se posisie en wedervaringe die leser help om te identifiseer deur die gebreke en onvolkomenheid in haar ouers en vriende te aanvaar en die beste te gee wat sy as karakter kan bied.

Verder is jeugliteratuur vir die leser ’n middel waarmee sy haar kan handhaaf en haar eensaamheid en verveling kan verminder. Om te lees, help om haar spanningsvlakke te reguleer, want deur die proses van biblioterapie (terapie van lees) kry sy onbewustelik insig in haar eie probleme. Omdat lees hoofsaaklik vir die kind ontspanning bied, is sy nie daarvan bewus dat sy intellektueel ontwikkel, emosioneel groei (omdat sy saam kan lag en gespanne wees of treurig voel) en kreatief skeppend besig is nie. Ook hierin slaag Bethel se berg uitstekend, want die bedoelde leser sal dit (moontlik) moeilik vind om die boek neer te sit as gevolg die hoë spanning en interessante intriges van hierdie nomadiese gesin.

Jeugliteratuur het ook ’n informatiewe (intellektuele en estetiese) funksie, veral fiksie en historiese romans wat op ander plekke of in ander lande afspeel (dalk ook in ’n ander tyd) – soos in laasgenoemde geval by Bethel se berg waar Bethel se verhouding met haar boeties, ma, grootouers, vriende en onderwysers ’n hooftema is. Verder dra die lees van literatuur ook spesifiek by tot taalverwerwing – in Bethel se berg is die leser bewus van verskillende taalgebruike en gebeur kognitiewe ontwikkeling onbewustelik. Verder word die leser se horison verbreed deur kennis te neem van die soorte probleme waarmee hierdie nomadiese gesin te doen het, ook die feit dat hulle vegetariërs is.

Die leser se verbeelding word aangewakker deur die proses waarin sy haarself inleef in die lewens van ander, asook die erkenning van motiewe en simbole, die bekende en die onbekende omgewing en gebeure. Letterkunde het dus ook ’n estetiese funksie, dit kan die ander funksies transformeer deur ’n ewewig te skep en moralisering te voorkom. Dit gebeur in Bethel se berg wanneer die leser se aandag op die teks self gevestig word – die genre, narratiewe lyn, fokaliseerder, milieu, intertekstualiteit, intrige en spanning (soos hierbo genoem) wat geskep word met die kreatiewe taalgebruik van Bethel waar sy die werklikheid telkens met vernuwende vergelykings waarneem en verwoord. Op hierdie manier raak die leser bewus van die kreatiewe krag van taal. Voorbeelde hiervan is die volgende – ek noem maar ’n paar met waardering:

  • “Twee verkluimende lepels teen mekaar word later saam oukei” – sy en Max lê lepel in die kombi(6);
  • “Dié boom het mos bolletjies. Trosse bolletjies, maar dit is nie druiwe nie. Die bolletjies is te groot om druiwekorrels te wees. Max was reg. Die trosse wildevye van die wildevyeboom waaronder ons slaap, lyk werklik soos enorme druiwetrosse in die maanskyn.” (12);
  • “ons het van ons goed op die dak begin verloor en die tentseil het plek-plek soos ’n valskerm oopgegaan” (18);
  • “Ons het ingetrek onder ’n boom wat soos ’n groot groen sambreel op ’n dik bruin steel langs die pad gestaan het” (20);
  • “Hy [Jimi] het soos ’n verspieder op ’n uitkyktoring bo ons gesit.” (20);
  • “Ons het ’n slag gehoor wat geklink het soos ’n opeenvolging van heavy-metal-akkoorde op stereo: staal teen rots, glas wat breek, vrag wat tuimel, die geloei van ’n toeter wat vashaak, die enjin wat soos duisend gryssnyers brul en dan op droë grond borrels sluk en stil word.” (21);
  • “Hulle het net van die ingeduikte flessies begin gryp ... die bottels grondboontjiebotter weggedra soos miere wat op sade of dooie insekte afgekom het.” (23);
  • “Dit was nie net die vorige skool se Wiskunde wat soos ’n stuk geruite lap uit my brein geskeur het nie.” (36);
  • “Petrusburg se skoolklaskamers was soos ’n fort se klipmure om die binneste vierkant.” (38);
  • “Hy [Jimi] het uit die duik gebreek en net doellyn toe bly hardloop soos wat ’n verspringer in die lug bly hardloop wanneer hy die hitch-kick-ding doen.” (41).

Die maatskaplik-sosiale funksie behels dat die bedoelde leser aan die einde van puberteitsfase gehelp word om te sosialiseer deur kontak met jeugliteratuur, want sy maak keuses sonder die invloed van haar portuurgroep. Deur die lees van Bethel se berg maak die leser kennis met die samelewing se vooroordele, gedragspatrone, waardes en norme – veral in terme van die diversiteit van kulture en geslagte, beroepe, godsdienstige rituele, ryk en arm. Deur Bethel se lewe word die leser bygestaan in die proses van aanpassing, en leer watter rolle sy moet en kan speel in die samelewing – spesifiek kan in Bethel se berg verwys word na moontlike verwerping van Anna deur haar ouers, Bethel en haar boeties se nomadiese enkelouerbestaan, en Bethel en Jimi se deelname aan skoolaktiwiteite ten spyte daarvan dat hulle albei al weet hulle durf nie betrokke raak nie, omdat hulle vriendskappe enige oomblik beëindig kan word as hulle ma besluit om verder te ry. Kultuuroordrag vind plaas in die skool, by Miss Holman met haar britse Engels en Victor Frankl se bydrae tot logoterapie, Hes en Elias se ouma wat aandring daarop dat hulle oupa se graf skoongemaak word op die dag wat hy sou verjaar (80). Bethel leer ken só haar vryheid, regte en verpligtings, ook dat sy kan kies hoe om gebeure te interpreteer en hanteer. Die individuele leser word onbewustelik deur Bethel se berg begelei om haarself te sien as deel van ’n geheel, aldus Carlsen (aangehaal in Ghesquiere 1993:120):

Literature by its very nature is selective and suggests integrations, connections, insights into experience, and values which the individual [reader] might not otherwise find for [herself]. At best literature confronts the reader with the basic eternal problems of human beings, thus helping the individual to see [herself] as a part of an ongoing history.

Indien die leser blootgestel word aan betrokke ("engagement") literatuur, kan ook haar etiese standpunt ontwikkel word in die ontginning van die probleme van menswees. In Bethel se berg is laasgenoemde waar omdat die karakters uit verskillende kulture en samelewingsgroepe afkomstig is in apartheid van Suid-Afrika vóór 1994, en die leser met karakters (uit verskillende bevolkingsgroepe) se optredes gekonfronteer word.

In terme van kulturele geletterdheid26, slaag Bethel se berg as multikulturele jeugliteratuur deur ’n akkurate en gebalanseerde uitbeelding van ’n multikulturele wêreld uit te beeld, ook dat daar interkulturele versoening ten spyte van verskille is. Hiertoe dra die karakters se kontekstuele oriëntasie – Bethel se gesin en grootouers, ook hulle helper, Antie Heavenly Breedt en haar kinders: Cassidy, Cheslin, Angel, Noah en Barnaby (111) – by tot die oplossing van ’n kontekstuele vraagstuk in die apartheidsjare (naamlik liefde teenoor haat en verwyt, samewerking en hulp aan anderskleuriges).

Bethel se kreatiewe taalgebruik en die seuns se humor is verdere uitbeelding van kulturele geletterdheid. Soveel spanning as wat daar is, is daar ook verskeie humoristiese situasies en sêgoed wat help om die spanning te verbreek. Lesers sal saam met my hulle kan verkneukel in die reeds gemelde voorbeelde hiervan, ook wanneer Jimi sy oral doen, al die kinders in die gehoor aan sy lippe hang en dat dit klink of daar “tien swerms bye in die saal” is (75–7). Dit is ook lagwekkend wanneer hulle by die grafstene is en Max dink “elke keer skryf hulle van granate” as daar op een grafsteen ’n aanhaling uit die Nederlandse Bybel is: “Uit Zijn volheid hebben wij allen ontvangen, ook genade voor genade – 1 Joh. 1:16” (81–2). Dan help Bethel hom om te verstaan dat die mense eintlik “genade” bedoel en nie “granate” nie en sy moet verduidelik wat “genade” is. Nog ’n kostelike situasie gebeur wanneer Richie by hulle ouma en oupa se huis ’n “hand vol gemmerkoekies uit die bakkie op die kombuistafel” gryp. Max kyk eers of “Ouma vir Richie klap” en vlieg toe terug “om die voorraad aan te vul” (141–2).

6. Slotopmerkings

Ten slotte wil ek meld dat die karakterisering en dialoog geloofwaardig is en dat die skrywer ’n ryk sekondêre werklikheid (vgl Tolkien, in Combrink 1990) geskep het in Bethel se berg, waar die fiktiewe tydruimte ooreenkom met die primêre werklikheid. Alhoewel dele van die sekondêre wêreld van die skrywer en primêre werklikheid van die leser in Bethel se berg moontlik dieselfde aard het, is hulle nooit identies nie. Die transformasie van die skrywer se verbeelding tot storielyn nooi die jeugdige uit om deel te neem aan die leesaktiwiteit, en sodoende haar eie fantasieë te laat aansluit by wat in die teks voorkom.

Ek is van mening dat die teks en veral die karakters se effek op die leser kan lei tot ’n verbeterde selfbeeld en selfrespek. Soos aangetoon hierbo, is die literêre kwaliteit (styl, register en genre, karakterisering, agtergrond, spanning en konflik, intertekstualiteit, universele waardes, verteller en fokalisering) van hoë gehalte. Ook is dit duidelik dat Bethel se berg lesergerig is. Daar is ’n akkurate en gebalanseerde uitbeelding van ’n multikulturele wêreld en ’n menswaardige beeld van ander kultuurgroepe – karakters is gebalanseerd en het gelyke waarde. Die taalgebruik is werklikheidsgetrou en nie kunsmatig of vol stereotipe dialek nie. Hoewel die teks morele waardes en etiese beginsels uitlig, kom dit nie as sedelesse of preke na vore nie, ook nie as politieke propaganda nie.

Die kreatiewe vergelykings en metafore, ook die outentieke taalgebruik, die gebruik van humor, die digverweefdheid van karakters en gebeure is uitsonderlik. Ek meen dat hierdie novelle veral kan bydra tot vernuwing in Afrikaanse jeugliteratuur binne die genre van memoires of herinneringsnovelles. Die lees en herlees van hierdie jeugverhaal was vir my as leser ’n verfrissende en verrykende leeservaring.

Eindnotas as verwysingsbronne

1 https://af.wikipedia.org/wiki/Maretha_Maartens#Eerbewyse

2 https://www.litnet.co.za/lapa-jeugromankompetisie-2019-n-onderhoud-met-maretha-maartens/

3 https://lapa.co.za/kinder-en-tienerboeke/kinderboeke-11/bethel-se-berg

4 Rosenblatt, L. 1995. Literature as exploration. 5de uitgawe. New York: Modern Language Association.

5 Rossouw, M.A. 2013. Lesertipes. In T.T. Cloete. Literêre terme en teorieë. Beskikbaar by: http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/19-l/108-lesertipes

6 https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-offers-vir-die-vliee-deur-fanie-viljoen/

7 Burger, W. 2018. Die wêreld van die storie. Pretoria: Van Schaik-Uitgewers.

8 www.boekwurm13.wordpress.com

9 http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/24-r/1241-roman-nl

10 Steenberg, E. 2013. Jeugliteratuur. In Cloete, T.T. Literêre terme en teorieë. Pretoria: Haum Literêr. Beskikbaar by: http://www.literaryterminology.com/index.php/j/78-jeugliteratuur

11 Daar word deurgaans verwys na die vroulike voornaamwoorde vir die bedoelde leser (sy/haar) omdat die hoofkarakter (Bethel) ’n   meisie is. Indien seuns hierdie boek lees, sal dieselfde identifikasie nie presies kan plaasvind nie, maar die groei in karakter wel.

12 Du Plessis, M. 2020. Novelle. In T.T. Cloete. Literêre terme en teorieë. Beskikbaar by: http://www.literaryterminology.com/index.php/n/150-novelle

13 Bal, M. 1986. De theorie van vertellen en verhalen. Muiderberg: Coutinho.

14 Rimmon-Kenan, S. 1983. Narrative fiction: Contemporary poetics. London : Methuen.

15 Greyling, F. 2009. Die skepping van die fiksionele wêreld in kinder- en jeugliteratuur deur middel van die kreatiewe  gebruik van paratekstuele elemente. Mousaion, 27(2):209–26.

16 Genette, Gérard. 1997. Paratexts: Threshold of interpretation. Vertaal deur Jane E. Lewin. Cambridge: Cambridge University Press.

17 https://www.litnet.co.za/bethel-se-berg-deur-maretha-maartens-n-resensie/

18 https://en.wikipedia.org/wiki/South_West_Africa

19 Du Plessis, H. 2013. Die skep van ruimte in ’n roman, met verwysing na die drie koepelromans van Hans du Plessis. LitNet Akademies, 10(3):341–61. https://www.litnet.co.za/die-skep-van-ruimte-in-n-roman-met-verwysing-na-die-drie-koepelromans-van-hans-du-plessis/#Artikel

20 https://www.litnet.co.za/aspekte-wat-kinders-se-leesmotivering-beinvloed/

21 Steenberg, E. 2013. Jeugliteratuur. In T.T. Cloete. Literêre terme en teorieë. Beskikbaar by: http://www.litterm.co.za/index.php/j/78-jeugliteratuur

22 https://en.m.wikipedia.org/wiki/Woodstock

23 Combrink, L. 1990. Die rol van die leser in die literêre kommunikasiesituasie. Die Unie, 86(7, 8, 9).

24 Rossouw, M.A. 2013. Lesertipes. In T.T. Cloete. Literêre terme en teorieë. Beskikbaar by: http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/19-l/108-lesertipes

25 Ghesquiere, Rita. 1993. Het verschijnsel jeugdliteratuur. Amersfoort: Acco Leuven.

26 Combrink, L. 1996. Kulturele geletterdheid en multikulturele onderwys. Tydskrif vir Taalonderrig, 30(1):1–16.

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen 

LitNet Akademies-resensie-essay: Baster deur Jan Vermeulen

Jeugboeke met Johannes: ’n Zoom-gesprek met Maretha Maartens

Bethel se berg deur Maretha Maartens, ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top