Chemo

  • 2

“Hashtag lêers en admin.”

Lucky het haar vertroueling geword; sy kan haar frustrasie met die verpleegpersoneel in sy rigting uitsis.

Hy wip van die kant van die hospitaalbed af op, lig sy selfoon en neem ’n foto van die saalpersoneel by die diensstasie. Hy lê maklik die aanbreek van die driekwartier vas waartydens die kankersaal op stuuroutomaat voortfoeter en pasiënte wat verstik, sterf of uit ’n bevuilde doek gehaal wil word, self deur hulle dilemmas moet kom.

“Los dit net, Lucky.” Haar seun se oë en stem het saam hol geword, saam ingesink, onredbaar.

“Maar dis ’n bewysstuk, Leon. Hoe lank lê jy al en wag dat iemand jou moet kom skoonmaak? Hel, Bra, was dit nie vir die pype en sakke en goed aan jou nie, het ek dit self gedoen. En jou dan onder die stort gekry.”

Só, kakebeen op twee saamgevoude hande, lê hulle as hulle op hulle laaste is. ’n Enkele vriend bly in die privaatkamer oorkant die diensstasie, rakel iets op wat lankal nie meer saak maak nie: “Onthou jy daardie tyd toe jou ma bang was jy trou eendag met ’n Chinkie, en Chen Li bel om te hoor waar jy draai en jy ruik soos death warmed up?”

Gaan shower, man. Jy het weer jou ma en my pa se lykshuis huis toe gebring.

Lucky het eintlik maar saam met Leon in die lykshuis grootgeword.

Ná Leonard se selfmoord moes sy selfonderhoudend word. Sy moes dikwels stad toe ry. Haar kop was uitgehaak, haar verstand benewel, haar sig aangetas. Die grafstene in die begraafplase by Botshabelo het vir haar soos skroot in groot skrootwerwe gelyk. Soms soos tente in ’n vlugtelingkamp. Ja, het sy gedink: daar is onwettige immigrante daar. Hulle het na dié skuilplek gekom, gehoor dit is wat die naam beteken. Skuilplek.

Sy het die begrafnisstoete begin opmerk, veral soggens vroeg, wanneer die towenaars van die nag slaap en sowel die lewendes as die gestorwenes veilig is.

Hoe is dit moontlik, het sy een middag laat op pad terug gedink, dat ek dié grafstene tussen die rante, dié tientalle kruipende begrafnisstoete, nog nooit raakgesien het nie?

Sy het Magasane Phali gaan spreek. Hulle het die tandemsprong gewaag, die kursus gedoen, geslaag, ’n vervalle huis, toonbanke, rakke, verf en ’n koeler gekoop en die deure van Phali & Lotz Funeral Services drie maande later vir meestal bedroefde mense van alle stande en kulture oopgemaak.

Magasane Phali, Lucky se pa, was haar geestelike mentor, valkoog-informant, selfaangestelde lyfwag, en moeilike mede-eienaar van Phali & Lotz Funeral Services.

“Dié man word veras, Miss Maggy. Die begrafnis is oor vier uur. ’n Dokter moes sy pasaangeër kom uithaal het: ons kan hom nie so in die kis sit nie.”

”Hoekom nie, oom Phali?” Leon was so tien jaar oud gewees, sy irisse helder soos nuwe albasters.

Lucky het sy vinger oor die uitstulping laat gaan. “Hoe lyk ’n pasaangeër, Ntate? En wat kan gebeur as hulle hom so veras?”

“Daardie ding kan in die oond ontplof; niemand mag met ’n radio-aktiewe inplanting in die krematorium se vuur ingaan nie.”

Magasane Phali het vreemde voorwerpe raakgevoel en -gekyk. Hy het die wense en eise van die voorvaders, die nagwake, die asbesmeerde vensters en toegedekte televisiestelle van die week voor die begrafnis vir haar verduidelik. Hy het haar geleer van die plek van die naaste familie aan die een kant van die graf, die bose planne van toordokters en hekse, die rites van gestorwenes wat ’n bottel met grafgrond vul en daarmee in ’n prosessie huis toe gaan.

“Die een wat afgesterf het, loop saam met die een wat die grond dra na die huis waarin hy saam met dié wat nog lewe kom bly. Maar hy en al die ander voormense saam met hom laat hulle nie pla nie. Hulle rus en hulle supervise.”

Dit was hý wat die note uit die kontantlaai gehaal het. “Gaan Pep Stores toe, Lucky en Leon. Koop ’n XXXL bra, die goedkoopste wat julle kan kry. Toe, julle moes al terug gewees het!”

Gereeld het die twee op hulle fietse gespring: Leon voor, met Lucky wat hom altyd inhaal en verbysteek. Wanneer die naasbestaandes vergeet het om netjiese onderklere saam met die kisklere af te gee, het Magasane Phali gesorg dat die lyk reg aangetrek kom: “Enigeen kan die antie se rok kom oplig, Miss Maggy. Of die laken voordat ons klaar met haar is.”

Lucky het Leon se inkontinensieluier met die inkom in die kamer geruik. Hy het met die oë beduie: “Weer diarree? Hulle het tog die samestelling van die buisvoeding verander?”

“Sorry,” het Leon gemompel. “Ek stink. My ma het vir die suster gaan vra dat iemand ...”

Lucky op die kant van die bed, linkerhand op die ploegskaarskerp heup onder die laken. “Ek ruik niks nie.”

“Dan is jý vrek siek, Bru.”

“Oukei.” Lucky frons. “Onthou jy wat my pa altyd gesê het? Dít is waar die kwaliteit van ’n begrafnisondernemer se werk wys: onder die laken.”

’n Wenkbrou wat lig, irisse dof soos sestig jaar oue albasters.

“Dit, Bra, is waar die kwaliteit van dié hospitaal se diens wys: onder die lakens. Ek sal hier opstaan en hulle iets gaan aandoen.”

“In jou ‘hashtag fees must fall’-T-shirt? Jy gaan die sesde student wees wat in hegtenis geneem word, Lucky.”

“Maar jy ... dis so ’n damn uphill battle vir jou, en hulle ...”

Lucky het die onkoloog se term sy eie gemaak: opdraande stryd.

Wat hy geweier het om te aanvaar, was Leon se galgehumor in die tyd toe hy nog die krag gehad het om ’n ordentlike gesprek te voer: “Eendag sal jy vir jou vrou en kinders kan vertel jy het ’n pel gehad wat met ’n klein oumansmoesie op sy neus gebore is. Eendag het die dokter besluit dat ’n tiener nie met so ’n oumensding op sy gesig moet rondloop nie, toe word dit uitgesny. Drie jaar later was dit ’n melanoom, die vinnigste soort velkanker aan die mens bekend. En so kon jy en jou pel toe nie saam varsity toe gaan nie. Eendag sal jy vir jou kinders van twee uphill battles vertel, jou struggle en jou pel s’n. “Dat jou pel nie aan ’n melanoom op sy neus wou doodgaan nie ...”

“En dat ék nie my kanse in die lewe waaroor ons by Phali & Lotz Funeral Services gepraat het, soos ’n klomp pasaangeërs in ’n krematoriumoond wou sien ontplof nie.”

“Kom sit hier, Lucky.”

Die toneel is onwerklik, onmoontlik. Weer en weer word dié oomblikke in die mens ingebeitel, ingekerf. Iewers kry jy jou beurt; iewers is jy die sandsteen, die ma wat alles sien kom, die een wat wil breek en nie mag nie.

“Dink jy my chemo gaan werk?”

Die kontrolepuntinhibeerders met hulle newe-effekte, die noukeurig-geteikende terapieë, die interferon, die Temodar en DTIC, die biochemotarapie-eksperiment. Dit kan sy tumors laat krimp, Mevrou, maar die prognose by fase 1V ....

“As jy nie jou uphill battle geveg het nie, Bra ... As jy dit nie gedoen het nie, was jy dalk nou al jammer.”

Hulle gesigte is na aan mekaar; waar paaie uitmekaargaan, fluister dié wat ’n rukkie lank saam geloop het, hulle woorde vir mekaar.

“En fees must fall, Lucky?”

“Black Lives Matter in die VSA, die Slut Walk teen verkragting ... Dit het mense laat dink. Dit is die begin van verandering: om mense aan die dink te kry. Partykeer werk dit wat mens waag, partykeer nie. Geen protesoptog in die wêreld kon keer dat die Amerikaanse bondgenootskap Irak sou inval nie.” 

Hulle het die pad tot by hierdie plek geloop. Hulle grootworddorp was in die middel van oukakiebruin wintervlaktes, ’n onbelangrike gehuggie met ’n kerk in die middel daarvan, ’n laerskool en klein biblioteek. Hulle het lank geglo dat dit die middelpunt van die aarde is, die wêreld. Lucky het later deur die skrefies na buite begin kyk en prokureurs, advokate en hofsale anderkant die vlaktes gesien.

 Leon het teen sy neus vasgekyk. So het hy op ’n dag, lank voordat hy na hierdie plek gebring is, gesê.

“Ons gaan dit máák werk,” hoor sy Lucky sê. “ Jy gaan jou fight wen, Bru.”

Natuurlik glo Lucky homself nie meer nie.

Haar seun is moeg, die opdraand is vir hom te steil. Sy stem is soos sy oë: besig om weg te raak. “Eintlik is alles in die lewe ’n uphill battle. Gaan doen jou march, Bra. Voluit.”

Hoe woedend was sy nie oor die verwoesting gewees nie. Die ondankbaarheid, die onverantwoordelikheid van die studente, die disrespek! Maar vir Leon kon sy dit nie sê nie; hy was te siek, sy stryd was te groot.                                

Lucky staan op. Die hande wil nie laat los nie. Dit is asof ’n sterker mag hulle van mekaar af moet losskeur.

Hy loop by die laaste kamer van die kankersaal uit, die sterfkamer. Haar seun draai sy kop, lig sy hand asof in ’n klein saluut. Sy lippe, sien sy, begin weer bars. Hy haal weer vlak asem; dit gaan ’n lang nag wees.

Ek gaan aan ’n moesie op my neus sterf, Lucky. Aan velkanker. Die melanoom het hom nie laat keer nie; die kanker is my hele lyf vol. Niks kan dit stuit nie. My chemo werk nie.

Lucky maak ’n gebaartjie in haar rigting, vlug buitentoe.

#FeesMustFall skreeu die woorde op hemp. Sy rug is krom soos dié van ’n ou man wat met ’n swaar bondel op sy skouers oorlog toe gaan.

  • 2

Kommentaar

  • annette le Grange

    'n Menslike goed ingevlegte storie met ja, al die opdraandes en hoop en laastens so mooi bymekaar gebring met "fees must fall" en die naderende dood van 'n flippen moesie, jy is so goed Maretha Maartens, ek het lekker gelees en gaan nog baie lank aan die storie dink. Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top