Maretha Maartens, bekende Afrikaanse skrywer, het die lewensverhaal van Elsje Neethling-Blair, oud-Volksblad-verslaggewer, kankerbevegter en suster van Ryk Neethling, neergepen. Die boek, Ek droom van ’n droom, word eersdaags vrygestel. LitNet se Henry Cloete, wat saam met Elsje by Volksblad gewerk het, het ’n paar vrae aan haar gestel.
Titel: Ek droom van ’n droom
Skrywer: Maretha Maartens saam met Elsje Neethling-Blair
Uitgewer: CUM
ISBN: 9781431603411
Klik hier om Ek droom van ’n droom te koop by CUM Boeke.
Hi Elsje, hoe gaan dit vandag?
Hi Henry! Of sal ek eerder sê: “Oh Henryyy!"? (Inside joke.)
Ek onthou toe ek as jong laaitie in 2007 by Volksblad begin werk het, was jy een van die enigste persone wat onmiddellik vriendelik, entoesiasties en verwelkomend teenoor my was. Dit is karaktereienskappe wat baie mense in jou herken – waaraan skryf jy hierdie ingesteldheid toe?
Ek is/was maar altyd ’n groot ekstrovert. Ek besef elke dag hoe baie ek ander se pyn en onsekerheid en swaarkry aanvoel. Beter as ander mense. Ek dink seker maar omdat ek self swaarkry, swaargekry het en pyn ken ... Sjoe dis diep! Hehe! Ek praat maklik met vreemdelinge en dit maak juis baie deure vir my oop – ek kry makliker stories en dit maak my lewe so interessant. Al die car guards ken my al en die mense wat groceries pak ens. Ek voel: "Never look down on someone unless you're helping them up" – net so diep, nè?! Hehe!
Maar om eerlik te wees: ... my siekte het my geleer dat pyn en lyding – so ’n alledaagse deel van ons lewens – ons almal gelyk maak. Maak nie saak of jy die koningin van Engeland is of die straatveër nie. Ek het al so awkward gevoel in vreemde plekke dat ek baie keer gewens het iemand wil my hand vat en my meer tuis laat voel. So leer mens maar deur jou lewenservarings. Ek het baie begrip vir ander. Dit het kanker en swaarkry my geleer.
Die boek oor jou lewe, Ek droom van ’n droom, word binnekort vrygestel. Hoe het dit gekom dat jy saam met Maretha Maartens hieraan gewerk het?
Ek wou nog altyd ’n boek skryf oor alles wat al in my lewe met my gebeur het. Mense wat my ken, het al baie vir my gesê my lewe klink soos ’n fliek – soms ’n moerse sad en dramatiese Danielle Steele-boek of iets wat jy net in sepies sien. Haha. Ek kan myself in die vreemdste situasie bevind op die onmoontlikste tye en plekke. My lewe was rêrig tot dusver net ’n surreal adventure gewees. Ek kan stories vertel wat jou hare sal laat rys, jou in jou beste pantie sal laat pie van die lag, jou skaam sal laat kry en jou laat dink. En ek wil dit met mense deel. Soort van vir mense ook sê: "Hey, I've lived life. And oh, how have I!? Read this" – en dan: "I've made it through all this crap. And I'm still smiling. You can do it as well. Life's not so bad if you're healthy and at least one person loves you."
Mense vra my ook so baie oor my lewe – hoe ek al 18 jaar lank kanker gehandle het en steeds "sane" is – wel, in ’n mate – jy weet!
En ek het half moeg geraak vir myself. Om dieselle storie oor en oor te vertel – ha! – toe besluit ek: kom ek vat dit alles saam in een boek – al die treurmare, histeriese oomblikke en Huisgenoot-berigte en -artikels – en sê volgende keer net: "Um, gaan lees my boek." Haha!!
Die doel met my boek is hoofsaaklik om vir ander hoop te gee, om mense aan te spoor om sonder haat en verwyte en grudges in hul harte rond te loop. Om moed te hou – want daar is altyd hoop. Maak nie saak waar in jou lewe – in hoe ’n diep en donker gat – jy jou bevind nie – daar is hoop. ’n Spreekwoordelike lig aan die einde van die tonnel.
Jy is self ’n oudjoernalis en dus woordvaardig. Het jy dit nie oorweeg om ’n outobiografie te skryf nie?
Ek het so te sê vir 14 jaar lank notas van my ervaringe neergepen op alles wat ek op kon skryf – vuurhoutjieboksies, hospitaalmenu’s, besigheidskaartjies, selfs in ’n kinderinkleurboek! Ek het my lewe lank dagboek(e) gehou van alles. Ek wou dit verwoord, ’n kunswerk daarvan maak – toe word die boek gebore. Ek moes mooi daaroor gaan dink. Soos hoe ek sou begin en sou iemand belangstel om my storie te hoor. Ek is goed met woorde, maar die skrywer-sy, met ander woorde die kommunikasie met uitgewers en handelaars ens, was vir my duister. Ek het vir Maretha Maartens in 2010 op Facebook gevra of sy sou belangstel om my boek te skryf en my te help om my gedagtes te orden. Ek het leiding nodig gehad en wie beter as ’n gesoute en gerespekteerde skrywer soos sy? Ons het so heen en weer gesels oor die gedagte, maar eers einde 2010 daadwerklik bymekaargekom en begin werk maak daarvan. Ek het net gevoel: my tyd is min, so doen dit nou. Ek het ’n klomp goed op my "bucket list" gehad om af te handel, en om ’n boek te skryf was heel boaan. Dit het glad nog nie ingesink dat my boek uiteindelik klaar is nie. Wow! Dis surreëel!
Op daardie noot: Jy moes sowat twee jaar gelede weens jou gesondheid jou loopbaan in die joernalistiek vaarwel roep. Wat mis jy daarvan en waarmee hou jy jouself besig deesdae?
Ek het net nadat ek medies ongeskik verklaar is, by die huis begin skryf – goed van my dagboek oorgetik en gesave ens, ek was so bang ek mis Volksblad en dat ek depressief sou raak. So toe gooi ek al my aandag in die boek in. Ek het sedertdien nog nie rêrig opgehou skryf nie, so ek het nog nie rêrig kans gehad om dit te mis nie. Ek mis die stories soek, die mense saam met wie ek gewerk het – soos jy! – dr Phil! – en om stories te vertel en deel te wees van ’n span. Dis die awesomste mense – joernaliste! Ek sal altyd in my hart ’n joernalis wees. Altyd. My ore spits steeds as ek twee mense hoor praat oor ’n ongeluk of iets vreemds. Hahaha!
Ek het my kralebesigheid in 2008 begin – terwyl ek nog by Volksblad gewerk het. As ek na 19:00 by die huis gekom het, het ek begin krale ryg en dan eers 02:00 gaan slaap! Hahaha! So dit was lekker om darem ’n stokperdjie te gehad het om op terug te val. ’n Uitlaatklep vir my frustrasies en emosies. My kuns. En nou is my stokperdjie my lewe. Ek love dit en dit vaar baie goed. My krale word ook in Los Angeles verkoop.
Jy kom uit ’n bekende sportfamilie en was self ’n kranige swemmer, maar moes dit laat vaar nadat jy op 12-jarige ouderdom die eerste maal met breinkanker gediagnoseer is. Wat onthou jy van die uitdagings van daardie tyd? Hoe het dit jou karakter gevorm?
Ek onthou net die dag wat dokters vir my ouers gesê het in 1992 – ek was 12 – dat ek drie maande oor het om te lewe. Ek het ’n erge migraine gehad en niemand het geweet wat's fout met my nie. Ek was baie naar en duiselig ens. Ek weet nou vir seker dat die Here my in Sy palm toegevou het, want ek het net so veilig gevoel en soos ’n kind bly glo hierdie ding gaan oorwaai – dat ons almal eendag hieroor sal lag. Ai. My ouers het my so ondersteun – dis amazing waardeur hulle moes gaan en dat hulle dit oorleef het. As tiener wou ek net normaal wees – elke dag na bestraling-behandeling het ek aangedring dat ek skool toe gaan na my pelle toe. Ek het met almal baklei as hulle wou hê ek moet eerder rus en slaap. Ek wou alles doen wat normale kids gedoen het, en ek wou hê mense moes my so behandel. Normaal. Ek het egter al baie seergekry deur mense se woorde en ek onthou hoe kinders vir my kaal kop gelag het. Daarom het ek meer begrip vir mense wat anders of net nuut is. Ek weet hoe dit voel. Ek het ook geleer om nie oor die klein goedjies te stres nie. Terwyl my pelle gestres het oor ’n puisie, was ek besig om vir my lewe te baklei. Kanker gee jou perspektief.

Sedertdien is jy bykans deurentyd onder die wolk van ’n potensieel verswakkende gesondheidstoestand. Wat dryf jou om positief te bly en hoe word dit in die boek uitgedruk?
Ek probeer om my siekte nie te veel mag te gee nie – met ander woorde, ek dink nie te veel daaraan nie. Jy sal amazed wees hoe baie mag jy ’n kwessie gee sodra jy heeltyd daaraan dink en wonder. Ek leef net vir elke dag, omdat ek nie kan bekostig om te stres oor môre nie. My lewe het my dit geleer – ek sou dood gewees het as ek moes stres oor wat oor ’n jaar of oor ’n week met my gaan gebeur. Ek lewe met soveel dankbaarheid elke dag. Ek omring myself met positiewe mense en ek lag moerse baie – jy weet dit. Ek is bevoorreg om die lewe van so ’n sunny angle te sien. Dis awesome. Ek sukkel nou om te loop na bestraling – ek's al in ’n rolstoel, maar dit gaan my not de donner keer om elke dag te trý opstaan en die wêreld te gaan verken nie. Daarvoor is ek te nuuskierig. Ek glo mens moet nooit daai kinderlike verwondering vir die mundane dinge in die lewe verloor nie. Ek sal nie blasé raak oor goed nie, want as jy nie meer kan opgewonde raak oor goed nie en jy nie meer vir jouself kan lag of die potensiële komedie in die alledaagse kan raaksien nie – dan, dink ek, het jy jou chutzpah! jou oemf! vir die lewe verloor. Mense moet ophou soek vir die wonderwerk en ophou soek vir God – because we are it. Ek glo God resides in all of us in every living being on earth. Ek glo dat wonderwerke orals om ons is. Die feit dat jy asemhaal, is al klaar ’n miracle! Rêrig. So die boek gee ook daai boodskap van: Stop looking for the magic. You are it!
Wat hoop jy neem mense weg met hulle ná of tydens die lees van jou boek?
Dat ons op aarde is om ander te help. Dat ek hier is omdat die Here my gespaar het en dat ek nie "special" of uitgekies is net omdat ek 18 jaar se hel deurleef het nie. Die krag om jou drome te vervul en aan te gaan lê in elkeen van ons. Mense sê te gou: "Sjoe, Elsje, as dit wat met jou gebeur het, met my moes gebeur het, sou ek al lankal dood gewees het." En dit is glad nie waar nie. Jy moet sterk wees as dit jou enigste keuse is – om sterk te wees. Jy weet nie hoe jy dit doen nie – maar God weet. Hy gee jou daai krag. Ek wil ook hê mense moet wakker word en besef waaroor die lewe gaan. Ek meen, maak dit rêrig saak as jou hond die banke vuil trap? En of jy mooi genoeg is vir wie of wat, because in the long run, my friend, that stuff ain't gonna bring you nowhere when the time comes and when your time is done here. Fokus op dit wat belangrik is. Ek wou ook ’n tribute gee aan al my "kanker buddies" – die pelle wat ek deur kanker in die hospitale gemaak het. Wat die seer sonder woorde kon verstaan en altyd daar was vir my. Ek hoop die boek skep ook bewustheid onder mense dat as dit by kanker kom, is vroeë diagnose beter as om dit te try fight. Dat kankerlyers met ’n lewenslange skadu van onsekerheid rondloop, maak nie saak of jy in remissie is of nie. Ons word gebrandmerk deur kanker. Dit los jou nooit werklik nie. En ek hoop mense kry meer empatie hiervoor. Dat hulle meer begrip vir ander se swaarkry kry. Dat ons kankerlyers nie altyd wil sê hoe ons voel nie, want om die kanker te fight is klaar ’n groot genoeg fight, wat nog gepraat van om jou stem dik te maak oor jou gevoelens. En ek hoop dat dokters ook bedside manners kan leer en besef dat hulle somtyds arrogante koue houding baie diep letsels laat vir siekes en hul gesinne. Dat hulle bietjie meer mens moet word.
Hierdie boek gaan baie mense se lewens verander. Dis huge. Soveel lesse, nie genoeg bladsye
in die wêreld nie ...
- Kyk hier na Volksblad se onderhoud met Elsje en Maretha Maartens:


Kommentaar
Elsje - ek val met die deur in die huis - ek het gelees van jou boek oor jou pad met kanker. Jy is net so jaar voor ons dogter gediagnoseer met kanker sy was 1993 - net ses maande gehad om te leef.
Ek is besig met 'n studie oor hoe die prediking iemand met kanker geaffekteer kan begelei tot hoop /berusting en oorwinning.
Sal graag wil hoor - die rol van die kerk / kerkmense / gelowiges in hierdie tyd van jou hantering van kanker.
Laat weet of so iets moontlik is.
Dankie
Darius Botha