LitNet se Afrikaanse woord van die jaar 2018

  • 15

’n Woord kan ’n tydsgees vasvang.

  • In 2013, toe LitNet die eerste keer LitNet se "Suid-Afrikaanse woord van die jaar"-kompetisie aangebied het, was die woord op almal se lippe "e-tol".
  • Een van 2014 se mees emotiewe woorde was "beurtkrag". (Sien "Woorde van 2014", deur Willem Botha en die WAT.)
  • In 2015 was daar vuurwarm diskoers rondom studenteprotes en hutsmerkveldtogte. Die # is aangewys as wenner.
  • In 2016 het politieke terme die hoogty gevier en "staatskaping" is aangewys as die wenner.
  • In 2017 was die media in die spervuur as gevolg van vals nuusberigte en "fopnuus" is aangewys as wenner.

Wat is 2018 se Afrikaanse woorde wat ontstel, prikkel of die heersende gesprek saamvat?

LitNet sal die volgende boekpakkie toeken aan een woord, die sterkste inskrywing volgens LitNet se redaksie. 

  • Die vertes in deur Zirk van den Berg, Kwela
  • Vandag wil ek my blou skoene dra deur Koos Kombuis, Naledi
  • Opstokers, Fopdossers en Tweegatjakkalse deur Herman Lategan, Penguin
  • Vuurwarm deur Jan Braai, Human & Rousseau
  • Landbou Boerekos deur Arina du Plessis, Human & Rousseau
  • Daar is ’n engel in my koskas deur Willie Strauss, Human & Rousseau

Lees hieronder meer oor hierdie boeke, geskenk deur NB-Uitgewers, Naledi en Penguin.

Indien die woord van die jaar deur meer as een persoon ingeskryf is, sal die wenner deur middel van ’n gelukstrekking bepaal word.

Slegs inskrywings wat per e-pos ontvang word, sal in aanmerking kom. Inskrywings in kommentare op die sosiale media en LitNet sal nie oorweeg word nie.

Kompetisiereëls:

  • Stuur jou woord voor middernag op 10 Desember 2018 aan litnetwoord2018@litnet.co.za.
  • Slegs een inskrywing per persoon.
  • Deur in te skryf, stem jy toe dat LitNet jou mag inteken op die weeklikse nuusbrief wat na jou e-posadres gestuur word.
  • LitNet behou hom die reg voor om geen prys toe te ken nie.

Die volgende boeke is op die spel

Die vertes in

Zirk van den Berg
Kwela
9780795708824

Duits Suidwes-Afrika, 1905. ’n Tyd van oorlog en beroering. 

Die tengerige Siegfried Bock kom as soldaat na die protektoraat om sy staal te wys. Maar hy word gou ontnugter toe hy vergrype aanskou wat hy nie kan vergeet nie. Lisbeth Löwenstein is hier om met ’n man te trou wat sy skaars onthou, ’n setlaar wat vir haar armlastige ouers geld gestuur het om haar tot vrou te neem. Mordegai Guruseb ontsnap uit ’n konsentrasiekamp waar gevangenes van ontbering omkom. Maar kort voor lank word sy vryheid weer bedreig. En dan is daar die mislukte dokter Albert Pitzer wat homself ’n wetenskaplike ag en hoop om data te versamel wat sy teorieë staaf. Alvaus Luipert, ’n plaaslike skoolmeester, duld egter nie sy arrogante aannames en vernederende metodes nie.

In die uitgestrekte, majestueuse landskap van Duits Suidwes-Afrika word dié vyf mense se lot vervleg en elkeen se menslikheid word tot die uiterste beproef.

Vandag wil ek my blou skoene dra

Koos Kombuis
Naledi
9781928426080

Koos Kombuis: "Vandag wil ek my blou skoene dra is my rypword-bundel en ’n geskenk aan myself. Ek het dit geskryf vir my eie plesier. Twintig jaar het verbygegaan sedert my vorige digbundel. Twintig jaar waarin ek drugs gelos, ’n gesin begin en nuwe skoene gekry het."

Opstokers, Fopdossers en Tweegatjakkalse

Herman Lategan
Penguin
9781776091591

Herman Lategan se verhouding met Afrikaans is soos ’n huwelik: stormagtig, uitbundig, wild, liefdevol. Hierdie versameling stories en besinnings uit die immergewilde skrywer se “Woorde wat wip”-rubriek wat tweeweekliks in Rapport verskyn, sal lesers met selfs die stroefste hallelujagesigte opkikker.
 
In hierdie boek kry jy insae in hoe stories rondom woorde gevorm word. Herman kies telkens ’n woord en bou ’n storie om dit. Die inhoud val uiteen as ’n tipe abecedarium – speelse inskripsies volgens die letters van die alfabet, dikwels met woorde wat nie meer alledaags gebruik word nie of die gevaar loop om in onbruik te raak. Herman is nie bang om (soms geniepsige) sosiale kommentaar te lewer nie, en van die stories handel oor verlies, verlange, patos; ander is sommer laf of selfs katterig.
 
Al gewonder wat ’n huilboerboom, meelwurms, kofia, ietsjoebeentjie, sandkombers of kamdebooharpuisbos is? In hierdie boek word dié woorde, en vele meer, geaktiveer as spilpunte waarom heerlike stories verweef is. Ideaal vir proe-proe lees op enige plek waar jy jou sit of lê die lekkerste kry.

Landbou Boerekos

Arina du Plessis
Human & Rousseau
9780798177139

As daar een ding is wat Suid-Afrikaners se harte warm laat klop, dan is dit boerekos. In Landbou Boerekos - van die plaas na die tafel deel kosredakteur Arina du Plessis die gewildste resepte uit Landbouweekblad se trefferkostydskrif, Landbou Boerekos.

Die wye verskeidenheid resepte word met alledaagse plaasprodukte voorberei en sluit smulgeregte met appels, aspersies, beesvleis, druiwe, hoender, kool, koejawels en pampoen in, om maar net ’n paar te noem. Alles van Ouma se bobotie, outydse sousboontjies en wildepastei tot pampoenpoffertjies. En moenie die sagopoeding vergeet nie!
Ideaal vir boerekosliefhebbers, haastige kokke, werkende ouers en bedrywige huisvroue.

Daar is ’n engel in my koskas

Willie Strauss
Human & Rousseau
9780798177498

In Daar is ’n engel in my koskas, ’n kos-memoir, herleef Willie die beste tradisies van grootword wanneer hy sy kleintyd herroep. Hy verander ou treffers soos melktert en plaatkoekies in oorspronklike nuwe kombinasies; wys jou hoe om maklike seekoswenners te maak; koeie word heilig wanneer beesstert en ander resepte ter sprake kom; hy toon dat jy nie met hoendervlerke kan vlieg nie, maar dat engele wel vir ’n mengel-mousse van soetgoed leef en dat nostalgiese disse soos skaapstert hom na aan die hart lê. Met eenvoudige bestanddele word watertandetes blitsvinnig opgetower sodat die engele in jou koskas kan sing. 

Vuurwarm

Jan Braai
Human & Rousseau
9780798178174

Suid-Afrikaners vier elke jaar Nasionale Braaidag op 24 September. ’n Dag vir al die burgers van Suid-Afrika om lekker te ontspan en rondom die braaivleisvure te kuier met hul vriende en familie. Die dryfkrag agter hierdie inisiatief is ’n man bekend as Jan Braai. In die boek gaan Jan verder as algemene raad oor vuurmaak en die braai van steak, tjops, hoender en wors. Beslis ’n moet vir alle braailiefhebbers! 

 

  • 15

Kommentaar

  • Henning Viljoen

    "Grondbesetters" is dubbelspraak in die sin dat die regering dit "amptelik wil doen" en natuurlik die reaksie van die armes op die persepsie wat geskep word dat grond beset kan word sonder die nodige wetlike prosedures/regulasies.

  • Oeps, ek sien "staatskaping" was al met ons in 2016. Hierdie jaar was "Ramaphorie" miskien die gevoel wat hoogty gevier het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top