
Titel: Laat vrugte
Skrywer: Johan Cloete
Uitgewer: BonRo Studios
ISBN: 9781776412570
Johan Cloete het onlangs ’n digbundel met die titel Laat vrugte selfgepubliseer.
Danneline Ramsden het met hom ’n onderhoud hieromtrent gevoer.
Baie geluk met jou digbundel Laat vrugte. Vertel ons waar jou liefde vir gedigte begin het.
Dankie vir die belangstelling en gelukwensing.
Die rym van woorde het my gevang. Die boodskap wat so half versteek is tussen die woorde. Die dieper kyk na die boodskap. My skoolmeesters en -juffroue het dit verder bemes.
Vertel ons meer oor jou grootwordjare in Komaggas.
Komaggas is ’n plattelandse dorp. Wat doen ’n kind hier? Jy word groot in ’n baie beskermde omgewing – by Pa, Ma, ooms, tantes, broers, susters en familie. Almal wat ’n klipgooi van mekaar bly.
Jy gaan skool, Sondagskool, Kinderbond.
Swem in damme en kuile. Werk in die tuine, maak hout in die veld. Verken die buitewyke van die dorp. Speel in die vleiland en gaps vrugte in die tuine. Speel cowboys en crooks in die klipkoppe. Luister na mense se stories.
As kind het jy grootgeword met jou pa se groente- en vrugtetuin. Hoe hou die titel van jou digbundel verband met die vrugte wat jou pa geplant het? Deel jy in dieselfde liefde as jou pa vir tuinmaak?
My pennevrug Laat vrugte verskyn bykans op my 60ste verjaarsdag. ’n Bietjie laat, maar nog nie te laat nie.
Ek is ook ’n ywerige tuinier – my St Joseph-lelies het reeds hul mooie bates gewys hierdie seisoen.
Jy dra die digbundel op aan meester John, jou oud-Afrikaansonderwyser wat ons reeds voorafgegaan het. Meester John het in Dramastraat gebly. Het die naam van die straat enige betekenis met meester John se gawes en talente gehad?
Ek dink nie so nie. Hy het verwys na kinders en grootmense wat gereeld in drama betrokke was om een of ander rede daar waar hy gewoon het. Hy het ’n besonderse manier gehad om hom uit te druk.
In “Waar wil jy” praat jy van Namakwaland en die stad. Het jy enige begeerte gehad om ooit Namakwaland te verruil vir die stad?
Nee, glad nie. Dit bevestig eintlik my verbintenis met Namakwaland.
.........
Die mense van Namakwaland se gasvryheid, vriendelikheid, opregheid, goedheid en hartlikheid word in die blomme weerspieël. Die mooi van hulle.
.........
In “Lente in Namakwaland” praat jy van Namakwaland se blomme. Hoe vergelyk die blomme met ons mense in Namakwaland?
Die mense van Namakwaland se gasvryheid, vriendelikheid, opregheid, goedheid en hartlikheid word in die blomme weerspieël. Die mooi van hulle.
Sal jy sê om te dig en te skryf is terapeuties vir die siel en dat dit bydra tot genesing vir seer en pyn?
Ja, gedigte skryf is ’n uitlaatklep vir emosies, goed en minder goed. Dit het ’n terapeutiese effek. Jy deel wat binne-in jou is. Jy gee mense ’n kyk na binne. Jy sê eintlik: “Hier is ek.”
Komaggas was eens vrugbaar en waterryk. Hoe vergelyk dit met vandag se tyd teenoor jou kinderjare?
Daar is ’n wrede kontras. In my kinderjare het die vleiland geruik na vrugte in seisoen. Lemoen en die salarynbloeisels het ’n buitengewoon aangename geur versprei. Voëls het in vrolikheid gekwetter en gesels.
Vandag is die vleiland en naby omgewing ’n ashoop. ’n Gemeenskap van hul erfenis ontneem.
Watter rol het mynbou vroeër jare gespeel en watter impak het die toemaak van die myne op ons dorpe in Namakwaland?
Mynbou was die ekonomiese hartklop van die gemeenskappe in Namakwaland. Besighede het geleun op die mynboubedryf. Werkloosheid en ander maatskaplike probleme het vererger. Baie meer mense is deesdae aangewese op staatstoelae vir hul daaglikse behoeftes.
Die mynbedryf het ook sy blinkwit era gehad waar baie van ons gedeel het in hierdie voorspoed.
In “Die hande van ma” praat jy oor jou ma. Vertel ons meer van haar rol in jou lewe.
My ma was ’n streng vrou. Sy het die dissipline gehou. Sy't ingeskerp respek, netheid, hulpvaardigheid, selfstandigheid en opregtheid.
Ek’t by haar my liefde vir radiostories gekry.
Watter boodskap wil jy gee aan jong digters wat in jou voetspore wil volg? Voeg enigiets by wat jy met ons wil deel.
Kweek ’n liefde vir lees. Lees wyd. Verbreed jou kennis. Neem waar, ervaar. Neem op die pen. Begin by die bekende en reis voort.
- Bestel ’n kopie van Laat vrugte deur Johan Cloete by info@bonrostudios.co.za
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Skatkis vol stories – ’n onderhoud met Danneline Ramsden
Suidoosterfees 2024: ’n Onderhoud met Miché C van Wyk oor Konsistorie: ’n kabaret
"Dis hartseer dat ek nie gedigte ten volle in Nama kan skryf nie"
Vammelewe se vuurstories vat vlam: Ware verhale uit Namakwaland deur Gert Sarrisam

