Vammelewe se vuurstories vat vlam: Ware verhale uit Namakwaland deur Gert Sarrisam

  • 16

Titel: Vammelewe se vuurstories vat vlam: Ware verhale uit Namakwaland
Skrywer: Gert Sarrisam
Uitgewer: Selfpublikasie, 2020
Prys: R250 (posgeld uitgesluit)
ISBN: 9781990958793  

Verkope van die boek – kontak asseblief: gertsarrisam@gmail.com

Die boek begin met ’n stuk oor die skrywer en vertel dat Gert Cornelis Engelbrecht op 20 September 1944 op die familieplaas Sarrisam in die Sandveld aan die Weskus gebore is. Sarrisam is ’n Namawoord wat, sover nagevors kon word, “fluistering van die wind deur die riete” beteken.

“Gert is die vierde van tien kinders. Weens sy vader se swak gesondheid moes hy die skool ná standerd agt verlaat om hom op die plaas te gaan help. Dis waar sy vader hom geslyp en voorberei het vir die ongenaakbare Namakwalandse boerdery. Hierdie leerskool bly vir hom kosbaar en van onskatbare waarde.

“Hy is getroud met Hestelle Barnard, ’n nooi uit Piketberg se wêreld, wat op Garies kom skoolhou het. Hulle huwelik is geseën met vier dogters en ‘n seun, wat vandag as die vierde geslag saam met sy pa op die familieplaas boer. Hulle ses kleinkinders gee hulle baie vreugde en word baie bederf. Gert is ook ’n geregistreerde stoetdorperteler, en hy en Hestelle bestuur saam ’n gastehuis op die plaas tydens die blommeseisoen.

“Gert se liefde vir Namakwaland en sy mense het hom aangespoor om oor hierdie unieke landstreek en sy besonderse mense te skryf.”

Dit verduidelik sy skrywersnaam en bied ook insig in sy motivering om reeds vyf boeke in sy eiesoortige vertelstyl oor die Namakwaland te skryf.

Dana Snyman skryf in die voorwoord: “’n Mens kan nie aan een ander skrywer dink wat al beter en mooier oor hierdie omtes as oom Gert geskryf het nie. Daarvoor moet ons vir jou dankie sê, oom Gert. Hierdie stories is nie net ’n stuk kultuurgeskiedenis nie. Ons kan ook by jou leer om met meer genade en liefde na ons voormense en almal rondom ons te kyk.”

Ek vind dat die pandemie my sag gemaak het. My tong se punt is minder skerp oor die soms dwase wel en wee van my geliefdes; my brilglase het ’n ligte pienk skynsel vir dié na aan my. Ek hou al meer van nostalgie, ’n tyd toe dinge stadiger en minder ingewikkeld was. Toe ons nog om ’n vuur kon sit en lag vir ander se manewales. Soos Dana sê: toe ons met meer genade kon kyk.

Ek gee die boek solank vir my 91-jarige pa terwyl ek ’n ander boek vir ’n resensie klaar lees. Hy kuier saam met ons op Montagu vir die naweek en op die legendariese hotel se stoep — die plek wat vanmelewe die middelpunt van die dorp se geskiedenis en daaglikse lewe was en weldra weer sal word — sit hy lang tye en lees. En lag. “Jy moet die storie van die vier blinde broers van Dikgat lees!” kom dit van die bank. Hy slurp sy sterk, swart koffie sonder om sy oë vir ’n sekonde van die bladsy weg te haal. Sy oë raak wasig as hy oor Grootmis lees, want sy ma se wortels lê daar.

Toe hy die verhaal van “die geel Willys” lees, loop my pa se gedagtes terug na sy jonkmansdae, toe hy een dag op pad Transvaal toe langs die pad gaan staan het. “Dit was die enigste keer wat ’n kar my só in die steek gelaat het, dat ek jou ma daar moes los en stap na die naaste dorp vir hulp.”

“Toe kon mens nog jou vrou en jou kar langs die pad los,” voeg hy agterna by.

Soos Gert in sy stukkie oor sy lewe noem: “’n Groot deel van ons lewe het reeds verbygevlieg, maar gelukkig het liefde en goeie herinneringe nie ’n vervaldatum nie.” En met my pa sien ek dit eerstehands.

Toe dit my beurt is om die boek te lees, is daar klein stukkies papier by sekere hoofstukke en hier en daar ’n bladsy met ’n honde-oor — seker iets wat my pa wou onthou of vertel.

Ek dink wat ek die meeste van die boek geniet het was, benewens die stories van vervloë dae, oom Gert se manier om goed te stel: “... die voorspoed in Namakwaland het vol in die blom gestaan”; “In die ooste staan die skerp punte van die Spektakelberg soos saagtande wat afloer na die Sandveld”; “Ek het hom al dofweg gehoor ghoeroe”; en “voordagmôre”. Dié woord het my oorlede tannie Kokkie altyd gebruik as sy vroeg opgestaan het om brood in die buiteoond te bak. Nostalgie op steroids!

Die boek is 334 lekkerlees bladsye dik. Die stories kan een-een gelees word, want ’n happie humor en meelewing elke dag is goed vir die siel. Of jy kan, soos my bejaarde pa, vir jou koffie maak, die karringmelkbeskuit nadertrek en pens en pootjies in die boek inval en lees asof die wêreld nie bestaan nie.

Die illustrasies deur Mynderd Vosloo, Fred Mouton en Jacques Verster wat elke hoofstuk voorafgaan, is lig en lekker.

Die stukkies geskiedenis en ou foto’s wat hy gebruik gee goeie agtergrond net wanneer mens wil dink die stories is te snaaks om regtig waar te wees óf in daardie dae het mense net swaargekry.

Die skrywer het ’n groot gevolg en die feit dat hy jou in nostalgie inskryf, is sekerlik een van die grootste trekpleisters. En die feit dat hy al vyf boeke op sy kapstok het, is verdere bewys van sy gewildheid. Maar ek vind dikwels by boeke wat deur skrywers self uitgegee word dat daar ’n sterker redigeringsoog nodig is. Iemand wat onpartydig staan en die onnodige herhaling of langdradigheid kan raaklees en uithaal.

  • 16

Kommentaar

  • Annie Huysamen

    Ek wil baie graag die boek asook die vorige een aankoop. Ek het probeer bel, maar geen sukses. ook gewhatsup - geen sukses.

  • So frustrerend. Hulle gee die boek uit, maar mens kan dit nêrens in die hande kry nie. Geen reaksie uit die nommer op hulle fb blad.

    • Kontakbesonderhede van waar die boek bestel kan word, is met toestemming van die skrywer bo in die artikel aangebring. Stuur asseblief 'n e-pos soos aangedui. Baie dankie, die LitNet-redaksie

    • Kontakbesonderhede van waar die boek bestel kan word, is met toestemming van die skrywer bo in die artikel aangebring. Stuur asseblief 'n e-pos soos aangedui. Baie dankie, die LitNet-redaksie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top