Blomtyd in die Richtersveld

  • 4

Fotobron: https://en.wikipedia.org/wiki/Richtersveld

Die opgewondenheid van ’n moontlike blommeskouspel word so mooi opgesom in die gedig "Namakwaland" van DJ Opperman: "Op die groot saaidag van die heelal / het reeds ’n entjie duskant Wupperthal / oor die kaal Noordweste / ’n sakkie van die Heer se beste / saad per ongeluk gelek, gelek en uitgeval." Die saad het gewis op die regte plek geval en dít in die middel van ons Skepper se blomtuin. Wat Namakwaland so spesiaal maak, is dat jy nie weet wat die volgende seisoen gaan optower nie; dit kan enigiets wees.

’n Blom is natuurlik soos ’n vrou. Behalwe dat hulle mooi is, is hulle boonop net so wispelturig en baie keer onwillige kunstenaars in ’n groot uitstalling, met die weer boonop as choreograaf. Die dag moet eksie-perfeksie wees, want op ’n koue dag gaan die dames nie eers onderrok wys nie, wat nog te sê van gesig. Op ’n warm dag wanneer die bergwind loei is hulle sommer gou kaalgat geskroei en binne ’n paar uur is die show heeltemal oor. Wys die malmokkie gesig, gaan dit ’n laaaang dag wees van baaaaaiiiie tee drink, want die kanse op ’n live show is feitlik nul.

Na uitsonderlike reëns is die Richtersveld vir die eerste keer in donkiejare in volle bloei en moet ek dit gaan verken. Eksteenfontein is maar 60 km van Vioolsdrift af en met die son wat kop uitsteek oor die Nababeep-berge was die vroegoggend opstaan weer eens die moeite werd. Die 500 km rondrits deur die Richtersveld is geskeduleer om saam te val met ’n namiddagafspraak met ’n klompie mooi jong dames iewers tussen Kuboes en Eksteenfontein. Die skaduwees wat vroegoggend rondskuif veroorsaak gedurige kleurveranderinge in en om die berge en alhoewel vygies die wêreld vol is, wys hulle nog nie gesig nie. Daar is egter so baie van hulle dat dit lyk asof ’n rivier deur die woestyn vloei en net wegraak in ’n gat in die middel van nêrens.

Van Eksteenfontein af verander die landskappe dramaties soos ek uit die berge en in die sandveld in ry. Die see se een kant is ook mooi en alhoewel ek in my vorige lewe langs die see gewoon het, doen "Port Jolly" dit nie vir my nie. Ek is ’n bergmens en Port Nolloth is net goed genoeg vir ’n garage pie en ’n Coke. Dit gaan nie eers deug om te probeer soek na ’n krefie of selfs ’n ou blink dingetjie nie, want die spietkops is orals. Tyd staan nie stil nie en soos ek aankruie raak die voorspel al meer uitbundig soos die verskeie kunstenaars my aandag probeer trek. Die "splattered canvasses" is amazing en alles is au naturel. Die son trek water en ek kry die gevoel hier kan ’n goeie ontmoeting wees. As al die byspelers hul bydrae lewer, kan die girls my selfs hulle sexy Victoria’s Secret-onderklere wys. Mmmmmmmm. ’n Haantjie mag mos ook droom. Die ontmoetingsplek is nog ’n hele entjie weg en die Colt seil soos ’n viking-skip deur die woestyn na die rendezvous-plek iewers tussen Eksteenfontein en Kuboes en my hart klop soos ’n tydbom.

Op presies die regte oomblik is ek daar en met groot glimlagte, hul gesigte na my gedraai en met ’n vonkel in die oog, sê hulle hallo. Ek is tot oor my ore verlief en weet nie so mooi wie om eerste vir ’n wals te neem nie. Ek kan mos nou nie help dat almal flikkers gooi nie, want sien, ek is immers ’n baie charming jong man. Dit was nie maklik om te kies nie, want almal is mooi en verseker die mooiste wallflowers wat ek al op my weë teëgekom het. Uiteindelik wikkel ek my boude stoksielalleen op die maat van ’n polsende tango terwyl die dames my rasend toejuig. Almal was te mooi en ek kon toe nie ’n keuse maak nie. Die ironie is dat die Richtersveld ’n paar maande terug nog in ’n erge droogte vasgeklem was en nou is hier oorvloed. Gousblomme staan heuphoogte en dit kos mooitrap om nie ’n klein gesiggie iewers anders te vergruis nie. Die wete dat dit vroeër die jaar toetentaal anders daar uitgesien het ,maak die feesvieringe soveel meer uitbundig.

Plek-plek versper suurpootjies die pad en op ander plekke verlei ’n gekraakte sementdam die oog met velde vol blomme as versiering daaragter.  Blêrende skape probeer in ou motorwrakke wegkruip vir die alewige aanslag van steekvlieë en ’n ou verlate skaapkraal op ’n canvas bespat met deurmekaar kleure en lyne wat kopsmokkelend sin maak staan tussen al die mooi jong dames. Die mooi hou nie op nie, want met die herwaarts keer bevind ek my weer tussen die berge, net om deur spekvet beeste en kalwers wat jubelend en vrolik tussen die klippe rondhuppel begroet te word. Donkies neem stofbaddens in geriewe "fit for a king" en voor ek my oë vir ’n tweede keer kan knip is alles oor. Dis 11 uur later en het ek nie eers agtergekom ek is deur Helskloofpas nie.

Hoe kan ek selfs begin verduidelik wat vandag vir my beteken het behalwe deur te sê, en ek haal aan: "Die belangrikste dag van jou lewe is vandag. Die enigste ware deel van jou lewe is nou. As jy te veel oor gister se hartseer en drome tob gaan dit nie lank vat voor jy vind dat die lewe by jou verby is nie." Unquote.

Carpe diem.

  • 4

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top