Commendatio’s: Bibi Slippers (sameroeper)
WENNER: FIKSIE
Nathan Trantraal: “Kaaps-debuut systap genre en gender” oor Innie Shadows deur Olivia M Coetzee, in Rapport Weekliks, 2 Februarie 2020
Die woord wat een beoordelaar herhaaldelik gebruik het om Nathan Trantraal se resensie van Innie Shadows te beskryf, is “eerlik”. Om ’n eerlike resensie te skryf is nie altyd maklik nie, veral nie as ’n boek, om Trantraal se taal te leen “. . . nie perfek issie.” Maar hy doen dit met grasie en oortuiging. Trantraal se aanslag is reguit en sonder fieterjasies, hy sê wat hy wil sê, gee komplimente waar dit die skrywer toekom, en spreek kritiek uit sonder enige venyn. ’n Debuutskrywer is gelukkig om so geresenseer te word: die kritiese kommentaar is insigvol, bruikbaar en tog nooit verdoemend nie, en daar is baie aanmoediging en positiewe terugvoer hier te vinde. Hy betrek ander tekste sonder dat dit lyk of hy sy belesenheid probeer demonstreer, soos dikwels in resensies gebeur, maar belig werklik Coetzee se aanslag met sy verwysings. Hy gee genoeg inligting oor die plot om die leser nuuskierig te maak, maar is versigtig om niks weg te gee wat ons die plesier van die misdaadelement kan ontneem nie. Trantraal skryf: “It voel belangrik en tog kras om te noem dat LGBTQ-temas ’n groot deel van die storie ytmaak. Kras in dieselfde manier waa op da seemingly altyd daanaa vewys moet wôd asse storie in Kaaps geskryf is.” Trantraal se resensie is in Kaaps geskryf, en soos hy hardop in sy resensie hoop, hoop ons ook om méér resensies in Kaaps te lees, tot dit “. . . soe algemeen wôd dat it ie worth mentioning issie.”
WENNER: NIEFIKSIE
Deon Maas: “Anton Goosen se eerlikheid is skáárs” oor Anton Goosen: Liedjieboer deur Hanlie Retief, in Rapport Weekliks, 16 Augustus 2020
Deon Maas se resensie oor die Anton Goosen-biografie Liedjieboer het al die beoordelaars laat regop sit, en is eenparig as wenner aangewys. Maas begin reeds met die intrapslag konteks skep wat waarde tot die resensie toevoeg, en hy laat ook dadelik sy onmiskenbare stem, styl en humor geld. ’n Pluimpie vir die redakteur: Maas is ’n uitstekende keuse om dié boek te resenseer. Sy resensie getuig van die soort binnekennis wat die leser trakteer op iets méér as ’n droë beskouing van die werk, en hy skryf met insig en deernis, alhoewel hy ook nie wegskram van minder eerbiedige menings nie. Wanneer hy hier sy eie menings lug, is dit met die toegif dat daar ook ruimte is vir ander (in dié geval Goosen) se opvattings, en die begrip dat dit juis is omdat hulle hierdie soort menings wil hoor, dat baie mense biografieë lees. In sy ligte verteltrant gee Maas baie inligting oor die boek se inhoud, sonder dat dit ooit soos ’n blote opsomming klink, en sy komplimente vir die skryfwerk word verpak in beeldryke en vermaaklike taal. Met dié resensie bewys Maas dat diepgang nie ingeboet hoef te word in ’n leesbare en genotvolle taksering van ’n boek nie.
LANGER RESENSIE
Charl-Pierre Naudé: LitNet Akademies-resensie-essay oor Die nuwe Afrikaanse prosaboek saamgestel deur Sonja Loots en Steward van Wyk, LitNet, 16 April 2020
Charl-Pierre Naudé se diepgaande kennis van die Afrikaanse en wêreldletterkunde is duidelik in sy deeglike en besinnende resensie-essay. Met hierdie langer formaat loop resensente die risiko om lesers langs die pad te verloor, maar vanweë die goed beplande struktuur van die essay en die manier waarop Naudé sy betoog uitbou, behou hy maklik die leser se aandag. Die resensie is lank maar nie onnodig lank nie: dit maak fassinerende punte sonder om in die slaggat van herhaling of langdradigheid te trap. Naudé benut ook die potensiaal van die langer formaat om aspekte van spesifieke stories en skrywers se style en benaderings uit te lig, en genoegsaam uit stories aan te haal. Die goeie keuse van aanhalings verryk die resensie met die teksture en geure van ander skrywers se werk, en is veral gepas waar ’n bloemlesing soos hierdie onder bespreking is. Naudé se insigte is interessant en stimulerend, en word goed belig deur voorbeelde en in duidelike konteks geplaas. Alhoewel die toon hier meer akademies en formeel is, skemer Naudé se digterlike fassinasie met taal as boustof steeds deur: sy eie taalgebruik is vol andersoortige woordkeuses en sy uitwys van die taalgebruik in die stories voeg ook waarde by tot die resensie. Sy respek vir die bloemlesing is duidelik, en die resensie is, soos die boek, “... een van die grotes ...”
Lees ook:
kykNET-Rapportpryse 2021: Wenner van Niefiksieprys – commendatio
kykNET-Rapportpryse 2021: Room van Afrikaanse boeke en resensies bekroon
kykNET-Rapportpryse 2021: Wenner van Fiksieprys – commendatio
kykNET-Rapportpryse 2021: Wenner van Jan Rabie-Rapportprys – commendatio
Anton Goosen – Liedjieboer deur Hanlie Retief: ’n lesersindruk