Wenner van Fiksieprys 2021: Skepsel, Willem Anker, Queillerie
Commendatio: Steward van Wyk
Skepsel is tegelyk ’n lieflike, poëtiese elegie vir die mens se geskiedenis op aarde en ’n vooruitskouing van ’n posthumanistiese wêreld waarin die mens nie meer die sentrum van die heelal is nie. Dis ’n uitdagende roman wat die verbeelding tot die uiterste strek. Hoewel die gebeure afspeel in 2020 en streng gesproke nie toekomsfiksie is nie, dwing die verbeeldingryke aanpak mens tot ’n diep besinning van die hede en hoe ons die toekoms tegemoetgaan; presies wat Covid-19 tans van ons verg.
Voeg hierby die verskeidenheid van intertekstualiteit en intermedialiteit wat as’t ware ’n sediment van betekenislae vorm wat met elke herlees opgediep word. Dit is ’n roman van ons tyd en vir ons tyd wat vra vir ondersoek na die voortbestaan van die mens en planeet in ’n tyd van bedreiging deur virusse, aardverwarming, ongelyke verspreiding van rykdom en armoede en ’n veelheid ander pandemies. Anker verken verskillende vorms van lewe asook die konvensionele opvattings van lewe, organisme, biologie, tegnologie en nog meer.
Narratologies is die roman ook ’n geslaagde eksperiment. Anker maak vernuftig gebruik van verskillende vertellers in die drie storielyne waarmee hy vorme van subjektiwiteit ondersoek en in elkeen ’n perspektief op verhoudings/verbindings gee.
In die slothoofstukke laat die roman die leser asemloos en diep ontroer met sy beskrywing van die suiwer wil om oorlewing van hierdie klein, gebroke blou planeet.
Die storielyne wat soms oorvleuel en bymekaar aansluit en die tydspronge wat die lineêre opbou en ontknoping frustreer, dra funksioneel daartoe by om te wys dat die lewe en geskiedenis chaoties is en sonder planmatigheid verloop.
Skrywers kan in die huidige opset kwalik ontkom aan sosio-politieke vraagstukke: die absurditeite van ras én apartheid se nalatenskappe, korrupsie, globale uitbuiting en kapitalisme. Dit alles weef Anker in, en kyk met besondere sensitiwiteit na die etiek van omgee en sosiale geregtigheid vir die kwesbares. Met dieselfde sensitiwiteit word opvattings oor gender, seks en seksualiteit ondersoek en weer eens word die normatiwiteit hieromheen uitgedaag en nuwe opvattings aan die orde gestel.
Skepsel stel sekere filosofiese konsepte en etiese vraagstukke aan die orde sonder dat dit inboet aan narratiewe oortuigingskrag. Die leser bly geboei deur die uitbeelding van die verhoudings tussen mense, tussen mense en masjiene, tussen mense en niemenslike lewende wesens, onder meer danksy die skrywer se vermoë om die taal op verskillende maniere te hanteer: konkreet beskrywend, liries singend en emosioneel pakkend. Die roman verruim ’n mens se denke en daarmee saam die literêre landskap van Afrikaans. ’n Waardige – en vir ons trotse – wenner van die kykNET-Rapportpys vir fiksie in 2021.
Lees ook:
kykNET-Rapportpryse 2021: Wenner van Niefiksieprys – commendatio
kykNET-Rapportpryse 2021: Room van Afrikaanse boeke en resensies bekroon
kykNET-Rapportpryse 2021: Boekresensent van die Jaar – commendatio’s
kykNET-Rapportpryse 2021: Wenner van Jan Rabie-Rapportprys – commendatio
Skepsel deur Willem Anker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay