Wenner van Niefiksieprys 2021: Sulke vriende is skaars: Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949–1981, saamgestel deur Stephanie Vos en Stephanus Muller (Protea Boekhuis)
Commendatio: Jean Meiring
Sulke vriende is skaars deur Stephanie Vos en Stephanus Muller is ’n sonderlinge boek.
Soos die titel uit die staanspoor deursein, is dit die optekening van ’n vriendskap tussen twee Afrikaanstalige musici en akademici, die dirigent en later musiekadministrateur Anton Hartman en die komponis Arnold van Wyk, wat in die briefwisseling neerslag gevind het wat hulle vir dekades lank volgehou het.
Sodoende tree dié pragtig afgewerkte en swaar boek in gelid met ’n linie voorgangers, onder meer die brieweversamelings van Hennie Aucamp en Elize Botha; veral is dit te vergelyk met die briewewisseling tussen die broers NP van Wyk Louw en WEG Louw.
Vir jonger lesers sal dié skryfvorm aanvanklik dalk vreemd en merkbaar formeel aandoen. Ouer lesers sal waarskynlik met ’n skeut nostalgie aan die plesier terugdink om ’n brief in die posbus te ontvang en dit oop te skeur.
Die leeservaring van Sulke vriende het dus van meet af ’n meta-kwaliteit. ’n Mens verwonder jou aan die medium en al sy koddighede.
Wat die inhoud van die briewe, wat van kort ná die bewindsoorname van die Nasionale Party tot in 1981 strek, betref, omsluit hulle als van die alledaagse, die huislik-intieme, tot die openbare sake wat betrekking had op die ernstige omgang met musiek in ’n baie rare samelewing.
Hartman is ’n getroude man; Van Wyk ’n betreklik eensame gay man, in ’n tyd toe daardie woord iets heel anders beteken het.
Hul onderskeie smake, vooroordele en kwinte kom só briefmatig heel terloops en treffend op die lappe. Die leser ontwikkel gaandeweg ’n waardering vir dié twee mense wat in hul eie woorde en in die reaksies die een op die ander volledig driedimensioneel voor hul oë gestalte kry.
Ook wanneer dit met hul verhouding nie klopdisselboom gaan nie.
Waar daar dalk met die opneem van die boek aanvanklik ’n traagheid mog wees, word die leser brief op brief dieper in die gaandeweg al hoe boeiender binnewêreld van twee kunssinnige skeppende mense ingekatrol.
Die samestellers en redakteurs Vos en Muller vervul meesterlik die rol van kolporteurs. Hul noukeurige navorsing vind in die openbarende inleidende essay neerslag, asook in die letterlike en figuurlike fondament van voetnote wat elke blad onderspan. Soms dy daardie narratiewe onderlaag uit sodat dit, verkwikkend dig, die leeuedeel van die bladsy in beslag neem.
Daarin gee Vos en Muller puntenerig en in helder en elegante Afrikaans die nodige biografiese en kontekstuele inligting oor ook die ander rolspelers wat in die briewe te berde gebring word.
Om al hierdie redes is Sulke vriende wat die 2020- Afrikaanse boekjaar betref meer as net ’n boek: dis ’n boekgebeurtenis, ’n helder trompetgeskal vir die waarde van die Afrikaanse boek.
Dit is immers ’n vergestalting van die verbeeldingskrag en deursettingsvermoë van twee ernstige navorsers wat in ’n stowwerige reeks leggers in ’n argief die buitelyne van ’n boek kon sien.
Wat daardie idee aan ’n uitgewer kon oordra sodat laasgenoemde met ewe veel ywer hom en sy uitmuntende span aan die wording van die boek sou wy. Wat met kundigheid en oordeel van ’n idee ’n boek kon maak wat tegelyk ernstige en terloopse lesers sal boei.
Die Afrikaanse leespubliek het meer sulke spanne nodig, wat skeppend en waagmoedig boeke maak waar ander dalk by eerste oogopslag niks sou raaksien nie.
Die uitgewer Protea verdien dan ook gulle vermelding. As kultuurproduk is Sulke vriende ’n pragtige, onvergeetlike boek wat op die rakke in die beste boekwinkels in enige wêreldstad sou inpas.
Lees ook:
kykNET-Rapportpryse 2021: Wenner van Jan Rabie-Rapportprys – commendatio
kykNET-Rapportpryse 2021: Boekresensent van die Jaar – commendatio’s
kykNET-Rapportpryse 2021: Wenner van Fiksieprys – commendatio
kykNET-Rapportpryse 2021: Room van Afrikaanse boeke en resensies bekroon
Kommentaar
Wat 'n plesier om so 'n hoë kwaliteit resensie in sulke pragtige taal te lees.