Sulke vriende is skaars: Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949–1981: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 0

Sulke vriende is skaars: Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949–1981
Stephanie Vos en Stephanus Muller (samestellers)
Uitgewer: Protea
ISBN: 978-1-4853-1101-0

"Dankie vir al jou vriendskap en aanmoediging. Ek sê dit nie dikwels nie, maar dit is vir my ’n wonderlike onderskraging." – Arnold van Wyk aan Anton Hartman, 26 November 1962

I

Die skryf van briewe dateer duisende jare terug in die geskiedenis van die mensdom. Volgens die Griekse geskiedkundige Hellanicus is die eerste handgeskrewe brief in 500 VAJ deur koningin Atossa van Persië geskryf.[i] Briewe het deur die loop van die eeue ’n algemene kommunikasiemiddel geword vir beide formele en informele kommunikasie. As primêre bron word briewe as belangrike historiese dokumente beskou wat waardevolle en insiggewende inligting oor mense, plekke en gebeure van vergange dae bevat.

As gevolg van die toenemende ontwikkeling en gebruik van tegnologie vir kommunikasiedoeleindes deur die loop van die 20ste eeu het die skryf van veral persoonlike briewe amper uitgesterf aangesien die meeste kommunikasie baie vinniger en makliker deur middel van elektroniese kanale soos e-pos of per telefoon kan geskied. Die nadeel hieraan verbonde is dat inligting vir toekomstige generasies verlore mag gaan, veral ten opsigte van korrespondensie wat as van literêre of historiese waarde geag mag word. Vir Generasie Z is die kuns van briefskryf meestal onbekend en sal hulle heel moontlik selde indien ooit die vreugde ervaar om ’n handgeskrewe brief te skryf of ’n brief in hul posbus te ontvang.

......

Vir Generasie Z is die kuns van briefskryf meestal onbekend en sal hulle heel moontlik selde indien ooit die vreugde ervaar om ’n handgeskrewe brief te skryf of ’n brief in hul posbus te ontvang.

......

In haar inleiding tot Gespreksgenoot – ’n Brieweboek (2017) skryf die literator Heilna du Plooy: "Hoe lank bly herinneringe bestaan? Herinneringe aan mense en gebeure? Mense lewe en sterf en word onthou deur geliefdes en vriende en kennisse. Maar hoe lank leef ’n mens voort in wat ander onthou?" Du Plooy beklemtoon die waarde van egodokumente soos ’n brief. Danksy briewe wat deur die eeue bewaar is, het belangrike inligting vir die mensdom behoue gebly wat andersins met die afsterwe van ’n individu verlore sou gaan. Geskrifte bewaar dus die geheue van die verlede.  

Een so ’n voorbeeld is die briewe van Afrikaanse skrywers wat vir die nageslag behoue gebly het en literêr-histories van groot waarde is. Danksy die literator JC Kannemeyer se vlyt en kennis van die edisiewetenskap kan lesers briewe deur onder andere Peter Blum asook die korrespondensie tussen NP Van Wyk Louw en WEG Louw bestudeer.

Ook Petrovna Metelerkamp het in dié opsig ’n belangrike bydrae gelewer deur die samestelling en publikasie van Audrey Blignault en Hennie Aucamp se briewe. (Aucamp kan sonder twyfel as een van die ywerigste briefskrywers binne die Afrikaanse literêre kanon beskou word.) Peet van Aardt het Uys Krige se briewe saamgestel, terwyl Francis Galloway die liefdesbriewe van André P Brink en Ingrid Jonker in Vlam in die sneeu: Die liefdesbriewe van André P Brink & Ingrid Jonker (2015) versorg het. Meer onlangs het Heilna du Plooy die literator Elize Botha se briewe byeengebring wat ’n intieme blik op die binnewerkinge van die Afrikaanse literêre toneel in veral die tweede helfte van die 20ste eeu bied.

LitNet Akademies-resensie-essay: Vlam in die sneeu, die liefdesbriewe van André P Brink en Ingrid Jonker, redakteur Francis Galloway

Flame in the Snow – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker

The heart has spaces – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker

Die brief as egodokument is dus nie alleen van historiese belang nie, maar word vanuit ’n literêre oogpunt van hoë waarde geag om herinneringe van verhoudings, vriendskappe (asook vetes) te dokumenteer. Sodoende gaan die herinnerings waarna Du Plooy verwys, nie verlore nie.  

II

In William Shakespeare se komedie Twelfth night (1980:5)[ii] laat die Hertog hom soos volg uit: "If music be the food of love, play on." Die Hertog se woorde eggo die liefde wat Arnold van Wyk en Anton Hartman vir kunsmusiek (of klassieke musiek[iii]) gekoester het.

Van Wyk word naas figure soos Stefans Grové en Hubert du Plessis as een van die belangrikste 20ste-eeuse Suid-Afrikaanse komponiste gereken. Hy word veral onthou vir sy orkessuite (simfoniese toondig) Primavera en sy klavierwerk Nagmusiek. Volgens Human (1992:261) word sy vokale werk Missa in illo tempore as sy meesterstuk beskou.

Naas komponis was Van Wyk ook dosent in musiek aan die Universiteit van Kaapstad asook die Konservatorium van die Universiteit Stellenbosch. Hy het in 2014 weer onder Afrikaanssprekende lesers se aandag gekom met die publikasie van Stephanus Muller se Nagmusiek, ’n biografie gebaseer op die lewe van Arnold van Wyk. Die biografie is met groot fanfare ontvang en met verskeie literêre pryse bekroon, waaronder die Eugène Marais-prys, die kykNET-Rapport-boekprys vir niefiksie asook die Jan Rabie-Rapport-boekprys vir debuutfiksie. Die grootliks vergete Van Wyk is deur Muller se biografie opnuut as ’n belangrike Suid-Afrikaanse komponis geboekstaaf. Dit is dus gepas dat Muller een van die samestellers van die briewe tussen Van Wyk en Hartman is, aangesien sy kennis oor die onderwerp as van onskatbare waarde geag kan word.

Bron: Fourthwall Books

Op sy beurt was Anton Hartman naas dirigent en musiekdosent aan die Universiteit van die Witwatersrand ook jare lank hoof van musiek aan die destydse Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK). As musiekadministrateur was hy intiem betrokke by die organisasie se bevordering van kunsmusiek binne en buite die landsgrense. Van Wyk en Hartman se vriendskap en gedeelde belangstelling in klassieke Westerse musiek beaam die Hertog in Twelfth night se woorde: "If music be the food of love, play on."

III

Volgens Du Plooy (2017:xviii) is die brief

uiteraard meer soos die lewe self, vol onnodige detail en ’n bietjie rommelrig omdat dinge herhaaldelik gebeur en herhaaldelik vertel word, omdat belangrike dinge soms verswyg word en ander per ongeluk weggelaat word. ’n Brief hoef nie volledig te wees nie, dit hoef nie absoluut korrek te wees nie en in ’n voortgaande korrespondensie hoef alles nie onthou te word nie en baie dinge nie genoem te word nie.

Hierdie aanhaling is ook van toepassing op Van Wyk en Hartman se korrespondensie, wat van 1949 tot 1981 strek.

Die oorgrote meerderheid briewe handel oor sake aangaande kunsmusiek, hetsy die skryf, dirigeer of opvoer daarvan. Hartman se briewe aan Van Wyk bied ’n eerstehandse ervaring van dekades van geïnstitusionaliseerde musieklewe binne die SAUK sowel as verskeie musiekkonservatoria.

’n Aspek van Hartman se persoonlikheid wat duidelik in die briewe belig word, is sy sterk navolging van ’n nasionalistiese ideologie. In sy hoedanigheid as beide hoof van musiek aan die SAUK en voorsitter van die FAK se musiekkomitee kon hy die meer nasionalistiese belange van beide organisasies bevorder. In die briefwisseling het Van Wyk en Hartman grappenderwys na laasgenoemde as "Hartman se Tagtigjarige plan" verwys. Die SAUK is deur middel van die radio (voor die koms van televisie in 1976) ingespan om sentralistiese projekte van kulturele ontwikkeling onder Afrikaners as sosiale en kulturele opheffingsmeganisme te gebruik. Met Van Wyk se aanstelling as dosent aan die Universiteit Stellenbosch skryf Hartman op 2 September 1960 (256) aan Van Wyk: "Ek is ook eng genoeg om verheug te voel dat jy na ’n Afrikaanse inrigting gaan en dat daardie inrigting deur jou aanwesigheid groter status en versterking sal kry." Hartman se strewe om die Afrikanervolk kultureel op te hef kan as een van sy ambisieuse take beskou word.

Van Wyk het Hartman se nasionalistiese ideologie egter nie so getrou nagestreef nie. Op 14 April 1957 skryf Van Wyk in antwoord op ’n versoek van Hartman:

[O]p die oomblik is Stellenbosch en Afrikaanse kultuurverenigings nie die ding wat die naaste aan my hart lê nie – ek is dus bevrees dat my toespraak teleur mag stel, nie alleen om die onkunde wat ek aan die dag mag lê nie, maar ook omdat ek seer sekerlik genoodsaak sal voel om ’n paar bitter dinge te sê. (142)

In reaksie antwoord Hartman (144) dat dit sy "opregte begeerte [is] om ’n slag met jou oor lands- en kultuurprobleme te gesels".   

Die korrespondensie tussen Van Wyk en Hartman bevat min verwysings na enige historiese gebeure tydens 1949–1981. Aangesien Hartman in hart en siel ’n Afrikanernasionalis was, sou belangrike gebeure soos Republiekwording op 31 Mei 1961 asook die moord op HF Verwoerd op 6 September 1966 vir hom van belang gewees het, tog is daar weinig verwysings na enige sodanige politieke of belangrike historiese gebeure in hul korrespondensie. Op 1 Augustus 1960  skryf Hartman:

Ek bly ’n optimis oor die toekoms van ons land en oor die ontwikkeling van ons musiek. Ek glo dat die "winds of change"[iv] nou so vinnig en warrelend begin waai dat hulle net stof gaan maak en ons nie sal plat waai nie. (252)

Op 9 November 1966 noem Hartman wel aan Van Wyk dat "die politieke klimaat [nou] nog net [moet] verbeter, die Amerikaners wil ons nou blykbaar vir die honde gooi, maar ons sal vasberade verdedig" (368). ’n Terloopse verwysing na die koms van televisie in Suid-Afrika word in 1973 gemaak: "’n Klomp van ons SAUK-amptenare gaan ’n blitskursus in televisie-produksie hierdie week ontvang" (416).

Die feit dat Hartman nie in sy briewe na politiese gebeure verwys nie, kan moontlik toegeskryf word aan Van Wyk se meer ambivalente houding jeens die politiek en ideologie van die tydperk waartydens hulle gekorrespondeer het. Tog het die verskillende houdings jeens politiek nie hul vriendskap negatief beïnvloed nie.    

.......

Van Wyk se briewe aan Hartman dokumenteer groot dele van sy skeppingsprosesse. Sy obsessiewe behoefte aan die perfekte komposisie en die aaneenlopende verbetering daarvan het telkens tot sy finansiële probleme asook sy depressiewe gemoedstoestand bygedra en somtyds spanning in sy vriendskap met Hartman veroorsaak.

..........

Van Wyk se briewe aan Hartman dokumenteer groot dele van sy skeppingsprosesse. Sy obsessiewe behoefte aan die perfekte komposisie en die aaneenlopende verbetering daarvan het telkens tot sy finansiële probleme asook sy depressiewe gemoedstoestand bygedra en somtyds spanning in sy vriendskap met Hartman veroorsaak. In ’n brief van 28 Julie 1964 skryf Van Wyk aan Hartman:

Ek is bly én ontsteld dat jy Primavera in Brussel wil doen. Bly om die klaarblyklike redes, ontsteld omdat slegs die twee middelste dele min of meer is soos ek hulle wil hê: die eerste deel en veral die finale het vir my ’n verskrikking geword. Dit ontstel my wanneer die stuk hier gespeel word, wat nog te sê van Brussel waar die mense minder simpatiek sal wees … (330)

Alhoewel hul briewe oor die meer as 30 jaar heel gemoedelik daar uitsien, is daar wel tekens van spanning in die vriendskap. So noem Van Wyk in dieselfde brief dat Hartman tydens ’n besoek aan sy huis in Stellenbosch "onnodiglik wreed met [hom] [was] en ongepoets ook". Verder merk Van Wyk op: "Hubert [du Plessis] sê jy kla oor die neerslagtige briewe wat ek vir jou skryf, dus sal ek maar nie. Het jy so gesê?" Ten spyte van hierdie enkele geval het hul vriendskap tot Hartman se afsterwe in 1982 gedy.

As kunssinnige gees het Van Wyk gereeld emosionele probleme naas sy talle fisieke kwale ervaar. Op 12 Februarie 1966 skryf hy:

Ek weet ek is nie die dapperste of sterkste mens nie, maar hereweet, party dae sien ek rede waarom ek wens dat ek al klaar dood is, want wat deug my lewe nou eintlik en wat bereik ek??? (353)

Sy swartgalligheid en depressiewe gemoedstoestand kan deels toegeskryf word aan sy nimmereindigende finansiële probleme, wat deurgaans in talle briewe aan bod kom. Op 15 Julie 1966 skryf hy aan Hartman dat hy "verskriklik bankrot" is (366). Hierdie frase word in verskeie briewe deur die jare herhaal. Van Wyk erken egter dat dit toe te skryf is aan die feit dat hy "taamlik spandabelrig lewe".

Wat sy liefdeslewe betref, was Van Wyk meestal enkellopend. In ’n brief van 9 Oktober 1955 noem hy aan Hartman dat "’n ou liefdessakie [sic] wat so goed begin het en wat ná jare van doodsheid van hart gekom het, nou ook onherroeplik verby [is]. Nou weet ek dat ek vir die res van my lewe altyd alleen sal wees."  Tesame met sy werksdruk kon laasgenoemde faktor moontlik ook tot sy swartgalligheid bygedra het.  

Hartman en Van Wyk se vriendskap is besonder interessant gegewe die feit dat Van Wyk homoseksueel was. Die briewe bied ’n intieme blik op die vriendskap tussen ’n gay en heteroseksuele man tydens die apartheidsjare. Van Wyk se seksuele oriëntasie word nooit bespreek nie, alhoewel hy Hartman van sy liefdesteleurstellings inlig. In hul voorwoord skryf Vos en Muller dat "’n [v]riendskap tussen twee prominente en invloedryke Afrikanermans, gerig deur ‘n gemeenskaplike professionele belang in kunsmusiek, buitengewoon vir die tyd [was] waarin Van Wyk en Hartman gelewe het". Op 16 April 1957 skryf Hartman aan Van Wyk:

Die toenemende swartgalligheid van jou briefwisseling met my laat my stadigaan bekommerd voel. Daar is ongetwyfeld dinge wat jou diep verontrus en ek ken jou goed genoeg om te weet dat dit nie sommer so is nie. Maar wat my ontstel is dat jy net vaagweg op dinge dui, asof jy nie daaroor wil praat nie en dit maar liewer opkrop. Ek wens ons kon ’n slag oor al die dinge gesels, ek sou graag wou weet wat jou bedenkinge is, ek glo die band tussen ons is dieper en sterker as enige moontlike verskille wat miskien sou blyk.  

Hierdie woorde kan beskou word as ‘n weerspieëling van Hartman se onvoorwaardelike vriendskap met Van Wyk wat weens die omstandighede waarin hy hom bevind het, nie in staat was om openlik oor sy seksualiteit te praat nie. Hartman was moontlik bewus van Van Wyk se seksuele oriëntasie, dog hy het dit nooit in enige van sy briewe aangeroer nie. Dit maak hierdie vriendskap besonders binne die sosiohistoriese konteks en beklemtoon die titel: "Sulke vriende is skaars".

IV

Sulke vriende is skaars: Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949–1981 is keurig uitgegee en versorg. Die samestellers het geen moeite ontsien tydens die edisieproses om die teks so lesersvriendelik as moontlik aan te bied nie, terwyl die musiekliefhebber en navorser die uitgebreide voetnotas deur Stephanus Muller en Stephanie Vos van waarde sal ag weens hul uitgebreide kennis oor die musikale figure. Soortgelyk aan Vlam in die sneeu word die briewe vergesel van pragtige foto’s, poskaarte en ’n telegram asook afdrukke van aantekeninge wat Van Wyk op dele van sy komposisies aangebring het.

........

Die publikasie van die briewe van dié twee seminale figure in die Suid-Afrikaanse kunsmusiek lewer inderdaad ’n noemenswaardige bydrae tot die dissipline van Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis. Dit is ’n publikasie wat vanuit ’n estetiese oogpunt die perfeksionisties-gesinde Hartman en Van Wyk se goedkeuring sou wegdra.  

.........

Alhoewel liefhebbers van veral kunsmusiek groot genot uit die publikasie sal put, sal belangstellende lesers ook vanuit ’n letterkundige oogpunt die boeiende blik op die twee musici se lewens wat oor meer as drie dekades strek, geniet. Die publikasie van die briewe van dié twee seminale figure in die Suid-Afrikaanse kunsmusiek lewer inderdaad ’n noemenswaardige bydrae tot die dissipline van Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis. Dit is ’n publikasie wat vanuit ’n estetiese oogpunt die perfeksionisties-gesinde Hartman en Van Wyk se goedkeuring sou wegdra.  

Bibliografie

Du Plooy, H (samest). 2017. Gespreksgenoot – ’n Brieweboek. Pretoria: Litera.

Galloway, F. (red.). 2015. Vlam in die sneeu – Die liefdesbriewe van André P. Brink & Ingrid Jonker. Kaapstad: Umuzi.

Human, K. 1992. Die A tot Z van klassieke musiek. Kaapstad: Human & Rousseau.

Shakespeare, W. 1980 (1623). Twelfth night. Kaapstad: Maskew Miller.  


Voetnote

[i] Sien https://handwrittenletters.com/history_of_handwritten_letters.html.

[ii] Die Afrikaanse vertaling deur Uys Krige (1967:17) lui soos volg: "As dan musiek die liefde voed, hou aan met speel."

[iii] Volgens Human (1992:112–3) word klassiek in die algemeen gebruik vir "formele, ernstige musiek wat ’n sekere blywende waarde het en gekomponeer is deur iemand wat grondig teoreties onderleg is".

[iv] Hartman se opmerking verwys moontlik na die destydse Britse eerste minister Harold Macmillan se "Winds of change"-toespraak in die Suid-Afrikaanse parlement op 3 Februarie 1960.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top