kykNET-Rapportpryse 2021: Wenner van Filmprys – commendatio

  • 0

Wenner van Filmprys 2021: Middernag, Sidney Gilroy, Human & Rousseau

Commendatio: Beer Adriaanse

2021 is ’n kommerwekkende tyd in die Suid-Afrikaanse filmbedryf. Fliekteaters val vinniger as slagoffers in Afrikaanse krimi-romans. Produksiebegrotings stotter erger as sersant Solly Mthembu, en die eens rysende brander van plaaslike films is nou niks meer as ’n gestolde bloedkol op ’n plattelandse sypaadjie nie. In hierdie kinematografiese woestyn verskyn Sidney Gilroy se nuwe roman, Middernag, soos ’n noodkreet oor ’n ou polisieradio.

Die deurslaggewende faktor in Middernag is egtheid. Die wêreld, karakters en dialoog flikker soos iets uit ’n Carte Blanche-segment – cinéma vérité in boekvorm. Die karakters herinner aan die gesigte wat mens sien as jy op pad na iewers anders gou petrol in ’n plattelandse dorpie ingooi. Die dialoog is so ongekunsteld en eietyds, amper voyeuristies, asof ons by die misdaadtoneel afluister hoe die speurders met mekaar praat.

Gilroy vervleg vele drade om ’n kloustrofobiese storieweb oor Harrismith te span. Behalwe dat sy kennis oor dié gebied deurskyn, sleep hy ons ook na die donker uithoeke van die samelewing om die kompleksiteit van misdaad, dwelmmisbruik en sosiale verbrokkeling te wys. Gilroy hou hier vir ons ’n spieël op van hoe dit deesdae op die platteland gesteld is.

Egtheid is egter nie genoeg nie, en wanneer Middernag die sogenaamde realisme vir die verbeeldingryke verruil, ontpop ’n swetterjoel filmiese tonele en oomblikke wat tuis sal wees op enige silwerdoek. Soos enige goeie film het Middernag ’n paar beelde wat eenvoudig nie die geestesoog verlaat nie. Veral die erg verminkte oorskot van ’n vierjarige wat in die bak van ’n Fruitti-Tutti roomyskarretjie gevind word. Mens voel hoe Gilroy se perspektief soos ’n kamera die hele toneel om die beurt inneem. Maar asof Hitchcock trots toekyk, gaan Gilroy selfs verder en druk ons in sy moordenaar se kop ook. ’n Protagonis is niks sonder ’n goed gevormde antagonis nie, en Middernag s’n maak mens lus om oudisies te begin hou.

Middernag is ’n boeiende en boonop vars plaaslike krimi-roman wat filmies uitvoerbaar is en op sielkundige wyses, eerder as blote aksie en gruwel, aan die gehoor se bewyssyn torring. Dit bevat al die bestanddele vir ’n onvergeetlike film en kan, in die regte hande, finaal wys dat Afrikaanse gehore nie net kougomromanses saam met hulle springmielies soek nie. Soos ’n karakter in die boek sê: “Die Vrystaat het twee gesigte, sersant. Soos yin en yang. Die een is die Hilux-bakkies en die mielielande en Grey-kollege ... maar as die klok middernag slaan ... weet jy tot wat julle mans in staat is.” Ditto vir ons fliekgangers. 

Lees ook:

kykNET-Rapportpryse 2021: Wenner van Niefiksieprys – commendatio

kykNET-Rapportpryse 2021: Room van Afrikaanse boeke en resensies bekroon

kykNET-Rapportpryse 2021: Wenner van Fiksieprys – commendatio

kykNET-Rapportpryse 2021: Boekresensent van die Jaar – commendatio’s

kykNET-Rapportpryse 2021: Wenner van Jan Rabie-Rapportprys – commendatio

Middernag deur Sidney Gilroy: ’n resensie

Middernag deur Sidney Gilroy: ’n FMR-resensie

Skrywersonderhoud: Sidney Gilroy oor Middernag

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top