Wenner van Jan Rabie-Rapportprys 2021: Weerlose meganika, Anton Roodt, Tafelberg
Commendatio: Kerneels Breytenbach
Weerlose meganika is ’n satiriese roman wat ’n mens laat skaterlag terwyl jy weet jy moet eintlik huil oor die toekomstige Suid-Afrika wat jy hier sien – omdat dit die grein van die huidige Suid-Afrikaanse bestaan in ontstellende detail blootlê. Anton Roodt neem al die politieke gebabbel, die grootdoenerige optrede van staatsamptenare, die plegstatigheid van die amptenary, die kleiner drama van die mens se geslagslewe, en die nederige ideale van iemand wat nog vir oulaas ’n kulturele bydrae wil lewer, en vorm daaruit ’n kragtoer van verbeeldingskrag met enorme komiese afmetinge. Ondanks baie sterk mededinging deur ander titels op die kortlys, is dit dié kragtoer wat Weerlose meganika laat uitroon en ’n waardige wenner maak van die Jan Rabie-Rapportprys vir 2021.
Teen ’n agtergrond van die myne by Welkom vertel Roodt ’n fabel wat in wese die eeueoue verhaal is van die held wat na die onderwêreld moet reis om die monster te oorwin en die heldin te red. Maar die verhaal het humoristiese dimensies wat dit in baie opsigte laat aansluit by Die derde oog, die roman van Etienne Leroux wat ’n soortgelyke mikrokosmos in ’n fees van galgehumor omskep. Anton Roodt volg in groot spore, en hy doen dit met nonchalance en die fleurige gees van ’n 21ste-eeuse woordtowenaar.
Die roman wentel om die ervarings van kolonel Rooipiet Moolman, wat as hoof van die Kulturama-sentrum op Welkom probeer om ’n Versoeningsfeesdrama, Die Slag van Bloedrivier, op te voer in ’n ou inryteater. Moolman struikel oor die endemiese korrupsie rondom hom. Roodt wys dat korrupsie noodwendig is in ons land omdat niemand omgee of hul strewe na ’n beter lewe onetiese gevolge het nie. Wat uiteindelik met Moolman gebeur, moet ook gesien word in die openbaring wat Anton Roodt met sy ontluisterende satire teweegbring: Almal doen wat hulle wil, omdat hulle kán as hulle wil, om te sorg dat hulle hul pad na geld en ewige plesier kan oopbeur.
Roodt werk met ’n fabelagtige spektrum van menslikheid en onhebbelikheid. Die roman oorweldig sy lesers met kontraste tussen uitspattige komedie en knersende ellende. Roodt presteer met die manier waarop hy burlesk en patos tegelyk onwikkel. Uiteindelik word Rooipiet Moolman as verteenwoordigende figuur die laaste draer van verantwoordelikheid vanuit die ou bestel, word hy die allegoriese figuur wat besef dat hy nie meer die verwikkeldheid van menslike verhoudings kan bestuur nie.
Lees ook:
kykNET-Rapportpryse 2021: Boekresensent van die Jaar – commendatio’s
kykNET-Rapportpryse 2021: Wenner van Fiksieprys – commendatio
kykNET-Rapportpryse 2021: Room van Afrikaanse boeke en resensies bekroon
kykNET-Rapportpryse 2021: Wenner van Niefiksieprys – commendatio