Titel: Weerlose meganika
Skrywer: Anton Roodt
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 978062409136
Weerlose meganika is pure leesgenot. Die boek het ’n kort tydslyn wat afspeel oor ’n paar dae rondom ’n jaarlikse kalenderhoogtepunt van ’n Versoeningsfees by die inryteater op ’n mynhoop in Welkom in die Vrystaat. Die storie is propvol tone-omkrul-lekkerte en mens voel soos ’n kind wat met pure opgewondenheid die toedraaipapier van geskenke afruk wanneer jy die boek lees.
Die gebeure is rondom die vertoning van Die slagting van Bloedrivier, ’n jaarlikse instelling in dié stad wat bekendheid het as ’n stad met die ironiese geen robotte, en ook rondom die karakters, amusante oomblikke en die opbou van die kleedrepetisie tot die opvoering self, met strydende impi’s en boere en verrassende engele.
Die skrywer slaag deur in die vel van die hoofkarakter, kolonel Piet Moolman, te klim, en vir jou as leser saam met Rooipiet, sy bynaam, die hoop te gee dat met dié fees, Piet van homself gered sal word – die Piet met ’n selferkende swak selfbeeld en ’n luierende dierlikheid in sy psige waarvan hy net nie kan ontsnap nie.
Die stotterende Piet wat poog om deur sy kolonelrang gesag en respek af te dwing rondom die beplanning van die fees by die Kulturama se werkers en invloedryke persone in Welkom en omgewing, maar wat met sy eie onsekerhede in skerp kontras staan – tot by die opbou na die hoogtepunt van die opvoeringsaand. Die intriges rondom Lympi, die hoofengel, wat Piet se grootste liefde nóg word, verras, juis met die ironiese speling in die verhouding tussen mense en tegnologie vandag en hier in Welkom met die menslike robotte.
Dié robotte, of die Slimbotte en met "dom"-botte – is juis met presiesheid onder groot geheimhouding en uiters streng sekuriteit so ontwikkel om perfek hul plek as en tussen mense te vul, teen astronomiese onkoste, waar die Slimbotte die superrasgroep van die mensdom word wat nie gemeet kan word aan menslike swakhede nie en steeds verfyn word in die ontwikkeling om net beter en beter te word.
Aan die ander kant van die skaal van dié robotiese perfektheid speel hulle slinks saam om menslike swakhede uit te buit – hoe dan anders vir Rooipiet om gestroop te wees tot sy verkrummelde weerloosheid teenoor die mooiste engel wat hy nog gesien het. Hoe interessant vir kolonel Piet Moolman wat moes ontdek hoe die superrasrobotte in hul perfeksie nie die onderskeidingsvermoë het wanneer lojaliteit en getrouheid tussen geliefdes en vriende ter sprake is nie?
Met die uitdagings van 2020 se rekenaarskermvergaderings en met sosiale afstand holrug gery, lees Weerlose meganika besonder lekker in die tyd waarin ’n mens kan identifiseer met die robotiese interaksie en met goedkeuring aanvaar dat Piet eerder die perfekte meganiese liefde bo die ooglopende ware liefde met foute onder sy neus verkies.
Met die pandemie lees dié wetenskapfiksieroman ook maklik as ’n realiteit van nou, soos met Koors van Deon Meyer ervaar is as moontlik voorspelling van die onwerklike as ’n nuwe wêreld. Is Weerlose meganika dié voorspelling van ’n lewe waar robotte ons steunpilare word en ons as mense verder weerloos laat weens ons totale afhanklikheid van tegnologie vir werk en sosiale kontak?
Dié debuutroman verras met vars, sonder-doekies-omdraai-woordgebruik en is bestrooi met ongelooflik skerp en snaakse beskrywings, waar die gedagtes en opmerkings van Rooipiet my as leser menige keer hardop laat proes het van die lag – iets wat min boeke nog kon regkry, bloot oor die onverwagte beskrywings en gebeure wat letterlik in elke paragraaf skuil.
‘n Voorbeeld is die name en beskrywings van die drie "Pussycat Dolls", Kietzi en Kittie met hul verskillende rasverteenwoordiging – dis duidelik dat die skrywer tong-in-die-kies rondspeel met ’n wêreld waarin die enigste grens jou verbeelding is. En die interaksie met die "Dolls", waar jy as leser saam met die swetende Rooipiet in die onderste myngange na vars lug smag, en tog verkrummel oor hoe Piet hul meganiese harte met ’n swart robotskapie wen.
’n Ander voorbeeld van die goeie beskrywing is waar Lympi, die hoofengel, "met ’n volstruisveer bo die ander twee engele verhewe word" en wat "ter helle neergedaal het en weer opgestaan het …"
Met geen voorafkennis van die boek óf skrywer nie, was dit die interessante omslag wat die oortuiging vir die lees aanvanklik gegee het. Sou ek vooraf geweet het dit is wetenskapfiksie, sou die omslag dalk nie die nodige leeslus vir my as leser gegee het nie. En groot was die verrassing dat wetenskapfiksie baie meer belofte inhou, juis in die vreemde jaar wat ons vanjaar beleef het met tegnologie as ons nodige redding vir kontak met die buitewêreld.
Die roman van net meer as 300 bladsye vertel ’n verhaal met slim speling tussen menslike begeertes en die vlees se drange na perfektheid, met die opbou na Rooipiet se kaartehuis wat inmekaar wil val juis as gevolg van sy vertroue in die robotte, tot die opbou na die opvoering en "die liefdelose vakuum wat op aarde oorgebly het", emosionele vervulling en die smagting om liefdeleemtes te vul.
Die kontras van die bokant van die mynhoop met die simboliese invloede op kapitalisme, invloedrykes en sintetiese tegnologiese oorheersing word goed balanseer sonder enige uitsprake met die onderkant van die mynhoopgange waar onderdrukking, Chinese beheer en ander ongerymdhede plaasvind.
Daaglikse raakpunte word subtiel aangeraak sonder dat die skrywer enige uitsprake daarrondom maak, en met versoening wat simbolies in die agtergrond luier, word morele waardes subtiel na die voorgrond gestoot.
Kolonel Piet Moolman, aan’t hoof van ‘n menigte opvoerings rondom Die slagting van Bloedrivier-versoeningsfeeste, wat met elke opvoering hard daarna streef om te wys dat versoening nie rasgedrewe is nie en soos die storielyn ontvou, wys dat toekomsgerigte versoening – ook soos in vandag se pandemiese tye – mik na tegnologie wat alles oorheers en juis die uitdagings vir versoening in die toekoms bied.
Dit was verfrissend om te kon lees hoe transgender karakters, hermafrodiete en albanisme in die storielyn ingeweef is sonder dat die skrywer enige stelling hieroor maak, en waar die mens met die doodstraf gevonnis kan word sou ’n robot se "blou bloed" nie meer vloei nie, en dat "blou lives matter". Ook hoe die mens, tegnologie en robotte verlei word, terwyl kapitalisme steeds voortbestaan met die swakkeres en weerloses wat te gewillig hiervoor instaan.
Dan is die ander juwele in die boek die manier waarop Afrikaanse name gebruik is, soos Piet, Rooipiet, Klein-Petrus, Saartjie Spaarwater. Met Led Zeppelin se musiek waarvan die "dom"-botte net niks van sal verstaan nie en die bekende lekkernye soos hertzogkoekies en draairoomys, terwyl die robotte Q10 met "Glad wrap" sluk.
Sonder om te veel van die inhoud bekend te maak, is erkenning nodig aan Piet se sê- en dinkgoed, en hoe hy goed op die naam noem. Soos sy gestoei met "wolpoeding"-gedagtes; hoe hy sy assistent as "’n reuse basaar-toffieappel sien wat sy mond onbetaamlik laat water"; en sy gesukkel met ’n babelas "wat voel of brokstukke mynerts in sy kop rondskommel".
Ek stoei wel met my lees oor Rooipiet wat stotter ... Dit het my in die begin van die roman baie gepla en my oog het gewoond geraak daaraan dat ek dit nou met onsekerheid uitlig en my afvra of dit nodig was vir Rooipiet om te hakkel, asook twee redaksionele foute wat my oog gevang het. Kan ’n hakkelende Rooipiet aanstoot gee juis met hoe die boek eindig? Dan pla dit ook effens hier en daar met minder oorspronklike en geykte taal, soos waar die skrywer van "moermeter" praat vir kwaad word.
Weerlose meganika is ’n juweel van ’n boek met die eerlike, satiriese, humoristiese en gestroopte skryfstyl sonder pretensie wat in dié verbeeldingsreis alle verwagtinge oortref.