Anton Goosen – Liedjieboer deur Hanlie Retief: ’n lesersindruk

  • 1

Anton Goosen – Liedjieboer
Hanlie Retief
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624089735

  • Hierdie lesersindruk is deur eie beweging van die skrywer aan LitNet gestuur.

My eerste herinnering aan Anton Goosen is die ou musiekvideo’s op televisie. Dit was die 1990’s en die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) het musiek gespeel van mense soos Innes en Franna Benadé, Anneli van Rooyen en Bles Bridges. As Bles “Op die vlerk van ’n spierwit duif” gesing het, dan was my kindergemoed sommer omgekrap, want dis maar ’n droewige liedjie. Anton Goosen onthou ek vir “Pas getroud”, wat ’n bepaalde indruk op my moes gelaat het. Deur die jare was die musiek maar net daar. Jou ma koop tydskrifte en jy lees vir die soveelste keer van Sonja Herholdt se lewe, en hoe sy Anton se liedjies gesing het. Later kry jy ook die voorreg om vir Anton te sien sing.

Dit is natuurlik voor die hand liggend dat daar veel meer vleis aan die “Liedjieboer” is as dit wat mens in die media sien. Die boek oor Goosen se lewe is propvol van die interessantste inligting. Dis so interessant dat dit ’n herlees werd sou wees. Goosen is veral ’n interessante figuur omdat hy so tussen die hoofstroom en die alternatiewes rondbeweeg, met ewe veel gemak. Soos verskeie ander kleurryke Suid-Afrikaners (Max du Preez, Antjie Krog, Mosiuoa Lekota) het Goosen grootgeword op Kroonstad. Die boek beweeg redelik vinnig deur hierdie tye en vertel hoe Goosen uiteindelik ’n onderwyser word, in die huwelik tree en toe ’n joernalis word. Die een ding lei tot die volgende en uiteindelik skryf hy musiek vir een bekende sanger ná die ander. Hy raak betrokke by die sogenaamde Musiek-en-Liriek-beweging, saam met mense soos Jannie du Toit, Lucas Maree en ander. Die Musiek-en-Liriek-beweging het die klem geplaas op organiese Afrikaanse musiek, want baie musiek in Afrikaans was eenvoudig Europese treffers wat vertaal is. Behalwe oor sy vriendskap met Maree, word daar ook uitvoerig geskryf oor Piet Botha met wie Goosen ’n spesiale verhouding gehad het.

Anton Goosen

Wees gewaarsku: Dit is ’n boek wat jy waarskynlik met moeite gaan neersit. Dit is asof jy vir Goosen self hoor soos wat jy deur die blaaie vaar. Hiervoor kan mens die skrywer loof. Daar is natuurlik ook oorgenoeg omstredenheid. Daar word nie doekies omgedraai nie, maar dis darem geen sielewroeging nie. Ou koeie, ja, maar die koeie word net vir ’n rukkie afgestof en herbeskou; hulle word nie weer voor in die pad as versperring gelaat nie. Daar was die stryd oor backtracks. Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel. Kerkorrel veral is vandag nog ’n geliefde figuur in Suid-Afrika en van die opmerkings in die boek gaan dalk nie goed afgaan by sy aanhangers nie.

Daar is soveel interessanthede waarby mens sou kon stilstaan dat dit moeilik is om te kies en te keur. Ek het dit veral geniet om te lees van Goosen se verbintenis met die Paarl. Een van Goosen se groot treffers is natuurlik “Waterblommetjies”, en hy sou vir baie jare betrokke wees by die Waterblommetjiefees in die Paarl. En dan: die feeste. Ek het dit nooit geweet nie, maar die Afrikaanse mense se neiging om twee  opponerende feeste te hou, kom ons noem dit ’n behoudende fees en ’n progressiewe fees, dié is duidelik geen nuwe verskynsel nie. Behalwe al hierdie interessanthede werp die boek ook lig op Goosen se kunstenaarskap, sy liedjieskryfproses en natuurlik die musiekbedryf.

Hoe skryf mens oor ’n boek soos hierdie een sonder om jou relaas te kaserig te maak? Kom ek hou dit dus maar kort. Afrikaanse musiek is baie aan Goosen verskuldig. Sy bydrae tot die taal is monumentaal en hierdie biografie laat reg geskied aan sy lang en kleurryke loopbaan.

Lees ook:

Anton Goosen – Liedjieboer deur Hanlie Retief: ’n resensie

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top