Anton Goosen – Liedjieboer deur Hanlie Retief: ’n resensie

  • 3

Anton Goosen – Liedjieboer
Hanlie Retief
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624089735

Die eerste keer toe ek Anton Goosen se stem oor die radio hoor, was een aand in 1979 in Wellington, in my pa se kar. Ek was dertien jaar oud.

Die Radio Goeie Hoop-omroeper se presiese aankondiging kan ek nie onthou nie, maar dit was iets op die trant van "Ons luister nou na ’n nuwe sanger op die toneel, Anton Goosen, met sy debuut, ’Kruidjie-roer-my-nie’."

’n Catchy walsinleiding het by die ingeboude luidsprekertjie onder die paneelbord uitgesypel, en toe kom die woorde: "Jy’s ’n bondeltjie liefde as ons donkiekar ry, en die stadsliggies waai ver by ons verby …"

Dit was ’n splinternuwe stem; een soos ons nog nooit tevore gehoor het nie: welluidend, warm en speels, met ’n effens geaffekteerde aksent wat die woorde so lekker knuffel en kielie – dit was onweerstaanbaar. Toe die laaste "… te-ly-dy-die-dy …" wegsterf, wou ons nog hê.

Feitlik oornag was Anton Goosen ’n sensasie. Hy het op televisie verskyn met pittige, sjarmante antwoorde op die vrae van die SAUK se joernaalprogramaanbieders, met sy kitaar en sy lang hare en ’n baard, en ’n keps op die kop, en laslappiejeans en vellies sonder sokkies.

Mens kon byna hoor hoe hoogdrawende tantes en hul verstokte wederhelwe landwyd in hul tee stik. Sommer van meet af aan was Goosen ’n doring in die Afrikaner-establishment se vlees. ’n Rebel.

Beskrywings soos "volksvreemd" en "platvloers" en ander afwysende oordele is rondgeslinger tydens die stywelippieteepartytjies van die NP-elite en die hele verkrampte ou kabaal.

Dis dus nie verbasend dat verskeie van sy liedjies deur die destydse Publikasieraad verbied is nie – die oorspronklike, polities-satiriese weergawe van "Kruidjie" is as "ongewens" verklaar; dit het glo die waardigheid van die hooggeplaastes aangetas.

Kort voor lank het almal egter besef dat omtrent al daai lekker trefferliedjies van Sonja Herholdt eintlik uit Anton Goosen se pen gevloei het. En dat hy ’n opgevoede, intelligente mens is; ’n oudonderwyser, ’n ervare liedjieskrywer en resensent, en ’n bedrywige lid van die Johannesburgse kunstenaars- en mediagemeenskap.

Sy lirieke, en ook die musikale bloudruk van sy komposisies, het getuig van ’n diepe begrip van, en waardering vir die werk van die groot Afrikaanse digters en skrywers en komponiste.

Die folklore van die platteland – die plaaslewe, die landskap, die karakters en mites en legendes – was goed aan Goosen bekend, en hy het dit ingewerk by sy lirieke. Sodoende het die stories wat voorheen net in boeke opgeteken was, of mondeling oorgedra is, hul weg na Jan en Alleman gevind – spesifiek na hul TV-kamers, waar Goosen se musiek binne ’n ommesientjie ’n fixture was.

’n Beduidende deel van die vroeë Afrikaanse letterkunde was gemoeid met die "plaas versus stad"-verskynsel, waar die idille en heilsaamheid van die landelike bestaan gekontrasteer word met die morele verval en die gejaagdheid van die stadslewe.

In die spoor van Watermeyer (Sekel en simbaal) en Boerneef (Stad en land) en omtrent al die Afrikaanse skrywers en digters van die vroeër eras se ontnugtering met die stad en hul versugtinge na die deugde van die plaas, het Goosen die tradisie opgeneem en verder gevoer in sy liedjies. Reeds in die eerste reël van "Kruidjie-roer-my-nie" is daar die donkiekar teenoor die stadsliggies, en aan die einde Waterkloofrif teenoor Paddafontein. Hierdie verskynsel kom deurlopend in sy oeuvre voor.

Waar die ou digters se werke die stad merendeels voorhou as ’n simbool van verdriet en verderf, het Goosen dit besing en omarm. Die titel van die album waarop "Kruidjie" verskyn het, was immers Boy van die suburbs – nie Seun van die plaas nie.

Terselfdertyd het hy die landskap en die karakters van "die plaas" met deernis uitgebeeld. Dit het oor ’n breë spektrum gelei tot ’n nuwe waardering vir vorme soos tradisionele boere- en volksmusiek. Die lirieke en temas van die "outydse" liedjies het geresoneer met die nuwe voorstedelike geslag, sowel as met ouer Afrikaanse mense vir wie die behoud van daardie nalatenskap kosbaar en belangrik was.

*

Die storie van Goosen se aansienlike erflating is onlangs te boek gestel vir die uitreiking van die (outo)biografie Anton Goosen – Liedjieboer.

Dis ’n meesleurende verhaal, soos vertel aan en vasgelê deur die bekroonde joernalis Hanlie Retief. Dikwels komies, dikwels tragies, maar nooit vervelig nie. Retief se ervare hand sorg vir ’n vloeiende, onderhoudende leeservaring. Die vertelling word in die eerste persoon aangebied; mens "hoor" deurlopend Anton se eie stem – waarvoor die skrywer nogmaals ’n pluimpie verdien. Die leser kry ’n kykie in die binnekamers van Goosen se leefwêreld – van sy kinderdae tot op hede. Die lief en leed (daar is heelwat van beide), die hoogte- en laagtepunte, die sublieme en die bisarre, tragedie en triomf – alles word gedek.

Die sensasie wat outomaties met ’n lewe soos Goosen s’n gepaardgaan, word by die verhaal betrek, maar dit word genadiglik nooit uitgebuit nie. Dis nie ’n lang stuk "skinner" nie, maar neem vir lief: Daar is oorgenoeg sappige brokkies wat die oge laat rek en die lagspiere kielie. ’n Uiteenlopende en uitgebreide "rolverdeling" bevolk die narratief – vriende, vyande, minnaresse en sielsgenote, kollegas, legendes en afgestorwenes – sommiges word besing, ander word skromeloos verguis.

Ek het Liedjieboer in twee sessies klaar gelees. As dit nie was vir ’n optrede wat ek tussendeur moes gaan doen nie, het ek dit in een sessie verslind. Dit beteken geensins dat dit sommer ’n ou dun, ligte boekie is nie; inteendeel. Dis ’n lywige, boeiende geskrif, ’n ware page turner, wat tuishoort op die boekrak van elke liefhebber van (Suid-) Afrikaanse kultuur, en musiek in die besonder.

Die jaargety in ag genome, is die boek natuurlik ook ’n wonderlike Kersgeskenk wat enige aanhanger se hart sal verbly.

  • 3

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    Ek vind Goosen se giftigheid en beledigings oor Johannes Kerkorrel in die boek uiters onsmaaklik, kleinlik en kinderagtig. Het nie verwag dat Goosen tot op so 'n lae vlak kan daal nie.

  • Kerkorrel se aanranding op Koos Prinsloo in De Kat se kantore, was deeglik in die dagpers gedek - so van 'n lae vlak gedaal gepraat...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top