LitNet Akademies-resensie-essay: Die nuwe Afrikaanse prosaboek, saamgestel deur Sonja Loots en Steward van Wyk

  • 2

Die nuwe Afrikaanse prosaboek
Samestellers: Sonja Loots en Steward van Wyk
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798178082

1. Inleiding

Die nuwe Afrikaanse prosaboek verteenwoordig ’n ingrypende breuk met sy voorganger, Die Afrikaanse kortverhaalboek, laasgenoemde saamgestel deur Abraham H de Vries. Vir die doeleindes van vergelyking sal ek soms verwys na die vyfde hersiene uitgawe hiervan, wat in 1996 en weer in 2003 verskyn het onder die titel Eeu: Honderd jaar van Afrikaanse kortverhale. Dit is nie die laaste weergawe van De Vries se bloemlesing nie, maar dié uitgawe val saam met ’n simboliese oomblik in makrotydsverloop vir die ontwikkelingsgang van die Afrikaanse kortverhaal, en val ook min of meer saam met die einde van apartheid, en is om hierdie redes nuttig as verwysingspunt.

Die beginsels waarop Loots en Van Wyk hul keuse maak, sowel as die effekte daardeur verkry, verskil dermate van De Vries se keuses dat dit duidelik is die Die nuwe Afrikaanse prosaboek wil nie sy voorganger vervang nie. Wel beloof die nuwe bloemlesing om in vele opsigte ’n aanvullende blik te gee op die Afrikaanse kortverhaal. En dis ’n keuse wat tot wydlopige literêr-intellektuele nadenke stem, soos ek sal aantoon. Die samestellers fokus op eietydse en nuwe stemme, en minder op historiese stemme soos Langenhoven, Van Melle of CGS (Con) de Villiers. Selfs Eugène Marais het in die nuutste bloemlesing uitgeval. Skuins voor my op my lessenaar wag ’n publikasie op die lees, getitel Die Nuwejaarsfees op Palmietfontein en ander Afrikaanse verhale, deur Leon Maré (1918, uitgegee deur JL van Schaik). ’n Mens kry hier ’n indruk van hoe goed die kortverhaal in Afrikaans van meet af aan was. Dis werk wat die modernisme voorafgaan hierdie, en wel hierin: Dit bekragtig tradisionele waardes onkrities. En tog vermoed ek dat wanneer ek verder daarin lees, ek enkele kruipende trekke van die stadig wordende moderniteit, selfs van sy mees tiperende stroming, die modernisme, sal bespeur. Daar is nooit ’n onbetwisbaar aanduibare skeidslyn tussen hierdie groot gewrigte nie. En tog is die bewus wees van die bestaan van die gewrigte uiters bepalend vir die betekenis van tekste.

2. Samestelling en tydsgees

Wat onmiddellik opval uit Loots en Van Wyk se keur, is dat die demografie van die Afrikaanse skrywerstemme uitgebrei het. Meer bruin stemme kom voor. De Vries se samestelling het 18 vrouestemme (uit 68) teenoor Loots en Van Wyk se 29 (uit 58). Wat bruin of swart stemme betref, het die ouer samestelling ’n skamele drie (dis as ek my verstout om Langenhoven, wat volgens sommiges ’n bruin stem was, hierby in te tel), teenoor die nuwe samestelling se 11 (as ek reg tel). Die aantal stories deur die bruin skrywers wat opgeneem is, is ook goed beduidend. Hoewel die ouer samestelling noodwendig vele stories bevat wat oor bruin gemeenskappe handel – want uiteraard is die twee Afrikaanse gemeenskappe diep verstrengel – bevat die nuwe samestelling veel méér stories oor bruin gemeenskappe, hierdie slag meestal deur bruin skrywers self geskryf en nie vanuit ’n wit oogpunt nie. Ander stories, weer, bevat meer dikwels swart figure en ander Suid-Afrikaanse identiteite as voorheen. Die samestellers het polities ideologies uiteenlopende stemverbuigings opgeneem, insluitende uitinge wat vir sommige wittes aanstootlik kan wees. Dis ’n pluspunt aan die keur. Dit gaan nie hier oor reg of verkeerd nie, hoewel dit ook belangrik is, maar eerstens oor verteenwoordiging vir die kompleksiteit van ons samelewing en die uiteenlopende bronne wat dit voed.

Die samestelling neem die sogenaamde kortprosas van Jan Rabie as sentrale verwysingspunt, en volgens die voorwoord word werk opgeneem van “wyd uiteenlopende skrywers wat hom [Rabie] opgevolg het”. Daarmee bedoel die samestellers volgens hulle verdere verduideliking skrywers wat die invloede of bemoeienisse van Rabie in opvallende mate toon of daarmee omgaan, bewustelik of onbewustelik. Rabie het sy stories opsetlik nié stories genoem nie, omrede die verhaalelement soos tradisioneel verstaan, daarin ondergedompel staan ten opsigte van die modernistiese elemente. Sy prosas is eksperimenteel by uitstek en toon vele trekke van die Europese modernisme, onder meer eksistensialistiese angs; die nivellering van die individu as figuur; sy/ haar onderworpenheid aan maatskappykragte, soos die verbruikerskultuur; geïmpliseerde filosofiese mymerings wat vergestaltings en persoonlikhede aanneem; en narratiewe verdoeselings, ’n soort Veronika-dans met die mantels, wat die effek het dat dit die veelvoudige betekenisaard van die moderne storie beklemtoon. Met Jan Rabie het die Europese modernisme die Afrikaanse verhaal vol in die maag getref. Dit was ’n laat geboorte hiervan vir Afrikaans, en die Sestigers het noodwendig gevolg. Die latere postmodernisme en dié se opvolgers in Afrikaans – daarmee bedoel ek die eerste fase van postmoderniteit (genoem postmodernisme) sowel as die verbuigings daarvan wat daarna gekom het – kom in die vaarwater van hierdie ontwikkeling wat deur Rabie ingelui is. Vandaar die keuse van Rabie as vertrekpunt vir die bestekopname van die moderne en postmoderne kortverhaalkorpus in Afrikaans.

Elk van die nege afdelings word ingelei met ’n Rabie-verhaal uit sy seminale bundel 21 van 1956, en dan volg stories deur verskillende skrywers wat die tematiek van die Rabie-storie op meervoudige vlakke beliggaam en eggo. Een van die vele sterkpunte van Loots en Van Wyk se indrukwekkende versameling/raming, is juis hoe die samestellers metaforiese “asemhalingsruimte” verskaf vir Rabie se temas, soos wat dit voorkom in die ander stories wat in elke afdeling op ’n bepaalde storie uit 21 volg. Letterkundestudente kan veel hieruit leer wat toepassingsmoontlikhede van temas en die verskillende lae van “figuurlikheid” betref. Die keur se klem op die modernistiese wending wat deur Rabie se 21 verteenwoordig word, is ’n radikale klem. Dis méér as klem, dis die hele geraamte en postuur van die keur. Hierdie sterk benadrukking loop die gevaar om ’n sekere ongebalanseerde indruk te wek: Die eietydse verhaal het vele fasette en is besonder uiteenlopend. Mens sou kon redeneer dit álles put uit méér as net die wendinge van die modernisme. Trouens, die post-postmoderne verhaal keer dikwels terug na tradisionele vertelwyses, maar wend dit op gans ontradisionele wyses aan. Die gewaarwordinge in die eerste fase van die postmoderne verhaal, wat homself redelik selfingenome “postmodernisme” gedoop het, het daarná subtieler en komplekser geword, en is self ’n ontluistering van die modernisme sowel as ’n ontluistering van die eerste fase van postmodernisme. Dít laat die vraag ontstaan: Hóé sentraal staan die aanvanklike wendings van modernisme (by uitstek verteenwoordig deur Rabie) dan in werklikheid in die volle spektrum van die eietydse verhaal?

Die teenargument is egter redelik eenvoudig en besit ewe veel geldigheid: Geen van die opvolgfases van die modernisme sou moontlik gewees het as dit nie was vir die radikale ontsetelings van tradisionele betekenisse wat deur die modernisme, by uitstek deur Rabie ingelui, meegebring is nie. Dit is ook die swyende argument van Loots en Van Wyk se keur. Die belang van hierdie publikasie kan nie onderskat word nie. Dis besonder welkom, en boei van die eerste storie af, en hou enduit vol om te boei. Die meeste van die verhale is so gespanne én so spannend soos ’n “sixpack” op die grasperk in die middel van die winter. (Maar, oukei, nou klink ek ’n bietjie te veel soos Deborah Steinmair ...) Ek stem saam met die mening in die voorwoord dat Rabie se pessimisme oor die destydse Afrikaanse verhaal, dat dit onvoldoende sou wees as instrument om die nuwe tye te meet, welgeluksaliglik nie meer van toepassing nie. Nêrens kom ’n meer lewende opvoering van ’n samelewing se lewenswyses en problematieke só dimensioneel en voelbaar aan bod soos in sommige van hierdie kortverhale nie. Kortprosa gryp op bondiger wyses as die roman die stand van kultuur en plek vas, veral die onderbewussyn van ’n tydperk. Met hierdie stelling bedoel ek: By uitstek is dit die kortverhaal wat toegespits en kripties te werk gaan met die swyende psigiese gereedskap – moreel, filosofies, esteties en kultureel – waarmee ’n samelewing sy wroegings en dilemmas en ekstases besleg, en ook waarmee hy aan nuwes gestalte gee. Die roman is te wydlopig om hierdie soort onmiddellike sondering aan te bied, en die gedig meestal te persoonlik daarvoor. ’n Goeie kortverhaal is soos wat Petra Muller miere in “Die miere” beskryf: “Die mier, onthou mnr Oelofsen, het twee mae. Die een is sy eie maag waaruit hy voeding put. Die ander is sy sosiale maag, ’n reserwesak soms tot barstens gevul, waaruit hy sy makkers langs die pad voed” (bl 605).

Só is die goeie kortverhaal – dit het twee mae, en die leser eet van meet af aan saam uit albei. Dit is waaragtig ’n baie bepaalde tyd en plek, meestal gesitueer in die postapartheid Suid-Afrika, wat in hierdie keur aangebied word. Die Afrikaanse kortverhaal kan langs die heel beste verhaalkuns ter wêreld staan.

3. Verdere problematisering

Sommige van die klassieke verhale in De Vries se keur is ook hier. “Melk” deur Elsa Joubert is een, maar haar uitmuntende, sferies-melankoliese “Die sendeling se vrou” is nie opgeneem nie. Tematies skakel die eerste verhaal meer pertinent met die hedendaagse klem op die nadraai van kolonialisme en die aard van postkolonialiteit. En laasgenoemde storie skakel meer pertinent met erfenis, iets wat verby is. (Of is dit nie verby nie?) JM Gilfillan se “Taalles” is wel heropgeneem. Daar is verrassende afwykings van De Vries se keur. Dalene Matthee se “Judasbok”, Koos Prinsloo se briljante “Klara se klokkies” en Karel Schoeman sowel as Harry Kalmer is weggelaat. Maar dan is daar die nuwe stemme, wat vergoed vir die weglatings, soos Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer, Jolyn Phillips, die wonderlike vondste van Brian Fredericks, en enkele stories deur die verhoogkunstenaar Nathaniël. Dana Snyman se bakkiespore lê ook oor die bladsye gestrooi.

Die insluiting van Anna M Louw se “Herbert Birnseig se slaaplose nag” is ’n swakkerige plaasvervanger vir Schoeman se navrante “Die park na die val van die blare”. Albei stories handel oor uitgeweke randidentiteite, soos Jiddisje of Duitse mense, in Suid-Afrika. Dit was, en is, vermoedelik die Europees-afgeleide (lees wit) Afrikaner se grootste vrees om so ’n randidentiteit in sy eie land te word, en om hierdie gewaarwording dan te lees aan die hand van ander, meer opvallende minderheidsidentiteite, ander “uitgespoeldes” wil ek amper sê, bring die vrees dubbeld en dwars tuis. Schoeman se verhaal doen dit meer gestroop en in klinkerder prosa.

Soos mens deur hierdie boek lees, besef jy juis in watter groot mate Suid-Afrika in sy geheel eintlik saamgestel is uit allerlei “uitgespoeldes”. Dis nie meer soseer die landbouernasate en skepelinge van die vlugtelinge uit Europa hierheen wat in die kalklig val nie, maar die Portugese vlugtelinge uit Afrika wat in die sestigs en sewentigs in Suid-Afrika aangekom het; die verstotelinge van apartheid in die townships, plakkerskampe en die heuwels van KwaZulu-Natal en op die vlaktes van die Karoo; die tussengeslagtelikes en gay mense in ’n samelewing van bot binêres; die ouerloses; en die grondverontregtes – om maar ’n handvol kategorieë te noem. Een voorbeeld, uit Odendaal se “Mamy Blue”, van ’n vrou en ’n dansmaat wat sy pas ontmoet het, op die dansvloer:

Hy is glad en styfgespan soos satyn. My vingers sprei oop, ek drink aan sy reuk, voel die sagtheid van sy lyf, en strek boontoe, boontoe, tot my hand tot rus kom op die vol rondheid van ’n vrouebors. Die laaste noot van Mamy Blue hang vir ’n oomblik in die lug [...] (586)

Dié soort tematiek, terloops, van hoe die verteller in die storie met ’n skok agterkom dat haar verkeerde aannames vir haar net so waar gevoel het soos die eintlike waarheid, onderstreep ’n makrotema van die moderne en postmoderne letterkunde: dat die ervaring van iets nie in die ding self opgesluit is nie, maar in die ervaarder se konstruksie daarvan. (In die filosofie het die vroeë moderniteit se Immanuel Kant dit die eerste keer verwoord. Die fiksie het skynbaar langer geneem om daarby uit te kom.)

Hoewel ’n tematiese oorvleueling met die vorige bloemlesings noodwendig voorkom, kry die leser met hierdie keur ’n snuifie van die verdere, meer radikale verskuiwing van temas wat die hedendaagse lewe verteenwoordig. Die verhale word nie georden volgens name van skrywers nie. Dieselfde skrywersname kom verspreid deur die bloemlesing voor en stories word breedweg tematies georden. Hierdie ordening vergestalt ’n belangrike ontwikkeling van die laat modernisme wêreldwyd, waarin die skrywer nie meer gesien word as ’n oppermagtige choreograaf van gebeure nie, maar as ’n medespeler in die stroming en wentelings van temas, idees, plekke, registers en verhale. Mens kan dít in verband bring met Roland Barthes se idee van “die dood van die outeur”. Die bloemlesing gee in sy samestelling ’n baie knap weerspieëling van hoe ver hierdie idee struktureel ingegrawe geraak het.

Die samestellers, Steward van Wyk en Sonja Loots

Soos ek reeds geïmpliseer het, kan die té streng kapstokposisie wat aan Rabie se verhale toegeken word, die indruk wek van ’n bykans lukrake wegspringplek vir ’n nuwe kartering van ’n literêre landskap, ’n landskap wat sy invloede dalk veel wyer gaan haal het. As mens wel hierdie seminale posisie aan die modernisme wil toeken, is dit egter fassinerend met watter konsekwentheid en patroonmatigheid die nuwe kartering daarin slaag om te werk gaan. Die netto effek is ’n ondermyning van die noodwendigheid van oorgelewerde kategorieë en ’n bevordering van die idee dat nuwe snitte van kartering, gebaseer op gans ander strukture, ook wetenskaplik kan wees as dit oordeelkundig aangepak word, soos hier.

Die wye loep wat gebruik word om “kortverhale” hier te versamel, is opvallend. Daar is die lang kortverhaal soos aangetref in SJ Naudé se “Die lawaaimasjien” en “Oorlog, bloeisels”, wat onder meer handel oor Afrikaners wat swerf om apartheidsdiensplig te vermy, en Etienne van Heerden se uitnemende “Dol hond”; die kortverhaal; die kort kortverhaal; en selfs een of twee stukke wat naby aan vonkfiksie kom. Die uitvloeisel van hierdie wye loep is dat sommige joernalistieke vorme, soos die rubriek, ook kwalifiseer. Die stukke deur die joernalis Herman Lategan is gewis goeie joernalistiek, maar die aantal stukke van hom wat opgeneem is, rek ’n bietjie die idee van letterkundige meriete. Die opeenhoping van stukke deur Nathaniël, stukke wat baie slim is maar kennelik steun op Nathaniel se stem en persoonlikheidsregisters, werk nie vir my volledig as letterkundig verantwoord op papier nie. Die volledige kunswerk by hom is die geskrewe stuk plus die verhoogopvoering. Iets soortgelyk kan gesê word van sommige stukke deur Dana Snyman. Hoewel heel kostelik in hul direktheid en sentimentele atmosfeerrykheid, is stukke soos “Brekfis, Junie 1976” en “Shield” niks meer nie as ’n gemiddelde skoolgrappie in die eerste geval, en ’n woordspeling in die tweede, wat behendig verstorie is. Vir my is die ewe treffende direktheid in stukke soos Petra Müller se “Sondagskos” nader aan standhoudende letterkunde, weens die groter woordvaardigheid en die groter kompleksiteit van die vertelkonstruksie. Anders gesteld is dit met Dana se werklik uitstekende stukke “Roikappiki” en “Binnelandse sake”, wat wel slaag as letterkunde weens die vindingryke taalkonstruksies en die verbeeldingryke herskrywing van ’n bekende staaltjie in eersgenoemde geval, en die vernuftige sosiale kommentaar in verhaalvorm gegiet in die tweede geval.

Ek meen dus dat die samestellers die net ’n bietjie wyd gegooi het in hul insluiting van soorte kortprosa, en dit kom effens geforseerd oor na my smaak. As die net so wyd wil kom, waar is ’n snuifie van Rachelle Greeff se uitstekende rubriekstukke van so ’n dekade gelede? Én nie eens een storie van Harry Kalmer nie? Die kontrakultuurtradisie van Afrikaans in die negentigs en net daarna het geweldige invloed uitgeoefen. Die werk van Kalmer sowel as sy persoon het eenvoudige opvattings van ’n wit heersersklas ondermyn. Toegegee, soos Welma Odendaal en Gilfillan se verhale ook doen (sien verderaan).

Een van die onbetwisbare prestasies van hierdie keur is die verteenwoordiging wat gegee word aan streekstale en dialekte van Afrikaans. Die volledige argipel van “tale” wat tesame Afrikaans genoem word, dryf in hierdie boek in een stroom sáám. Weet jy wat is ’n aangelaaide tong (“Ontuis” van E Kotze)? Of ’n koort, soos in “ek gaan koort toe met jou” (Audrey Blignaut se “Sa, vat hom!”)? Ken jy “are” vir weerlig (“Malhond”, Van Heerden); “inkennige huise” vir nederige wonings (“Die oë, die oë”, Müller)? ’n “Sitkamerhoekie” wat mens in sommige ouer slaapkamers kry? En “kweperbekwaam” vir ’n jong meisie wat borste ontwikkel (Elias P Nel se “waterslang vat vrou”)? Daar is “vetlampiegelofies”, “kom-hiernatoe-gras” (lang gras wat in die wind waai), ’n vinnige draai maak by my “pos” (huis), “witbenes maak” (mense vermoor), ’n broek se “plietse”, ’n trensgat, ’n kêrelbok (manlike bok), ’n terjaken (diaken), “kaaipastig” (kamstig), om ’n paadjie met rivierklippe “uit te straat”; en so aan, en so aan. Die taalrykheid in hierdie bundel is gewoon onuitputbaar. Die beste gevalle is sinskonstruksies, wat te lank is om hier aan te haal.

Een van die opvallendste erfgename van Rabie is Marlene van Niekerk, hier in “Die slagwerker” en die “Die vrou wat haar verkyker vergeet het”. Dit is so veral in haar uitbeelding van eksistensiële angs en in die gekonstrueerde, sintetiese aard van die metafore en gewaarwordings in die twee verhale. Hierdie sintetiese aard bevraagteken die idee van wat “natuurlik” is aan die mens. In laasgenoemde verhaal raak ’n akademikus op ’n alleen-wegbreeknaweek verstrik in haar selfbewuste waardering vir voëls, en word sy ’n slagoffer van wat eintlik ’n selfopgelegde, baie selfbewuste oorwaardering van haarself is as mens: “Dit was ’n strik vir die lewe self, vir die allerkosbaarste, die argeloos wegwiekende, die mees skitterend bepluimde veegsels van die syn” (321). In die tradisie van die moderniteit plaas die vrou “wat haar verkyker vergeet het” haar eie mensheid bó die natuur, maar eindig onderstebo hangende in ’n boom, as ’n onderafdeling ván die natuur.

Breyten Breytenbach se verhale uit Katastrofes (waarvan ’n paar hier opgeneem is) is nog ’n direkte opvolger van Rabie.

Die interessantste gevalle van onlangse opvolgerskap wat die bundel uitwys, is Fransi Phillips en Nathaniël: so gesien in hul kort sinne, in die awelinkse, soms oënskynlik ontersaaklike waarneming, en in die opskorting van verhaallyn vir effek. Dis veel minder seker in watter mate Petra Müller, wat eintlik stam uit die kontrei- en die volksverhaal, by Rabie aansluit. Dis waarskynlik juis as kontrapunt dat Müller ’n interessante spanning met die Rabie-moment verteenwoordig. Daar moet egter in gedagte gehou word dat Müller wat die “metafisika” van haar verhale betref, weldeeglik modern is. Kyk byvoorbeeld hoe sy die tradisionele opvatting van die lewe na die dood in “Sondagskos” interpreteer.

Waarin die samestellers besonder goed geslaag het, is om te wys hoe die tradisionele en die eksperimentele vorme in die eietydse Afrikaanse kortprosa vermeng word en gevolglik van die mooiste “afgooikinders” opgelewer het. Breytenbach se kortprosas herinner juis aan Bolandse volksverhale wat saam met Roland Barthes en Robbe-Grillet by ’n Paryse maskerbal opgedaag het. Dié stukke is so boers soos kan kom, maar dit adem ’n wêreldtydgees in styl sowel as mededeling. Vir my is van die beste wendings in die kortprosa nié die meer bewustelike eksperimentalisme soos gesien by byvoorbeeld Fransi Phillips nie, maar die subtieler binnestebuite-draai van tradisionele vorme soos gevind in Van Heerden se “Dol hond”. Hier word ’n vae fantastieke element ingevoer om ’n streeksverhaalstorietjie – oor die sogenaamde karretjiesmense – in ’n volledig oortuigende sielkundige prieming van sosiale kompleksiteit, met inbegrip van volronde karakters, te verander. Die uitstygende idiomatiese en lewensgetrouheid van hierdie karakters, deur ’n wit skrywer geskryf, plaas ’n groot vraagteken agter die geldigheid van politieke argumente oor “kulturele toe-eiening” en herinner aan die aanval ’n paar jaar gelede op David Kramer se liedjies oor bruin gemeenskappe. Die reeds genoemde Müller is nog ’n voorbeeld. Jolyn Phillips maak iets spesiaal van die Afrikaanse baasvertellertradisie in haar verbluffende humoristiese verhaal “Lelik”, ’n stuk wat ’n hoogtepunt verteenwoordig in streekstaalaanwending in die bloemlesing. Twee voorbeelde: “Die donkerte het beginte op ons dakke sit” (207) en “Hennie is nou net wyd weg [verdwene]” (207). Ek kan ook hierby Helena Gunter se realisme soos dit in die bundel voorkom, insluit (sien verderaan).

Trouens, by die herlees van sommige van Rabie se stories val sommige van sy lomp stelswyses my op. Dalk het sy verhale nie so goed gehou in die tyd soos wat André Brink reken in sy voorwoord tot die herpublikasie van 21 in 2000 (aangehaal in Loots en Van Wyk se voorwoord) nie? Rabie was beslis ’n soort mondigwording vir die prosa, maar het nie die toets van die tyd in alle opsigte deurstaan nie, geoordeel aan die stories van hom wat hier aan bod kom. As teenvoeter moet egter gesê word dat Rabie soms beelde gebruik wat nog nooit voorgekom het in Afrikaans nie en wat laat dink aan Breytenbach, wat eers agt jaar later sy opwagting sou maak: “Toe hy weer kyk, het hy gesien hoe hulle nou albei in sy rigting kyk, en hoe haar hare skielik soos ’n seemeeu val langs haar gesig toe sy weer buig oor die roos” (518). Maar let gerus ook op die verkeerde plasing van die werkwoord “val” in die sin, die onnodige gebruik van die verlede tyd na die eerste komma, en die onnodige/verkeerde gebruik van “skielik”. Sulke besware verander egter niks aan Rabie se seminale betekenis as historiese figuur nie.

4. Uitsonderlike bydraes

Ek wil graag meer indringend na ’n paar van die mees besonderse kortverhale in die bundel kyk. Hier staan die uitnemende stilis Welma Odendaal vir my voor in die ry. Al vier haar stories handel oor wit mense wat ’n sukkelbestaan voer, en die karakters word kompleks en aandoenlik uitgebeeld. Die taal is beeldryk, keurig en gestroop, en die spanninge in die verhaal onderspan die vertelling so sekuur soos ’n weefraam. Kennis oor hierdie soort mense, goeie mense wat deur die noodlot buitestanders geword het, is net so noodsaaklik om die tragedie van ons verlede ten volle te verstaan as enige storie oor of deur ’n swart of bruin skrywer. Odendaal se stories is vol metaforiese ladings, waarvan die likkewaan wat in die kamer welkom was en toe vir jare nie weer gesien is nie (in “Vreemdeling”), ’n navrante, lieflike voorbeeld is. Wat in hierdie verhaal met ’n blanke gesin gebeur, is soortgelyk aan wat baie swart en bruin gesinne moes deurmaak, laasgenoemde om ander redes. Odendaal se verhale is my persoonlike gunstelinge in die bundel.

Oor Van Heerden en Müller se bydraes het ek reeds gepraat. Müller is een van die beste taalstiliste in Afrikaans en staan hierin langs Marlene van Niekerk. Helena Gunter se sorgvuldige en veelkantige beskrywings van die spanninge rondom grondbesit en die onregte rondom grond, in pure storie gegiet, is weldeurdag gekonstrueer om te wys dat daar geen wenners in hierdie voelbare tragedie is nie. As ’n etiese verbeelding staan sy langs Rabie. Een van die sterkpunte van haar twee verhale is hoe dit maatskaplike spanninge in die private en persoonlike domeine toon, en hoe die private en politieke nie losgemaak kan word van mekaar nie.

Die atmosfeerryke verhaal “Roomys” deur JM Gilfillan is waarskynlik die moment in die bundel wat ek die meeste geniet het. Die pragtige verhaal handel oor ’n padwerker en sy stukkie los liefde, soos gesien deur die oë van ’n ongerepte seun. So ervaar die padwerker se seun sy eerste bakkie roomys:

Net om daarna te kyk, was al ’n wonderwerk. Sneeuwit en glad. Soos niks wat ek al gesien het nie. Ek sal nooit vergeet hoe lekker dit was nie, met ’n heerlikheid wat nie vasgehou kon word nie. Voor jy dit behoorlik het, smelt dit weg. Dan sit jy met die smagting. Tot jy weer ’n mond vol vat. (24–5).

Uit dieselfde verhaal deug die volgende aanhaling om te wys hoe Gilfillan ondertone van suggestie hanteer. Sy beskryf die padwerker se beeldskone loslappie, hoe sy in die padwerkerstent staan: “Nouja, ek toe maar in [ek gaan toe maar in], en daar sal ek Rita Hayworth aantref. Of haar look-alike. By die pompstofie is sy aan die vetkoek bak” (23).

Gilfillan se tweede opgeneemde verhaal, “Girlie”, wat so skromeloos ’n stuk Afrikaanse lewe uitbeeld met inbegrip van die versweë spanninge wat daarin voorkom, verdien ook om genoem te word. Dis ’n uitnemende voorbeeld van seksuele repressie binne die gesinsverband.

Een van die groot vondste is die verhale van die onbekende Brian Fredericks, wat handel oor bruin mense se lewens in subekonomiese toestande. Die humor, die skreiendheid, die vereenselwiging met plek en mens, die hantering van spanning en verrassing is heel besonders. Die humor en taalsoepelheid van die skrywer en digter in Kaaps, Nathan Trantraal, is aandoenlik, snaaks en het heerlik botsende emosies by my uitgelok. Die beste hiervan is “Dit was ’n dag wat ek nooit sal vergeet nie”. Die moeitelose wyse waarop hy politieke kompleksiteite in terme van huishoudelike situasies uitbeeld, is goed. Ek sou die verhaal “Modern times” nie ingesluit het nie, omdat dit nie op die vlak van sy bestes is nie.

Die naam van E Kotze moet genoem word. As skepper van karakter en as idiomatiese stilis is sy op die vlak van Muller, Odendaal en Van Niekerk. Haar verhaal “Die dekker” is onvergeetlik, veral in die aandoenlike toneel van die voorbarige vroulike kuiergas wat die man vlugtig tussen sy bene betas, en dan draai die gasheer om en sê vir haar, uit pure oorbluftheid: “Faye, jy is darem ’n lieflike mens!” Die slotparagrawe van hierdie aandoenlike verhaal is meesterwerk.

Die verhale van die nuwelinge Maruanda Wynne, Lynthia Julius en Madré Marais het my diep beïndruk. Die omgewings- en humoristiese situasiebeskrywings by Wynne is uiters behendig gedoen. Die subtiel transgressiewe aard van Marais se verhaal, wat handel oor skoolgrondgeweld en die ambivalente houding van die verteller hieroor, het tegniese vernuf geverg. Die verteller moet genoeg leidrade aan die leser deurgee sodat die leser die verteller kan kritiseer, maar dit moet gedoen word ondanks die verteller se emosies. Die “astrante” toon van Julius se verhaal het die paradoksale effek dat dit die leser oorhaal, wat ook vernuftig is.

5. Slot

As akademiese naslaanbron en as lekkerleesboek is hierdie publikasie een van die grotes uit die afgelope jare. ’n Samestelling staan in noue verband met die werklikheid van tydsverloop, en daarom het ek my toegespits op die veranderde aard van tekste in die lig van die veranderde tye, ’n aspek wat die publikasie pertinent onderskryf. Hierdie publikasie hoort op die boekrak van elke skrywer en leser, veral skrywers wat nog leer hoe om te skryf. Dis onontbeerlik.

  • Charl-Pierre Naudé is ’n digter, die skrywer van die roman Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey en samesteller van Rooiborsduif: Gedigte oor die liefdedeur Breyten Breytenbach.
  • 2

Kommentaar

  • Marianne de Jong

    Vir my is hierdie resensie oop, krities en ingelig. Twee vrae: Is die neiging tot allegorie in Rabie se 21 nie onmodernisties en daarbenewens ook lastig vir 'n eietydse leser nie? Wat beteken die woord "aandoenlik" soos die resensent dit gebruik?

  • Charl-Pierre Naude

    Middag Marianne, dankie vir jou gunstige kommentaar. Daar is vir my persoonlik aspekte van Rabie se 21 wat lastig is, maar dit het meestal met stelswyses te doen. Wat die allegorie betref, dit is een van die oudste stylfigure, as mens dink aan byvoorbeeld die gelykenisse van die Bybel of Aesop se Fabels, maar geen vorm of vormgewing is myns insiens per definisie onmodern of onmodernisties nie. Dit kan altyd op 'n moderne wyse hergebruik of -toegepas word. En die inhoude wat Rabie deur sy allegoriee uitdruk, is weldeeglik moderne idees en bekommernisse. Van die "modernste" boeke gebruik die allegoriese vorm: Animal Farm. Op sy mees verhulde vlak, is Disgrace deur J.M. Coetzee myns insiens niks anders as 'n allegorie nie. "Aandoenlik" hierbo beteken "ontroerend".

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top