![]() Foto: verskaf
|
Sêgoed van Jeanette Ferreira Hoekom skryf sy? “Ek kan nie juis magiese antwoorde gee nie. Dis ’n behoefte om te skryf, om ervarings op ’n spesifieke manier te verwoord. Uiteindelik word dit natuurlik iets anders as die ervaring self. Dalk is dit dit: jy weet die verwoorde ding is anders as die ervaring self, en jy moet weet wat die ander werklikheid van jou baie reële ervaring is. En tog is die verwoorde ding nie onwerklik nie, dis daardie ou storie van selekteer en orden. Juis daarom word dit anders as die ervaring. Maar dit sal nooit, ek sou nie wou dit moet, onwerklik wees nie.” (Beeld, 24 Januarie 1991) “Prosa is loop, poësie is dans – ’n taal moet kan loop en dans.” (Insig, Maart 2007) Oor hygromans en die gebruik van skuilname: “Ek het baie hard gewerk aan my twee hygromans en daarom het ek dit ook nie onder ’n skuilnaam gedoen soos minstens twee bekende en gerekende skrywers wat ek ken nie. Ek is jammer dat hulle skuilname gebruik het, want as skrywers nie self geloofwaardigheid aan hul eie werk wil verleen nie, bly daar net die lesers oor om dit te doen, en met hul algemene smaak word vinnig deur die kritici afgereken – sommige minder bekwaam as ander.” (Volksblad, 10 Oktober 1996) “Nóg Babette nóg Catharina is sonder die romantiese, die erotiese, want dit moet ek tog sê: ons voorvroue mog inderdaad kaalvoet oor die Drakensberge, en van hulle moes selfs voor die Engelse se perde kraam, maar ons moet nooit vergeet dat hierdie vroue se Statenbijbels ook Hooglied gehad het nie. ... Ek plagieer Hooglied. My boom van kennis, van goed en kwaad is die kremetart, en dis ’n rooiboklam wat naas die leeu lê in die laaste dae, en wel in die Laeveld.” (Volksblad, 10 Oktober 1996) “Etikette maak my kriewelrig. Ek sal eerder bely dat eenvoudige dinge my meer geval as die gekompliseerde probleemanalises waarmee ons gekompliseerde vraagstukke probeer hanteer. Om na die eenvoudige prosesse in die natuur te kyk sodat ek kan sin maak van die kompleksiteite wat dit onderlê, beteken byvoorbeeld vir my meer as ’n stuk onverteerde filosofie. Onthou, ek kom uit die Laeveld en my pa was ’n boer.” (De Kat, September 1999) “Vir my is daar in ieder geval net een soort storie en dit is ’n goeie storie.” (De Kat, September 1999) “Die musiek wat altyd in my woonstel speel, is nie vir ontspanning nie, maar ek dink dis essensieel vir my om te kan skryf.” (Beeld, 11 Oktober 2006) “Die skryf van ’n boek vreet aan my. Ek is baie moeg ná die tyd en dit neem my lank om te herstel. Ek klim só diep in my karakters in dat ek deel word van hulle en ’n rouproses deurgaan wanneer die laaste sin neergeskryf is.” (Volksblad, 12 Julie 1999) Oor die heruitgee van Babette, Catharina en Charlotta in 2006: “Hoe ook al, ek was omtrent in trane toe ek hoor die drie romans word weer uitgegee. Daar gaan ’n stuk van jou lewe in ’n roman in, en dis baie swaar vir ’n skrywer om vir lesers wat navraag doen, te sê die boek is nie meer te koop nie.” (Insig, Desember 2006) “Ek dink jy kry alle soorte mense in ’n oorlog. Daar’s goeie en slegte mense aan albei kante. In ’n oorlog kom mense se ware aard soveel intenser na vore. As jy boos is, sal jy boser wees, en as jy edel was, sal jy edeler wees. Dit is juis die intensiteit van mense se emosies in ’n oorlogsituasie wat my boei.” (Rooi Rose, 3 Maart 1999) “Ons verstaan so ietsie van die geskiedenis sodat ons vandag kan keer vir die foute van gister en die verre gisters.” (Uit: Bloedlelie) “In liefde wil mens alles van jouself gee. In oorlog wil mens alles neem.” (Volksblad, 6 April 2019) “Oorlog is ’n virus waarvoor ons nou nog nie ’n teenmiddel ontwikkel het nie.” (LitNet, 20 Desember 2023) Nog iets oor oorlog: “Ek weet net dié een ding: Oorlog gaan nie oor die gewone mense se belange nie. Oorlog het ook nie twee kante nie, die enigste kant is die burgers s’n en dis ook hulle wat die onbeskryflike lyding daarvan moet dra.” (Sarie, 5 Januarie 2024) “Wanneer ek begin terugloop in die geskiedenis, kom ek elke keer by een mens se komplekse, interafhanklike lewe uit. Een miskruier wat so ’n swaar las op hom neem dat hy sy bagasie met die agterpote stoot, pebliek bene in die lug en kop onderstebo die pad huis toe vind en só die mikrokosmos – nee, die kosmos – se samehang medebepaal.” (Sarie, 5 Januarie 2024) “Die geskiedenis gaan nie oor gebeure en kennis nie, maar oor mense. En mense laat hulle nie so maklik verklaar nie. Hier sit ons met pakke dokumente, getuienis, selfs visuele materiaal oor die verlede en tog verskil interpretasies daarvan in heelwat gevalle radikaal. Dit fassineer my.” (Sarie, 5 Januarie 2024) Waarom skryf sy so baie oor grondbesit? “Ons soek maar almal na ons huis en die fisieke grond waarop dit staan, verteenwoordig dit. Maar miskien is mens se huis jou breinaktiwiteit, jou geheue, jou persoonlikheid, hoe jy jou omwêreld leer verstaan het, hoeveel jy vir ander mense voel, dit wat ons ‘gevoel’ noem.” (Sarie, 5 Januarie 2024) “Ons verromantiseer inderdaad liefde. Die grootste deel van liefde is verantwoordelikheid teenoor en vir jou geliefde, en vir en teenoor jouself. Dit is soveel as wat ek kan sê sonder om die storie van Die Melkweg weg te gee.” (Sarie, 5 Januarie 2024) Naomi Meyer vra op LitNet: “Hoe skryf mens uit vandag se perspektief oor mense van die verlede? Dis net sowel iemand van ’n ander planeet. Dalk sluit die vraag aan by twee van die vorige vrae: Hoe skryf mens oor Die Ander, en ook: hoe skryf die skrywer van historiese romans?” Jeannette antwoord: “Wit mens en swart mens is vir my al twee gewoon mens. Van hierdie planeet. In ons tyd. Mits so ’n mens nie verhef is tot iets wat nie meer menslik haalbaar is nie, byvoorbeeld die Britse koninklikes en die Afrika-koninklikes en al die koninklikes van onse lewe. Mag hulle saligheid vind.” (LitNet, 4 April 2019) |
Gebore en getoë
Jeanette Ferreira (so vernoem na haar ouma aan vaderskant) word op 20 April 1954 in die Duiwelskloof Hospitaal naby Tzaneen gebore en word in die Laeveld groot waar haar ouers, Tom en Sophia, op die familieplaas Deerpark woon. Sy is die jongste van vier kinders – twee ouer broers, Jan en Faan, en ’n ouer suster, Magda.
Volgens haar broers en suster was Jeanette haar pa Tom se witbroodjie. Hy is oorlede toe sy 16 jaar oud was en “die leemte wat hy gelaat het, het ek dwarsdeur my lewe gevoel. As laatlam was ek eintlik baie eensaam,” vertel sy aan Corlia Fourie (Rooi Rose, 10 Mei 2000). “My dagboeke, my gedagtes en my Sjangaanmaatjies was my vriende. By hulle en my pa het ek my eerste veldlesse gekry soos watter veldvrugte jy kan eet en hoe die seisoene werk.
“Een van die eerste dinge wat my pa my geleer het, was dat as jy iets uit die natuur vat, jy weer iets moet terugsit. Veertig jaar gelede was dié bewaringsbewustheid ’n ongelooflike ding vir ’n boer.
“My lewe het beslag gekry in die weemoed en drome van my ma, Sophia, se tuin vol bougainvilleas, rooi gousblomme, floksies en veldorgideë – en in my pa se veldkamp – blesbokke, duikers, maroelas en botterklappers.”
Vir haar is die Laeveld die mooiste streek op aarde, waar sy “graag eendag net ’n grondjie sou wou hê”. Haar grootouers speel ’n belangrike rol in haar lewe. Sy vra haar wyse oupa of hy nie bang is om dood te gaan nie en sy antwoord is dat soos ’n blaar van die moederboom losraak, is ’n mens nie meer so bang vir die dood as jy ouer word nie. (Rooi Rose)
Jeanette voltooi haar primêreskool-loopbaan aan die Laerskool Tzaneen en gaan daarna na die Hoër Landbouskool Merensky, waar sy in 1972 matrikuleer. Sy onthou haar tyd aan die Hoërskool Merensky as wonderlik – “serenades in die bos agter die hoof se huis, Voortrekkers holdrio en al die gebruiklike sondes van koshuislewe”.
Jeanette vertel verder aan Corlia Fourie dat sy in standerd 9 (vandag graad 11) saam met vriendinne na Europa is: “Van my skooldae af hou ek baie van geskiedenis, het veral ’n ding oor Napoleon gehad en oorsee wou ek heel eerste sy graf gaan opsoek. ’n Week ná my terugkeer het ek 17 geword en toenemend oor my plek in Afrika begin dink.
“Ek lees steeds baie geskiedenis, nou as agtergrond vir my historiese romans, veral die Anglo-Boereoorlog en die breër Afrikageskiedenis. Die boek wat kleintyd die grootste indruk op my gemaak het, was FA Venter se Geknelde land wat ek in standerd vier tot laataand in die bed gelees en my in my verskrikte drome laat roep het, ‘Die Xhosas kom!’ Tot my ma gesê het ek moenie saans boek lees nie.”
Sy begin skryf in dagboeke en kladskrifte en toe sy agt jaar is, wen sy R5 in ’n opstelwedstryd op skool wat deur Die Noord-Transvaler uitgeskryf is. Sy bêre dié R5 so diep dat sy dit nog nooit weer gekry het nie. Juffrou Hanna, haar Afrikaans-onderwyseres, het gesê haar opstelle is “mooi en goed”.
As kind het Jeanette nooit die ideaal gehad om ’n skrywer te wees nie. “Skryf is vir my ’n manier van lewe sonder dat ek dit ooit so beplan het; dit het maar net gebeur.” (Rooi Rose, 10 Mei 2000)
Verdere studies en werk
Na skool gaan Jeanette na die Universiteit van Pretoria, waar sy in 1976 haar BA Honneurs in Afrikaans-Nederlands en Nederlandse Kultuurgeskiedenis behaal. Sy skryf haar in vir ’n MA (ook aan Tukkies) en in 1982 verwerf sy dit onder leiding van prof AP Grové oor Die terugkerende beeld in die poësie van Breyten Breytenbach. Dit word in 1985 deur Saayman en Weber uitgegee onder die titel Breytenbach: die simbool daar. Sy behaal haar PhD aan die Universiteit van Rhodes onder leiding van André P Brink.
In 1977 begin sy haar loopbaan as dosent aan die Universiteit van die Noorde en tot 1996 doseer sy Afrikaanse letterkunde, ook aan die Universiteit van Zoeloeland en aan Vista.
In 1980 verhuis sy van Pietersburg na Johannesburg, waar sy by Perskor begin werk as uitgewer van letterkundige publikasies. Sy is ook ’n vryskutrubriekskrywer en skryf resensies vir Die Transvaler en Die Vaderland.
Ook in 1980 verskyn haar eerste digbundel, Waar een mens saam is, by Perskor. In Beeld (8 September 1980) begin André le Roux se bespreking van Waar een mens saam is só: “Waar een mens saam is is een van daardie debuutdigbundels wat by die tweede, derde lees ’n beter indruk maak as by die eerste. Die Afrikaanse poësie het die afgelope paar jaar nogal sterk vroulike stemme gehoor. Van Niekerk, Müller, byvoorbeeld en hoewel Ferreira nog nie behoorlik tuisgekom het nie, is sy suutjies op pad – die pylvak lê voor ...”
En dan sluit Le Roux af: “Jeanette Ferreira skep verwagtinge wat hopelik in ’n tweede bundel bevredig sal word. Dan behoort sy met reg en behoorlik tuis te kom in digterlike geselskap.”
Johan van Wyk is die resensent van Waar een mens saam is in Vaderland (29 Mei 1980): “Die bundeltitel wys op die vervreemding, die buitestander wees van die spreker. Op die oog af is dit ’n teenstrydige titel: hoe kan ‘een’ mens saam wees? Dieselfde paradoks kenmerk die Afrikaanse woord ‘eensaamheid’ wat ’n gevoel van vervreemding en alleenwees, moontlik in groepsverband of in afsondering aandui. (...)
“Die tema van vervreemding en eksistensiële angs kan Jeanette Ferreira in die toekoms met meer oorspronklikheid en dissipline ontwikkel. Op die oomblik is dit nog ver van aangrypend af, veral wanneer die buitestander in haar bundel vergelyk word met Diederik Versfeld, die hoofkarakter in Dolf van Niekerk se boek Die son struikel. Jeanette Ferreira het ’n intensiteit in haar werk wat van haar ’n belangrike digteres kan maak, indien sy meer moeite sou doen en met meer geduld haar gedigte sou afrond.”
Johann Johl (Volksblad, 24 Julie 1980) sluit sy resensie af: “In die geheel benut die bundel ’n gegewe van tweeledigheid (liefde en eensaamheid, liefde en satire, satire en samelewing, politiek en godsdiens). Dit wil heel duidelik ’n jeugdige styl vertoon, maar vertoon soms te veel en te esoteries (binne die opset). Deurdat Engels ingevoer word, hier en daar ’n knypie Walters en Krog ook laat dit ’n onaf indruk: die verse is nie getrou aan hulself nie.
“Dus wil ’n mens volstaan met dié opmerking: die digteres het belofte, maar het nog nie genoegsaam haar eie stem gevind nie.”
In 1982 wen sy saam met AAJ van Niekerk Die Transvaler se kortverhaalwedstryd.
In 1983 gaan sy na die Universiteit van Zoeloeland as lektor en ontmoet haar man Albert van Jaarsveld daar. Hulle is einde 1983 getroud. ’n Dogter, Dalena, wat nog altyd die lig in Jeanette se lewe is, is in 1986 gebore. Jeanette en Albert was vir ’n klompie jare uitmekaar en is weer in 2014 getroud. Albert is in 2021 oorlede. Dalena het twee kinders.
In 1988/1989 word Ferreira verkies as voorsitter van die Afrikaanse Skrywersgilde en sy vorm deel van die Suid-Afrikaanse afvaardiging wat in 1989 die ANC in die buiteland ontmoet het. Sy woon tans in Pretoria en was vanaf Maart 2007 tot 2009 uitgeweryhoof by Protea Boekhuis. Jeanette is nog altyd in die uitgewersbedryf en doen vryskutwerk vir ’n paar uitgewershuise.
Jeanette lees baie geskiedenis, veral oor die Anglo-Boereoorlog en die breër Afrika-geskiedenis. Sy is ook lief vir biografieë, boeke oor die antropologie, ekologie en argeologie, en die ou vertaling van die Bybel – en natuurlik fiksie. Kleintyd het FA Venter se Geknelde land ’n groot indruk op haar gemaak en op hoërskool André P Brink se Kennis van die aand.
Haar debuutdigbundel word in 1985 gevolg deur haar eerste prosawerk, ’n novelle getiteld Sitate om ’n rewolusie (Human & Rousseau), wat deur André Brink in Engels vertaal is (Footnotes on a revolution) maar nooit gepubliseer is nie.
Riana Botha beskryf die tema van Sitate om ’n rewolusie (Volksblad, 22 Junie 1985) só: “As basiese gegewe het die novelle die groeiende onrus en uiteindelike opstand van swart studente aan die universiteit waar Jeanne de Bruyn Afrikaanse letterkunde doseer. Dit gaan in hierdie roman egter nie soseer oor politiek en studente-opstand per se nie, maar om Jeanne se sensitief-vroulike waarneming en belewing van ’n rewolusie wat sy uiteindelik ook liggaamlik en geestelik beleef.
“Waar die onrus op die kampus aanvanklik vir haar net ‘vertroude vyandigheid’ (p 68) is, raak sy toenemend betrokke by die studentepolitiek juis vanweë haar vriendskap met Dawn Lokgatla en Hillary de Witt, die verslaggewer met wie sy ’n liefdesverhouding aanknoop.
“Sitate om ’n rewolusie het as opdrag ‘Vir die Gemini’ wat as ’n belangrike sleutel en sentrale kode in die teks ontwikkel. Want in hierdie heg gestruktureerde roman van Ferreira is dit die dualiteit en eendersheid van begrippe (wat deur die betrokke sterrebeeld versimboliseer word) wat telkens geaktiveer en uitgewerk word. (...)
“Sitate om ’n rewolusie is nie versetliteratuur nie. Die tweeledige interpretasie van die titel het reeds gesuggereer wat in die teks gerealiseer word. Die titel het enersyds ’n periferiese konnotasie, naamlik dat dit gaan om sitate rondom die rewolusiegegewe, en andersyds ’n neutrale konnotasie in die sin van ’n objektiewe verslaggewing. Albei interpretasies is van toepassing op die hoofkarakter. (...)
“Met Sitate om ’n rewolusie het Jeanette Ferreira dit reggekry om eietydse en kontroversiële stof te verwerk tot ’n baie geslaagde roman.”
In Rapport van 5 Mei 1985 begin André P Brink sy resensie van Sitate om ’n rewolusie só: “Nog ’n vrouenaam om te voeg by dié skrywers wat besig is om in die jongste Afrikaanse prosa horisonne oop te skryf: Jeanette Ferreira, wie se pragstuk van ’n novelle, Sitate om ’n rewolusie, iets merkwaardigs vermag deur haar versoening van die sensitiewe en die intellektuele, die politieke en die private.”
En hy sluit af: “Al die sitate van die teks probéér om iets anderkant hulleself te ‘verteenwoordig’, deel van die spel présence-absence, soos Derrida dit sou noem.
“Die geringste gegewe in dié novelle word geaktiveer as teken, wat dit een van die rykste tekste maak wat ek lank laas in Afrikaans gelees het (en dit terwyl dit ook vir die leser wat ‘agter die storie aan’ lees, ’n ontroerende ervaring is).
“Sitate om ’n rewolusie is op stuk van sake iets baie besonders: so liries soos By Grand Central Station I sat down and wept of Die kremetartekspedisie; tegelyk ’n skerpsinnige en bewoë vroulike insig in die skokkende werklikhede van ’n gesplete land.”
Jeanette se eerste kortverhaalbundel Die mammies, die pappies, die hondjies, die katjies word in 1989 by Taurus uitgegee.
Jean Lombard bespreek Die mammies, die pappies vir Vrye Weekblad van Somer/Herfs 1990. Hy meen dat sy afwyk van die tema van haar roman, aangesien dit wat in die sewe verhale gebeur, wel direk deel is van die rewolusie: “Die slotverhaal gaan selfs verder: dit eindig in ’n tyd van bevryding wanneer daar na die huidige (1990) noodtoestand as ‘daai tyd’ verwys word.
“Ondanks die oorkoepelende dimensie van stryd is die verhale nogal uiteenlopend. Die relatief kort tekste het byvoorbeeld telkens ’n ander soort verteller of fokalisator, in sommige gevalle selfs meer as een. ’n Gemeenskaplike eienskap, wat terselfdertyd die vernuwendste aspek van dit uitmaak, is naamlik dat elke teks afgesluit word met ’n erkenning of erkennings aan persone, situasies of spesifieke tekste wat tot die verhaal se ontstaan aanleiding gegee het.”
Lombard sluit af: “Daar is heelwat sprake van sonde, skuld en bekering in Ferreira se verhale – bekende temas met betrekking tot die Afrikanersbelewing. Maar daar is ook implisiete waardering, selfs in ’n verhaal soos ‘Handewerk vir die nageslag’. Dié skisofreniese toestand van verset en verbondenheid kan op ’n indringender wyse deur ’n Afrikaanse skrywer aangepak word as wat Jeanette Ferreira met hierdie Taurus-publikasie gedoen het. Tog kan die verhale help om ons eie gedagtes oor feit en fiksie, werklikheid en fantasie, binne ’n vinnig veranderde Suider-Afrika duideliker vorm te laat aanneem.”
In Insig van Maart 1990 is Andries Oliphant heel positief oor Die mammies, die pappies: “Met hierdie bundel lewer Ferreira nietemin uitstaande verhale,” is sy slotmening, “veral waar sy persoonlike ervaring vermeng met politiese en historiese gegewens. Afgesien van hinderlikhede soos die neiging tot niksseggende aforismes en ’n onkritiese herhaling van revolusionêre slagspreuke, is die bundel ’n waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse kortprosa. Die houdings en perspektiewe wat simboliese gestalte in die verhale kry, sal waarskynlik toenemend deel word van ’n Afrikaanse literatuur wat ’n rol wil speel in literêre en sosio-politieke verandering.”
Vir Joan Hambidge (Beeld) is Die mammies, die pappies ’n bundel wat verdienste het, veral “vanweë al die genoemde eksperimente met die verteltegniek én die vroulike perspektief op geweld en onderdrukking. Of hier egter ’n werklik bevryde vrou al aanwesig is, sou ’n feministiese debat kon ontlok. Die twee strominge binne die Afrikaanse letterkunde, naamlik die post-modernisme teenoor die politiek-betrokke teks, word eweneens versoen met mekaar. Hiermee word die holruggeryde argument dat ’n mens nié oor die ‘struggle’ in post-modernistiese terme kan skryf nie, ten slotte verkeerd bewys.”
En in Die Burger beskryf Helize van Vuuren Die mammies, die pappies as ’n “boeiende eksperiment in betrokke skryf soos ons nog nie vantevore in die Suid-Afrikaanse letterkunde (Afrikaans én Engels) mee gekonfronteer was nie”.
Van haar kortverhale verskyn in Tydskrif vir Letterkunde en Die Suid-Afrikaan. Terwyl sy aan ’n boek skryf, kies Jeanette ’n stuk musiek waarna sy deurgaans luister. Sy kan tot veertien uur per dag skryf. Wanneer sy die einde van ’n boek nader, raak dit ’n byna koorsagtige proses.
En toe in die middel 1990’s beweeg Jeanette heeltemal weg van haar vorige skryfwerk toe twee hygromans, Daardie eerste somer en Bly by my vannag, uit haar pen verskyn. Hieroor het sy glo gevra: “Sal ek nog op literêre happenings aanvaarbaar bly as ek eers my ‘hoë’ literêre naam aan hierdie ander teks gekoppel het?” (Die Suid-Afrikaan, Desember/Januarie 1994/1995)
Maar in Volksblad (27 Maart 1995) skryf Hennie van Coller dat Jeanette se besluit om erotiese liefdesverhale onder haar eie naam te skryf, as ’n “besliste stellinginname” beskou moet word. Van Coller skryf voort: “Sy bevestig eintlik net wat alle letterkundiges behoort te weet: dat alle literatuur bestaansreg het mits dit goed is, dat ’n skrywer in verskillende ‘registers’ kan skryf net soos enige mens daarin kan praat, en dat ontspanningsliteratuur ook behoorlike eise aan ’n skrywer stel.
“In Daardie eerste somer skryf Ferreira ’n heerlike liefdesverhaal met oortuigende karakters, knap dialoog wat soms so uit die mond geruk klink en ’n oortuigende intrige. (...)
“Ek vind die karakterisering veral knap en laat ’n mens hoop dat ’n ernstige Zoeloelandse roman dalk lê en wag. Perskor voldoen aan ’n uitgesproke behoefte by die Afrikaanse vrou met sy publikasie van meer openhartige liefdesverhale. Dit het tyd geword dat hy sy vlerke sprei en ander verwaarloosde genres in Afrikaans (die avontuurroman, die speurverhaal) bewustelik bemark.”
Oor haar ondervinding met die skryf van hygromans vertel Jeanette meer aan Max du Preez in De Kat van September 1999: “Die hygromans was terloops nie so maklik nie: dis opdragwerk waar jy binne riglyne moet skryf. Jou leser weet byvoorbeeld die held en heldin sal en moet mekaar uiteindelik vind. Met die einde reeds voor die hand liggend, moet jy nogtans spanning skep. Dit het my genoegdoening verskaf, maar dit voel my dis nou verby. Ek berou dit nie, soos ek dit nie berou dat ek dit nie onder ’n skuilnaam geskryf het soos ander skrywers van wie ek die name uit lojaliteit verswyg nie – en dit noem ek bloot om te sê dat ek nie so ’n uitsonderlike ding gedoen het nie. Daar is min ontspanningsliteratuur in Afrikaans en daar is meer Afrikaanssprekendes met ’n behoefte daaraan as aan verwikkelde literatuur. Engels, wat ons so vrees, bied egter ’n ruim verskeidenheid daarvan en die meeste Afrikaanssprekendes lees ook Engels.”
Met die publikasie van Die onsterflikes in 1995 begewe Jeanette haar weer op onbekende terrein, naamlik dié van wetenskapfiksie, ’n onontginde genre op daardie tydstip in Afrikaans. Die verhaal speel af in Immorta, ’n stad waar tyd nie bestaan nie. Dokter Emile du Randt word ontvoer en na hierdie stad geneem.
Op Skrywers & Boeke vertel François Bloemhof die agtergrond van die storie: “Immorta word bewoon deur mense wat vanweë hul besondere vermoëns as ’t ware uit die aardse lewe geruk is om daar te kom dien. As hulle aanpas en hul vaardighede vir Immorta bied, kry hulle ’n ewige lewe – maar daar is wel ’n paar ‘vangplekke’: hulle mag geen huwelik hê nie, geen intimiteit, geen politiek, geen godsdiens of private besit nie ... Emile du Randt is vanselfsprekend nie hiermee gediend nie.
“Die helfte van die verhaal word uit Emile se oogpunt vertel, en die ander helfte uit dié van Lawa, ’n mooi vrou wat in Immorta woon.”
Bloemhof maak dan ’n, soos hy dit noem, “gewraakte” stelling dat mans in die algemeen nie sulke goeie liefdesverhale as vroue kan skryf nie en dat vroueskrywers se aksieverhale nie so goed soos mans s’n is nie: “Dit was wys van Jeanette Ferreira om haar verhaal ’n emosionele kern, eerder as ’n aksie-kern, te gee. Die spanning wat in Die onsterflikes ontstaan, spruit eerder uit die liefde wat Emile en Lawa vir mekaar voel, en die omstandighede wat maak dat hulle dit nie durf wys nie, as uit die gevare wat in Immorta skuil. (...)
“Dit is duidelik dat Ferreira deeglik navorsing gedoen het oor onder andere die antropologie. Emile is ’n antropoloog en dit sou verdag gelyk het as daar nooit in die roman na die antropologie verwys word nie. (...)
“As ek Die onsterflikes in ’n paar woorde móét opsom, as iemand my sou vra om dit te definieer, sou ek sê dit is ’n ongewone liefdesverhaal. Emile en Lawa se emosies staan deurgaans voorop – en dit is belangrik, want dit verseker dat ons omgee wat met hulle gebeur. In ’n genre waar die gebeure onwaarskynlik is, is dit belangrik dat die leser aanklank vind by die hoofkarakters se gedagtewêreld – en dít, dink ek, kry Jeanette Ferreira baie goed reg.”
Tom Gouws is in Beeld (29 April 1996) die resensent en hy skryf dat hy die teks van Die onsterflikes baie geniet het, maar hy meen dat wat as wetenskapfiksie voorgesit word, dalk die pitch van die genre mis. “Daar is wel interessante wetenskaplike hipoteses en die boek word uiteindelik tog ’n mengsel van fantasie en kwasi-wetenskaplike verhaalkuns, maar hierdie bespiegeling van ’n toekoms word na my gevoel te veel gedikteer deur ’n te bewustelik populêre aanslag...”
Sy begin in die laat tagtigerjare navorsing doen vir haar roman Babette, die eerste van haar boeke oor die Anglo-Boereoorlog, en soos sy al dieper in die gegewe ingewerk het, word dit vir haar ’n proses van herontdekking. “Hierdie dinge het gebeur op grond wat ek ken, met mense wie se bloed in my en my landgenote se are vloei. (...) Die Anglo-Boereoorlog is maar een deel van die erfenis van die land wat sy met ’n passie én ’n weemoed lief het. Na die oorlog was die situasie baie dieselfde as die huidige: sosiale verskuiwings, gekoesterde simbole wat moes verdwyn, mense wat met mekaar moes versoen. Ons het dit tóé gemaak,” sê sy aan Max du Preez (De Kat, September 1999), “en ek glo ons sal dit wéér maak.”
Babette het as kortverhaal begin, maar die storie wou haar nie los nie en daarna volg ook Catharina (1996) en Charlotta (1999). In 1999 word Babette verwerk tot ’n musiekblyspel in Engels wat deur die RAU Kultuurkantoor aangebied is. In 2006 is die trilogie deur Human & Rousseau in ’n nuwe gedaante gepubliseer.
Max du Preez wou by Jeanette weet hoe sy voel oor die musiekblyspel wat Babette geword het en sy het dit onomwonde gestel: “Dit is nie meer myne nie. Ander kunstenaars het oorgeneem en dit ook hulle s’n gemaak. Dit is ook reg so. Die dinge wat ’n mens maak, beteken niks as jy dit nie kan vrylaat nie.”
Oor die fassinasie wat die Anglo-Boereoorlog vir haar inhou, vertel Jeanette aan Cas van Rensburg (Insig, Maart 1999) dat geskiedenis ’n mens “anker”. “Alles wat agter ’n mens lê, was jou deel, soos dit wat na jou sal kom. Die Anglo-Boereoorlog spesifiek het vir my begin toe ek navorsing vir die skryf van Babette begin doen het. Daarna wou hierdie oorlog my nie weer los nie. Met elke nuwe dokument wat ek opneem, ontdek ek nuwe fasette daarvan. Daar is soveel wat in mondelinge oorlewering onderbeklemtoon is of glad nie vermeld word nie.”
Haar belangstelling in die Anglo-Boereoorlog en daaropvolgende skryfwerk daaroor het ook sy ontstaan gehad toe sy tot die besef gekom het dat die rol wat verpleegsters in dié oorlog gespeel het, ongesiens verbygegaan het, verduidelik Jeanette aan Marlene van der Merwe (Volksblad, 12 Julie 1999): “Die vroue was die klein wit leërtjie wat langs die militêre groepe geveg het.”
In die derde boek oor die Anglo-Boereoorlog, Charlotta, raak sy ook aan die lyding van swart mense tydens die oorlog: “Hulle was net pionne wat deur albei kante gebruik is. Sowat 5 000 swart mense het in dié oorlog gesterf.”
Babette is die verhaal van Babette wat na hulle plaas in die ou Zuid-Afrikaansche Republiek moet terugkeer toe haar pa siek word. Sy erf die plaas “en moet vrou-alleen probeer boer, die aantreklike dog getroude Antoine se magnetisme weerstaan en besluit of sy met die goeie dog vervelige Adriaan moet trou of nie. Dan het sy skielik nie meer ’n keuse nie: sy moet trou.
“En so begin die hartseer-verhaal van Babette, die vrou wat haar man nie bemin nie, die vrou wat moet toekyk hoe die getroue Rooizak die hoogste tol vir sy lojaliteit moet betaal, die vrou wat deur die Anglo-Boereoorlog moet sukkel na ’n nuwe toekoms. Die roman beslaan oor die 500 bladsye en vertel ’n breë verhaal wat in baie rigtings loop. Die historiese agtergrond verleen ’n interessante dimensie daaraan. Maar die heel interessantste is die karakter, Babette, self.” (Vrydag, 15 Desember 1995)
Gretel Wÿbenga (Beeld, 5 Februarie 1996) beskryf Babette as ’n romantiese “epic”, “maar dit is by verre na nie ’n slaafse navolging van enige bestaande boek nie – daarvoor is dit té deurleef geskryf. Op eie bene verdien die dikke boek om ’n blitsverkoper te word. In ’n ander land sou hierdie roman se rolprentregte waarskynlik al verkoop wees. (...)
“Die een motto, ook ’n aanhaling uit die roman self, lui dat die enigste wette van die wêreld oorlog en liefde is. Die roman is verdeel in twee dele waarin die eerste byna ’n afgeronde liefdesgeskiedenis vorm en die tweede hom bemoei met die oorlog en die vals aanskyn van reg en geregtigheid. (...)
“’n Mens sou as jy wou oorvereenvoudig die verhaal kon gooi oor die boeg van die deurtrapte liefdesdriehoek: Tussen Babette, die getroude Antoine Changuion en die stoere Adriaan, vir wie Babette nie omgee nie. Maar dit is veel verwikkelder as dit. Dit gaan hier oor die vernietigende krag van hebsug, hier onverwags gekonkretiseer in die hoofspelers, Babette en Antoine.”
Wÿbenga kom tot die slotsom: “As dít is soos populêre leesstof daar uitsien, dan word die bevooroordeelde opvatting, enig in die wêreldletterkunde, dat populêr noodwendig snert is, finaal die hek ingeslaan. (...) Dit gebeur selde dat een en dieselfde boek binne die leessmaak van ’n wyduiteenlopende verskeidenheid lesers val. Matthee se bosromans was sulke boeke en Babette sal dit hoogwaarskynlik ook wees.”
In Sarie (10 April 1996) skryf Marieke Brand dat hoewel die verhaal van Babette voorspelbaar is, dit tog ook hoogs leesbaar is: “Babette is beeldskoon, musikaal, onkonvensioneel en taai en ly aan ’n hopelose passie vir Antoine Changuion, wat weens omstandighede nie vir haar beskore is nie. Wat die boek besonders maak, is dat dit Afrikaans en eg Suid-Afrikaans is. En vir my was die agtergrond van die vroeë nedersetters, die delwersgemeenskappe, die oorlog en die konsentrasiekampe boeiend. Jeanette Ferreira het klaarblyklik haar navorsing deeglik gedoen.”
Catharina (1996) is Jeanette se volgende historiese roman en Gretel Wÿbenga som die verhaal só op: “Catharina ‘die vrou van Afrika wat baie gereis het’ (p 391) sonder dat dit vooraf deel van haar toekomsplanne was, het ook nie kon voorsien dat die lewe van haar ’n halfbloed, ’n man, ’n digger, ’n Kakie, ’n Boer, ’n bewaarder, ’n jagter en die minnares van iemand anders as haar geliefde Halmuth von Humboldt sou maak nie.
“Catharina se onverwagte metamorfose vind plaas tydens haar deurkruising van die Laeveld tot noord van die Olifantsrivier en verder oos met die transportryerspad tot in die destydse Delagoabaai. Op sy eie manier is dié historiese roman dus ook ’n reisverhaal.
“En Catharina se reise is meestal nie vrywillig nie: sy verlaat, omdat sy nie anders kan nie, haar geboorteplaas Schüringswerf om haar aangenome ouers en vir Halmuth verleentheid te spaar ná haar ontdekking dat sy van onsekere herkoms is; in Barberton se delwerye kom sy tereg as die jong delwer met die molvelbaadjie, Willem Groenewald, maar na vele ontbering word sy hier ook uitgedryf verder noord waar sy ’n wildplaas bekom wat sy Kremetart noem; op Kremetart word haar verblyf versteur deur die Anglo-Boereoorlog waar sy noodgedwonge by die Engelse magte aansluit en haar plaas moet verlaat. Uiteindelik, soos ’n sirkel wat dwing op voltooiing, lei haar pad weer na Schüringswerf, maar hierna reis sy vrywillig terug na Kremetart.
“En net soos in enige goeie reisverhaal word ook hier ’n innerlike reis voltrek met Kotshane as haar metgesel, haar beskermer, en wyse opvoeder, haar tweede vader.”
Vir Wÿbenga is Catharina verhaalmatig nie Babette se opvolger nie. En hoewel albei romans dieselfde geskiedkundige tydperk as agtergrond het, is die perspektief op die gebeure anders. In albei romans is daar ook sprake van die kleurvraagstuk en word die veronderstelling dat die Boere goed is en die Engelse sleg die nek ingeslaan: “Oorlog is oorlog en mense bly mense. Beide romans is voortreflik nagevors en die historiese feite word goed by die verhale geïntegreer en gevisualiseer.
“Ook tematies hou die twee romans verband: Babette en Catharina leer van die magteloosheid van die mens om oor sy eie lewenspad te beskik en raak in die proses die ewige ongedurigheid van die jeug kwyt. (...)
“’n Groot verskil tussen die romans lê in die hantering van die slot. Waar Babette se gelukkige einde lyk op ’n toegewing aan die leser van dié genre, het Catharina ’n oop slot wat nie noodwendig maanskyn en rose uitspel nie – raar in dié genre, maar binne die konteks en tema gemotiveer en daarom meer aanvaarbaar. Wat weer eens wil sê: die populêre roman hoef nie die knie te buig voor die stereotipe nie.”
In 1999 word Jeanette se derde historiese roman met ’n sterk vrouefiguur as hoofkarakter by Human & Rousseau uitgegee onder die titel Charlotta.
In Insig (Desember 2006) praat Jeanette oor hierdie drie boeke en sy stel dit aan die vraesteller dat sy nie die boeke liefdesboeke sal noem nie, eerder “oorlog-en-liefde-boeke dalk, en vrouekarakters wat vasberade is om die oorlog en die liefde te oorleef”.
En oor hoekom die uitgewers besluit het om dit in 2006 weer uit te gee nadat hulle so half uit die oog verdwyn het: “Ná die stroom boeke wat tydens die herdenking van die Anglo-Boereoorlog verskyn het, was die algemene opvatting dat niemand nou meer in stories oor die oorlog belangstel nie. Is dalk so. Maar die Anglo-Boereoorlog is net ’n agtergrond vir my romans, al het ek jare daaroor navorsing gedoen. My boeke gaan oor mense, oor hoe ’n krisis die mens ontbloot en jou uitkook ‘soos Siel se kruide uitgekook word’ (in Charlotta). Veldslae en datums maak nie ’n storie nie. Dit is ook net Charlotta wat vierkantig in die oorlog staan. Die helfte van Babette en Catharina speel af in die Laeveld van sowat 20 tot 30 jaar voor die oorlog, op die delwerye by Barberton en Pelgrimsrust, transportrytyd, en die jagtogte in die Laeveld voor die Krugerwildtuin, en Maputo toe dit nog Delagoabaai was.”
In dieselfde uitgawe van Insig neem Helize van Vuuren die drie boeke in oënskou: “Die eerste twee romans vorm iets soos ’n tweeluik met oorvleuelde karakters en tydruimte. Die geskiedenis word vertel soos van binne uit beleef, soos dit ’n impak het op die hoofkarakters en hul vriende en familie. Maar in elk van die romans is die sterkste tema ook die groot mag van die geskiedenis wat die klein mensies in sy pad gelykvee, wegvee: die mens is in die greep van magte groter as syself, ten spyte van eie wil en woekeringe.
“Laat dit gesê word: Hierdie romans is lekker om te lees, leersaam vanweë die historiese raamwerk en detail, maar onderhoudend en spannend vanweë die intiem-persoonlike tekens van een vrouelewe wat beskryf word. ‘Dulce et utile’ het Horatius al gesê: ‘soet en leersaam,’ onderhoudend en vol inligting. Ferreira het haar navorsing deeglik gedoen: Elke roman het ’n bibliografie van geraadpleegde bronne agterin, maar daar is niks swaartillends of geleerds aan die eindresultaat nie. (...)
“Ferreira skryf toeganklik, maar intelligent en onderhoudend, vandaar dat die drie romans herdruk is. Leesstof vir iedere Afrikaanse leser wat meer van die geskiedenis wil weet, maar ook onderhoudende materiaal soek. ‘Die enigste plek waar ek wil wees, is ontsnap in ’n storieboek,’ hoor ek onlangs iemand met ’n komplekse lewe sê. Babette, soos Charlotta en Catharina, is boeke waarin ’n mens met vreugde kan ontsnap.”
In Insig (Junie 1999) is Rita Gilfillan die resensent van Charlotta. Vir Gilfillan is een van die winste van Charlotta dat minder bekende vroue uit die verlede soos Henrietta Stockdale, ’n verpleegkundige, en Alice Bron, ’n Belgiese Rooikruissuster, belig word. Ook die veldslae van die oorlog word uit ’n ongewone hoek benader – “deur Charlotta waar sy voor die hospitaaltent die gewondes inwag soos hulle deur die Zoeloes ingedra word”.
Gilfillan skryf voorts: “Dit is die kreatiewe ingreep van die skryfster wat aan die datums van veldslae en statistieke oor gesneuweldes ’n onmiddellikheid verleen wat geskiedenisboeke nie kan oordra nie. Oorlog, in sy gruwelike gedaante, word so tasbaar soos ek dit laas ervaar het in Birdsong van Sebastian Faulks.
“Verder beskryf Ferreira die ou-Pretoria met sy bekende strate waarlangs Jakarandaboompies nog maar pas aangeplant is so helder dat ’n mens byna die stof wat van kerkplein af styg, kan ruik. (...)
“In die laaste instansie is Charlotta ’n liefdesverhaal wat deurweef is met die tragiek, die ontbering en die misverstande wat ’n oorlog meebring. Wanneer menslike emosie tot die spits gedryf word, kom die mooiste en die sterkste in die gees na vore, soos ook die laagste en die gemeenste. Dit geld vir vriend sowel as vyand.”
Daar is egter kleinerige gebreke vir Gilfillan soos dat die skrywer soms te swaarwigtig kan word en dat sommige van die karakters te karikatuuragtig voorkom. Maar dit agtergelaat “in hierdie meesleurende liefdesverhaal wat met soveel vaart en oortuiging vertel word dat ’n mens dit skaars kan neersit”.
Jeanette is ook die samesteller van etlike bloemlesings met kortverhale. Hierdie bundels bevat verhale oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe. Sy het twee bundels met Boereoorlogstories saamgestel (1998 en 2012), ’n bundel met liefdesverhale in 1999, asook een met stories van die grensoorlog in 2012.
In Rooi Rose (3 Maart 1999) gesels Terésa Coetzee met Jeanette oor haar intense belangstelling in die Anglo-Boereoorlog. Sy benadruk dit dat sy nie ’n historikus is nie, maar ’n letterkundige en sy is ook nie fanaties oor die oorlog nie: “Vir my is die Anglo-Boereoorlog net so belangrik soos enige ander oorlog. Die belangrikste is dat ons nie enige deel van ons geskiedenis moet vergeet nie. Dis hoekom ek wil hê al ons monumente in Suid-Afrika moet bly staan.
“Ons kan nie skielik die Voortrekkermonument afbreek en maak of sekere dinge in ons geskiedenis nooit gebeur het nie. Dit is ons almal se geskiedenis en ons kan ons kinders nie die waarheid ontsê nie. (...)
“Die ding wat ék oor geskiedenis vra, is hoe onthou ’n land sy geskiedenis? En dis nie deur geskiedenisboeke nie. Bitter min mense lees ou argiewe. Mense onthou die geskiedenis deur stories.”
In die vroeë 2000’s vertaal Jeanette ’n aantal Mills & Boon-romans in Afrikaans vir Jacklin Enterprises.
In 2007, agt jaar ná die publikasie van Charlotta, publiseer Human & Rousseau Jeanette se volgende roman met die titel Die son kom aan die seekant op. Hierdie roman kan by dié gevoeg word wat oor die Groot Trek handel.
En vir Irma Joubert (Beeld, 3 Desember 2007) is dit ’n “positiewe uitbeelding van die Trichardtrek se epiese tog Noorde toe, en uiteindelik oos na Delagoabaai, ’n reis van lewende mense oor berg en rivier en brakveld.
“Hulle stem saam en verskil, kry lief en verloor, trotseer gevare soos vyandelike inboorlingstamme, vreemde vlieë wat die osse laat bly lê, roofdiere wat maai onder die vee – ’n onbekende koors wat die hoogste tol eis.
“‘Toe die winter kom, sny Lewies die reusevel beskrewe papier met sy herneuter in kwarte, werk dit aan een kant met rugaring vas en vat dit in lapgelooide leer saam. Kladboek van L Tregardt.’” [spelling van “Tregardt” soos weergegee in kladboek]
Die roman is dus gebaseer op hierdie dagboek van Trigardt wat soms kriptiese aantekeninge en opmerkings bevat. Die taal van die roman is op die dagboektaal gebaseer, maar dit is verafrikaans en lesersvriendelik gemaak: “Aanhalings uit die dagboek word gemaklik ingewerk, plek-plek word dit pragtige poëtiese taal. (...) Maar bowenal gaan die roman oor die mense,” skryf Irma Joubert verder. “Karakters na wie in die dagboek bloot verwys word, kry lewende gestalte: Lea met haar verlange terug na die land van haar voormense; stram Sara van Rensburg met haar verbleikte rok en haar menssku seuntjie; Katryn, die baster, wat met haar suiwer, soet stem bo almal uit sing; Lang Hans wat ‘...van boosagtigheid so veragter in die genade (is) dat hy moeite het om ’n enkele sin uit te kry’. (...)
“Dit groei tot ’n boeiende roman met pragtige momente – ’n enkele sin uit die dagboek ontwikkel tot ’n menslike verhaaltjie in die kleine. (...) Ons vrome pioniersvoorsate word mense met menslike vergrype, die aangrypendste sekerlik Isaak Albach met sy basterkinders. Op Dinsdag 5 Desember 1837 skryf Tregardt [spelling van “Tregardt” soos weergegee in kladboek]: ‘Zelf zeg zij dat Albach na haar vrij, haar eige vader...’ Hieruit groei die toneeltjie tussen Martha en Katryn, en Martha se konfrontasie met Isaak Albach.
“Martha Tregardt [spelling van “Tregardt” soos weergegee in kladboek] tree na vore as ’n sterk vrou wat haar man van wyse raad bedien, wat haar volwasse seuns vasvat as dit nodig raak, wat rigting gee as die Trekkers begin verwilder. Sy moedig Louis aan om te skryf, sy ruil papier en vind ’n sterk, dienlike veer, kook ink uit bossies. En deur haar oë leer die leser vir Louis Trichardt ken: die rustige, wyse leier, haar kinders se sterk pa, haar minnaar tot aan die einde.
“Vir diegene wat grootgeword het met die Groot Trek as die kern van die geskiedenisleerplan, verander hierdie roman die vervelende feite in ’n ontroerende stukkie menslikheid. En vir ’n huidige geslag jongmense, wat nêrens in die leerplan paaie kruis met die weë van die Trekkers nie, vertel dit op ’n leesbare en boeiende wyse ’n stukkie storie van die Afrikaner se wortels.”
Joan Hambidge is baie beïndruk met Jeanette se Die son kom aan die seekant op (Volksblad, 31 Maart 2008): “Dit is ’n hoogs aangrypende roman wat vir sowel die historiese, belangstellende leser as die feministiese leser van waarde sal wees. Wat my in die besonder geïnteresseer het, is die nougesette navorsing en hoe een persoon se representasie van ’n (stemlose) ander, deur ’n fiksionaliserende skrywer tot lewe gebring word.
“Ons lees hier ’n sober gestroopte prosa, minder dramaties (of dan melodramaties) wat so steurend ingewerk het in die vroeëre historiese werke.
“Dis bewaringswerk om só ’n optekenaar en vertolker te wees van ’n stuk geskiedenis. As kind het ek hierdie gedeelte van die geskiedenis geháát en oervervelig gevind. Nou is dit ’n wonderbaarlike leeservaring en in jou geheue praat al die geskiedenislesse uit jou jeug saam.
“En die gebruik van die Meester (wat verduidelik wat ’n sloep is) en die verwysings na die Bybel, maak van hierdie roman iets meer as ’n roman. Die outydse aard van die gegewe is bewaar: in Martha se huis sal Lewies vir haar ’n ‘dienlike’ kookplek aanlê (p 200). En dis hier waar die titel dan ook vir die leser verduidelik word: vol ironiese implikasies.
“Dit word ’n tydsdokument. ’n Kladboek van ’n optekenaar. Ferreira het die hortjies van die geskiedenis vir ons oopgemaak.”
In 2019, 11 jaar ná Die son kom aan die seekant op, publiseer LAPA Jeanette Ferreira se volgende roman onder die titel Bloedlelie waarin dit gaan oor Magdalena Retief, vrou van die Voortrekkerleier Piet Retief.
Francois Smith bespreek Bloedlelie vir Rapport van 12 Mei 2019. Volgens hom het die geskiedenis vir Jeanette Ferreira beet. En hierdie keer takel sy vir Piet Retief: “Nie dat ’n mens dit sou sê nie, geoordeel na die romantieserige titel en omslag. Maar dit is juis die punt, want reeds met hierdie uiterlike roer Ferreira vrae aan wat aan die hart van die boek lê: Hoekom nóú Piet Retief, en hoe doen jy dit wanneer Black Land First aan die veiligheidshekke ruk?”
Smith skryf verder dat die leser Ferreira se politieke betrokkenheid en feminisme in gedagte moet hou en dat haar feminisme gesien moet word as haar strewe om vroue wat nie ’n spreekbeurt in die verlede gehad het nie, ’n stem te gee. Vir Smith is hierdie verhaal dus nie eintlik Piet Retief se storie nie, maar dié van Magdalena, sy tweede vrou en sy vrou ten tyde van die aaklige gebeure van ongeveer 180 jaar gelede. Oor Magdalena is daar weinig in geskiedenisboeke opgeteken – net twee brokkies – en uit hierdie stukkies het “Ferreira Bloedlelie se ryke tapisserie geweef”.
“Sy het dit gedoen deur in die eerste instansie te weet wat die slaggate van hierdie soort geskiedskrywing is en te weet hoe om dit te vermy. Haar voetwerk kom uit die postmodernisme wat geleer het dat die eerlikste manier van vertel is om juis jou voetwerk te wys. Wys hoe jy die storie opgemaak het, lê jou oordele en vooroordele bloot. Hierdie verhaal oor Magdalena Retief is dus ook ’n verhaal oor ’n skrywer, Hanna, wat saam met haar man, Adriaan, in hul viertrek op die Retief-spore rondry. Hy is ’n historikus, wat as spesialisgetuie ingespan word in grondeissake. Hul reistog, wat in ’n groot mate ook ’n uitbeelding van hul knusse ‘wit bevoorregting’ is, word verweef met die Retief-verhaal. Veral aanvanklik verloop die hedendaagse verhaal te spanningloos, te veel in diens van eksposisie, maar uiteindelik kom ’n mens tog onder die indruk van die wyse waarop hede en verlede op mekaar inspeel. (...)
“Maar wat werklik indrukwekkend is, is Ferreira se hantering van daardie verskriklike momente waarop die meeste lesers weet die verhaal afstuur. Was dit massamoord of ’n teregstelling? Die feit is dat die suggestiewe krag waarmee dit geskryf is, jou die oë wil laat toedruk om dit nie te sien nie. Dit wil gedoen wees.”
Willie Burger (Vrouekeur, 21 Junie 2019) beskryf Bloedlelie as ’n roman wat baie relevant is in die tyd wat dit gepubliseer is – veral vanweë die feit dat die gronddebat baie aandag kry: “Die onteieningsgesprekke, debatte oor plaasmoorde en die eise van die Black Land First is hoogs emosionele en relevante sake. Juis weens die emosionele aard van aansprake op grond, ontaard gesprekke daaroor dikwels in eensydige propaganda, die inneem van ’n radikale posisie waaruit ander se menings gewoon doodgeskree word. Hierdie roman bied ’n blik op die kompleksiteit, en die fokus op individue, op gewone mense, gee ’n ingewikkelde menslikheid aan die saak.
“Historiese fiksie is heel gewild en Ferreira het met haar Boereoorlog-romans en boeke oor die Groot Trek reeds ’n bydrae tot die subgenre gelewer. Bloedlelie is egter nie ’n konvensionele ‘historiese roman’ nie, want hoewel ’n verhaal oor die verlede ontvou, ’n verhaal wat by die bekende feite oor die verlede hou, maar wat die verbeeldingryk inklee, is dit ook ’n roman waarin nagedink word oor hóé ons die verlede ken, oor hóé en waarom ons die stories oor die verlede vertel.
“Sodoende word dit ’n boeiende roman oor die hede, want dit word algaande duidelik dat die geskiedenis vol mites is, eensydig, dikwels gegrond op onbetroubare oorlewerings. Terwyl die sogenaamde historiese gebeurtenisse plaasvind, is dit gewone weerlose mense aan al die kante wat ly, wat sukkel om te oorleef en te verstaan.
“Bloedlelie begin effens moeisaam, die dialoog soms kunsmatig, maar uiteindelik word dit meesleurend en laat die leser verstom oor die kompleksiteit van ons verlede, oor ons gesukkel om ander mense se stories te verstaan, terwyl dit ook herinner aan die belang daarvan om almal se stories te probeer saamdink.”
En Johanna van Eeden sluit haar bespreking af (Beeld, 15 Julie 2019): “In Bloedlelie verweef Ferreira twee verhale wat maklik los kon staan van mekaar behendig tematies en simbolies tot ’n volronde eenheid wat die lesers deurlopend stimuleer en tot die einde boei.”
Willemien Brümmer het ’n onderhoud met Jeanette gedoen (Volksblad, 6 April 2019) oor Bloedlelie. Jeanette vertel aan haar dat Magdalena in ’n brief gedateer 7 Julie 1840 aan haar swaer geskryf het: “Met ons gaat dit boven verwagting en ook nog boven ons verdienste.”
Hierdie sin het haar emosioneel baie geraak en dit het uiteindelik tot die skryf van Bloedlelie, haar tiende roman, gelei: “In hierdie brief het ek gevoel Magdalena praat met my deur die vliese van die tyd en reguit met my, ’n ander vrou. Sy rou, sy weet dat wreedheid aan haar uitgemeet is, maar sy is nie bitter nie. Hoeke mens kry dit reg? Een wat deur lyding wyser word, nie woedender nie.
“Dié Magdalena Retief in wie min historici belangstel wie se spore telkens verdwyn soos ’n kwartel in ’n kreupelbos. ’n Eremartelaar wat veel meer as haar bekende man verloor het – voor die trek en daarna – maar tog, só blyk dit uit die brief, steeds dankbaar bly.”
Omdat dit vir Jeanette in Bloedlelie primêr om Magdalena Retief gaan, moes sy nie net vir haar leer ken nie, maar ook ander karakters. Soos, onder andere die skrywer Hanna, wat bykans 180 jaar ná al die gebeure saam met haar man gaan soek na wat Magdalena ook al mag agtergelaat het: “Ek wou met fiksie deur mites beur wat rondom hierdie geskiedenis ontstaan het. Die ironie is dat die meeste lesers hul geskiedenis ken deur fiksie, nie deur professionele geskiedskrywing nie. Want dié geskiedenis het met mense gebeur en lesers wil van mense weet.
“Die gewilde opvatting is dat geskiedenis feite is, maar met die onvermydelike subjektiwiteit daarvan ingereken, kom dit neer op geselekteerde feite en ordening – ongemaklik na aan ’n romansier se werksaamheid.”
Ferreira het Bloedlelie nie net uit Magdalena se perspektief geskryf nie, maar ook uit dié van Piet Retief en die Britse sendeling Frances Owens s’n, maar sy het dit nooit gewaag om uit Dingaan se perspektief te skryf nie. En sy verduidelik dit só aan Willemien Brümmer: “So min as wat ek my hand daaraan sou waag om te skryf vanuit die eienaardig opgepofte wêreld van ’n Britse koninklike, sou ek uit Dingaan se perspektief skryf. Te meer, die Zoeloekoning is in daardie tyd ook as ’n soort godheid beskou.
“Wat ’n wit perspektief betref: As skrywers nie vanuit so ’n perspektief mag skryf nie, is dit ’n vorm van sensuur. Been there. Selfs ’n swart perspektief sal baie diep moet delf om begrip vir Dingaan te bewerkstellig.”
Vir Brümmer gaan die roman ook oor versoening. Hierop vertel Jeanette aan haar dat die vonk vir Bloedlelie seker 30 jaar vroeër begin het toe sy by Dingaan se stad, uMgungundlovu, besoek afgelê het: “Daar hang ’n onaardse stilte oor die plek. Die sterre maak jou blind. Jy los op in die misvlae wat uit die dalings sweef.
“Vyf jaar gelede het ek dit weer besoek en ’n ouerige Zoeloe daar gekry wat sy twee susterskinders daarheen gebring het. Dit was vir my ontroerend dat ons saam daar op ’n klipmuurtjie sit en uit een fles koffie drink op die plek waaroor Zoeloe en Boer so verskil. En ons stem saam, ons vul mekaar se perspektiewe aan. Ook dat wat daar gebeur het, nooit moes nie.”
Naomi Meyer wou by Jeanette weet wat die doel van fiksie skryf is: “Jy vra wat is die doel van fiksie skryf. Ek probeer antwoord: Hierdie skrywer skep ’n wêreld wat herkenbaar is dermate dat die leser daarmee kan identifiseer. Hierdie skrywer probeer ’n perspektief skep wat verskil van vorige perspektiewe, al is dit soms bloot by wyse van nuanses. Retief was nie die vlekkelose held nie. Magdalena was nie niemand nie. Vergifnis is ’n swaar ding, insig en berusting des te meer. Niks is soos dit vir ons lyk nie, nie eens die sterre nie.”
Aan die einde van 2023 publiseer Tafelberg Uitgewers die volgende roman uit Jeanette se pen onder die ongewone titel van Die Melkweg en die miskruier. In ’n onderhoud met Jeanette beskryf Meyer Die Melkweg en die miskruier só: “’n Verhaal van twee vroue en twee virusse. Albei karakters geskilder teen die groot doek van hierdie sonnestelsel. As hulle snags opkyk, is die groot jagter daar. En die melkerigheid van die baie sterre wat eeue reeds gelede hierdie lig gekaats het. Soveel is eenders, soveel is anders.”
En sy wil toe by Jeanette weet hoe sy die verhaal kortliks sal opsom. Jeanette se woorde: “Mense bly meestal in hulleself vaskyk, daarom verander ons reaksie op krisisse nie veel oor die eeue heen nie. Eers wanneer mens jou in ’n ander se skoene plaas, lyk jy en alles buite jou anders.”
Francois Bekker is die resensent op Netwerk24 (6 November 2023) en hy is baie beïndruk met Die Melkweg en die miskruier: “Jeanette Ferreira se nuwe roman kan op sy baadjie getakseer word. Visueel prikkelend met ’n poëtiese titel. Wat titel en tema betref, word die aanbod van die roman ’n treffende besinning van die mens se soeke na antwoorde in tye van onsekerheid.”
Bekker som die verhaal kortliks op. Sabine Bekker bring in Maart 2020 ’n besoek aan die Laeveld om nog net een maal Donkerhoek, die familieplaas, te besoek. Haar motor raak onklaar in ’n erge reënbui en Ebbe Krause wat stilhou om haar te help, was destyds die veearts wat die diere op die familieplaas behandel het.
Dan spring die verhaal na September 1914 waar die leser kennis maak met ’n baie jong Henrietta Theunissen wat vas oortuig daarvan is dat sy haar trouman ontmoet het. Maar sy en die jongman, Ruurd, moet eers klaarmaak met skool.
Intussen breek die Eerste Wêreldoorlog in Europa uit en later ook die Spaanse griep: “Die geskiedenis neem sy loop en niks sou ooit weer dieselfde wees nie. Ook nie vir die Theunissens wat in die Magoebaskloof-omgewing boer nie. (...)
“Wat aan die bod kom in hierdie verhaal, is verandering en verlies. Die terugkeer na haar komvandaan word ’n spanningsvolle ondervinding vir Sabine. Onteiende plase, name wat verander het, asook mense wat hulself verlaat op eiegeregtigheid, gestroop van wedersydse begrip en respek, stem haar somber.
“Dit word ook onder haar aandag gebring dat die nuwe eienaar van die plaas waar sy en haar voorgeslagte gewoon het, reg benader moet word as sy nie summier die deur gewys wil word nie. Om sake verder te kompliseer, is daar sprake van ’n verreikende ingryping deur die regering weens die pandemie wat besig is om die wêreld tot stilstand te ruk.”
Francois Bekker beskryf Die Melkweg en die miskruier as ’n aangrypende roman wat na verskillende epogge kyk en ons pogings om te probeer sin maak van die konflik wat dit onderlê: “Wat help, besef Sabine, is as ons met mekaar praat en na mekaar luister. Om respek te betoon vir elkeen se reis en stories op hierdie vasteland met ubuntu as die gom om ons met mekaar te verbind. Die vae herinnering dat dit mos goed moet gaan in die land van Modjadji, die legendariese Reënkoningin. (...)
“Die roman bevestig Ferreira as ’n virtuose skrywer wat weet hoe om met presiese taalgebruik, dikwels met ’n digterlike allure, die essensie van historie vas te vang om terselfdertyd ’n aangrypende verhaal te vertel. Die deeglike navorsing verdien spesiale vermelding.
“Uiteindelik ons versugting om op koers te bly as ons pelgrimstogte dreig om rigtingloos te word. In dié verband stel die miskruier ons gerus. Soos vir hierdie insek is ook die regte pad vir jou en my tog belig as ons mooi oplet. ’n Ragfyn roman wat die leser oorrompel met sy deernisvolle kyk na die geskiedenis en menslikheid te midde van onstuimige tye.”
In Rapport (26 November 2023) skryf Trisa Hugo dat die grense tussen feit en fiksie in die roman heeltemal vervaag. “Maar die leser leer meer van ’n interessante deel van ons land se geskiedenis en die gepaardgaande kulture en gebruike, die uitwerking wat die Slag van Delvillebos op oorlewendes gehad het, en hoe die meeste mense van die Labour Corps verdrink het toe die SS Mendi gesink het.
“Die miskruier was vir die antieke Egiptenare begeleiers van die dood en van hergeboorte in ’n nuwe lewe. In ’n toneel tussen grafstene sien Sabine ook die miskruier wat sy weg vind met ’n swaar vrag wat hy met sy agterpote stoot. Navorsers het ’n dekade gelede bevind die miskruier vind sy weg huis toe met behulp van die Melkweg. Dit is inderdaad ’n tema in die boek, dat ons ook ligwysers nodig het om ons weg te vind en stip moet waarneem om ons. Die Melkweg en die miskruier is ’n besonderse titel wat saam met die omslag stemming skep. (...)
“Die Melkweg en die miskruier was aanvanklik ’n moeilike lees met baie vreemde name en soms ’n gesukkel om te onderskei wie is wanneer aan die woord. ’n Woordelys sou baie gehelp het om die ritme van die leesgenot te behou pleks daarvan om eers te google wat woorde soos morwa beteken. Die groot plesier van die roman lê in die herlees, noudat alle legkaartstukke in plek geskuif is en ’n mens met jou volle oog op die volledige prent op die kartonboks weer die stukkies van voor af kan bou.
“Liefhebbers van historiese romans, geskiedenis of gewoon goeie fiksie gaan beslis hierby aanklank vind.”
In haar onderhoud met Jeanette wou Phyllis Green van Sarie weet hoe die skryfproses van Die Melkweg en die miskruier was. Het sy die geskiedenis eers chronologies volgens ’n tydlyn uitgeplot of het sy twee verhale apart van mekaar geskryf? “Nee, ek dink die geskiedenis het my uitgeplot. Eers wou ek net Ouma se storie en Groot Griep van 1918 skryf, toe gebeur Covid. Daardie middag voor die grendelstaat om middernag sou begin, het die kieza oor ons grasdak uitgesak, ek en my man het verslae ons tuinier en huishoudster gegroet en nie geweet of ons hulle ooit weer sou sien nie of hulle vir ons nie. Terselfdertyd het ons gehoor van ’n groot biddag in ’n hoofsaaklik Zoeloe-gemeente wat die Saterdag sou plaasvind. Stadig, al my romans kom stadig, het die twee pandemies oor mekaar geskuif, en Sabine en ouma Henrietta se lewens. En die miskruier en die Melkweg was nog altyd daar.” (Sarie, 5 Januarie 2024)
Oor haar navorsing vir Die Melkweg en die miskruier vra Naomi Meyer op LitNet vir haar hoeveel van haar navorsing oor plek, mense, tale en ruimte was geleefde ervarings – spontane navorsing? “Ek het sowaar bitter min van daardie navorsing spesiaal vir die roman gedoen. Die meeste daarvan was nog altyd deel van my belewingswêreld; dit het net in die roman byeen gekom. Geskiedenis en die toekoms, die natuurwetenskappe, interesseer my toenemend. As mens ver genoeg die toekoms kon inkyk, sou jy die verlede gesien het.”
En op Maroela Media is dit vir Johan Myburg opvallend hoe die twee tydperke van Sabine aan die een kant en Henrietta aan die ander kant met die hulp van Jeanette Ferreira se taalhantering vorm gekry het: “Die meer historiese dele het ’n onderhoudende trant wat lees vergemaklik; terwyl die meer resente dele gekenmerk word deur korter sinne en sinsnedes, met iets van ’n bewussynstroom, wat die leespas soms vertraag en ’n mens selfs noop om te herlees. Dalk het ons deurgaans te make met herhalende kalamiteite. Wat verskil is dat ons anders daaroor dink en praat.
“Wat hiermee saamhang en ’n mens eweneens opval – hoewel dit as geen verrassing kom nie – is Ferreira se keurige beskrywing van die groter Tzaneen-omgewing. So word dié roman ’n ode aan die streek se oermense en geskiedenisse, die streek se bome en voëls, en bowenal ’n ode aan ’n afgeleefde lewe in dié kol onder die Melkweg. Dié kol waar die mens soos miskruiers liggewers nodig het om koers te kry.”
Op LitNet wou Naomi Meyer by Jeanette weet hoekom sy skryf: “Eisj! Ek vind dat die storielyne en die woorde om dit oor te dra my wakker hou, jy weet. Ek reageer op die karakters wat my volg tussen tuin, kombuis en studeerkamer, tussen kar en die Spar in ons humiede kusdorpie.”
Jeanette skryf in Beeld (4 Junie 2001) oor ’n boek wat haar lewe verander het: “Nee, daar was nie ’n dramatiese oomblik waarin een boek my lewe verander het nie. Ek kry boeke nie van my totale belewingswêreld losgemaak nie. Gekoesterde uittreksels is al wat ek kan aanbied.
“Oor Afrika, intiem ook myne, uit Credo Muutwa se Indaba my children: ‘The universe is no place for Perfection and in the eyes of the Great Spirit, Perfection is as bad as evil.’
“En uit Blixen se Out of Africa: ‘(...) things can happen which we ourselves cannot possibly imagine, either beforehand, or at the time when they are taking place, or afterwards when we look back on them.’
“As dit so is dat die lewe geen sin het nie buiten dié wat ’n mens self daaraan gee, is skryf een manier van sin gee. Aucamp in Die verbleikte lêer: ‘Sal ek vandag ’n beter verhaal kon haal uit dieselfde omstandighede? Minder intens miskien, en sonder aksenttekens, want ek het anders en ouer geword; maar ek sal opnuut strand (...).’
“Maar, skryf Francis Thompson in the Aesthetic adventure: ‘Once step aside from the ways of comfortable men and you cannot regain them, you will live and die under the law of the intolerable thing called romance.’
“Dan nog altyd Kundersa se gerusstelling: ‘Our dreams prove that to imagine – to dream about things that have not happened – is among mankind’s deepest needs.’
“En, het Boris Todoroff in De stilte van de water gesê: ‘Een spatje licht, heel grauw en onwennig, dat zich daar een plaats zocht (...). Ik zag iets in mij dat hoog boven mij lag, onbereikbaar, en heel diep in mij lag, en tussen die twee vuren in kwam ik tot leven. Vertederend vuur waaruit ik oprees. En toch was dat vuur vloeibaar (...) een onbeweeglijk, dreigend, glad oppervlak.’”
In 2012 is Jeanette saam met onder andere Margot Luyt, Michael le Cordeur, Johann Lodewyk Marais en Ian Raper deur Cordis Trust vereer met die Orde van die Goue Pen-toekenning. Cordis Trust, ’n organisasie sonder winsbejag, ken sedert 2010 die Orde van die Goue Pen toe aan individue wat ’n buitengewone langtermynbydrae tot die bevordering van die Afrikaanse woordkuns gelewer het. Die ontvangers ontvang elk ’n oorkonde, ’n kontantbedrag en onderhandelde voordele in publikasie- en/of mentorskapprojekte.
Publikasies:
Publikasie |
Waar een mens saam is |
Publikasiedatum |
1980 |
ISBN |
062801726X (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Breyten, die simbool daar |
Publikasiedatum |
1985 |
ISBN |
0797100229 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Saayman & Weber |
Literêre vorm |
Literêre kritiek |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Sitate om ’n rewolusie |
Publikasiedatum |
1985 |
ISBN |
9780798118361 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Novelle |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die mammies, die pappies, die hondjies, die katjies |
Publikasiedatum |
1989 |
ISBN |
0947046232 (sb) |
Uitgewer |
Bramley: Taurus |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Daardie eerste somer |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Hygroman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Bly by my vannag |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Hygroman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die onsterflikes |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Wetenskapfiksie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Babette |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Catharina |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
’n Man soos Charles |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Hygroman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Charlotta |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Diepwater |
Publikasiedatum |
2002 (Grootdruk) |
ISBN |
0799330434 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die son kom aan die seekant op |
Publikasiedatum |
2007 |
ISBN |
9780798148825 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Bloedlelie |
Publikasiedatum |
2019 |
ISBN |
9780799393651 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Melkweg en die miskruier |
Publikasiedatum |
2023 |
ISBN |
9780624094630 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Jeanette Ferreira as samesteller
- Boek: ’n Terugblik op Eugène Marais se lewe. Maroela Media, 26 Maart 2021
- Boereoorlogstories: 34 verhale oor die oorlog van 1899–1902. Pretoria: Van Schaik, 1998 [ISBN 0627024025 (sb)]
- Boereoorlogstories in ’n gesoute samesteller se hande. LitNet, 14 Desember 2011
- Boereoorlogstories 2: 32 verhale oor die oorlog van 1899-1902. Kaapstad: Tafelberg, 2012 [ISBN 9780624054337] (sb)]
- Burger, Willie: Kies ’n boek. Vrouekeur, 19 Junie 2012
- Ferreira, Jeanette: Cilliers-resensie wys gebrek aan kennis [brief]. Beeld, 27 Julie 2012
- Grensoorlogstories. Pretoria: Litera Publikasies, 2012 [ISBN 9781920188382 (sb)]
- Hambidge, Joan: LitNet Akademies-resensie-essay: Joan Hambidge oor Nuwe stories. LitNet, 25 Maart 2013
- Kruis en dwars: 37 nuwe stories oor Suid-Afrika. Kaapstad: Van Schaik, 2001 [ISBN 978062403987 (sb)]
- Laramie: ’n terugblik op Eugène N Marais. Minimal Press, 2021 [ISBN 9780620922609 (sb)]
- Liefde loop ver: liefdesverhale deur mans. Kaapstad: Human & Rousseau, 1999 [ISBN 0798139943 (sb)]
- Lokprent: Boereoorlogstories 2, saamgestel deur Jeanette Ferreira. LitNet, 5 Julie 2012
- Nuwe stories 2012. Saam met Suzette Kotzé-Myburgh. Kaapstad: Human & Rousseau, 2012 [ISBN 9780798156448 (sb)]
- Olivier, Fanie: Voorloper én voorskrywer. Rapport, 4 Julie 2021
- Op hulle stukke. Kaapstad: Human & Rousseau, 2005 [ISBN 9780798145657 (sb)]
- Senekal, Burgert: Grensoorlogstories nie grensverskuiwend nie. LitNet, 26 September 2012
- Vonk@verse 2: ’n bundel vir tieners. Pretoria: Best Books, 2011 [ISBN 9781770026216 (sb)]
Jeanette Ferreira as vertaler
- Armstrong, Lindsay: Bruidegom in vertwyfeling. Parklands: Jacklin, 2001
- Bianchin, Helen: Die troubelofte. Parklands: Jacklin, 2001
- Darcy, Emma: Die beesboer se skelmpie. Parklands: Jacklin, 2001
- Denison, Janelle: Verrassingsbaba. Parklands: Jacklin, 2001
- Duke, Elizabeth: Die wildernisliefde. Parklands: Jacklin, 2000
- George, Catherine: Weersiens van wraak. Parklands: Jacklin, 2000
- Jacobs, Lauren: Judit. Kaapstad: Lux Verbi, 2018
- Lee, Miranda: Bedreigde huwelik. Parklands: Jacklin, 2000
- Martin, Laura: Die miljoenêr-huwelik. Parklands: Jacklin, 2001
- Napier, Susan: Die wraak-liefde. Parklands: Jacklin, 2001
- Van der Walt, Emma: Sy is veilig. Pretoria: LAPA, 2024
- Weston, Sophie: Miljoenêr-liefde. Parklands: Jacklin, 2000
Keur van artikels oor en deur Jeanette Ferreira
- ABO het dié skrywer aan die hart gegryp. Volksblad, 27 Julie 1999
- Britz, Elretha: Skrywer toer in N-Vrystaat. Volksblad, 19 Junie 1999
- Coetzee, Terésa: Op kommando met drie skrywers. Rooi Rose, 3 Maart 1999
- De Vries, Willem: Lees, leerkurwes in boekebedryf bekyk. Die Burger, 20 Januarie 2010
- Du Preez, Max: Oorlog & liefde. De Kat, September 1999
- “Ek het musiek nodig om te skryf”. Beeld, 11 Oktober 2006
- Engelbrecht, Theunis: Liefdesverhale is soos drank, dwelms. Beeld, 23 Augustus 1996
- Fourie, Corlia: Laatlam en alleenkind. Rooi Rose, 10 Mei 2000
- Fourie, Corlia: Skrywers se eerste werke. Rooi Rose, 14 Desember 1994
- Jeanette Ferreira
- Jeanette Ferreira
- Jeanette Ferreira. Insig, Januarie 2008
- Keogh, Janice: “Ek is jammer vir jou, Annelie”. Volksblad, 20 Desember 2010
- Kitching, Gary: “Baie inteelt in Afrikaanse letterkunde”. Beeld, 24 Januarie 1991
- Krog, Antjie: Polkas van passie. Die Suid-Afrikaan, Desember/Januarie 1994/1995
- Liebenberg, Danila: Jeanette Ferreira draai ver. Volksblad, 2 Junie 2008
- “Moenie ons muilband”. Beeld, 21 Augustus 2010
- Onderhoud met Jeanette Ferreira. Volksblad
- Parker, Elize: As Kersvader boomboek het ... Die Burger, 9 Desember 2002
- Protea kry nuwe baas. Insig, Maart 2007
- Rademeyer, Ronel: Die oppe en affe van ’96. Sarie, 15 Januarie 1997
- Scheepers, André en Henk Wybenga: Om mens-alleen sáám te wees. Transvaler, 27 Februarie 1981
- Senekal, Gerdus: Nuwe stories 2013-onderhoud: Jeanette Ferreira. LitNet, 29 Januarie 2013
- Skrywer bied skryfkursus aan. Ons Stad, 18 Februarie 2010
- Steenkamp, Alita: Jeanette se stories. Vrouekeur, 21 Junie 2019
- Van der Merwe, Marlene: Skrywer “rou” ná elke boek. Volksblad, 12 Julie 1999
- Van Rensburg, Cas: Geskiedenis anker ’n mens. Insig, Maart 1999
- Van Tonder, Jan: Jeanette gaan lektrise word. Vaderland, 4 Maart 1983
Artikels deur Jeanette Ferreira
- Alfabet van die voëls stel hoë eise [resensie]. LitNet, 13 Februarie 2012
- ’n Boek wat my lewe verander het. Beeld, 4 Junie 2001
- Een of ander held deur Zirk van den Berg: ’n resensie. LitNet, 19 Julie 2021
- Elders gesien: Dit ruik steeds na oorlog. LitNet, 15 Maart 2024
- Grensoorlog. LitNet, 16 September 2008
- ’n Huldeblyk aan Cecilia Britz (22 Mei 1955-12 Desember 2019). LitNet, 19 Desember 2019
- Huldeblyk aan PG du Plessis (1934-2017). LitNet, 7 Junie 2017
- Hygromans: Skrywer sê dit is jammer ander het skuilname gebruik. Volksblad, 10 Oktober 1996
- Joubert vat essensie van Afrika stewig vas [bespreking van Die swerfjare van Poppie Nongena]. Die Burger, 5 Mei 2011
- Kopwond: Genesing vir die dinge wat een mens aan ’n ander doen [resensie]. LitNet, 23 Augustus 2011
- Mara deur Marida Fitzpatrick: ’n onderhoud met die skrywer. LitNet, 4 Julie 2022
- Monument deur Maretha Maartens [resensie]. LitNet, 7 November 2013
- Ons as grondelose mense [fiksie]. De Kat, Junie 1995
- Skrywers se Kersfees. Beeld, 17 Desember 2012
- So lig soos ’n klip: Uit die verbreektheid spreek eenheid [resensie]. LitNet, 6 Junie 2012
- Vaders en moeders [Skrywersberaad]. OuLitNet
- Waarsonder verlaat jy nie die huis nie? Beeld, 12 Mei 2012
- Wat lees jy? Beeld, 25 Julie 2011
Jeanette Ferreira se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2008-03-20 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.