Een of ander held
Zirk van den Berg
Kwela
ISBN: 9780795710179
Siegfried Bock is in die vroeë 20ste eeu nie ’n gerekende man in Duitswes-Afrika nie. Vir die pa van die vrou op wie sy verlange toegespits was, is hy trouens ’n intense verleentheid en Siegfried het dit uiteraard nooit sover kon bring om haar om haar hand te vra nie. Vir die jong vrou het hy nooit eintlik bestaan nie; haar hart was op ’n man wat die hoogste offer vir sy land gebring het, wat haar tot eer strek – “sy rou oor die verlies van ’n soldaat in ’n verre land. Dit is die mees patriotiese daad wat ’n vrou kan volvoer” (!). Op die lange duur blyk dié man allermins dit te wees, met rampspoedige gevolge vir die vrou wat hom vereer het.
Bowendien ontstaan daar agterdog uit verskeie oorde oor Siegfried se motivering toe hy daadwerklik in sy vaderland se belang opgetree het, wat blyk uit die verhoor van die beskuldigde in ’n moordsaak en dié se advokaat. Daarbenewens is ’n ander man, een van dié aan wie die land behoort het voor die Duitsers soos Siegfried dit hulle land gemaak het, op sy spoor met wraak in sy hart – en moord, beslis.
.........
Van den Berg se derde roman in sy Hochnamib-trilogie verken by uitstek die vraag: Wat is ’n held?
.........
Van den Berg se derde roman in sy Hochnamib-trilogie verken by uitstek die vraag: Wat is ’n held? Die grootbek en die aanskoulike minnaar, die doener, die Saarlander met patriotiese vuur in sy are – dit is Siegfried allermins. Hy is betreklik klein van gestalte, onseker oor die uitwerking wat hy op vroue het (en hulle op hom), onseker oor die waarde wat hy toevoeg tot sy vaderland se inbesitneming van die kolonie, en of hulle hoegenaamd waarde toevoeg en nie eerder mensonterend optree nie. Sy uitstaande persoonlikheidskenmerk – en -fout – is binne hierdie opset dat hy in wese die mens nie sien as deel van sy volk nie, maar as mens.
Siegfried is, sonder dat hy hom dit voorgeneem het, in die eerste plek ’n individu en nie ’n Duitser nie. Dit is wat hom op die lange duur dryf om sy teenstander en die dood oop en bloot tegemoet te gaan. Nie omdat hy meen dit sal hom uiteindelik ’n held maak nie, bloot omdat hy glo het dit is wat ’n mens doen, een of ander man, in hierdie geval ’n held. Só ontmoet ons onverhoeds die soort held waar je u tegen zegt, overgesetsynde, een wat absoluut die moeite werd is.
Dit is so dat die skrywer se hand soms, baie min maar tog, glip wanneer dit heel duidelik is wie aan die woord is, maar ons nogtans lees “sê hy”, “sê sy”. ’n Geringe vorm van “telling” wat vergeeflik is binne ’n roman wat deurgaans daarvan spreek dat die skrywer sterk beheer het oor sy stof en die verwerking daarvan.
........
Wat opnuut in hierdie roman beïndruk, is Van den Berg as waarnemer van daardie onbegryplikheid wat ons menslike motivering en ommeswaai noem.
.........
Wat opnuut in hierdie roman beïndruk, is Van den Berg as waarnemer van daardie onbegryplikheid wat ons menslike motivering en ommeswaai noem. ’n Hooghartige klerk kom tot ander insigte oor die gas wat hy gering geag het, “hy steier van ’n nuwe slag” en hou haar dop “soos ’n hond na mense kyk wat eet”. Die hartseer wat ’n vrou omgeef, het tot gevolg dat ’n man op die plek oortuig raak “dat dit sy plig is om haar te beskerm”. Ook klein beskouings wat nie op sigself groots is nie, kry meer betekenis wanneer dit binne ’n karakter se persoonlike opset gestalte kry, byvoorbeeld Jager se gevolgtrekking: “Miskien veg die Duitsers ook vir ’n beginsel – nie regverdigheid nie, maar ’n sekere soort trots. As jy so daarna kyk, is dit ’n simpel oorlog. Miskien is alle oorloë.”
Ou waarhede verskyn nie in isolasie as ’n ingewing van die skrywer nie, maar word herbevestig in die karakter se worsteling om sin vir hom of ’n ander te skep. “Om jou oor vorige mislukkings te verknies, is ’n verskriklike vermorsing van ’n mens se lewe,” konstateer Pitzer en Siegfried weet die man praat uit persoonlike ervaring, veral wanneer Pitzer dit opvolg met dié verklaring: “Want ons is eiesoortige mense, ek en jy. Ons loop nie met die bondel saam nie.” Dit dan binne ’n groter opset waarin ons Siegfried as sodanige eiesoortige mens sien optree en uiteindelik ’n private waarheid aan homself openbaar.
Van den Berg het ’n geheim met sy historiese romans en dit staan weer eens voorop in Een of ander held: Die roman(s) bevat merkwaardig min historiese feite en inkleding; in plaas daarvan sentreer die roman om die mens in sy eeue oue konflik met homself en andere. Dit klink maklik. Dit is nie. Ook is dit niks nuuts nie. Die meeste skrywers wat ’n historiese roman aanpak, weet dit. Hoe om dit toe te pas is die kinkel. En daarin slaag Van den Berg uitmuntend.
Bied hy daarmee ’n oplossing? Die antwoord op dié vraag moet elke leser vir hulself uitwerk en die sleutel daartoe is in daardie meesterlike slotparagraaf te vinde wat soveel uiteenlopende dinge kan beteken as wat daar lesers is: “Agter die offisier lê die berge oeroud en stil onder die middagson. Asemwarm lug omvou elke lewende ding, lê swaar oor die bulte en dam in elke skeur en holte op. Die aarde gaan gebuk onder die juk van die hemel.”