Bloedlelie deur Jeanette Ferreira: ’n resensie

  • 1

Bloedlelie
Jeanette Ferreira
LAPA

ISBN: 9780799393651

In Bloedlelie is Jeanette Ferreira in haar element: tuis in die milieu van die Suid-Afrikaanse subtropiese platteland. Sy is vertroud met die inheemse bevolking, die plante, diere en plaaslewe met ’n trop honde om jou as iemand vreemds op die werf verskyn.

Twee parallelle verhale speel hulle in die boek af: die een tussen 1838 en 1852 en die ander in vandag se demokratiese Suid-Afrika 180 jaar later. Die groot gemene deler is eienaarskap van die grond wat vandag, soos in Piet Retief se tyd, ’n twisappel is wat tot bloedvergieting lei. Hanna van der Walt is ’n skrywer op die spoor van die skrapse nalatenskap van Retief se weduwee Magdalena. Aan haar is net een paragraaf in ’n geskiedenisboek oor die Trekkers van die tyd afgestaan. Bloedlelie is dus ook ’n metaverhaal waarin ’n skrywer oor die geskiedkundige navorsing vir haar historiese roman verslag doen.

Hanna spring in haar Salomon-sportskoene om saam met haar man Adriaan kruis en dwars te ry op soek na feite in argiewe vir ’n grondeisesaak waarin hy weldra as spesialisgetuie moet optree. Dit raak effe verwarrend as hulle in Pretoria, vir Adriaan ’n oorbekende omgewing, verdwaal weens veranderde straatname en na die plek verwys word as “die moederstad”. In KwaZulu-Natal loop hulle hul vas in twee plaasmoorde, die tweede klaarblyklik van die bekende Hulett-suikermagnate wat Hanna en Adriaan gasvry aan huis ontvang het.

Die Van der Walts verskil van die meeste van hul rasgenote: hulle beïndruk die Zoeloes met egte belangstelling in hul taal en familiename. Die tema van grondgeskille word kostelik herhaal in die klein tafereel tussen Hanna se twee werknemers wanneer Themba die plantbolle wat net inyangas soos sy oupa in die berg mog pluk, ongenooid in Hanna se groentetuin plant. Hy bots met Dudu, ’n Christen, wat sê hy moet die “toorgoed” los. Dan loer Adriaan oor die balkon en vra: “Gronddispuut?” Themba merk ergerlik teenoor Hanna op: “Mevrou, hierdie vrou en haar familie is kerkmense. Hulle weet fokolo van medisyne.”

Die skrywer, by monde van Hanna, respekteer die inheemse bevolking, en hoewel sy nie verskonings vir Dingaan se moordtog gee nie, word Retief ook nie vrygespreek van hardkoppigheid en egoïsme nie, want ondanks talle waarskuwings daarteen, ruk hy met ’n groot kontingent, waaronder sy stiefseun, met die traktaat in sy bladsak na Umgungundlovu op om die grondtransaksie met Dingaan te beklink. Ontluister van sy beeld in die volksgeheue, wil Retief ’n held wees en neem selfs vier seuns saam, onder wie sy en Magdalena se twaalfjarige Klein Piet. Hy verstaan nie dat grond vir die Zoeloes soos lug en water is nie en vertrou blindelings dat Dingaan ’n groot deel van sy grond sal afstaan in ruil vir die terugbesorg van sy gesteelde beeste. Dit nadat Sikonyela se buit sonder skoot by hom afgeneem is in ’n sluwe slenter met ’n stel boeie wat oopgesluit sou word net as hy die beeste teruggee.

Dit is gepas dat Ferreira die volksnaam van die medisinale plant Scadoxus Puniceus as titel vir haar roman gekies het. Net soos die min inligting wat Hanna in haar speurtog na Magdalena Retief vind, is die bloedlelie skugter en meestal verberg agter ander veldgewasse. En net soos die lelie, laat die trekleier se vrou simbolies bloedspore agter: sy moet haar twee eggenote, kinders en tien van haar vyftien kleinkinders afstaan aan siekte en konflik voordat sy as byna armlastige op Potchefstroom sterf.

Lesers kom verwysings na die seldsame bolplant, met ’n blom wat soos ’n rooi kwas lyk, meermale teë. Dit het onder meer antiseptiese eienskappe, maar kan in groot hoeveelhede ook giftig wees. Nie net die geesdriftige, aanvallige botanis-suster van die sendeling eerwaarde Francis Owen soek dit nie, maar ook die aanstellerige Franse naturalis Delegorgue. Hy is sonder begrip en arrogant besig om plantvoorbeelde te versamel, maar sy missie word deur die tolk vertaal as die soeke na “monsters”. Daarop brei die Fransman uit oor die grootwild wat hy inderdaad as monsters beskou. Hy vertel Magdalena beskuldigend hoe Dingaan se generaal Tambuza en sy lyfkneg Kombesane, wat glo as vredesgesante na Andries Pretorius gegaan het, summier tereggestel is. Sy vooropgestelde idees verhinder Magdalena om te vertel dat Kombesane verplig was om sy vrou, haar getroue Zoeloehulp Khetiwe, te verlaat vir hierdie pos en dat albei vroue diep bedroef was oor sy lot. Ferreira werk subtiel met die skuldkwas en lê dit nie net aan die deur van die Zoeloes nie; in gewelddadige konfrontasies is niemand se hande sonder bloed nie en niemand spring die gepaardgaande lyding vry nie.

Die plant word vir Magdalena ’n simbool van haar verliese aan haar dierbares en laat haar wonder of “die vervloekte lelie haar sal agtervolg tot aan die einde van haar bestaan op hierdie ondermaanse”.  Sy dra haar pyn egter stoïsyns, want sy glo “verlies is nie iets waaroor mens praat nie. Doen jy dit, gee jou voete onder jou pad.”

Hiermee sluit Magdalena Retief aan by haar legendariese geslagsgenote wat liewer kaalvoet oor die Drakensberge sou trek as om onder die Engelse juk te bly. Sy is die stoere voormoeder van die vroue wat ’n halfeeu later ondanks ondenkbare lyding in die konsentrasiekampe hul mans sou aanspoor om aan te hou veg. Sy word geteken as ’n sober figuur wat haar eie sakdoek vir Owen aanbied met die woorde: “Dit is al waaroor die Woord gaan, Eerwaarde. Dat ons mekaar se trane sal afvee. En ons eie.”

Bloedlelie is ’n veelvlakkige, fyngesnaarde werk en Jeanette Ferreira se vyfde historiese roman. Hiermee steek sy weer eens haar kleim af as ’n belangrike en gesaghebbende skrywer op die gebied.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top