Mara
Marida Fitzpatrick
Tafelberg
ISBN: 9780624093404
Marida Fitzpatrick vertel vir Jeanette Ferreira van Marida se onlangse boek, Mara.
Marida, dis seker nie vir jou ’n verrassing as ek sê jy het jou lesers dié keer verras nie. Jou vorige fiksie was aansienlik ligter: die chicklitverhaal Iemand vir ’n scoop en die liefdesroman Eksklusief uit Eden, al twee knap binne hulle genre. Nou kom jy met Mara, wat sekerlik as domestic noir beskou kan word, ’n sielkundige riller en ’n verkenning van die diep letsels in ’n gesin wat uit die ouer-kind-verhouding voortspruit. Is dit bloot ’n geval dat jy die vryheid geniet van tussen genres beweeg of is Mara eintlik een van daardie romans wat jare lank in ’n skrywer se kop gebeur voor dit ’n roman word?
Die vorige twee boeke was opdragwerke met baie spesifieke vereistes, omdat elkeen binne ’n spesifieke genre moes val. Die genre het dus die storie gedikteer. Dié keer kon ek net skryf sonder om aan ’n bepaalde genre gebonde te wees. Die storie het uiteindelik min of meer in die genre van domestic noir of dié van ’n sielkundige riller geval, maar dié keer is die genre deur die storie gedikteer, nie andersom nie. Mara se storie het inderdaad vir jare in my kop gedraai voordat dit ’n roman geword het.
Salome tref ons as ’n waaragtige feeks en ’n voorbeeld van die soort mens wat nooit ’n ouer behoort te word nie. Haar fisieke en emosionele wreedheid lyk na die resultaat van voorbedagtheid. Soos die roman vorder, word dit egter duidelik dat sy aan ’n psigiese siekte ly, wat immers nie haar skuld is nie. As mens regverdig wil (probeer) oordeel, moet sy dan ook simpatie verdien. Sou jy sê dit is ’n redelike afleiding?
Ja, absoluut. Salomé is ook maar net ’n produk van haar eie grootwordjare en genetiese samestelling. Dis mos hoe die sondes van die vaders werk. Elke generasie betaal hul eie prys en kry hul eie letsels – geneties of andersins – ondanks die beste bedoelings van die ouers.
Salome doen haar hele gesin skade aan. Die spreekwoordelike een vrot appel in die mandjie wat die ander ook laat verrot. Wou jy daarmee implisiet ook kommentaar lewer op wanfunksionele gesinsverhoudings in die algemeen of gaan dit hier net oor die Bouwers en gesinne soos hulle?
My doel was nie om kommentaar op enigiets te lewer nie; my doel was bloot om die storie te vertel. Maar ja, disfunksionele gesinsverhoudings is een van Mara se groot temas, en sekerlik een van die groot redes – indien nie dié grootste rede nie – vir die menslike toestand.
............
My doel was nie om kommentaar op enigiets te lewer nie; my doel was bloot om die storie te vertel. Maar ja, disfunksionele gesinsverhoudings is een van Mara se groot temas, en sekerlik een van die groot redes – indien nie dié grootste rede nie – vir die menslike toestand.
..............
Uit die roman word dit duidelik dat die vernedering en onreg van apartheid trouens deurgesypel het tot op mikrovlak, gedagtig aan die skade wat dit in die mens-tot-mens-verhoudings veroorsaak of moontlik gemaak het. Is dit vir ’n Suid-Afrikaanse skrywer in 2022 hoegenaamd moontlik om rondom apartheid te skryf?
Rakie se kinderdae speel in die 1980’s en 1990’s af, dus is apartheid noodwendig deel van die historiese agtergrond. Dit sou onmoontlik gewees het om oor dié tyd te skryf sonder dat die gevolge van apartheid neerslag in die verhoudings vind.
Arme ou Pa. Op ’n ligter noot sou mens kon sê dis nou een karakter in Mara wat regtig ’n break nodig het. Maar moet Pa nie ook skuld dra nie, want hy moes darem besef het dat sy en Salome se toksiese verhouding sy kinders ook gaan vernietig? Ek bedoel, moes hy nie sy kinders gevat en hulle alleen gaan grootmaak het nie?
Ek het probeer om al die karakters volronde, driedimensionele mense te maak wat nie een nét goed of nét sleg is nie, nét skuldig of nét onskuldig nie. In Mara is daar nie helde of skurke nie. Elke karakter, insluitend Pa, het ’n ligte kant en ’n skadukant.
Mara is ’n baie donker roman, tog laat dit mens nie depressief nie maar met veel meer insig. Kan ons uitsien na nog ’n donker Fitzpatrick-roman?
Haha, asseblief tog nie! Mag ek nooit weer so ’n sadistiese bevlieging kry om so ’n blerrie boek te skryf nie!
Tog is daar ’n goeie dosis humor in Mara. Duidelik het die hoofkarakter kort tevore ’n biologieles deeglik verteer wanneer sy haar voorstel hoe die sprinkaanplaag Egiptenare se huise deurtrek het met hulle "gelede agterlywe". En Mara se antwoorde – haar gevatte hardegatgeid – het mens meer as een keer laat dink sy is gebore met daardie angel wat die lagspiere raakpik. Beskou jy dit as wrang humor of is dit ’n vorm van oorlewing vir jou karakter én jou leser?
Ek is baie bly wanneer mense vir my sê die boek het hulle ook laat lag. Ek dink humor is ’n kragtige manier om ’n ernstige, swaar roman toeganklik en verteerbaar te maak. Dit gee die leser kans om asem te haal. Ek het dit egter nie doelbewus gedoen nie. Dit het maar spontaan gebeur toe die karakters met mekaar begin praat. Rakie se tweelingsuster, Mara, is baie sarkasties en vol kwinkslae. Sy is dus verantwoordelik vir die meeste van die humor. En dan laat Rakie se naïewe kinderperspektief lesers ook soms lag, hoewel dit meer dikwels lag met ’n traan is.
Jy beklee ’n uitdagende pos. Daarom dié gebruiklike, menslike vraag: Waar kry jy tyd vir skryf?
Ek sê nee vir alles wat lekker is! Baie vakansies en naweke het gesneuwel wanneer ek moes skryf. En in ’n stadium het ek soggens 3:45 opgestaan om ’n goeie skof in te sit voor werk. Die ekstra 15 minute was om eers koffie te maak sodat ek kon wakker word. As ek nou daaraan terugdink, was dit niks minder as wreed nie! Dit het my 100 jaar ouer gemaak.
..............
Baie vakansies en naweke het gesneuwel wanneer ek moes skryf. En in ’n stadium het ek soggens 3:45 opgestaan om ’n goeie skof in te sit voor werk.
..............
Die leser kry die indruk jy skryf met buitengewone gemak. Jy hanteer woorde soos sagte klei. Die patrone lê so diep verweef dat nog patrone onvermydelik daaruit spiraal. Skryf jy inderdaad maklik, of loop die bloed?
Haha, nee, die bloed loop in strome en riviere! Skryf is vir my baie swaar. Dit gee elke keer een helse geween en gewroeg af, dié dat ek nog glad nie kans sien om dit weer aan myself te doen nie.
Die hele verhaal word uit Rakie se oogpunt vertel. Is dit moontlik dat haar oogpunt so subjektief is dat Salomé dalk nie regtig so ’n feeks was soos wat Rakie haar onthou nie?
Iemand het eenkeer gesê "all memory is fiction." Die oomblik dat ’n mens iets deur die filter van jou eie belewenis en herinnering onthou, raak dit noodwendig iets anders, iets wat jy tot ’n mate self geskep het.
............
Iemand het eenkeer gesê "all memory is fiction." Die oomblik dat ’n mens iets deur die filter van jou eie belewenis en herinnering onthou, raak dit noodwendig iets anders, iets wat jy tot ’n mate self geskep het.
..............
Die vraag is dus nie óf dit van die objektiewe werklikheid verskil nie, maar net tot watter mate. Want niks kom ongeskonde deur die meule van ons persoonlike belewenisse nie.
Kommentaar
Dankie Marida, ek het die boek regtig geniet, ek was baie vies vir Salomé dat sy hierdie gewig op haar arme klein dogtertjie kon laat rus. Maar die einde!! Wat ‘n verrassing, ek het nooit die idee van ‘n skynsuster gekry nie. Uitstekend!