Die Melkweg en die miskruier
Jeanette Ferreira
Uitgewer: Tafelberg Uitgewers
ISBN: 9780624094630
Wat het die Melkweg en ’n miskruier gemeen? Vergeleke met die onbeskryflik groot Melkweg is ’n miskruier ’n klein insek op ’n planeet wat ’n enkele spikkel in die heelal is. Die treffende voorplat van Jeanette Ferreira se jongste roman het hierdie vraag by my laat ontstaan met die kremetartboom se takke wat uitreik na die groter, onbekende misterie wat in die buitenste ruim verskuil lê.
Kontras vorm ’n belangrike motief in Ferreira se roman.

Foto: Izak de Vries
Die Melkweg en die miskruier volg op Ferreira se Bloedlelie wat in 2019 verskyn het. Alhoewel Ferreira verskeie literêre genres, soos die digkuns en kortverhaal, beoefen, is sy veral bekend as romanskrywer. Haar belangstelling in geskiedkundige gebeure soos die Suid-Afrikaanse Oorlog (Anglo-Boereoorlog) asook die Groot Trek figureer onderskeidelik in romans soos Catharina (1996), Charlotta (1999) en Bloedlelie (2019). As samesteller bring sy ook verhale oor onder andere die Suid-Afrikaanse Oorlog en die Grensoorlog byeen. Haar voorliefde vir die historiese roman wat die gebeure van die verlede met die hede vervleg, is ’n deurlopende kenmerk in haar uitgebreide oeuvre.
Die Melkweg en die miskruier bou voort op hierdie tendens. Soortgelyk aan Bloedlelie speel twee parallelle verhale naas mekaar af: die verhaal van Sabine Weyers tydens enkele dae in Maart 2020 kort voor die aanvang van die Covid-inperking asook die verhaal van haar voorsaat, Henrietta, wat oor ’n aantal jare tussen September 1914 en September 1919 strek. Henrietta se karakter sluit intertekstueel aan by Charlotta, aangesien Henrietta die dogter van die hoofkarakters in Charlotta is: “Grootouma Charlotta, gebore Stewart, grootoupa Helgaardt Theunissen, daarnaas hul twee seuntjies wat ook in die Groot Griep van 1918 omgekom het” (264).
...
Die roman is ’n kleinood waarin Suid-Afrika se verlede, hede en toekoms vervat word.
...
Sabine Weyers onderneem ’n reis van meer as 2 000 km na die noorde om vir oulaas haar familieplaas Donkerhoek in die Laeveld te besoek. Vroeg in die roman kom die leser tot die gevolgtrekking dat Sabine se reis nie nostalgies van aard is nie, maar eerder onderneem word sodat sy berusting kan vind na ’n traumatiese gebeurtenis in die vroeë negentigerjare. Ferreira slaag daarin om op vernuftige wyse die rede vir Sabine se besoek aan Donkerhoek tot die laaste hoofstukke van die roman te verswyg. Die spanning bou op, omdat die leser deurentyd wonder waarom Sabine haar eggenoot, Salmon, asook haar familieplaas verlaat het. Was dit Salmon se alkoholisme weens posttraumatiese stressteuring wat haar van Donkerhoek verdryf het of was daar sinistere redes of gebeure wat aanleiding gegee het tot Sabine se skielike vertrek?
In die eerste en derde afdelings van die roman word Sabine se verhaal weergegee. Die narratief word oor ’n aantal dae vanaf 22 tot 25 Maart 2020 vertel kort voor Suid-Afrika, soos talle lande regoor die wêreld, ingeperk is weens die COVID-19-pandemie. Dié pandemie word op geslaagde wyse by die intrige betrek en staan in kontras met Henrietta se verhaal in die tweede afdeling waarin daar onder andere op die Groot Griep (of Spaanse griep soos dit bekend gestaan het) van 1918 gefokus word. In dié opsig betrek Ferreira die verwysing na die miskruier in die titel om die menslike verganklikheid, maar ook nietigheid in die konteks van die groter heelal, te beklemtoon. Die Covid-pandemie laat die mens voel soos “’n [n]ietige miskruier wat ook sy pad byster is ná die President se onverwagte aankondiging” (117). In dié opsig ondersoek Ferreira die effek van trauma op die menslike psige, hetsy weens pandemies, oorloë soos die Suid-Afrikaanse Oorlog, die Eerste Wêreldoorlog en die Grensoorlog.
Die Melkweg en die miskruier aktiveer ’n intertekstuele verwysing na Deon Opperman se dramateks Donkerland (1996). Soortgelyk aan Opperman se teks word die verhoudings tussen verskillende rasse, kulture, geslagte asook generasies ondersoek. Grondhervorming staan sentraal in die narratief. Net soos ’n gedeelte van Donkerland aan sy oorspronklike eienaars terugbesorg moet word, word Donkerhoek ook aan koningin Modjadji en haar afstammelinge terugbesorg. Ferreira vra indringende en soms ongemaklike vrae rondom grondbesit, wat steeds ’n sensitiewe en selfs omstrede debat in die Suid-Afrikaanse konteks is. In Sabine Weyers se geval het sy vrede gemaak met die verkoop van Donkerhoek wat aan die oorspronklike inwoners terugbesorg is: “In die stilte van klip woon eeue se kennis en pyn” (264). Ubuntu vorm die kern van die roman: “Ons soek nie almal van die Modimo en die moruti nie, maar ons soek almal van die mooi hart vir die mense van Afrika” (253).
Alhoewel die historiese roman op die oppervlak as ’n blote reisverhaal na die verlede beskou kan word, raak Ferreira veel belangriker onderwerpe aan. Die Melkweg en die miskruier versinnebeeld ’n mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse samelewing en die uitdagings wat ons in die gesig staar. Grondhervorming, rassisme, geweld, plaasmoorde, misdaad, oorlog, trauma, transformasie asook naamsverandering is maar enkele temas wat in die roman aan bod kom. Sabine en Henrietta se verhale word die verhaal van ’n hele nasie en al die trauma wat in die bestek van ’n eeu daarmee gepaard gaan. Die rol van die vrou in die konteks van landbou, grond, oorlog, asook vredemakers en bewakers van die verlede word opnuut belig.
Die Melkweg en die miskruier is ’n roman wat stadig en aandagtig gelees moet word, aangesien die gebeure en die groot aantal karakters op intrinsieke wyse met mekaar se geskiedenisse verweef word. Lesers wat van historiese fiksie hou, sal die roman geniet, aangesien die historiese gebeure op geloofwaardige wyse in die narratief geïnkorporeer word. Ferreira se taalgebruik is opvallend. Die ryk geskakeerde taalgebruik en sinskonstruksie spreek van ’n ervare woordsmid. Die skrywer maak van taal gebruik om die leser in die verskillende historiese tydvakke te verplaas. Sy slaag daarin om die taalgebruik op effektiewe wyse met elke karakter se persoonlikheid en kulturele herkoms te integreer. Ter illustrasie is veral die gebruik van Neerlandismes en ouer spreekwoorde opvallend in Henrietta se geval en die periode waarin haar verhaal afspeel. Op hierdie wyse word die historiese konteks en atmosfeer realisties verwoord.
Met Die Melkweg en die miskruier bewys Ferreira weer eens haar bedrewenheid as romansier. Die roman is ’n kleinood waarin Suid-Afrika se verlede, hede en toekoms vervat word. Die skrywer dwing die leser tot introspeksie en durf om ongemaklike vrae te vra oor die mensdom se verlede en waarheen ons op pad is. In die konteks van die Melkweg is die mens soos ’n miskruier: “Ook die miskruier bedryf hier die storie van sy lewe. Die klein pelgrim het so ’n swaar las op hom geneem dat hy sy bagasie met die agterpote stoot” (265). Ook die mens word met trauma belas en elke generasie dra die bagasie van sy of haar voorvaders en -moeders.
Lees ook:
Die Melkweg en die miskruier: ’n onderhoud met Jeanette Ferreira
Kommentaar
Dewald, dankie vir 'n insigryke en uitnemende resensie. Jeanette, van harte geluk met 'n skitterende roman.