Die Melkweg en die miskruier: ’n onderhoud met Jeanette Ferreira

  • 0

Die Melkweg en die miskruier
Jeanette Ferreira
Tafelberg Uitgewers
ISBN: 9780624094630 

Jeanette Ferreira praat met Naomi Meyer oor Jeanette se mees onlangse boek, Die Melkweg en die miskruier.

Jeanette, baie geluk met Die Melkweg en die miskruier. ’n Verhaal van twee vroue en twee virusse. Albei karakters geskilder teen die groot doek van hierdie sonnestelsel. As hulle snags opkyk, is die groot jagter daar. En die melkerigheid van die baie sterre wat eeue reeds gelede hierdie lig gekaats het. Soveel is eenders, soveel is anders. Hoe sou jy die verhaal in ’n sin of twee opsom.

Mense bly meestal in hulleself vaskyk, daarom verander ons reaksie op krisisse nie veel oor die eeue heen nie. Eers wanneer mens jou in ’n ander se skoene plaas, lyk jy en alles buite jou anders.

Dis die soort boek wat mens tydsaam lees. Mens staan stil by die sinne. Omdat dit raak beskrywings bevat, of net die regte, ekonomiese aantal woorde. Ek sien ook die tydperke tussen sinne, gebeure wat plaasvind en nie alles uitgespel word nie. En tog vind die gebeure in Sabine se lewe oor 'n tydperk van enkele, intense dae plaas. Hoe lank het dit jou geneem om die boek te skryf?

Die verlede (ouma Henrietta se lewe) loop met langer treë; dit spring oor vier jaar heen. Dis asof ons geheue die verlede sif tot die hede se krisisse wat daarmee ooreenstem, al is laasgenoemde onbewustelik. Soort van: Hierdie ding wat nou gebeur, is nie nuut nie; hoe het mense voor ons dit oorleef? Eers by voltooiing het ek dit raakgesien. Ek het toevallig ook so vier jaar aan die roman geskryf. Dalk het ek, ook onbewustelik, daarmee iets herhaal.

Die datum by die eerste hoofstuk is 22 Maart … Jou boek speel aanvanklik af in die onlangse hier en nou, maar dit dui op ’n belangrike geskiedkundige gebeurtenis: Covid. Het jy die boek in die virustyd begin skryf? Het jy toe reeds die afstand gehad om daaroor te kón skryf?

Nee, Covid was vir my een lang wagtydperk, wat telkens op nog ’n wagtydperk uitgeloop het. Soms was ons magteloosheid nie soseer oor die virus nie, maar oor ’n regering wat enersyds onbeholpe en andersyds opportunisties was, en dit het gou duidelik geword. Dalk het ons nou nog nie genoeg afstand daarvan nie, dié dat my gedagtes om die Groot Griep van 1918 bly draai het: Toe het mense ook met ’n mag buite hulleself sowel as ’n mag binne hulle beheer geworstel. En nie oor een daarvan kon hulle beheer uitoefen nie. Oorlog is ’n virus waarvoor ons nou nog nie ’n teenmiddel ontwikkel het nie.

...........
Oorlog is ’n virus waarvoor ons nou nog nie ’n teenmiddel ontwikkel het nie.
............

In die 2020-tydperk-gedeelte lees mens vinnig van trauma en angs. ’n Vrou wat bang is en haar as nietige wese in ’n omvangryke heelal bevind. Ek staan nog eers stil by die angs aan die begin. Die hier en nou, die motor wat in die middel van ’n landskap nie wil ry nie. Vrou-alleen, mens-alleen, sit ons in hierdie onherbergsame heelal. As mens op hierdie stadium nog niks meer inlees in die miskruier as simbool nie, is sy ’n klein insek in ’n groot kosmos. Wat my bring by die vraag oor die titel: Was dit van die begin af jou werkstitel? Hoe het dit ontstaan en wat beteken dit vir jou?

Covid het my diep onder die indruk van die mens se ontoereikendheid gebring. Hier sit ons, arme drommels – so ver gevorder dat ons al die maan kon betree – meteens tussen vier mure vasgevang. Ás jy vier mure gehad het. In daardie tyd was die rykstes onder ons nie veel meer weerbaar as die armste van armes onder ’n swart sak op straat nie. Die verrotte kroon van die skepping moes ’n slag goed op sy neus kyk om te besef hy is ’n nietige gogga. Die goggas was toe net minder bedreig as die rampsalige mens. Dit was ’n tyd om te erken: Ek is ’n mens soos jy en ons het net mekaar; laat ons goed wees vir mekaar en vir alle ander dinge op aarde.

...........
Die goggas was toe net minder bedreig as die rampsalige mens. Dit was ’n tyd om te erken: Ek is ’n mens soos jy en ons het net mekaar; laat ons goed wees vir mekaar en vir alle ander dinge op aarde.
............

Jy het ontsettend baie navorsing gedoen – dis duidelik uit die teks, maar ook uit al die aantekeninge agterin die boek. Die bronne wat jy geraadpleeg het, die mense met wie jy gepraat het. Hoeveel van jou navorsing oor plek, mense, tale en ruimte was geleefde ervarings – spontane navorsing?

Ek het sowaar bitter min van daardie navorsing spesiaal vir die roman gedoen. Die meeste daarvan was nog altyd deel van my belewingswêreld; dit het net in die roman byeen gekom. Geskiedenis en die toekoms, die natuurwetenskappe, interesseer my toenemend. As mens ver genoeg die toekoms kon inkyk, sou jy die verlede gesien het.

............
Geskiedenis en die toekoms, die natuurwetenskappe, interesseer my toenemend. As mens ver genoeg die toekoms kon inkyk, sou jy die verlede gesien het.
.............

Vroeg in die eerste paar paragrawe is daar ’n verwysing na die oupagrootjie wat teen Makgoba geveg het – vandaar die naam Magoebaskloof. Hier het ons ’n voorafskaduwing van wat volgende in die boek kom (’n vorige geskiedkundige tydperk), en rassewrywing. Wie s’n is wie s’n. Hoe benader mens dit as Suid-Afrikaanse skrywer? Om in jou karakter se vel te klim en na te dink oor al die mense in hierdie land – om waarheidsgetrou en verantwoordelik daaroor te skryf? Of wat was jou benadering, wat voel jy is die rol van die skrywer as jy skryf oor verskillende mense uit uiteenlopende agtergronde se lewens en gedagtes oor mekaar?

Hoe mens rassewrywing as Suid-Afrikaanse skrywer benader, kan ek jou nie sê nie. Ons is almal saam in die ding. Enige vorm van Suid-Afrikaanse problematiek – trouens, wêreldpolitiek – is ook die ek se problematiek, of gaan dit word. Mites is volop, grondige kennis nie. Verontwaardiging is net so volop, begrip nie.

Later is daar weer ’n datum: 1914. Dis die tydperk voordat die Groot Griep die wêreld in 1918 getref het. Ons weet ook dis ’n tyd van ’n wêreldoorlog as ons net die datum gewaar. Net soos jou karakter van 2020, Sabine, is hierdie Henrietta van 1914 ook iemand wat in vrees en angs leef. Wie was sy en hoe is sy in jou kop gebore?

Onthou net, Henrietta is Charlotta en Helgaardt, hoofkarakters uit een van my Boereoorlogromans (Charlotta, 1991), se dogter. Haar ouers se ervaring word ook deel van hare, dié deel waarvan hulle haar vertel. Henrietta se angs sentreer om oorlog, soos haar ouers s’n, soos die moderne mens s’n, iets wat nie sin maak nie, maar desondanks teen alle menslikheid in gebeur. Dié dat ek van oorlog as ’n virus praat.

Daar was hier en daar ’n gesprek oor hoe mens met Covid gaan maak in die letterkunde. Gaan mens maak of dit nooit bestaan het nie? Dit was so ’n kortstondig-intense tydperk. Ook al bestaan die virus nog steeds, was daardie eerste sterftes en grendeltyd iets wat mens onthou. Wat het jou laat besluit om nie net hieroor te skryf nie, maar dit as een van die kern-verbintenis-temas tussen jou twee hoofkarakters te gebruik?

Juis oor daardie angs. Met die aanvang van 1914 was Henrietta se vrese en ideale beperk: om met Ruurd te trou en om verkieslik nie vir daardie troue met krans en weil in die vaal trok kerk toe te ry nie. Die Eerste Wêreldoorlog, pa Helgaardt wat “simpel” raak by Delvillebos, die Groot Griep waarin Ruurd sy ware kleure wys, vergroot die grense van haar lewe so ingrypend dat sy van haarself kan wegkyk – ander mense en haar verhouding tot hulle word hoofsaak.  

Die titel van die boek wys vir die leser dit gaan hier oor die nietige wese in die kosmos. Dit dui ook op die mistieke simbool wat die miskruier is. Mens kan jou boek lees en die sinne bekyk soos mens ’n vetplant rustig in die huis staan en dophou terwyl hy tydsaam groei – oor maande en jare. Daar is vir my spirituele elemente van die natuur in so baie aspekte van die boek opgesluit. En die virus is tog ook iets uit die natuur, al dan nie? Wil jy iets sê oor jou belangstelling in die natuur en jou kennis daarvan?

O, ek wens ek kon in my leeftyd veel, veel meer geweet het. Ek het ook gewens ek was so goed met wiskunde dat ek in die natuurwetenskappe kon gaan studeer het. Maar ek kon nie. Dis oukei, weet ek vandag. Hierdie weet van binne uit, hierdie groot herkenning en erkenning van jouself in die nietigste elementjie van die natuur, is net so ’n intieme verbintenis met die heelal as wetenskaplike kennis daarvan.

Grondbesit is ’n tema. Aan wie die grond behoort. Hoe dit voorheen gelyk het, die melankolie as dinge verval. Die woede van diegene wat nie het nie. En tog is dit nie jou tema nie. Jou verhaal is die vroue s’n. Maar hulle is hiermee ineenvervleg, soos die stamboom agterin toon. Het jy doelbewus die temas gekies, of het dit net organies gebeur, omdat jy in jou karakters se velle binne hul omgewings was?

............
Vroue se verhaal is ook grond se verhaal. Die vrou en haar dogters leef en besit (of besit nie) net soos die man en seuns, al is die mans tradisioneel die landbouers. Terloops, in heelwat Afrika-kulture is vroue die landbouers.
.............

Vroue se verhaal is ook grond se verhaal. Die vrou en haar dogters leef en besit (of besit nie) net soos die man en seuns, al is die mans tradisioneel die landbouers. Terloops, in heelwat Afrika-kulture is vroue die landbouers. Hier was wel navorsing ter sprake, want ek het later in my lewe ’n hele paar geskrifte geraadpleeg om daar te kom waar ek kon weet hoekom onder andere Modjadji en haar onderdane oorkant die Ngwanedzi in ’n “lokasie” woon en die Ferreiras op Deerpark kon boer. Nieklas en Cedric, wat hoofsaaklik in die eerste deel van die roman figureer, het elkeen ’n stukkie van die waarheid beet. Dit was nie my tema in ’n netjiese sin op papier nie. Ek wou meer weet. In die uitvind het ek uiteindelik meer oor mense as oor grond te wete gekom. Die grond wat vir my so heilig was, was vir ’n ander mens net so heilig. Ek weerhou my daarvan om groot uitsprake oor grondverdeling te maak, maar ek dink om blindelings grond oor te dra verander niks aan gebrekkige kennis nie. Grond, soos water, soos lug, soos veld, soos diere, is so ’n groot verantwoordelikheid en vra soveel respek en kennis dat dit nie binne een geslag “reggestel” kan word nie, veral nie terwyl bevoorregte elite – lees: invloedryke lede van die regerende party – wat net so min kennis het, glo grond is geld nie. Grond is die aarde se vel en ons moet die hele liggaam versorg.

Hoekom het jy die boek geskryf? Het jy dit vooruit beplan, of ’n ent geskryf en toe op ’n dag besef: Dit word ’n boek?

Soos die meeste skrywers loop ek maar altyd met ’n ervaring in my kop rond wat ’n boek wil word.

Daar is flitse sosiale kommentaar. Net voordat die motor nie wil vat nie, die gewaar van die vullis teen die drade. Ouma wat die tweede woord in “Goed verdiénd” benadruk. Mens moet fyn en stip lees. Redigeer jy self baie; dink jy na oor elke sin voor jy dit skryf?

Ek dink Solette Swanepoel van Tafelberg was al moedeloos met my, maar sy is natuurlik te ordentlik om dit te sê. Die roman was al vergange klaar, toe fieter ek nog daarmee, herskryf ek sinne. Afstand en tyd laat mens so anders kyk na wat jy roekeloos loop sit en skrywe het.

’n Los sin hier en daar verwys na ander belangrike geskiedkundige gebeurtenisse. Iemand wat tee drink en praat oor haar mense wat nie vry is nie. Haar kind is deur ’n vuurpeloton van die Britte doodgeskiet. Ou wrokke. En nou, in 2020, is hier ander bagasie – dalk daardie selfde nageslag van Makgoba wat nog die woede met hulle saamdra: Julle het hierso teen ons voorouers geveg. Weer kry jy dit reg om oor moeilike temas te skryf asof jy op ’n afstand staan en kyk. Iemand wat binne-in die Covid-tyd oor Covid kan skryf. Hoe doen mens dit? Hoe verkry jy die afstand om te kan grawe en dan weg te staan en te kan neerskryf wat jy gesien het?

Presies nes jy hier skryf: deur weg te staan. Maar dis moeilik! Elke ou bloemieng sinnetjie wat jy neergepen gekry het, is vir jou heilig. Dis maar ’n algemene ding van skryf: Jy moet jouself oortuig niks, maar niks, is heilig nie. Alles wat goed is, moet ook werk in die sin dat alles saam moet praat, anders is dit nie meer goed nie.

Het jy die verhaal geplot en elke karakter beplan, soos jou voormensestamboomkaart agterin die boek uiteensit?

Glad nie, glad nie. Elke karakter en gebeurtenis het een vir een kom aanmeld – wel oor tyd, nè. Soms, wanneer ek kyk na die eerste sukkelende weergawes van ’n roman, kan ek darem lag. Hei, mens moet so in jou gebrekkige vermoë kan glo om te begin skryf, en ha, mens moet so nederig raak oor goed wat jy moet nek omdraai. Beplanning is goed en nodig, solank jy weet as daardie plan eers in werking gestel word, gaan die verhaal homself oorskryf en moet jy dit eerbiedig.

Wie was jou gunstelingkarakters en hoe maak mens met die (vr)ouens van wie mens die minste hou? Want hulle het jy almal ménslik uitgebeeld.

Ek hou van Sabine omdat sy leer verstaan mens gaan terug om dit wat jy gaan soek het, net ten dele te vind. Dis reeds genoeg om oor dankbaar te wees. Mudiga is ook ’n gunsteling, hy wat weet van die bome wat ubuntu kan praat want die mens sukkel so om dit te doen. Ek ag my gelukkig dat ek drie Mudigas geken het. Ja, en die soliede Matthias; dan het hy nog ’n mooi naam ook. Van Ebbe hou ek sommer baie – daai soort man kry mens ongelukkig net in storieboeke. Uiteindelik kon ek ’n plekkie vir elke karakter in my hart vind, net omdat elkeen mens geneig is om opreg te glo hy of sy het die waarheid in pag.

Het jy sekere tydperke wat jy skryf – soggens, of as die inspirasie kom, of wanneer? Dan is jy ook betrokke by ontwikkeling van andere se manuskripte – waar kry jy die tyd? Dis nie ’n retoriese vraag nie.

Nee, ek staan maar op en begin skryf, nogal blind. As mens eers oor die sin daarvan begin besin, los jy die hele spul net so. Mens moet sorg dat dit klaar kom. Ek moet darem sê ek is deesdae minder betrokke by ander manuskripte, omdat ek selfsugtig genoeg geword het om meer tyd vir myself te vat. Maar mens moet aanhou gee ook, jou vaardighede deel sonder om iets terug te verwag – dit maak van jou ’n heler mens.

Ek wil ten slotte vra: Soos mens sê die Struggle is verby, lank lewe die Struggle ... Is Covid verby? Het dit verbygegaan en lê dit agter ons, in die geskiedenis, met net die Melkweg wat met ’n sagte wit oog daarop neerkyk?

Die virus se gevaar het afgeneem, die grendeltydperk is uiteindelik verby. Maar ons het baie geleer oor die mense wat in hierdie tyd moes leiding moes gegee het. Wel, en van die mense wat hulle moes gelei het. Suid-Afrikaners gaan voortaan nie met alles vir lief neem wat hulle wysgemaak word nie. Die Melkweg, daardie sagte wit oog waarvan jy praat, bestaan in ’n wetenskaplike beskrywing uit spirale. Ons DNS ook, in ’n wetenskaplike beskrywing. Só wys die sagte wit oog ’n mens is ’n mens deur ander mense.

Lees ook:

Nuwe Stories 2013-onderhoud: Jeanette Ferreira

Bloedlelie deur Jeanette Ferreira: ’n resensie

Bloedlelie: ’n onderhoud met Jeanette Ferreira

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top