Bloedlelie: ’n onderhoud met Jeanette Ferreira

  • 0

Foto van Jeanette Ferreira: Thomas Theron

Bloedlelie
Jeanette Ferreira
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799393651

Jeanette Ferreira praat met Naomi Meyer oor Jeanette se jongste boek, Bloedlelie.

Jeanette, baie geluk met die verskyning van Bloedlelie. Die vuurwarm tema van grond en wie s’n is wie s’n is ’n belangrike tema in jou boek. Wat was vir jou die inspirasie of sneller om hierdie boek te begin skryf?

Ek het toe lank reeds oor Retief en Dingaan gelees en grondeise het in daardie tyd toegeneem, met gepaardgaande aggressie. Maar ek kan nie vir jou sê wat die sneller was en of daar een was nie. ’n Tema kom vir my terwyl ek soos my karakters probeer dink. Vir Retief kon grond met ’n dokument gekoop word, vir Dingaan was dit ondenkbaar, omdat grond, soos lug en water, nie oordraagbaar was nie. Hedendaagse grondeise berus egter nie op Dingaan se opvatting nie. Tog is die konflik nou groter en daar is meer bitterheid en woede. Dis asof grond en bloed nie sonder mekaar kan nie.

Eers met ossewaens en dan met die swart Merc op die snelweg. ’n Slim manier om te demonstreer: hierdie verhaal speel af in die verlede en ook in die hede. Wil jy iets van hierdie gegewens vertel?

Iewers langs of naby daardie pad waarheen ek in ’n moderne voertuig na Retief se laaste staning gereis het (naby die huidige Estcourt in KwaZulu-Natal), moes sowat 180 jaar tevore ook waens getrek het. Oor daardie selfde grond het gevestigde Zoeloegemeenskappe tydens die Mfecane gevlug, elders probeer voor begin. Die gedagte van konflik wat ons laat afskeid neem van een plek en na ’n volgende laat vertrek, het my beetgeneem (soos ook in my vorige roman oor Louis Tregardt, Die son kom aan die seekant op). Telkens glo ons in alle opregtheid aan die einde van die volgende trek sal daar nie weer konflik wees nie en ons sal nie weer trek nie. Magdalena Retief se reise was vir my een van die beste voorbeelde daarvan. Ons word gebore om konflik te leer hanteer en te trek; dit was só sedert daar mense was. Dis asof die mens dit nie in sy kop kan kry dat hy nie bedoel was om permanent te wees nie. Alles moet aanhou beweeg en uiteindelik sterf, selfs die sterre.

Jy is bekend vir jou skryfwerk oor onder andere en veral die Anglo-Boereoorlog (ook die Suid-Afrikaanse Oorlog genoem). Hoe het jy jou navorsing oor die trekkers, sewentig jaar voor die ABO, vir hierdie roman gedoen? (En die ironie tref my nou ook: die groot geveg vir onafhanklikheid en selfbeskikking in die 1830's word ’n paar dekades later gevolg deur die geveg tussen Boer en Brit.)

Een van die waardevolste bronne was Die dagboek van Erasmus Smit, die trekkers se leraar. Dit is opgeneem in Gustav Preller se sesdelige Voortrekkermense, waarin persoonlike ervarings van trekkers geboekstaaf is en waaruit ek ook baie stof geput het. Maar boeke is nooit genoeg nie. Ek gaan altyd na die plekke toe waar dié dinge gebeur het. Vir hierdie roman het ek na Doornkop (waar Retief sy trek agtergelaat het voor sy laaste reis) toe gegaan, na Maritz se staning daar naby, na Pietermaritzburg en die huisie waarin Magdalena vir ’n ruk gewoon het en wat nou ’n klerewinkel huisves, na Umgungundlovu veral. Mens wil sien hoe die son daar lê, die sterre, hoe die wind waai, hoe die aarde lyk waar die karakters geloop het, watter voëls, diere, plante, bome, rantjies, wat hulle gesien het. (Oor jou opmerking tussen hakies, ja, en daardie stryd was ook oor grond.) Dan was daar die dagboek van Owen, die sendeling wat ’n paar maande naby Umgungundlovu gewoon het. ’n Kosbare stuk erfenis wat in 1926 in druk verskyn het, danksy die Van Riebeeck-stigting.

Oor Magdalena was daar egter bitter min te lees. Sy was net Retief se vrou. Ek kon my geluk nie glo toe ek Stuart se boek van 1854 op die internet kry nie. Hy het Magdalena in Potchefstroom gaan opsoek en ’n paragraaf aan haar afgestaan. Nie eers Die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek staan ’n inskrywing aan haar af nie. Maar sy het die duurste vir hierdie trek betaal, soos ons in die roman sien. Op die internet het ek ook ’n paar verdwaalde maar kosbare stukkies inligting gekry wat haar nasate opgeteken het, waaronder die inligting dat haar eerste en tweede man al twee by haar gekuier het toe sy ’n jong meisie was. Uit ’n boek oor landdros Anders Stockenström (vader van die Andries Stockenström met wie Retief slaags was aan die Oosgrens) het ek wys geword hoe haar eerste man gesterf het.

Teleskoop uit Retief se tyd (dit het aan ’n wamaker behoort)

Van groot belang, die sin wat Adriaan vir Hanna sê: "Jy sal moet oplees oor Dingaan ook." Hoe skryf ’n wit mens oor die bevlekte geskiedenis, met slegs mens se eie perspektief tot jou beskikking?

Hanna het probeer, dink ek. Maar wat is daar oor hom te lees buiten geskrifte van mense wat hom nooit geken het nie? Hy was ’n koninklike uit ’n tradisioneel skriflose volk en hy was nie werklik ’n held nie; het trouens in Shaka se skaduwee geleef en dit nooit vergeet nie. Mondelinge Zoeloe-oorlewering oor hom is gekleur deur ideologiese perspektiewe wat later posgevat het. Uit verslae van reisigers en trekkers wat op Retief se eerste tog saam was na hom toe, kon ek hoogstens aflei hoe hy gelyk het en wat mense gedink het hy dink. Sy geskiedenis is immers ook bevlek: hy het sy halfbroer Shaka help vermoor en weekliks van sy onderdane op dieselfde KwaMatiwane laat teregstel. Eerwaarde Owen het die naaste aan kennis van hierdie koning gekom en vir Owen was Dingaan ’n raaisel wat die godsdiens wat hy aan hom wou oordra, lig opgeneem het.

Maar oor “’n eie perspektief”: Ek glo nie ’n skrywer het ooit iets anders nie. Daardie perspektief vorm jy deur jou in jou karakters se posisie in te dink, op grond van wat jy van mense weet. Alle geskiedenis is bowendien bevlek – ek skryf die beste oor die geskiedenis wat my die ergste ontstel. Zirk van den Berg het by die onlangse Woordfees ’n waar woord gespreek: “As iets jou ontstel, skryf dit uit jou uit.”

In die onderhoud met Willemien Brümmer is die opskrif wat Rapport kies, een oor Piet Retief. Want van hom hoor ons altyd. Die manlike perspektief. Wat het jou juis laat besluit om oor sy vrou te skryf?

Ek dink daardie vraag het ek reeds hier bo beantwoord. Magdalena het die duurste prys vir hierdie trek en haar man se dood betaal. Sy het nog ’n man en twee kinders ook op KwaMatiwane verloor en is in uiterste armoede later in Potchefstroom oorlede. Tog skryf hierdie merkwaardige vrou in ’n brief aan haar swaer in die Kolonie dat dit bo verwagting goed met haar gaan en dat sy bo verdienste geseën is. Sy moes oor insig en gemoedsvrede beskik het wat vandag nog met ons praat. Dalk het sy toe al geweet wat ek eers later ingesien het: ’n regering kan nie vir jou vrede en voorspoed skep nie – jy moet dit self doen; jy moet self probeer verstaan.

Vertel my van die titel van die roman, die simboliek van die bloedlelie.

Ek kweek dié lieflike lelie al byna vyf jaar hier in ons inheemse tuin in Zoeloeland. Dit kom toevallig ook in die Oos-Kaap voor, waarvandaan die trekkers getrek het. Wie kan so ’n ooreenkoms weerstaan? Elke lente veg ek en die ape en die voëls oor die sade en ek het darem nog nie een lente alles aan hulle afgestaan nie. Net ons twee Pekingese loop so nou en dan een plat – die goed lyk vir hulle bepaald na rou vleis. Dis daardie skoonheid waarin die pyn ook skuil wat my so getrek het. Die bloedlelie kon ’n vrou gewees het.

Doornkop, waar Retief se laaste staning was.

"Niks is soos dit vir ons lyk nie - Umgungundlovu." Ons het as kinders ook daardie naam male sonder tal geleer: Umgungundlovu. Waarom kleef daar soveel mag en soveel mistiek aan daardie woord? Waarom weet mens sommer dit is ’n plek waarvan mens moes kennis neem? Vertel my van jou ervaring van die plek.

Het jy baie tyd? Umgungundlovu beteken “Plek van die Groot Olifant”, ’n verwysing na Dingaan. Dit is net so volmaak mooi daar. Bedags blaker die son op die hutte neer soos dit net in Zoeloeland kan; ver weg hoor jy ngunibeeste bulk, tarentale wat tjier, voëltjies wat kweel. Teen skemer kom wei ’n duikertjie tot hier teen jou, sy oë nooit vertrouend nie. Alles dinge wat Retief-hulle ook sou gehoor en gesien het. As dit ’n stil dag is, hoor jy die Umkhumbane daar onder ritsel. Snags trek die mis uit die laagtes in, of as dit ’n helder nag is, maak Afrika se sterre jou kop dom. En dit is so stil, so vredig. Ek het ’n paar keer in die Umkhumbane se water gaan staan en gedink aan al die mense, Zoeloes en Boere, wat daardeur gesleep is na die plek van teregstelling, gewonder hoe dit voel om deur die laaste rivier te gaan. Op die rantjie waar die teregstellings plaasgevind het, het ek gewonder of daar kans was om nog een keer terug te kyk en wat mens dan sou sien. Een oggend op KwaMatiwane het daar selfs ’n aasvoël oorgesweef, en dit het met Hanna ook gebeur. En die swael se nessie in Dingaan se hut was regtig daar.

Wanneer mens op so ’n plek staan waar daar soveel gebeur het wat so ver in die toekoms weerklank sou vind, laat dit mens dink: Weet ons nou meer as die mense uit die verlede wat hier geloop het? Ek kan nie ’n antwoord daarop verskaf nie.

Dingaan se stoel, volgens oorlewering.

Kan jy Zoeloe praat, of het jy basiese kennis van die taal? Ek dink aan jou verwysing na die naam Themba/iThemba. Of hoe doen jy navorsing oor Zoeloe?

Nee, en ek sê dit nie sonder skaamte nie. Ek leer nog sukkel-sukkel. My man het wel gehelp – hy het ’n goeie kennis van Zoeloe, maar ek sal nou nie sê hy kan ’n gesprek in Zoeloe voer nie. Ook sy kennis van die Zoeloekultuur het baie gehelp. Origens het ek woordeboeke en studies oor die Zoeloekultuur gebruik. Christina Mtshali wat in ons huis werk, het my ook met spelling en uitdrukkings gehelp. Dis ook sy wat my vertel het van die groot sampioen wat die weerligvoël plant, en my gewys het hoe om dit gaar te maak.

Goed, mens kan met respek skryf oor ’n ander, iemand van ’n ander kleur of ’n ander geslag. Stories is vry. Maar hoe weet mens dis waar? Of: Wat is die doel van fiksieskryf?

Stories is nooit “waar” nie. Stories is, soos geskiedskrywing, net nog ’n perspektief. Ek doen moeite om sover moontlik by gedokumenteerde gebeure te hou (en onthou dat ook dokumentering subjektief is). My riglyn is dat mens nie aan erkende dokumente kan verander nie: as ’n tydgenoot aangeteken het Retief het bruin oë gehad en sy vrou was Magdalena, maak ek nie sy oë blou en sy vrou ’n liewerd genaamd Anna nie. Die skrywer maak juis jag op dit wat nie opgeteken is nie, mits daar soortgelyke ervarings is waarop die skrywer kan steun. Daar is so min oor Magdalena opgeteken dat ek my in die vrou se lewe kon indink omdat ek ’n vrou is. Ek kon my indink in Retief se gedagtes – hy was die soort man waarvan ek baie ken. Maar hoe sou ek my indink in Dingaan se lewe, hy wat oor lewe en dood kon beslis, hy wat grootgemaak is met die opvatting dat hy god sowel as koning is? Hoe sou ek kon jag maak op die wêreld van ’n mens wat so totaal anders na die lewe kyk as die mense wat ek ken? Mthunzi, Khetiwe en Themba was ’n ander saak – ek ken mense soos hulle; ek leef saam met hulle.

Jy vra wat is die doel van fiksie skryf. Ek probeer antwoord: Hierdie skrywer skep ’n wêreld wat herkenbaar is dermate dat die leser daarmee kan identifiseer. Hierdie skrywer probeer ’n perspektief skep wat verskil van vorige perspektiewe, al is dit soms bloot by wyse van nuanses. Retief was nie die vlekkelose held nie. Magdalena was nie niemand nie. Vergifnis is ’n swaar ding, insig en berusting des te meer. Niks is soos dit vir ons lyk nie, nie eens die sterre nie.

Retief se snuifdoos (die kauriskulp), sy waterbottel en swaard.

Hoeveel maak die ABO nog vir die nuwe geslagte saak, dink jy? Tydlose letterkunde, wat beteken dit? Is daar so iets?

Ek glo nie die ABO maak nog saak vir die nuwe geslagte nie. Die manier waarop mense konflik en verlies hanteer, wel. Om dit binne ’n historiese milieu te plaas, met die perspektief van eietydse karakters, kan dit (hopelik) verryk. Tydlose letterkunde, as daar so iets is, gaan oor mense. Alle letterkunde gaan oor mense, selfs wetenskapsfiksie. Selfs fabels waarin diere die karakters is, gaan oor mense, want hulle neem menslike persoonlikhede aan. Dit is ook waar van die oudste vorme van letterkunde, soos ons in Afrika se mondelinge literatuur sien. Kyk maar na die “mooie ou strontstorietjie” wat die Boesman Magerman in Bloedlelie vertel oor die jaloerse bidsprinkaan en sy straf.

Hoekom skryf jy?

Eisj! Ek vind dat die storielyne en die woorde om dit oor te dra my wakker hou, jy weet. Ek reageer op die karakters wat my volg tussen tuin, kombuis en studeerkamer, tussen kar en die Spar in ons humiede kusdorpie.

Soos in een van die eerste vrae: die verwysings is dalk modern in een storie en outyds in die ander een, maar die storie verskil nie soveel nie. Laat ek jou eerder vra: Toe jy die verskillende mense in die verskillende tydperke in jou storie vergelyk (wit en swart), wat was vir jou anders/verskillend en wat was dieselfde? Toe en nou?

Mense is maar almal eenders. Hulle was nog altyd. Buiten dié wat op ’n manier deur die gewones verhef geraak het omdat die gewones glo iemand “daar bo” moet leiding gee.

Dalk is die hele boek ’n brief aan Magdalena ("vir die stories, jy weet, Magdalena, wat elkeen anders vertel"). Vir wie is die boek geskryf? Wie is jou ideale leser?

Dit is hoe jou onvertelde storie vir my lyk, Magdalena. Maar hoe sal ek weet? In daardie voorlaaste hoofstuk skryf Hanna mos, Magdalena, dat die geskiedenis nie agterhaalbaar is nie. Dis hoekom Mthunzi sê ons kan nie seker wees nie. Dis hoekom ou Jimmy sê ons kan nie die verlede rekonstrueer nie. Dis hoekom Retief gedink het dis die maan wat so vinnig beweeg, nie die wolke nie. Dis hoekom eerwaarde Owen sê niks is soos dit vir ons lyk nie.

Watter historiese figure het deur jou loopbaan vir jou die interessantste karakters opgelewer? Om na te vors en ’n karakter van te skep?

Eerwaarde Owen het my geboei, ook sy suster Margaret (ons weet nie wat haar naam was nie; in die plantkundige geskrifte is sy bloot Miss M Owen). Ek sou graag nog wou skryf oor mense uit latere tydperke, maar dit is vir latere verwysing.

Gepraat van skryf van wit mens oor ’n swart persoon. Hoe skryf mens uit vandag se perspektief oor mense van die verlede? Dis net sowel iemand van ’n ander planeet. Dalk sluit die vraag aan by twee van die vorige vrae: Hoe skryf mens oor Die Ander, en ook: hoe skryf die skrywer van historiese romans?

Wit mens en swart mens is vir my al twee gewoon mens. Van hierdie planeet. In ons tyd. Mits so ’n mens nie verhef is tot iets wat nie meer menslik haalbaar is nie, byvoorbeeld die Britse koninklikes en die Afrika-koninklikes en al die koninklikes van onse lewe. Mag hulle saligheid vind.

  • Foto’s: Jeanette Ferreira
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top