Grensoorlogstories nie grensverskuiwend nie

  • 0

Titel: Grensoorlogstories
Samesteller:
Jeanette Ferreira
Uitgewer:
Litera Publikasies
ISBN:
9781920188382

 

Klik hier om Grensoorlogstories te koop by Kalahari.com.

 

Oorlogsliteratuur is bekend daarvoor dat dit die grens tussen feite en fiksie uitdaag – ’nmens dink aan die verskeie werke van Tim O’Brien, of Michael Herr se Dispatches (1968). Herr het konvensionele joernalistiek om drie redes verwerp (Taylor 2003:89).  In die eerste plek was die feite van die oorlog in Viëtnam verdag; hy skryf (1991[1968]:172) hoe ’nlid van die Amerikaanse spesialemagte ’n National Liberation Front- (NLF-) (Viet Cong-) vegter doodgeskiet en ’n gevangene bevry het, net om die volgende dag te hoor dat hy ses gevangenes bevry en veertien NLF-vegters doodgeskiet het: “You want to see the medal?” In die tweede plek is die waarheid altyd oorskadu deur die “amptelike perspektief” wat “usually did the same thing to your perception of the war that flares did to your night vision” (1991[1968]:149).  In die derde plek moes soveel van die beelde gepropageer deur die media en Hollywood afgeleer word voordat ’n mens gekonfronteer kon word met die “waarheid” (1991[1968]:210).  Volgens Herr was dit dus beter om die waarheid as ’nroman aan te bied, en hierin was hy geslaagd: Philip Beidler (2007:207) skryf dat hy Michael Herr se Dispatches aanbeveel “to somebody who asks me for a single book that comes closest to telling ‘what it was like’”.

Van Coller (1990:84) skryf ook hoe die oorskryding van hierdie grens ten opsigte van grensliteratuur lei tot faction, en ’n mens sou ook dieselfde argumente van Herr op die Grensoorlog kon toepas. In hierdie opsig pas Grensoorlogstories goed in by ander grensliteratuur en moderne oorlogsliteratuur in die algemeen, alhoewel die bundel sterk oorhel na fiksie. Jeanette Ferreira posisioneer die bundel tussen feit en fiksie in die voorwoord: alhoewel die bundel “met fiksie ’nstem [wil] gee aan mense se kreatiewe weergawe van die mensdom se oudste stryd teen homself”, kan dit ook jong lesers help om te “besef dat die verlede insig op die hede kan bied” – dus is dit veronderstel om geskiedkundig sowel as fiktief te wees. In albei oogmerke slaag die bundel egter as geheel nie.

Verskeie aspekte van die Grensoorlog word gedek: die rol van burgerlikes (byvoorbeeld “Die Grenspakkie” en “Suikerseep”), oorgrensoperasies (“Aankoms”), dienspligontduikers (“Die duif”), posttraumatiese stres (“Slave cylinder”), die terugkeer vanaf die grens (byvoorbeeld “Die Offer”) en vlugtelinge (“Emigré”). Alexander Strachan, Etienne van Heerden, Gawie Kellerman, Louis Krüger, PJ Haasbroek en Mark Behr – bekende skrywers van grensliteratuur – is egter afwesig, en die leser tref ’n paar bekende skrywers van ander genres (byvoorbeeld Jaco Fouché, Fanie Viljoen, Hennie van Coller en Bernard Odendaal) tussen onbekende skrywers aan.
Die hoogtepunt van hierdie bundel is Louis Bothma se inleiding, wat soos sy ander werke goed deurdink en nagevors is. Die enigste kritiek wat ’n mens hierop kan gee, is die irriterende afwesigheid van bladsynommers, sowel as die feit dat die ander hoofstukke hierdie een ’n onreg aandoen. Bothma skets die historiese konteks goed, en as basiese inleiding tot hierdie deel van Suid-Afrikaanse geskiedenis is dit myns insiens geslaagd.

Alhoewel geen verhaal in hierdie bundel grensverskuiwend of tegnies uitstekend is nie, is daar tog ’n paar wat relatief geloofwaardig aandoen en sinvol geskryf is. Die eerste verhaal, “Aankoms”, skep met realistiese (en gruwelike) beskrywings, sowel as soms goeie woordeskat (soos “gordynvuur” en “uitputtingsoorlog”) ’n vals indruk by die leser dat hierdie bundel as geheel ’n sinvolle bydrae tot grensliteratuursal lewer. Hierdie illusie word voortgesit in “Amnestie se moer”, wat – alhoewel soms oordadig – soos Karel van der Merwe se Nasleep ’n bitterheid teenoor die politici en weermaggesag teen die agtergrond van die WVK bewoord. Die verhaal eindig sterk: “You cannot translate thirty years into a few words.” Maar helaas, van hier af sneuwel die bundel in ’n doodsakker van clichés. En net wanneer dit lyk of “Die gat” (myns insiens die aangrypendste verhaal in die bundel) die bundel gaan deurtrek, struikel dit weer. Ek let op my notas: as ek ’nrand gehad het vir elke keer wat ek ’n cliché of soetsappigheid onderstreep het, sou ek nog ’nboek van Venter kon koop. Dan lees ek “My oë wil nie sien nie” en dink ek dat daar tog hoop vir hierdie bundel is, maar nee.

Die bundel lees in geheel soos die geskiedenis van die Grensoorlog self: dapper pogings en suksesverhale wat gekelder word deur te veel mislukkings, en uiteindelik struikel die bundel. En soos Operasie Modulêr dink ’n mens vir ’n oomblik dit kan alles die moeite werd wees wanneer jy by “Simulasie” uitkom, maar dan struikel die leser weer voor die clichés. “Tuisfront” is ’n goeie vertelling, maar dit is te laat om die bundel te red.

Een van die vele dinge wat hierdie bundel kelder, is die feit dat party verhale kortverhale is, terwyl ander (byvoorbeeld “Hoe dit vir my was” en “My oorlog”) bloot vertellings van weermagervarings is. Dalk sou die bundel meer geslaagd gewees het as dit bloot vertellings was sonder literêre pretensie: dan sou die bundel gelees kon word as ’n alternatiewe geskiedenis van persoonlike narratiewe, wat soos Batley (2007) ’n noodsaaklike stem gee aan alternatiewe perspektiewe. Of as die bundel bloot kortverhale met literêre aspirasies was (sonder die vertellings), want dan sou dit as literatuur gelees kon word. Soos die bundel egter staan, hoort dit nêrens.

Ek keer terug na Viëtnamliteratuur: Grensliteratuur kort nog ’n groot werk soos James Webb se Fields of fire, of gehaltekortverhale wat die dubbelsinnigheid en nuanses van hierdie oorlog met vaardigheid aanspreek, soos Tim O’Brien se werke. Grensoorlogstories is verseker nie ’n groot werk in grensliteratuur nie, en die leser sal beter doen deur eerder weer Strachan se ’n Wêreld sonder grense te lees. Gelukkig is Grensoorlogstories nie die laaste woord oor hierdie oorlog nie.

 


Bibliografie

Batley, K. (red.) 2007. A secret burden: Memories of the Border War by South African soldiers who fought in it. Jeppestown: Jonathan Ball.

Beidler, P.D. 2007. American literature and the experience of Vietnam. Georgia: University of Georgia Press.

Herr, M. 1991[1968]. Despatches. New York: Vinage International.

Taylor, M. 2003. The Vietnam War in history, literature and film. Edinburgh: Edinburgh University Press.

Van Coller, H.P. 1990. “Afrikaanse literatuur oor die gewapende konflik in Suider-Afrika sedert 1963. 'n Voorlopige verslag.” Acta Academica, 22(4):74-91.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top