So lig soos klip: Uit die verbreektheid spreek eenheid

  • 0

Titel: So lig soos klip
Skrywer:
Jacques Pretorius
Uitgewer:
Tafelberg
ISBN:
978-0-624-05362-0

Klik hier om So lig soos klip te koop by Kalahari.com.

Ek het gedroom van ’n vrou wat van my sou weet. Ons sou met dikwielfietse oor jakarandabloeisels ry om dit onder die bande te hoor bars. Ons sou kop agteroor en oopmond in die reën staan en kyk wie eerste ’n mond vol druppels vang. Ons sou wintermiddae in die son sit en lees; in die lente sou ons in die park op ’n donsige kombers mekaar sit en skilder; someraande sou ons die TV buitentoe dra en onder die sterre sit en fliek kyk. Ek sou by haar van die liefde leer; bloot deur te kyk hoe sy haar oggendkoffie drink of haar klere aantrek. Ons sou cappuccino’s se skuim met ons vingers eet, luilekker in die hangmat van ons geselsies lê, in die nanag as die liefde se warm nadraai nog die lyf laat gloei.

Soos ’n refrein, met geringe variasie, keer hierdie skreiende versugting telkens terug. Maar dit is net ’n droom, een klippie wat lig genoeg moet wees om te ontsnap, om iets beter te maak van die gruwelike werklikheid wat in hierdie roman aan bod is.

Die kind en die polisieman (wat dieselfde karakter is) word ontvang en gebore in geweld. Om dit te stel dat hy in ’n wanfunksionele gesin grootword, sal dié understatement wees. Van meet af aan is hy ’n ergernis vir al twee sy ouers.

... en hy het haar bene vasgegryp en gegil: “Mammieeeeeeeeee!”

Sy het met ’n vuis waarin die pakkie sigarette geklem was teen sy kop gedruk.

“Bly nou stil of jy kry nie kos nie,” het sy gesê.

Elders dring die pa aan die kind moet hom (sy pa) skiet:

“Hy [die kind se pa] het die kind regop geruk, hom aan die nek beetgekry en sitkamer toe gedwing. Daar het hy die rewolwer in die kind se hand gedruk en voor hom gaan staan.

“Toe, skiet jou klein kakhuis!”

Sy ma het aan sy pa se skouer geruk, maar hy het haar afgeskud. “Kom, jou klein moer, skiet!”

“Nee, my kind, moenie!”

“Skiet, of ek gaan jou bliksem!”

Die rewolwer raak sweterig in sy hande. Sy oë brand. Die woorde moet stop. Alles moet net end kry.

Dit is egter net die voorspel tot dit wat wag wanneer hy vrywillig sy “deel wil doen vir sy land”. Alles wat daarna gebeur, staan in die teken van verwerping, liefdeloosheid en onmenslikheid, maar veral geweld.

Die tradisionele opvatting is dat geweld in Suid-Afrika teen swart mense gerig was. Nou ja, oor die emosionele, fisieke en verbale geweld wat die studentekonstabel en sy mederekrute te beurt val tydens hulle opleiding, het ons al gelees in die tekste van verskeie manskrywers wat hulle opleiding in die destydse weermag ondergaan het en tydens die Grensoorlog diens gedoen het. Op die een of ander manier het baie van hierdie mans, dikwels nog seuns, later self geglo dit is hoe dit moet wees, dit is al hoe ’n oorlog gewen kan word.

Dit kry egter ’n ander dimensie in die toneel waarin die studentekonstabel “wil kom kyk” wanneer die wit kaptein ’n wit oortreder lyfstraf toedien. Die kaptein is onregstreeks ’n pervert wat hom nie net in die fisieke pyn van die oortreder verlustig nie, maar ook behae skep in die vrees wat hy hom vooraf inboesem, onder andere deur “oefenhoue” en deur ’n paar tree vir die “aanloop” af te meet. Die resultaat van sy handewerk is dat die slagoffer se sitvlak “’n bloederige bruin gemors” is, “sy sidderende lyf oortrek met hoendervleis, asof hy kouekoors het”. En vaderlik eindig die kaptein: “Jy moet ’n man word op wie ek trots kan wees. Afrikaners is nie kriminele nie.”

Iets is nie reg nie, weet die studentekonstabel tydens hierdie martelritueel; hy “wou uit, weg uit die vertrek, maar het gefassineerd, soos na ’n ongeluk bly staar”. Dit is vergesog om af te lei dat die bevelvoerder – onbewustelik? – die jong rekruut groom vir iets wat nie ver van geweldspornografie is nie, nogtans is dit ’n gedagte wat by my opgekom het terwyl hierdie twee en ’n halwe bladsy lange toneel ontvou het. Maar die studentekonstabel se slotsom is: “Hierdie wreedheid is ’n beginselsaak, ’n middel tot ’n heilige doel.” En dit is nie die einde nie: wanneer die “straf” verby is en die dokter die oortreder ondersoek, prewel die gefolterde jongman: “Dankie, Kaptein.”

Elders lees ons van ’n swart konstabel wat ten aanskoue van wit polisielede ’n swart opstandeling se oogbank oopskop en wanneer die man lê, gaan staan hy oor hom en vermorsel sy kaak met sy stewel. (“Dit is oorlog, het die studentekonstabel gedink. ’n Stryd om oorlewing.”)

Daar is talle ander voorbeelde. Ek noem net enkeles. Die kind word deur sy pa gedwing om sy eie hond te skiet. Die konstabel aanskou ’n halssnoermoord van naderby. En op ’n makker vlak brand die kind vir ontspanning miere met ’n vergrootglas. Tydens township-opstande keer die konstabels mense voor vir geringe oortredings en vat dan geld by hierdie verarmde mense wat hulle op hulself bestee. By die Sharpeville-dam brand hulle met haelgewere op die watervoëls los. Sommer net. Die blote feit dat ek, ’n Suid-Afrikaner, hier bo verwys na makker vorme van geweld, impliseer dalk ek is reeds so afgestomp dat ek meen party vorme van geweld is aanvaarbaar, solank dit “nie te erg” is nie.

Om aanvaar te word, om een van die ander te wees, leer die polisiekonstabel reëls en tegniek aan vir doodmaak, vir seks, vir godsdiens – en geweld speel dan uiteraard ’n deurslaggewende rol hierin. “My God was bowenal ’n toornige God, ’n wraaksugtige, psigopatiese God wat mense vir ewig sal martel.” Deurgaans keer geweld op die hoofkarakter en sy makkers in – hulle is ook verbaal wreed teenoor mekaar.

In sy binneste het ons daardie aand ’n vuur aangesteek, ’n vuur wat ook in my derms skroei en verteer. ’n Vuur so eg soos geloof. Dit is die vuur van vernedering en verwerping wat vir altyd in jou bly smeul. [...] En om hierdie vuur sit ander hande en warm maak, hul monde wyd gapend, honend, hul tong na die vlamme se troostende gloed.

En dit is onvermydelik afgestem op selfvernietiging. Die eerste reël is dat jy die laaste patroon vir jouself hou. Dit is ook wat hom uiteindelik “red”.

Steven Pinker skryf in sy magistrale werk The better angels of our nature insiggewend oor hoe die mens deur die eeue heen geweld selektief veroordeel en goedgekeur het. Dan kom hy tot die gevolgtrekking dat die mens tog minder gewelddadig geword het soos die beskawing ontwikkel het.

Die beskawing, ja.  

Deurgaans word chronologie in die roman versplinter deur terugflitse, versugtinge soos die een wat ten aanvang aangehaal is, en liriese passasies. “Elke oggend het hom met ’n ysige blou oog aangestaar.” “Ek het daar agtergekom dat ek by die grensdraad van die heiligheid kan gaan staan en na die lewe daaragter kyk.” “Die stad het sy beste sterre uitgehaal en op die swart fluweel van die nag uitgestrooi.” Tog slaag Pretorius by uitstek daarin om die spanning vol te hou en algaande word dit duidelik dat hierdie versplintering juis kommentaar lewer en inherent deel is van die stukkende hoofkarakter in ’n stukkende omwêreld. Uit die verbreektheid spreek juis die eenheid.  

Dit is onverkwiklik om ’n resensie oor ’n uitmuntende teks af te sluit met ’n negatiewe opmerking, daarom vermeld ek maar in ’n voorlaaste paragraaf dat die taalversorging in hierdie roman nie deurgaans is wat dit moet wees nie. Eenvormige spelwyse en interpunksie het meermale in die stof gebyt. Die paar tik- en spelfoute is seker verskoonbaar; dit kom in die eerste uitgawe van selfs die bes-versorgde tekste voor.

Daar is baie Afrikaanse verhale oor geweld in verskillende vorme. Ná die onlangse stroom literatuur oor dogters wat deur hulle pa’s gemolesteer word, het literatuur oor die fisieke en emosionele letsels tydens die Grensoorlog meer begin word. Die bepalende deel van Pretorius se roman speel tydens die Grensoorlog in die townships af – later was ons nie meer seker van “die” Grens en “’n” grens nie. Maar wat tel, is hoe daar oor geweld geskryf word. En dit doen Pretorius briljant, ontstellend en intens deurleef.

Hierdie buitengewone debuut was ook sy laaste roman. Pretorius is op 38 oorlede (29 Januarie 2012) aan ’n hartaanval, ses weke voor die roman verskyn het. Hoe waardevol kan ’n skrywer se werk wees as sy oeuvre uit een roman bestaan? So lig soos klip is ’n voorbeeld daarvan dat een goeie roman swaarder as tien minderes weeg.

* Jeanette Ferreira is ’n skrywer en vryskutredakteur.
* Pretorius se vrou, Cristelle Snyman, het ’n Facebook-bladsy vir die roman geskep.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top