’n Huldeblyk aan Cecilia Britz (22 Mei 1955–12 Desember 2019)

  • 1

Cecilia Britz (foto’s: Izak de Vries)

Huldeblyk: Cecilia Britz
*22 Mei 1955 – ♰12 Desember 2019

Sy het vir mense wat haar nie goed geken het nie, waarskynlik gelyk na ’n onwrikbare sakevrou. Cecilia was heel openlik daaroor dat net boeke wat verkoop, verdien om gemaak te word.

Vroeg in die 1990’s wou dit gedoen wees om van liefdesromans in Afrikaans ’n “genre” te maak. Voorheen was dit gewoon boekklubboekies. Tot hierdie uitgewer die Afrikaanse mark getref het. Oor die etiket “hygromans” wat om hierdie romans gehang is, het sy haar nie geskaam of vererg nie, net terloops opgemerk dat dit ’n misleidende term is, uitgedink deur mense wat nie kennis daarvan het nie.

Eintlik was sy reg. Dit is die romantiek van hierdie romans wat dit verkoop het, nie die grafiese beskrywings van liefdestonele wat sommige daarvan gekenmerk het nie. Trouens, hoe minder grafiese tonele, hoe meer romanties was dit. En romantiek is tog in enige literatuur nie hoog of goed nie omdat dit so onrealisties en sentimenteel is. Daaroor het sy net so ’n skewe laggie gegee. “Nou hoekom verkoop dit dan so?” Goeie vraag. Die rede was onder andere dat die uitgewer belese en hoogs ingelig was oor die produk wat sy op die mark geplaas het.  

Later het sy ook spanningsromans uitgegee, speurverhale, enige verhaal wat goed is – selfs letterkunde – want sy het geglo daar is net een soort boek en dit is ’n goeie boek en vir haar was dit ’n boek oor mense wat kan vóél. 

By LAPA het sy ’n hele paar skrywers op die Afrikaanse kaart geplaas: Santie van der Merwe, Isa Konrad, Madeleine Rust, Dibi Breytenbach, Martin Steyn, Irma Joubert en Chanette Paul, waarvan die laaste drie ook buitelandse vertalings beleef het. In ’n groot mate wás sy vir ’n lang ruk LAPA. Maar sy het die kuns verstaan om die aandag van haar af weg te lei en die fokus op die boeke te plaas, daarom dat sy so ’n sterk fondament agterlaat waarop hierdie uitgewer nou voortbou. Van ’n gedoe om haar as persoon het sy niks gehou nie. Om die waarheid te sê, ek het die indruk gekry dat sy nie van sulke persoonlike aandag hou nie omdat sy dit regtig nie verstaan nie.

Haar gesonde minagting vir grootdoenerigheid het gou gewys wanneer iemand haar sou vertel van ’n vooraanstaande mens wat nou hierdie boek geskryf het wat sy net moet uitgee. Sy sou doodbeleefd luister, dan haar yslike oë knip: “Dit klink lekker. Kan hy skryf?”

Eweneens kon sy iemand se tjank aftrap wat haar wou wysmaak hierdie manuskrip is net heeltemal iets nuuts, dit gaan lesers anders laat dink. “Lesers dink al lankal anders. Hulle dink hulle wil goeie stories hê.”

Sy was dapper. Wys. ’n Verbluffend harde werker. ’n Toegewyde uitgewer. ’n Bekwame sakevrou. ’n Baie reguit vriendin. ’n Eerlike kritikus. ’n Versamelaar van filosofieë waaruit sy alles gekies het wat vir haar werk en dit haar eie gemaak het. Nie ’n kerkmens nie, maar ’n belyer van Iets wat veel groter as die mens met sy kleinlike geveggies en oplosbare probleempies is.

In troebel tye was dit haar bedaarde siel wat haar deurgedra het. “Alles gaan regval. Ons moet net wag. Dis tyd wat die dinge oplos, nie ons mense nie.” Hierdie kalm oortuiging het natuurlik van haar ’n gedugte teenstander gemaak as jy jou aan haar verkeerde kant bevind het. Tog is selfs haar teenstanders dit eens dat sy nooit haar waardigheid verloor het in konfliksituasies nie – waarvan daar baie is in die wrede uitgewersbedryf.

In een van haar laaste e-posboodskappe aan my, skryf sy oor goeie nuus in die uitgewery: “My lekekennis van astrologie sê dis omdat Jupiter nou in Sagittarius is.☺” 

Wat was haar hoogste deug? Dit sit ek nou en bedink terwyl ek skryf, want dit is tog iets waaroor jy seker wil wees rakende ’n geliefde mens wat jou ontval het. Ek dink haar volkome geloof in die krag van eerlikheid, haar uitlewing daarvan en haar aandrang daarop. En dat is geen klein ding in een mens zijn leven.  

  • 1

Kommentaar

  • Sy het my altyd laat beter voel oor myself. Sy het nie ‘n berg van ‘n molshoop gemaak nie. Nugter gedink oor die lewe. Ek is so bly ek kon haar leer ken! Sy was Cecilia! Ons weet nog nie eens hóé ons haar gaan mis nie! Rus sag, liewe Cecilia!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top