Irma Venter (gebore: 1970’s)

  • 0
Foto: Brenda Veldtman

Sêgoed van Irma Venter

Oor haar karakters se name: “Ag, mens leen maar hier en daar. Ek het vandag hier ten minste twee name gesien wat dalk vorentoe in een van my boeke kan voorkom.” (LitNet – fotoberig 2021 van byeenkoms van Pretoriase leeskringe)

Waarom skryf sy spesifiek in die spanningsgenre? “Dis lekker om ’n raaisel aanmekaar te sit. Dis so ’n bietjie van ’n intellektuele oefening om die leser te kan uitoorlê. Dis my hele doel.” (Aan Phyllis Green, Sarie, 7 November 2014)

Hoe besluit sy watter kwessies sy in elke boek aanraak? “Wat in die nuus gebeur, speel beslis ’n rol. My eie ervaring as joernalis speel ’n rol. Dis vir my skrikwekkend hoeveel seksuele geweld in Suid-Afrika is en baie van my vriendinne is op ’n manier verkrag, mishandel – noem dit wat jy wil, maar dis vir my ’n belangrike tema. Maar dis ook vir my belangrik om nie alle mans sleg te maak nie.” (Aan Phyllis Green, Sarie, 7 November 2014)

Werk sy ’n storie uit voordat sy begin skryf? “Ek werk omtrent 80% van die verhaal uit voordat ek begin skryf. Daarna dikteer die ruimte en karakters wat gebeur. Al het jy hulle geskep, verras karakters mens soms in wat hulle aan die einde van die boek doen.” (Aan Naomi Meyer, LitNet, 22 Maart 2017)

Op wie skoei sy haar karakters? “My ‘ystersterk’ vroue skoei ek op karakters wat ek in vorige manuskripte geskep het (die sewe wat afgekeur is). Ek ‘koop’ ook karakters in die openbare plekke waar ek gereeld sit en skryf. Mense moet weet hulle doen altyd oudisies vir rolle in speurromans wanneer hulle by skrywers se gunsteling-koffieplekke inloop!” (Aan Elna van der Merwe, Huisgenoot, 30 Maart 2017)

“Skryf is ’n ambag. Ek weet nie of ’n mens dit ooit heeltemal onder die knie het nie. Ek dink ek skryf beter ná die paar jaar se oefening wat ek nou agter die rug het. Die vraag is wanneer jy ’n piek bereik, of wanneer jy jouself begin herhaal. My droom is om eendag die mees elegante Afrikaanse moordstorie te skryf, een waar geen naat wys nie.” (Aan Elna van der Merwe, Huisgenoot, 30 Maart 2017)

“’n Groot deel van skryf – van enige kunsvorm – is om druk te verwerk. Spertye, kritiek, resensies, menings in sosiale media, verkope, noem maar op. Dis nie sit in die hoek, ignoreer alle terugvoer en skep wat jy wil in ’n veilige borrel nie.” (Aan Maryke Roberts, Vrouekeur, 9 November 2018)

“Elke skrywer gaan met sy of haar dood ’n beste boek hê en mens moet daarmee vrede maak. Mens hoop altyd jou volgende boek is beter, maar soms is dit ’n werklik goeie boek, maar nie jou beste nie, en daarmee moet jy vrede maak. Solank dit lekker bly om te skryf, en jou lesers jou boeke geniet, bly dit heerlik om ’n nuwe boek te skep. Mens kan nie vashaak by die boeke wat jy reeds geskryf het nie. Jy mik vorentoe, na die boeke wat jy nog wil skryf.” (Aan Maryke Roberts, Vrouekeur, 9 November 2018)

“Ek erken die eerste boek is altyd die moeilikste. Om te verstaan hoe om te skryf, hoe die mark werk, hoe die bedryf werk. So, ek sou sê ek is die trotsste op Skoenlapper, dat ek vasgebyt het om dit te skryf. Ek het nie ’n mindere gunsteling nie. Ek staan met trots op elke boek wat ek nog geskryf het. Ek het nog nooit iets geskryf wat nie vir my ’n plesier was nie, of waar ek enigiets minder as my beste aan die leser gebied het nie.” (Aan Maryke Roberts, Vrouekeur, 9 November 2018)

Of haar opleiding as joernalis help met die skryf van boeke: “Joernalistiek maak mens skryffiks. Jy leer om nie vir inspirasie te wag nie, maar ook vorentoe te stoei, al is vandag nou nie juis die beste dag nie. Jy leer om vinnig te dink en vinnig te skryf. Jy leer om jou woordeskat uit te brei en dit ten volle te gebruik. Jy leer om onder druk te werk en kritiek te hanteer.” (Aan Maryke Roberts, Vrouekeur, 9 November 2018)

“Afrikaans is die taal van my hart. Dis soepel, sinryk en sensueel. Dit sê presies wat ek wil sê. En Suid-Afrika is die laaste tuiste van Afrikaans. Ons almal kan help om Afrikaans op te pas. Ons en ons kinders moet Afrikaans koop, lees, luister en wees – sonder om ander tale skade te berokken.” (Huisgenoot, 15 Januarie 2015)

Skryf sy haarself bang? “Nee, maar ek skryf myself soms moeg. Ek het nooit besef om misdaadverhale te skryf beteken dat die grootste deel van die boek niks met geregtigheid te make het nie. ’n Mens skryf meestal oor die drek van die samelewing, en jou kop is heeltyd besig met hulle. Dis dalk hoekom ek daarvan hou as die oplossing se 20 bladsye net so sterk weeg soos die 300 bladsye wat die raaisel geweef het. Ek vermoed dis waar die lekkerkry vir die skrywer en die leser lê.” (Huisgenoot, 15 Januarie 2015)

“Ek is die tannie wat self gras sny, al vra die klein outjie dikwels of ek dan nie iemand kan kry om dit vir my te doen nie. Dit laat my regtig ontspan. Daar is ’n patroon aan gras sny. ’n Links en regs draai. ’n Afsny van alles om jou en om te fokus op wat jy doen; ’n onmiddellike bevrediging oor die mooi landskap as dit klaar is. En die reuk van varsgesnyde gras is onweerstaanbaar.” (Sarie, 1 Januarie 2019)

“Ek probeer ook sin maak van die brose lewe om te skryf en hou stiltetyd. Ons vermoë om niks te doen nie, om net te sit en asem te haal, het in die moderne lewe nogal verdwyn.” (Sarie, 1 Januarie 2019)

“Ek meen my sukses kan toegeskryf word daaraan dat ek self baie geïnteresseerd is in die materiaal waaroor ek skryf en daarom vind lesers dit ook interessant. Ek skryf omdat ek ’n intense drang het om stories te vertel; ek dink dat as ek jare gelede geleef het, sou ek een van daardie mense gewees het wat met ’n donkiekarretjie van dorp tot dorp gereis het om stories te vertel.” (LitNet, Innibos 2018)

“Ek hou daarvan om boeke te lees waar ek vir die karakters omgee. Ek hou ook van reekse, dus was dit seker vanselfsprekend dat ek ’n reeks met herhalende karakters sou skep.” (Aan Naomi Meyer op LitNet, 22 Maart 2017)

Wat is vir haar die lekkerste deel daarvan om te skryf: “Die lekkerste deel is om skeppend te kan wees: om wêrelde en karakters in die lewe te roep en op papier te sit. En dis heerlik om dit in Afrikaans te doen.” (Aan Remona Voges op LitNet, 24 Januarie 2020)

Die slegste deel daarvan om te skryf: “Die slegste is dat dit so min betaal – dat die kunste, in enige vorm en oor die algemeen, selde genoeg geld genereer dat dit jou enigste bron van inkomste kan wees. Dit beteken dat enigiemand in ’n skeppende bedryf altyd besonder hard moet werk om die pot aan die kook te hou.” (LitNet, 24 Januarie 2020)

Die beste skryfraad wat sy ooit gekry het?Skryf, al is dit 300 woorde elke dag. Skryf, al wil jy nie; al is jou kop dig met ander dinge. Gaan sit en skryf, elke dag, op dieselfde tyd. Die boek wat mens wil skryf beteken niks. Mens kan net iets doen met die boek wat jy reeds geskryf het.” (Aan die woord – Vyf vrae aan Irma Venter, Afrikaans.com)

Oor resensies: “Ek lees elke resensie en kommentaar op sosiale media (Goodreads, Amazon ens ingesluit) een keer, en dan beweeg ek aan. Die enigste kere wat ek werklik sal ag slaan op kritiek, is wanneer daar ’n deurlopende tema is - met ander woorde iets wat meer as drie mense pla/irriteer/frustreer. Dis heelwaarskynlik ’n aanduiding dat ek moet notisie neem. Maar bygesê, mens skryf eerste vir jouself, vir wat jy wil lees. Om te skryf wat mense wil hê, sal altyd plat val. Maar ’n fout is ’n fout, en mens moet dit kan erken.” (In ’n e-pos aan LitNet)

Naomi Meyer vra: Hoe werk die skryfproses vir Irma? Weet sy reeds aan die begin wat die misdaad/misdade en die uitkoms is? Wat weet sy, wat beplan sy, wat ontdek sy, terwyl sy skryf? Hierop reageer Irma só: “Ek besluit eerstens op die oorhoofse misdaad wat gaan gebeur. Daarna het ek nou al geleer dat ek karaktergedrewe boeke skryf, wat beteken dat ek my karakters moet vertrou om op hierdie misdaad te reageer op ’n manier wat vir hulle werk. Soms verras hulle my en beweeg die storie na ’n meer onbekende terrein, maar tog voel dit nooit vreemd nie. Dis nooit asof ek nie weet wat om te doen as ons nou almal skielik op hierdie nuwe plek beland nie. Jou karakters wil ook die beste/opwindendste/slimste storie/lewe hê, as dit sin maak. Mens leer om daardie proses te vertrou.” (LitNet, 21 September 2022)

“Ek beplan my karakters deeglik, met gedetailleerde agtergrondstories en sterk voorkeure en afkere. Hulle hou my geselskap vir die 18 tot 24 maande wat ek die boek skryf en hulle mag my nie verveel nie. As hulle my gaan verveel, gaan ek die leser verveel, en om die leser te verveel is eenvoudig ontoelaatbaar.” (LitNet, 21 September 2022)

Nog iets oor haar agtergrond as joernalis en die invloed wat dit op haar skryfwerk het: “My agtergrond as joernalis was en is onontbeerlik vir my loopbaan as skrywer. Dit leer my oor mense, oor wat hulle motiveer, oor die leuens wat hulle vertel en die wonderlike dinge waartoe hulle in staat is. Dit leer mens ook skryf ­– om by die punt te kom en teen tyd te skryf. Om ’n punt aan die einde van die sin te sit en die volgende sin te skryf.” (LitNet, 21 September 2022)

Wat geniet sy om persoonlik te doen, behalwe om misdaadboeke te skryf? “Kuns in al sy vorme te geniet, lekker kos te eet en musiek te luister! Ek voel ook sterk dat daar kunsvorme is wat nog meer onsigbaar is as skryf, en as ek enigsins kan help om ander kunsvorme en kunstenaars te bemark, wil ek dit graag doen.” (LitNet, 21 September 2022)

Gebore en getoë

Irma Venter is in die 1970’s aan die Oos-Rand gebore. Sy matrikuleer aan die Port Natal Hoërskool in Durban.

Irma vertel aan Maryke Roberts (Vrouekeur, 9 November 2018) dat sy al op 15-jarige ouderdom besluit het om ’n joernalis te word: “Ek het in 1989 op TV gekyk hoe die Berlynse muur val. Ek het daar en dan besluit ek wil mense se stories vertel en ek wil vir seker nie van agt tot vyf op kantoor sit nie. Ek het die volgende dag by die skoolkoerant se redaksie aangesluit.”

Sy het ook as tiener al geweet wat sy nog wil doen. Sy was sewentien jaar oud toe sy besluit het dat sy eendag ’n boek wil skryf.

Verdere studie en werk

Ná skool (1993 tot 1997) is sy na die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom waar sy in kommunikasiekunde (joernalistiek en radio) en internasionale politiek studeer. Sy slaag haar B Honneurs-graad in internasionale politiek met lof. Terwyl sy ’n student was, is sy aangestel as die Wapad-studentekoerant se redakteur.

In 1999 is sy vir drie maande ’n joernalis by ’n plaaslike Caxton-koerant waarna sy by Punt Geselsradio, wat later gesluit het, gaan werk het.

Vanaf 2000 is sy ’n joernalis by Creamer Media en sy is tans ’n senior assistent-redakteur van Engineering News en Mining Weekly.

As joernalis was Irma aan die ontvangkant van etlike toekennings, onder andere drie Pica-toekennings as handel- en nywerheidskrywer van die jaar en een as die Afrika wetenskap- en tegnologiejoernalis van die jaar.

Irma is versot op reis en sy het al bykans dertig lande besoek. Sy is in die gelukkige toestand dat haar werk haar toelaat om gereeld te reis. Irma skryf op haar webwerf dat sy van nuwe plekke hou, asook woestyne, lughawens, labradors, produkte wat in Suid-Afrika gemaak word en mense wat nog moeite doen om kos te maak. Op haar gunstelinglysie is ook lente en herfs, goeie whisky, goeie koffie en goeie sjokolade – nie noodwendig in daardie volgorde nie.

Mongolië, Ysland en Rusland is nog op haar lys van lande om te verken, maar Covid het haar reisplanne ’n bietjie ingekort en die lysie het nou langer geword met Noorweë wat bygekom het, en dan is ’n reis na Rusland met al die verwikkelinge nie meer so waarskynlik nie, vertel sy in ’n e-pos aan LitNet.

Irma was 24 toe sy begin skryf het en sy het sewe manuskripte voltooi wat niemand wou uitgee nie: “Skoenlapper (haar eerste boek) was my laaste probeerslag. Of dalk jok ek deesdae vir myself om die storie beter te maak. As mens regtig wil skryf, is dit seker onmoontlik om op te hou. Human & Rousseau het die manuskrip van Skoenlapper in 2011 aanvaar en die boek is in 2012 uitgegee,” brei sy ’n bietjie meer uit teenoor Maryke Roberts.

Irma het ook nog altyd geweet dat sy misdaadverhale wil skryf, want dit is wat sy lees en dit laat haar ontspan, vertel sy aan Roberts. “Dis vir my ook ’n heerlike uitdaging om ’n goeie raaisel aanmekaar te sit om die leser te probeer uitoorlê.

“Dan het ek ook met oorgeklankte Duitse speurverhale en moordstories grootgeword – daai ou Klub 707-boeke wat toe nog ’n kulturele en sosiale taboe was en nie eens in biblioteke was nie. Ek is versot op raaisels; op die spel tussen die leser en die skrywer.

“My grootste uitdaging bly om ’n opwindende en oorspronklike raaisel uit te dink en om dit op ’n elegante manier op te los, en nie deur een of ander toevalligheid nie. Ek neig ook om die storie hopeloos te kompleks te maak. Ek moet altyd die verhaal aan die einde van die eerste weergawe stroop.”

In Irma se eerste misdaadroman, Skoenlapper, ontmoet die leser vir Ranna, ’n fotograaf, en Alex, ’n joernalis – albei redelik hardkoppige mense. Hulle raak verlief terwyl hulle in Afrika verslag moet lewer oor die probleme eie aan ’n ontwikkelende land. Die verhouding is egter nie ’n maklike een nie – Ranna se verlede reis saam met haar en dit bedreig ook hulle lewens. Langs die pad ontmoet die leser ook ’n handvol ander karakters soos Sarah Fourie, ’n kuberkraker, en die polisieman, Hamisi Hambane.

Ilse Salzwedel (Volksblad, 13 Oktober 2012) skryf dat Irma daarin slaag om haar ervarings en vernuf in te span om die leser te laat voel dat jy saam met die karakters in Dar es Salaam is: “Jy voel die humiditeit, beleef die vloede en die adrenalien daarmee saam. My enigste kritiek is dat die uiteindelike konfrontasie met die moordenaar te gou verby was. Die slot is egter allermins voorspelbaar en ná 328 bladsye hoop jy die karakters duik gou weer op.”

Ook Amanda de Lange (Rapport Boeke, 1 Julie 2012) is beïndruk met Skoenlapper: “Die storie is briljant geskryf. Dit neem jou op stofpaadjies en maak wilde draaie waarop jy nie altyd voorbereid is nie. […] Daar is ’n varsheid in Venter se gebruik van die taal en soms beskryf sy ’n emosie of situasie op só ’n oorspronklike manier dat jy dit weer wil lees om dit in te drink …

“Venter mág maar skryf. En sy moet. Sy lewer die soort skryfwerk waarop ek jaloers is en wat my laat wens dat ek eerste daaraan gedink het om iets te sê soos sy dit sê. Ek kan nie wag vir haar volgende boek nie. Al het die einde van haar debuut my heeltemal onkant betrap en vies gemaak.”

Op LitNet is Madri Victor die resensent: “Venter bou spanning slim op deur van afwisselende eerstepersoonsvertellers gebruik te maak. Die leser klim in die lyf van Alex, simpatiseer met hom, word saam met hom geskok en onthuts. Stelselmatig begin die onsekerheid rondom Ranna, haar verlede en haar rol in die dood van Billy toeneem. En dan, sodra jy, soos Alex, byna oortuig is dat sy verdag optree, verskuif die perspektief na dié van Ranna, weer eens as eerstepersoonsverteller. Nou ervaar die leser háár emosionele belewenis, haar paniek en desperate pogings om Alex veilig te hou. Want Ranna se verlede volg haar en dit sorg elke keer wanneer sy in ’n verhouding betrokke raak, vir veel meer as bloot chaos. Dit is nie om dowe neute dat sy stede soos Dar es Salaam kies nie: hier kan sy anoniem bly, ’n blote skim, en lig bly leef. Sy durf nie vir Alex of Hamisi vertrou en die waarheid vertel nie. Vertroue het haar in die verlede reeds duur gekos.

“Beide Ranna en Alex word so oortuigend uitgebeeld dat die leser nie kan of wil kant kies nie. Hierdie spel met die leser word vernuftig gebruik om spanning op te bou. Dit gaan om meer as die oplos van Billy se moord of Ranna se verlede wat dreig om haar weer eens te verswelg; die verhouding tussen die hoofkarakters en die behoud, fisies sowel as psigies, van beide karakters is wat die leser jaag om klaar te lees. Die spanning word op breekpunt gehou nie deur ’n reeks moorde of gewelddadige tonele nie (benewens die klimakstoneel is daar byna geen gedetailleerde beskrywings van geweld nie), maar deur die opstapeling en onthulling van geheime, inligting en verdoeselings.

Skoenlapper getuig van insig en mensekennis; die karakters is oortuigend en prikkelend, die ruimte word vernuftig gebruik as toeligting tot die karakters se optrede sowel as om atmosfeer te skep. Daar is geen goedkoop truuk om spanning op te bou nie. Die spel met die leser word op ’n bedrewe en onderhoudende manier gespeel. Boonop is die tempo lekker vinnig, die hoofstukke kort en Venter se styl vars en verfrissend.”

Gelukkig het Irma nie haar lesers lank laat wag vir haar volgende verhaal nie. Haar tweede misdaadroman se titel is Skrapnel en dit verskyn in 2013, ook by Human & Rousseau. Met die publikasie van Skrapnel begin haar volgelinge al praat oor die S-reeks omdat albei boeke eenwoordtitels het wat met ’n S begin.

In 2017 vertel Irma aan Naomi Meyer op LitNet dat dit heeltemal toevallig gebeur het: “Skoenlapper se titel was eers Chaos-teorie, maar toe het Deon Meyer ’n verwysing hierna in sy nuwe teks. Bloed, my tweede keuse, was te na aan ’n Peet Venter-boek. My derde keuse, na ek met my uitgewers onderhandel het, was Skoenlapper, met verwysing na die gebeure wat kan volg deur die eenvoudige geklap van ’n skoenlapper se vlerke.

“Met die tweede boek het ek die HAT vir my vriende gegee en gevra om nog boektitels onder S te soek. Ek werk nog steeds van hierdie lys af.

“Ek sukkel met boektitels,” erken Irma teenoor Meyer, “maar ek kan nie die teks begin voor ek ’n titel het nie, dus bly dit belangrik dat die eerste woord wat ek skryf, die titel is. Die ‘poel van verdagtes’ raak aansienlik kleiner as mens net aan woorde met dieselfde eerste letter hoef te dink.

“Toe Sondebok (derde boek) klaar geskryf was, maar nog nie op die rak was nie, het Kabous Meiring my op Aardklop gevra of ek daarvan bewus is dat Willem Anker (voor sy roman Buys) se dramatitels almal met ’n S begin. Ek het nie, tot my groot spyt, anders sou ek ’n ander letter gekies het.”

In Skrapnel is Alex, Ranna en Sarah Fourie terug vir die aksie. Alex is weer aan die voorpunt wanneer hy tydens sy ondersoek vir ’n storie na onwettige mynwerkers en ’n mynsindikaat, ontvoer word. Die polisie vorder glad nie met hul ondersoek nie en Sarah is die enigste persoon wat nog na Alex soek. Sy spoor vir Ranna op en omdat sy nog steeds vir Alex liefhet, stem sy in om te help.

Madri Victor is weer LitNet se resensent: “Skrapnel het my aanvanklik nie heeltemal bekoor soos Skoenlapper nie. Soos sy voorganger boei Skrapnel wel van meet af, en die ruimte word weer eens besonder goed ingespan. Maar die spanning word heel anders as voorheen opgebou. Waar die verhaal in Skoenlapper as ’t ware in twee verdeel is, met eers die perspektief van Alex en daarna dié van Ranna, spring die leser van meet af in Skrapnel tussen perspektiewe. Daar word nie dieselfde truuks gespeel op die leser nie. In Skoenlapper het die leser só met Alex geïdentifiseer dat jy teen die tyd dat Ranna fokaliseer, nie geweet het wat jy van haar moet dink of glo nie. Die leser is lank in die duister gehou oor presies wie en wat Ranna werklik is en wat op die spel is. Maar toe ek eers besef hoe Skrapnel ‘werk’, was ek oorwin. Die aantrekkingskrag van die verhaal, die opbou van spanning, lê nie net in die intrige rondom Alex se opsporing nie. Die emosionele spel met die leser is nie in die uitstel van die waarheid nie; ons weet gou wat Sarah se motief is en hoe Ranna daarop reageer, ook waar Alex is en wat nodig is om hom te red. Die spanning lê daarin dat hier twee baie sterk vrouekarakters teen mekaar afgespeel word. Beide is belangrik in Alex se lewe, beide wil hom red, ongeag die manier waarop hulle dit doen, en slegs een van hulle kan in hulle doel slaag.

“Waar Ranna aan die leser bekend is, leer ons in Skrapnel vir Sarah ken as ’n Afrikaanse Liesbeth Salander: antisosiaal; hopeloos te slim met rekenaars; steur haar nie aan die reëls nie; en kan eenvoudig nie goeie verhoudings opbou nie. Daar is ’n woede net onder die oppervlak, ’n traak-my-nieagtige houding wat haar weerloosheid moet wegsteek. Sarah, wat enigiets sal doen vir Alex en Ranna slegs as middel tot die doel sien, glo steeds dat daar vir haar en Alex ’n toekoms saam is. Of ’n mens van haar hou of nie, sy lok emosie by jou uit. Ranna, daarenteen, verander merkbaar deur die loop van die verhaal. […]

Skrapnel word bevolk deur sterk, interessante vrouekarakters. Want daar is ook Adriana, ’n sakevrou met ’n geheimsinnige verlede en vele duistere kontakte. […] Onder haar gesofistikeerde uiterlike skuil ’n donkerte wat fassineer. Wie weet wat Venter met dié vrou in haar volgende boek kan doen. Ek hoop van harte om haar weer raak te lees.

“Dit is hierdie tipe vrouekarakters van Venter, dié wat nie konformeer nie, wat sterk en onafhanklik is, met ’n kleurvolle verlede wat hulle hede sterk beïnvloed, wat tot my spreek. Daarom dat ek doelbewus kies om die einde van Skrapnel as ‘oop’ te sien, ’n stukkie voorgee of ‘make-believe’ binne die wêreld waarin Alex, Ranna, Sarah en Adriana beweeg. Want ’n tradisionele, tipiese liefdesroman-einde pas eenvoudig nie by enige van die karakters nie. Hulle bekoring lê juis in die onkonvensionele, daardie ewig-op-vlug-wees – van hulself, die gereg, die reëls van die samelewing.

Skrapnel het my dalk nie so vinnig soos Skoenlapper oorrompel en bekoor nie, maar dit is ’n lekker krimi wat my wél enduit geboei het: die intrige is vermaaklik, speel af teen ’n lekker tempo en slaag daarin om spanning op verskeie vlakke op te bou. ’n Goeie opvolg vir Skoenlapper, en hopelik net die begin van ’n Adriana-storie en vele ander boeke uit Venter se pen.”

In Die Burger van 5 Augustus 2013 is Cilliers van den Berg nie so heeltemal oortuig soos Victor oor die meriete van Skrapnel nie: “Die kontinuïteit met die vorige roman [Skoenlapper] lê eerder in die karakterisering van die hooffigure as die details van die storielyn. Want die storielyn staan hier op eie bene, met relevante stukkies inligting uit die vorige werk wat duidelik ter wille van oningewyde lesers in die teks ingeweef word.

“‘Ingeweef’ is dalk op sy beurt die verkeerde woord omdat dit ’n naatlose geheel veronderstel – iets wat nie in Skrapnel verwesenlik word nie. Dit is dalk simptomaties van ’n ander mankement van die werk: Verskeie elemente in die teks oortuig nie as organies deel van ’n groter geheel nie. Enige gesoute leser van misdaadromans weet hierdie genre berus op bepaalde konvensies – die kuns is om hierdie konvensies so natuurlik moontlik in die teks te integreer, sonder dat die inherente funksionaliteit daarvan voorop staan. […]

“Wat egter in nabetragting wél interessant is, is dat aspekte van ander genres ook subtiel in die roman aanwesig is. Behalwe die pretensies tot misdaadroman, is daar ’n goeie skeut romanse en selfs iets van die avontuurroman bespeurbaar. […]

“Tog poog die roman om op interessante wyse die gender-konvensies van die genre op sy kop te draai. Natuurlik is sterk en aktiewe vroulike personasies binne die misdaadroman nie ’n nuutjie nie, maar dit is tog opvallend hoedat dit twee vroue is wat hier aan die stuur van sake staan, met Alex vir alle praktiese doeleindes gereduseer tot objek wat gered moet word. […]

“Uiteindelik val Skrapnel ongelukkig tussen die drie stoele. Dit is jammer, aangesien veral die verhouding tussen Ranna en Sarah myns insiens die grootste potensiaal vir ’n unieke en oortuigende fokus vir die roman inhou. Dit word jammerlik genoeg nie ten volle ontgin nie. Maar ’n paar dinge in die teks dui op ’n moontlike opvolg en daarom kan Skrapnel vir bewonderaars van Skoenlapper of vir diegene wat wonder wat tussen Alex en Ranna gaan gebeur, dalk net die lees werd wees.”

In 2014 verskyn die volgende titel in Irma Venter se S-reeks, Sondebok. In Sondebok is Ranna en Alex terug en fokus die skrywer meer op die restauranteienaar Adriana, terwyl Sarah meer op die agtergrond is. Jaap, die eks-polisieman, is ook weer daar tesame met die speurder Williams wat op Ranna se spoor is. Adriana vra vir Alex en Ranna om te help nadat ’n meisie wat onder haar beskerming is, aangeval word.

Johan Smith het die bespreking van Sondebok vir Rapport (14 Desember 2014) gedoen: “Ek sal aanbeveel dat die leser Venter se Skoenlapper en Skrapnel ook lees. Hoewel ’n mens Sondebok as ’n enkelwerk kan geniet, is daar heelwat verwysings na gebeure in die vorige boeke wat die leeservaring net soveel lekkerder sal maak.

“Soos met Skrapnel, beloof die eerste hoofstuk ’n boek vol aksie en adrenalien-gedrewe oomblikke. Dit voel egter asof die dinamiek daarna ’n bietjie taan.

“Die storie word vertel deur vier eerstepersoonsvertellers en dié wisselvallige narratief het my soms gehinder. Aan die einde van sommige hoofstukke is daar ’n aanduiding van ’n klimaks wat gaan volg, maar dan onderbreek ’n ander verteller die gebeure. As jy ’n ongeduldige leser is, is dit problematies.

Sondebok is egter goed geskryf en die skrywer se joernalistieke agtergrond kom goed te pas, veral haar uitstekende waarnemingsvermoë en noukeurigheid. Hoewel die storielyn interessant is, ontbreek die ‘genade, ek het dit nie gesien kom nie!’-oomblikke. Dis asof die skrywer meer fokus op verhoudings tussen die karakters en minder op gebeure, wat tog die wenresep vir ’n suksesvolle misdaadverhaal is. Die laaste kinkel in die kabel, wat te make het met die verdwyning van die matriekmeisie, het ek nie sien kom nie. Sondebok is nie ’n foefieslaaid nie – eerder ’n rustige wipplankrit. Dit is egter steeds ’n geslaagde misdaadverhaal.”

“Venter gee net genoeg inligting om jou vasgenael te hou,” skryf Ilse Salzwedel in Beeld (20 Oktober 2014). “Nes jy dink die Groot Onthulling skuil op die volgende bladsy, stuur sy die verhaal behendig in ’n ander rigting, dikwels met ’n nuwe verteller aan die woord.

“Die verhaal word vertel uit die oogpunt van vier eerstepersoonsvertellers: Adriana, Ranna, Alex en kapt AJ ‘Reg-of-verkeerd’ Williams, ’n speurder wat Ranna se spoor moet vat terwyl ’n interne polisieondersoek na haar werk aan die gang is.

“Hoekom lees Venter se verhale so lekker? Ek dink daar is verskeie redes, maar baie het te doen met haar jarelange joernalistieke agtergrond.

“Die verhaal word ingekleur met die soort detail wat van ’n fyn waarnemingsvermoë getuig. Daar is ook net genoeg detail om die karakters en situasies lewe te gee sonder om die aandag van die storie en die spanningslyn weg te lei.

“Jy gaan geen lang, verwikkelde sinne in hierdie roman kry nie – nog iets wat heenwys na haar ervaring as joernalis. Hier tel elke woord. Die navorsing is ook baie deeglik, maar die leser word nie verveel met lang lesings nie – ’n slaggat waarin minder ervare skrywers dikwels trap.

“Die pas is vinnig, en dis lekker om ’n misdaadverhaal te lees wat grootliks in Pretoria afspeel. […] Dis lekker om te weet die Afrikaanse spanningslektuur kan danksy skrywers soos Irma Venter werklik kers vashou by die internasionale boekebedryf.”

Irma vertel aan Elna van der Merwe (Huisgenoot, 15 Januarie 2015) dat Ranna ’n “sameflansing van my verbeelding en fliek- en boekkarakters is, vroue wat ek ontmoet het, en joernaliste en fotograwe wat ek ken. Sy is ’n vrou met ervaring en deernis. Ek dink daar is baie meer Afrikaanse vroue soos Ranna as wat die samelewing bereid is om te erken. En is dit regtig net Boetman wat die bliksem in is?”

Van der Merwe het vir Irma gevra om die lesers meer te vertel van die navorsing wat sy vir die skryf van Sondebok gedoen het: “Ek doen ’n taamlike hoeveelheid navorsing en ek is van nature nuuskierig. Ek wil weet hoe dinge inmekaarsteek. Dis hoekom ek my werk as joernalis geniet. Ek het al verskeie artikels oor renosterstropers, gouddiefstal, kuberkrakers en vragmotorkapings geskryf. Ek het byvoorbeeld al die goudhope op die Oos-Rand ingevaar om met onwettige goudmyners te gesels.”

Skarlaken is Irma se vierde S-titel en is in 2015 gepubliseer. In Skarlaken is Jaap Reyneke, die oud-polisieman, en die kuberkraker, Sarah Fourie, die twee karakters wat op die voorgrond tree. Irma het vir Alex en Ranna so ’n bietjie ruskans gegee.

Vir Deborah Steinmair (Rapport, 25 Oktober 2015) begin Skarlaken op ’n hoë noot “met ’n skouspelagtige moordtoneel wat onmiddellik aan landskapkuns herinner: ’n voornemende bruid is ná haar dood grotesk gerangskik, in haar trourok op ’n fiets, met vliegbril en rooi lap, omgeval in ’n bevrore pan. Haar naam was Janien Steyn.”

Soos die storie ontwikkel, vind die leser uit dat Janien Jaap se susterskind is en hy sukkel al drie jaar om die moord opgelos te kry. Sarah se tante, Adriana (vir wie lesers al in Sondebok ontmoet het), beveel aan dat Jaap vir Sarah kry om hom te help. Saam gaan hulle na Carnarvon in die Noord-Kaap na Janien se ouers se plaas om haar rekenaar en selfoon te ondersoek. En dit is die begin van ’n roman vol intrige en spanning, soos die lesers al vir Venter leer ken het.”

Steinmair gaan voort: “Venter se romans word gekenmerk deur verskuiwende landskappe. In hierdie roman reis Sarah na elke provinsie in die land. Sarah kom op nog twee moorde af met elemente van landskapkuns en wat ooreenkomste toon met Janien s’n. In die hand van Irma Venter is die ekonomiese landskap- en weerbeskrywings besonder geslaagd, skep dit atmosfeer en agtergrond.

“Een van die temas, baie relevant en kontemporêr, is hoe naïef mense is om al hul persoonlike inligting op sosiale forums en die internet uit te blaker.

“Die leser word tergend aan ’n lyntjie gehou: Die finale is naelbyt-spannend en die ontknoping verrassend. Dit is ’n boeiende, onneersitbare boek vol eksentrieke karakters, interessante feite en wisselende landskappe. Venter is myns insiens ons eie Stieg Larsson. Sy is boeiend, waardig, gesofistikeerd en ingelig en weef interessante feite oor rekenaars, kuns, DNS en dies meer in die storie in.”

Op LitNet is Madri Victor se gevolgtrekking nadat sy Skarlaken gelees het, dat die leser in die roman voor verlies en die rouproses ná die dood te staan kom – “ook die dood van ’n verhouding; die mag van liefde in al sy verskillende vorms, die onbewustelike blootstelling van onsself deur tegnologie en sosiale media; die teenstrydige vryheid en gebondenheid van ‘anders’ wees.

“Sarah en Jaap verwerk albei op verskillende maniere die dood van ’n geliefde en maak tydens die ondersoek vrede met hulself en die gevoel van afwesigheid wat hulle voortdurend ervaar.

“Sarah vou hier oop soos ’n jong varing, sensitief, beeldskoon en broos met meer krag as wat op die oppervlak sigbaar is, ’n karakter met wie ek simpatie en empatie het, maar ook respek vir haar krag en vreeslose gedrewenheid. En Jaap, wat byna as haar teenpool beskou kan word, ontluik as ’n interessante, genuanseerde karakter, meer as die stereotipe afgetrede polisieman.

“Irma Venter is ’n baie slim en vernuftige skrywer. Sy verweef haar navorsing moeiteloos, gebruik die gevreesde ek-verteller met soveel gemak en vernuf, en skryf op veelvuldige vlakke vir haar leser met interessante temas en inligting onderliggend aan die vinnige tempo en naelbyt spanning waarvoor sy bekend is. Venter werk die raaisel vir jou so vernuftig en moedswillig uit dat jy behoorlik moet kopkrap saam met Sarah en Jaap. En met elke boek karteer sy skynbaar moeiteloos en met groot sukses ’n nuwe gebied op die krimilandskap.” 

Helen Schöer is die resensent in Volksblad van 19 Oktober 2015. Sy eindig haar bespreking as volg: “Nes jy dink jy weet wat aangaan, vat Venter ’n ander draai met die storie. Jy gaan aanhou raai tot die heel einde, en jouself wil skop oor die leidrade wat jy oorgesien het en die dwaalspore waaroor jy geval het. Die dénouement is ’n holderstebolder gejaag om die moordenaar te vang voordat hy sy laaste moord voltooi. Maar wie is dit?

“Dis moeilik,” maan Schöer die leser, “maar probeer stadig lees sodat jy die raak beskrywings en skynbaar moeitelose Afrikaans kan waardeer, wat natuurlik die gevolg is van ’n skrywer wat nie net weet hoe om ’n storie te vertel nie, maar ook weet hoe om te slyp en weer te slyp.”

Twee jaar verloop voordat Irma se volgende S-boek gepubliseer word – hierdie keer is die titel Sirkus. Irma vertel aan Huisgenoot (7 Desember 2017) dat Sirkus ’n boek vol boewe is, “nie noodwendig straatboewe nie. My boewe was nog altyd ’n klein bietjie meer gesofistikeerd. ’n Groot deel van die verhaal is gebou op die vernietigende verhouding tussen Yasen en Adriana – waar jy iemand liefhet én met jou hele hart haat.”

Irma vertel kortliks verder aan Naomi Meyer (LitNet, 22 Maart 2017) meer oor Sirkus: “Sirkus is ’n grootwordverhaal wat in die 1980’s afskop, vermeng met ’n aksieverhaal wat in die hede afspeel. Die boek vertel die verhaal van Adriana van der Hoon en hoe die verlede, familiegeheime, korrupsie, politiek en liefde haar inhaal. Dit speel hoofsaaklik in Duitsland, Suid-Afrika en Bulgarye af.

“Hier is die agterbladteks: ‘Dis die laat tagtigs in Johannesburg. Adriana van der Hoon is agtien jaar oud. Haar aktivis-pa het jare lank oorsee geld vir die Education Trust ingesamel maar op ’n dag verander alles, en nou staan die veiligheidspolisie op haar drumpel met ’n ultimatum. As sy hulle nie help om die ANC se geldspoor van Duitsland na Suid-Afrika te volg nie, sit sy en haar chroniese siek ma sonder heenkome. En sy sonder haar studiebeurs. Dis hoe Adriana in Berlyn beland. Dis hier waar sy haar talent om messe te gooi vervolmaak, en waar sy Yasen Todorov ontmoet. Ver weg van alles wat bekend en veilig is, leer Adriana waartoe sy in staat is. Bowenal leer sy dat niemand, ook nie sý nie, ooit heeltemal onskuldig is nie.’”

Oor die uitdagings wat sy ondervind het terwyl sy aan Sirkus geskryf het, sê Irma vir Meyer dat dit allesbehalwe ’n maklike boek was om te skryf, “aangesien my eie verlede my ingehaal het. Ek het Adriana as ’n eksotiese randfiguur geskep ⎯ haar eerste verskyning was in Skrapnel ⎯ en dit het dinkwerk gekos om te verduidelik hoe ’n vrou in haar veertigs mes gooi, tjello speel, ’n restaurant besit en die geheime van ’n handvol magtige mense in Suid-Afrika ken.

“Om Sirkus se talle drade – oor tyd en ruimte ⎯ bymekaar te bring was ook ’n besonderse uitdaging.

Nog ’n blywende uitdaging van die reeks is om seker te maak elke boek kan op sy eie gelees word.”

Die titel van Sirkus verwys na ’n werklike sirkus waar Adriana gewerk het, maar tog ook na die klug van politiek waar mag en geld belangriker is as die belange van die gemeenskap: “Dit was waar in die 1980’s, nou, in Suid-Afrika, en in omtrent elke ander land in die wêreld. Die regstelsel? Ja. Dit voel vir my asof mense met geld en duur regshandlangers los kom en mense wat dieselfde oortredings gepleeg het, jare lank in die tronk krepeer omdat hulle nie dieselfde middele tot hulle beskikking het nie,” sê Irma aan Meyer.

“‘Power tends to corrupt, and absolute power corrupts absolutely,’ het lord Acton gesê. Gelukkig is spanningsverhale ’n heerlike ruimte om aan mens se sinisme uiting te gee.” (LitNet)

“Die intrige is kompleks,” skryf Willie Burger (Vrouekeur, 18 Augustus 2017) oor Sirkus, “talle verhaallyne kruis en die karakters kom uit interessante dele van die wêreld. Irma Venter het reeds bewys dat sy een van die gewildste misdaadskrywers in Suid-Afrika is.”

Vir Jonathan Amid (Die Burger, 6 Maart 2017) is Sirkus hoofsaaklik bemoeid met die fisieke en geestelike reis van Adriana, “soos sy groei, pyn en lyding ervaar, en liggaamlik en psigies verhard; en ’n reeks fassinerende verkleurmannetjies moet uitoorlê om haar toekoms te verseker. Venter se vertelling, wat wissel tussen die jonger en ouer Adriana en Ranna in die hede is geslyp, trefseker. Veral opvallend is hoe Venter gender stereotipes ondermyn.

“Adriana raak in ’n noir-agtige liefdesdriehoek deurmekaar met die genadelose misdadiger, Yasen, en sy teenpool, die sagter, medemenslike Boris, sonder toeval ’n bokser met ’n yslike linkerhaakhou. Hoewel fassinerende manlike karakters soos Jakkals Schutte en Tiny van der Westhuizen indruk maak, is dit die onverskrokke, beginselvaste vroue wat Adriana leer wat dit beteken om vrou te wees. […]

“Venter skep as woordkunstenaar ’n chiaroscuro, ’n filmiese spel met lig en donker. Skarlaken het Venter as kunssinnige, kreatiewe skrywer onderstreep, en Sirkus onderstreep hoe Venter ook ekonomies met haar woorde omgaan […]

“Die sirkusmotief word deurgaans ook metafisies, en buite die sirkusarena ontgin: Ons almal, eintlik, is voortdurend op soek na ’n tuiste en ’n ruimte waar ons gesien en gehoor word soos sirkus-kunstenaars […]. Die sirkus is dan ook ’n ruimte van georganiseerde chaos, die gehoor toeskouers wat vernuf en vermaaklikheidswaarde moet beoordeel. Gepaste metafoor vir die leesproses, nie waar nie?

Sirkus-lesers is voortdurend bewus van die vernuftige Venter as skrywer-mesgooier – sy pak gewigtige temas soos ouer-kind-verhoudings en verlies, ontheemding, die donker kant van kapitalisme, korrupsie, die natuur versus omgewingsdebat, die koste van nasionale en individuele bevryding en die Nietzscheaanse will to power met insig en ewewigtigheid. […]

“Haar navorsing en wêreldskepping is weer eens uitmuntend. Alhoewel haar klem op en liefde vir haar karakters sentraal staan, is daar ook genoeg vir aksievrate.

Sirkus het soos veral Venter se debuut, Skoenlapper, ’n betowerende internasionale geur. Soos Mike Nicol speel hierdie gatskop-skrywer met genre-konvensies, en bevraagteken sy die moontlikhede van afskortings, mure, grense en ook die kosmopolitaanse, in die post-waarheid, wêrelddorp-samelewing, waar privaatheid ’n mite is, en (inter)nasionale affiliasies onder die loep kom. As Deon Meyer en Nicol wêreldwyd gelees en geniet kan word, hoekom nie Venter nie?”

In 2018 word Sondag gepubliseer en in ’n gesprek met Maryke Roberts (Vrouekeur, 9 November 2018) antwoord sy op ’n resensent se kritiek dat Sondag se pas bietjie stadiger is as haar vorige boeke s’n: “Anders as my vorige aksieromans is Sondag ’n polisieprosedureverhaal en ’n sogenaamde cold case, wat beteken dat die pas inherent stadiger is. Dis ’n stap-vir-stap-ondersoek, nie ’n skop-skiet-en-wonder nie. Sondag is ’n diggeweefde verhaal met talle storielyne. Dit was ’n besonderse uitdaging om hierdie boek met sy talle raaisels te skryf, soos my uitgewer kan getuig. Dit was beslis die moeilikste boek wat ek tot dusver geskryf het en ook die boek waaraan ek die hardste gewerk het. En die dikste!”

Vir Willie Burger (Vrouekeur, 20 Julie 2018) word Irma Venter as skrywer steeds beter en boei Sondag van die eerste bladsy af: “Die voordeel van ’n reeks misdaadboeke, is dat die lesers sommer net by die bekende ‘speurders’ se nuwe ervarings inval. Kaptein AJ Williams is terug. Sy werk by die Brooklyn-polisiekantoor en word betrek by ’n ondersoek na ’n moord op die pa van ’n gesin en die raaiselagtige verdwyning van die res van die gesin uit hul luukse huis op ’n landgoed.

“Ranna (alias Frankie Beekman) is ook terug. Sy is steeds aan die kant van geregtigheid, maar voortvlugtig omdat die polisie haar nog met verskeie moorde verbind. […] Natuurlik is Alex ook terug. Hy en Ranna werk steeds saam en moet steeds haar identiteit verdoesel en hulle word ook steeds deur die hardekwas-kuberkraker Sarah Fourie gehelp. […]

“Die een voordeel van die bekende span karakters is dat lesers sommer vinnig tuis voel in die verhaal, maar enigeen kan Sondag begin lees sonder dat jy die vorige romans gelees het. Die ander voordeel is dat mens as ’t ware voel jy leer hulle nou beter ken, leer nog meer van hulle, dit is asof al die boeke saam ’n netwerk van opwindende gebeurtenisse en lewensverhale vorm waaraan jy deelneem.

Sondag sou egter saai kon wees, selfs met hierdie interessante en geliefde karakters, indien Venter nie daarin kon slaag om die een of ander boeiende gebeurtenis te laat plaasvind nie. Interessante misdaadverhale het altyd met eksotiese plekke en verrassende gebeurtenisse te doen. Venter kry dit telkens reg om die leser met iets buitengewoons te verras, dit gaan nooit sommer net oor ’n bankroof by die plaaslike kitsbank of ’n nare sadis wat sy bure vermoor nie. […]

“Die leser word vernuftig ingetrek in die verhaalwêreld. Voeg daarby Venter se geslypte vertelwyse, met ’n vinnige tempo, baie aksie in verskillende ruimtes, en jy is meegesleur.”

Amanda Botha se resensie is uitgesaai op FMR, ’n radiostasie in Kaapstad, en later op LitNet gepubliseer. Sy skryf as volg oor Sondag: “Soos die titel Sondag suggereer, handhaaf die roman ’n rustiger pas. Dis ’n lekkerleesverhaal, maar allesbehalwe vervelig. Die fokus is op polisiebedrywighede, waaronder ondervraging en forensiese ondersoeke. Wat sou ’n misdaadstorie gewees het sonder ’n sug na geld, ’n seksklub en mensehandel?

“Die vroulike karakters is sterk en nie bang om ’n rewolwer te hanteer nie, terwyl die antagoniste meestal mans is.

“Venter se taalgebruik is sonder fieterjasies, tog is beskrywings in die kol. Sy skryf byvoorbeeld tannie Driekie se Afrikaans is ‘so droog en afgeskuur soos haar stem. Klink of sy van die Noord-Kaap of Namibië kom’. […]

“Venter se navorsing is deeglik en die feite betowerend. Ook wat algemene inligting betref. Nie alle lesers weet waarskynlik dat ’n motor die veiligste plek in ’n swaar Hoëveldstorm is nie. Die milieu skep die perfekte ambience. Soos hier waar Venter skryf: ‘Die straat se bome dra die letsels van die buurt se vooruitgang, as mens dit so kan noem. Die jakarandas wat altyd so dig was, staan uitgedun, vermink, tot op die been gesnoei.’

“Humor sorg regdeur vir die nodige speserye. Ná meer as 400 bladsye smelt die hoofverhaallyne en afdraaipaaie netjies saam. Die roman se afloop neem ’n onverwagse wending. Jy hoef nie voorheen ’n Venter-roman te gelees het nie; Sondag is ’n verhaal wat op sy eie sin maak. Dis trouens ’n boeiende blitsblaaier wat ek heelhartig aanbeveel.”

Ander menings oor Sondag is Schalk Schoombie (Beeld, 10 September 2018) s’n: “Venter verken die kontoere van onheil, die algoritmes van vrees. Sy lei die leser op voorstedelike paadjies wat afdraai na die donkerste sinkgate. Sondag is dalk nie haar opruiendste ekskursie na die nagkant van die lewe nie, maar dit boei enduit. Hier is leesstof vir ’n week van Sondae.”

En in Rapport van 7 Oktober 2018 skryf Deborah Steinmair: “Sondag is ’n spanningsverhaal met lyf en hart. Dis gesofistikeerd, elegant en vernuftig, soos ’n mens sou verwag van ’n skrywer wat deur niemand minder as Deon Meyer as ‘wêreldklas’ beskryf word. Nou hou ons die horison dop vir die volgende aflewering in die S-reeks.”

Die laaste boek in Irma se ­S-reeks verskyn in 2019 onder die titel Sewe-en-veertig. Sy vertel aan Remona Voges in ’n onderhoud op LitNet dat hierdie storie kortweg handel oor die wettige en onwettige insameling en gebruik van data, vriendskap en die dodelike gevolge van ’n ontmoeting wat op die oog af onskuldig gelyk het: “Sewe-en-veertig is in die eerste plek ’n (ont)spanningsroman,” sê Irma aan Voges op LitNet. “Ek skryf boeke omdat ek graag vir mense ’n bietjie ontvlugting wil bied van die alledaagse. Ek wil iemand vir ’n paar uur vermaak.”

Oor hierdie gebruik van data en die beskerming daarvan, voel Irma baie sterk: “Ek is ’n sterk voorstander van privaatheid. Suid-Afrikaanse wetgewing doen nie naastenby genoeg om mense se data te beskerm nie. Dit voel vir my asof maatskappye en die staat bloot aanvaar dat hulle alle regte op mens se data het, solank hulle sekere verskonings kan aanbied, byvoorbeeld om jou naam van jou data te ontkoppel, of om gratis WiFi aan te bied. Die ergste van alles is dat hierdie instansies dan nie daarmee foutvind om mens se data te verkoop nie. Jou data is jou eiendom. As jy dit wil deel, moet jy daarvoor betaal word,” verduidelik Irma aan Voges.

Die storie van Sewe-en-veertig kan as volg opgesom word: “Mosela Mosholi, ’n ou vriendin uit haar tronkdae, bel Sarah Fourie halfvier op ’n koue wintersoggend wakker. Sy moet nóú kom, Kaapstad toe. Datameester Mosi se rekenaars voorspel ’n vierde moord op ’n toeris binne die volgende paar dae en Sarah met haar kennis oor kuberkrakery moet kom help. Sarah ken Mosi al haar jare en skuld haar baie en kan nie nee sê nie. Sy bel vir Jaap Reyneke, want hy móét saam. Mosi is in die moeilikheid en Jaap se jare as polisieman is al raad wat sy het indien ’n moordenaar op vrye voet is.

“Dit is ’n onvoorspelbare, donker Kaapstad wat op Jaap en Sarah wag. ’n Stad waarin misdadigers die toutjies trek, waar hommeltuie bokant jou tred hou van goeie én minder goeie dade, en toeriste onbewus is van dit wat in Clifton en Kampsbaai broei.”

Sonja van der Westhuizen, Volksblad van 1 November 2019 se resensent, is die volgende mening toegedaan oor Sewe-en-veertig: “Met so ’n uitgebreide rolverdeling kan dit maklik wees om die draad te verloor, maar wanneer die verband tussen karakters mettertyd onthul word, het elkeen sy plek verdien. Selfs die enkeles wat nie kritiek tot die uitvoering van die hoofstorielyn is nie, het nietemin genoeg om die lyf om aandag te trek.

“Wanneer Venter skryf, skryf sy ekonomies. Haar sinne is kompak en tot die punt, maar dit dra presies die regte hoeveelheid inligting oor sonder dat ’n greintjie leesbaarheid in die slag bly. Daar is nie plek vir langdradigheid nie – die storie stoomroller voort en behoed die een wat in sy pad staan. Bondige hoofstukke wat hangend eindig, sorg daarbenewens dat momentum nie verloor word nie.

Met Sewe-en-veertig, die sewende in die S-reeks, sement Irma Venter haar status as mededinging vir Deon Meyer stewig vas. Dit bevat al die noodsaaklike elemente van vernuftige en boeiende misdaadfiksie met ’n bitsige Kaapse byt.”

In Rapport (12 Januarie 2020) is Sewe-en-veertig vir Jonathan Amid die “spirituele opvolger” van Skarlaken: “Dié gedagte kom by my op terwyl ek in haar jongste roman lees hoe Janien Steyn se stokperdjie in Skarlaken was om gesigte te bou uit DNS wat sy gekry het op sigaretstompies wat sy langs die pad opgetel het. Sou Venter kon voorspel hoe hierdie gegewe indirek in haar sewende roman sou kom spook?

Sewe-en-veertig is ’n deurtastende riller, superslim en stewig aan die aksiefront – wat diep delf in die huidige konteks van menslike ervarings te midde van tegnologiese vordering, die hiper-bewustheid van ons ‘bewaakte bestaan’ en die gebrek aan teenvoeters en beskerming teen eietydse tegnologie. […]

“Venter skep spesifieke situasiegedrewe, dikwels onvoorspelbare omstandighede binne ’n bepaalde tydsraamwerk, ’n kuns wat sy oor die verloop van sewe romans vervolmaak het. Net soos Deon Meyer weet sy presies hoe om die gegewe van tyd – as ’n bepalende faktor in die uitkoms van situasies, maar ook as ’n spanningspilpunt – in haar romans aan te wend. Sy pak dit nie in elke roman dieselfde aan nie, maar weet hoe om te midde van jaagtogte, gevegstonele, doller as kopaf-aksie en voortdurende voorwaartse momentum veel te verklap oor die tye waarin ons leef en hoe ons ons tyd verwyl. Die halsband lei nie ’n hondjie nie. Die bekoring van ’n goeie storie staan nie opsy om vir lesers ’n preek af te steek nie.”

Amid sluit sy redelike lang resensie van Sewe-en-veertig as volg af: “Venter bly een van my gunstelinggidse deur die duiselende, dawerende nuwe wêreldorde. En vir die dinamiese sewende aflewering het ek net een woord: skitterend!”

In 2019 kry Irma die goeie nuus dat die wêreldregte op haar eerste twee boeke, Skoenlapper (2012) en Skrapnel (2013), bekom is. Amazon Crossing, ’n druknaam van Amazon Publishing wat fokus op vertaalde werke, is die uitgewers. Elsa Silke was die vertaler van Skoenlapper en Karen Schimke van die ander.

Irma was opgewonde oor hierdie goeie nuus: “As skrywer wil ’n mens graag jou storie aan soveel mense moontlik vertel. ’n Mens skryf vir ’n gehoor en enige kans wat jy kry om die gehoor groter te maak, is voorwaar wonderlike nuus. Ek is dankbaar vir die fantastiese ondersteuning wat my boeke in Suid-Afrika kry, en ek hoop die S-reeks sal dieselfde ondersteuning oorsee geniet.” (Die Burger, 23 April 2019)

Gelukkig vir Irma Venter se al groeiende ondersteuningsbasis het sy nadat die S-reeks afgesluit is, met ’n nuwe reeks begin – waarvan die eerste titel in 2021 by Tafelberg verskyn het onder Minder as niks.

Irma vertel aan Phyllis Green (Sarie, 8 November 2021) dat die impetus agter die hoofkarakter in Minder as niks, Ami Prinsloo, verlies was. Ami, ’n voormalige Olimpiese swemmer is ’n misdaadjoernalis by ’n koerant: “Ek het gewonder hoe dit voel as iemand haar sportloopbaan verloor, hoe dit voel as sy iemand verloor, wat ’n mens doen en hoe jy jouself as ’n persoon herbou,” verduidelik Irma aan Green oor Ami Prinsloo.

Die storie begin waar Ami besoek kry by die koerant van Johan Botha. Hy soek haar hulp om sy onskuld te bewys as moordenaar van die sogenaamde “balletmoorde” dertig jaar vantevore. Hy is gevonnis tot lewenslange tronkstraf, maar is weens siekte vroeër ontslaan. Ami ruik ’n goeie storie en stem in.

Irma vertel verder: “Ek het destyds toe ek navorsing gedoen het vir Skarlaken, afgekom op inligting oor nuwe tegnologie waarmee jy iemand se identiteit kan bepaal met net 15 of 16 DNS-selle. Dis verskriklik min. Dit het implikasies gehad, want mense se onskuld kon bewys word deur toetse wat nie vroeër gedoen kon word nie.”

Hierdie inligting speel ’n belangrike rol in die spannende gebeure wat Ami ontbloot in haar ondersoek na Johan Botha se saak.

Behalwe bogenoemde inligting oor die DNS het Irma ook oor die jare agtergekom dat joernaliste al meer gebruik maak van poduitsendings oor misdaadstories, wat ’n totaal nuwe manier is om misdaadjoernalistiek te dek: “Toe het ek gedink ek gaan die twee goed kombineer vir my nuwe roman.”

Die inligting in Irma se boeke moet baie akkuraat wees; dus moet sy baie wyd lees. Sy het in die New York Times afgekom op ’n artikel oor beenmurgoorplanting: “Ek kon my oë nie glo dat 100% van ’n man se semen vervang is met dié van sy skenker ná ’n beenmurgoorplanting nie. Dis ongelooflik. Hy word nou as ’n studie gebruik, ook deur kenners oorsee om te kyk hoe dit die forensiese wetenskap in die polisie beïnvloed. So, ek lees ongelooflik wyd en as joernalis moet mens ’n wye belangstelling hê. Dieselfde geld ’n skrywer.”

Green wou by Irma weet hoekom sy nie vir Ami Prinsloo as hoofkarakter in ’n S-boek gebruik het nie: “In die S-reeks het ek klaar twee joernaliste in die vorm van Ranna en Alex. ’n Derde joernalis sou dit vir my moeilik maak. Ek het ook ’n ander tipe joernalis gesoek, een wat nie deur die polisie gesoek word en ’n donker geskiedenis met die gereg het nie. Hoe sal Ranna by die polisie gaan aanklop met die ondersoek van die saak? Alex kon dalk, maar wat doen ek dan? Veral met al die ander karakters? Ek het gedink dis tyd vir ’n nuwe karakter en wou kyk of ek in die derde persoon kan skryf. Die S-reeks is in die eerste persoon geskryf en dit werk, die lesers is gewoond aan die styl. Toe dink ek, ek tree uit en kry ’n hele nuwe karakter. Maar dis nie te sê dat daar nie later ’n bietjie skakeling met die S-reeks sal wees nie.”

AmandaCL se siening oor Minder as niks is as volg (Minder as niks | penpunt, wordpress.com): “Daar is sterk elemente van selfverwyt, gedrewenheid, woede, verlies, mislukking, selfs gesondheidsuitdagings wat die storielyn inkleur. Daar was heelparty karakters wat ek om die beurt verdink het, met genoegsame motivering daarvoor. Daarbenewens het die skryfstyl en vele wendings in die verhaal, veroorsaak dat ek kompulsief gelees het aan my eerste boek vir 2022. En my laat wonder het hoekom ek die S-reeks misgeloop het.”

Jonathan Amid is op Netwerk24 (7 November 2021) eweneens beïndruk met Minder as niks: “Minder as niks is ’n buitengewoon gesofistikeerde, deeglik nagevorste misdaadroman wat ook tematies-filosofies onderhoudend en prikkelend is. Wat kan die vraag tog wees wat ‘minder as niks’ as antwoord het?

“Getroue lesers weet teen dié tyd hoe Venter in elk van haar boeke ’n sentrale vraagstuk of problematiek ondersoek wat die res van die aksie en gebeure anker en die beweegredes en handeling van die hoofkarakters rig. Minder as niks is ’n veelvlakkige verkenning van verlies. ’n Tema wat die skrywer reeds telkemale met vrug ondersoek het, maar wat hier tot ’n oeuvre-hoogtepunt gevoer word. […]

“Soos veral Skarlaken is Minder as niks ’n boeiende, broeiende kroniek van die menslike bestaan en die impak wat verlies het op dié wat agterbly, maar ook ’n misdaadverhaal waarin DNS ’n belangrike rol speel. Venter span haar agtergrond as joernalis uitstekend in om aktuele kwessies geloofwaardig, opwindend en met integriteit aan te sny. […]

“Dié resensie sou ook kon uitwei oor die geduldige, eksakte opbou van spanning, waterdigte intrige, en wenner-newekarakters soos Roelien Salie, Ami se medejoernalis en -ondersoeker, en die afgetrede genl maj Paul de Jager, die vlymskerp kettingrokende ondersoekbeampte wat destyds vir Botha in hegtenis geneem het.

“Irma Venter skat nooit haar lesers se intelligensie gering nie. Hierdie digverweefde storie is een vir die lesers wat die narratiewe slimmigheid van Venter se komplekse verhale sal snap en waardeer, en wat die emosionele intelligensie het om Venter se mensekennis en haar sensitiwiteit rakende trauma en die skoonheid in broosheid wat sy raaksien en karteer, raak te sien.

“Eerder as ’n geval van sink of swem, behoort Minder as niks ’n hele gros nuwe aanhangers vir die skrywer te werf. Irma Venter bly bobaas!”

Op Netwerk24 (28 Februarie 2022) skryf Willemien Aukema as volg oor Minder as niks: “Die boek lees soos ’n middelafstand-resies wat mik na ’n wêreldrekord. Dit begin teen ’n goeie pas, met genoeg tyd om die karakters in te kleur. Venter maak jou gemaklik tuis in die eg Gautengse milieus van Johannesburg en Pretoria. Sy plaas jou in die vreedsame, heilsame voorstede van daardie uiters Afrikaanse stad met sy skaduryke strate vol jakarandas en Fortuners.

“Deur terugflitse na Ami se swemloopbaan skep sy heimwee na ’n tyd toe die bewondering van ons land se blinkste sportverteenwoordigers ons nog die eenvoudige plesier van volkstrots kon gee. Sy verf haar heldin in die helderste goud – ’n skitterende internasionale ster …

“Haar noukeurige en verfrissend, eerlike beskrywing van menslike feilbaarheid as dit kom by Ami se lewenskeuses en die verval van haar sportloopbaan, laat die leser tegelykertyd voel ‘dit is ek’ en ‘ek wil jou ken’ … Dis gemaklik. Bekend. ’n Verstaanbare verhaal in jou eie taal, jou eie agterplaas.

“Net as jy op jou gemak is en dink jy weet waarheen dit gaan lei, is dit asof die storie binne sekondes spoed optel vir daai laaste 50 m-naelloop. Daar is geen aframmeling nie, maar die tempo verhoog en die skryfwerk en storielyn hou pas.

“Binne etlike bladsye moet jy alle vermoedens en teorieë laat vaar en jou oë onwillig oopmaak vir selfs die ondenkbaarste moontlikhede. […] Met haar verfynde tegniek, waarop selfs die beste kulkunstenaar jaloers sou wees, glip Venter die antagonis stilletjies tussen die blaaie in. Jy ken hom. Jy’t dalk selfs gedink hy’s aangenaam. Toe nou nie …

“In ’n slottoneel wat werklik asemrowend is – Hollywood-waardig as ek nog ooit een gelees het – doen Ami die onmoontlike en knoop Venter elke aaklige, skokkende los draadjie netjies vas. […]

“Lanklaas het ’n boek my so vasgevang,” sluit Aukema haar bespreking af, “heerlike naweekontvlugting met die bydraende plesier van moedertaalleesstof.”

In Junie 2022 het PEN Afrikaans bekend gemaak dat twee Afrikaanse romans, naamlik Kringe in ’n bos van Dalene Matthee en Irma se Minder as niks, in onderskeidelik Arabies en Albanees vertaal sal word. Dit is moontlik gemaak deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds wat die vertalings sal finansier.

“Ombra GVG, een van die voorste uitgewerye in Albanië, het suksesvol aansoek gedoen vir ’n vertaalsubsidie om ’n Albanese vertaling van Minder as niks deur die gevierde spanningskrywer Irma Venter die lig te laat sien. Die beoogde publikasiedatum is in November 2022 en die vertaler is Sidorela Kotili. Die boek sal in Albanië, Kosovo en Noord-Masedonië versprei word,” is op LitNet geskryf.

Phyllis Green (Sarie, 7 November 2014) wou by Irma weet of haar agtergrond as joernalis haar meer tot die genre van misdaadromans aangetrek het: “Ek dink so,” was haar antwoord. “Ek dink spanningsverhale dra ’n tipe van ’n ontnugtering saam met dit. Ek is heeltemal ontnugter met die regsisteem. As mens kyk wat het gebeur met Oscar Pistorius, en met Meyiwa – ’n R250 000 beloning, ’n taakspan. As iemand in my straat vermoor word, of in Diepsloot, dan twyfel ek of die saak ooit opgelos gaan word. Dalk as joernalis werk mens met die feite en dan is daar net die ontnugtering met die sisteem. Dan probeer jy jou eie reg en geregtigheid skep of jy probeer vir mense geregtigheid gee.

“My karakters is mos maar bietjie buite die reg en beweeg nie noodwendig binne die reg nie. My idee is om ’n tipe van geregtigheid te skep buite die regsisteem. As joernaliste kom ons daagliks in aanraking met goed wat mens ontnugter, wat vir jou sê goed werk nie soos wat dit moet nie. Daar’s nie ’n mooi boksie met ’n netjiese antwoord aan die einde van alles nie en dan druk jy dit uit in die skryfwerk wat jy doen. En spanningsverhale is ’n fantastiese genre om dit in uit te druk.”

Green het vir Irma meer uitgevra oor haar skryfwyse – of sy die temas in haar verhale vooraf plot en uitwerk. Irma het geantwoord dat sy weet daar is skrywers wat sê hulle begin ’n paragraaf skryf en dan kom die res van die boek vanself, maar sy plot nogal redelik goed: “Ek moet ten minste die helfte van die boek uitgeplot het. Daarna begin die verhaal met ’n idee van iets wat ek sien gebeur het in my kop. Daar is ’n definitiewe sterk toneel. Dis baie visueel en dan probeer ek die beeld beskryf. En dink wat beteken dit, waar heen lei dit ons?

“Die vierde boek [Skarlaken] waaraan ek nou werk, begin met ’n meisie wat dood lê in ’n trourok op ’n rooi posfiets in die middel van die Karoo, naby waar die SKA is. Dis hierdie toneel waarmee ek begin. Dan vra ek: hoe kom sy daar? Wie gaan die moord oplos? Dan plot ek dit uit dat daar ten minste twee draaipunte in die verhaal is. Vandaar af sal ek dit ’n bietjie oop los. Ek sal nie noodwendig na die half punt weet wie die moord gepleeg het nie. Ek is nie altyd seker nie. Die karakters begin lewe kry en begin gedrag toon wat ek nie noodwendig van die begin af kon antisipeer nie. Hulle draai en verander ’n bietjie en kom ek by ’n antwoord uit wat ek nie altyd verwag het nie.”

Irma het ook meer aan Green vertel hoe sy kop hou met kontinuïteit in haar verhale, veral wanneer sy so wissel tussen vertellers: “Ek loop rond met so ’n dik notaboekie waarin ek elke karakter neerskryf en sê hoe hulle werk, wie hulle is, hoe hulle aantrek, wat hulle doen. Ek moet gereeld teruggaan na hierdie boekie toe. Ek gebruik ook musiek wat ek met elkeen assosieer. As ek oor Ranna skryf, dan luister ek na die groep, Garbage. As jy na daai liedjie ‘Milk’ gaan luister en ‘You look so fine’, dan kan jy in Ranna se kop in klim. Elkeen van hulle het letterlik ’n eie klankbaan. Alex is daai ou liedjie van Moloko, ‘The truth’, hy is so ingestel op die waarheid. Sarah se naam kom van Sarah de Jager af. Gaan dink aan die karakter van dié Afrikaanse liedjie en sy woorde, dis daardie enigmatiese alleenloper wat visvang. Die donker kant van haar is meer Heather Nova. Sy is mos sterk familie georiënteerd. As ek in die verkeer sit, dan luister ek na hulle musiek en dan kom ek in hulle koppe in.

“Ek probeer dat elkeen hul eie sinskonstruksie, eie taalgebruik en eie denkwyse het. Dis soms moeilik,” verduidelik sy aan Green, “want jy moet spring van Sarah wat in haar twintigs is tot Jaap wat in sy vyftigs is en Adriana in haar veertigs.”

Op LitNet wou Remona Voges by Irma weet of sy nie emosioneel baie uitgeput raak deur heeldag met misdaad te doen te kry en dan ook nog daaroor te skryf nie: “Dit is moeilik om heeltyd met misdaad gekonfronteer te word. Die nuus maak mens moeg. Om voortdurend waaksaam te wees in jou huis, op straat en by jou werkplek maak mens moeg. Ek dink Suid-Afrikaners is chronies moeg en gespanne, en dit vererger toenemend soos ons veilige spasies al kleiner word.

“Een van die ergste dele van die skryf van misdaadverhale gedurende die afgelope paar jaar, was die besef van hoe baie die polisiediens se werklik alledaagse ondersoeke verskil van dit wat in boeke beskryf word. Die oorgrote meerderheid van sake kry nie naastenby die behandeling (personeel, forensiese toetse, noem maar op) wat in boeke beskryf word nie.

“Tog is daar een groot verskil tussen werklike misdaad en wat ek doen: in misdaadverhale ry die slegte mense aan die pen. Daar is ’n bevredigende oplossing; ’n oomblik van ekwilibrium.”

Irma se volgende misdaadroman met die misdaadjoernalis Ami Prinsloo op die spoor van die skurke word in 2022 uitgegee onder die titel Die verkeerde vrou.

In ’n onderhoud met Irma op LitNet wou Naomi Meyer meer by haar weet oor die titel: “Ek sukkel gewoonlik met titels, maar hierdie ene het maklik gekom. Die idee van die verkeerde vrou is drieledig in die boek. Ek wil nie te veel verklap nie, maar dit koppel aan identiteit en gedrag, laasgenoemde veral ook aan die groter samelewing se idee van hoe die ‘regte vrou’ dan kastig sal optree. Met die nuwe boek waaraan ek nou werk, sukkel ek al weer met die titel, so dit voel meer bekend.”

Op LitNet skets Anschen Conradie die agtergrond van Die verkeerde vrou: “Liela Oloffson is beeldskoon, beroemd en word alom bewonder as aktrise en filantroop. Sy is ook vermis. Na ’n argument met haar verloofde het sy in haar motor geklim en by ’n winkel stilgehou, waar sy kleinighede gekoop het, net voor sy in die niet verdwyn het. Vrou-alleen op ’n Vrydagaand in Johannesburg laat misdaadklokke lui, maar die bloed aan haar nek ten tye van haar laaste sien in die winkel krap dié andersins aanvaarbare verklaring deurmekaar en wys veroordelende vingers na haar verloofde.

“Ami Prinsloo is ’n misdaadjoernalis. Maar sy is ook die produk van haar verlede. Sy was eenmaal ’n legendariese Olimpiese swemmer. Die donker tyd wat haar loopbaan beëindig het, is ook nie haar enigste Achilles-hiel nie; die moord op haar jonger suster, Leen, jare gelede gooi steeds ’n skaduwee oor haar lewe. Veral omdat die moordenaar se hofsaak eersdaags begin. Sy benodig fokus, iets wat haar aandag sal behou en terselfdertyd haar loopbaan sal bevorder, en daarom aanvaar sy die aanbod vir ’n simbiotiese verhouding met die SAP-ondersoeker na Liela se verdwyning: In ruil vir inligting publiseer sy aanlyn berigte wat hopelik van hulp met die soektog kan wees.”

Conradie sluit haar bespreking van Die verkeerde vrou só af: “Die roman is verdeel in nege dele wat elkeen ’n spesifieke dag, ’n letterlike 24-uur-siklus, verteenwoordig. Die opening is die Maandag na Liela se verdwyning, gevolg deur die daaropvolgende dae tot die Sondag. Die uiteindelike afloop is vervat in kort hoofstukke, naamlik die daaropvolgende Dinsdag en Saterdag. Die afgebakende tydsverloop verhoog die spanningslyn in ooreenstemming met die aanskuif van die horlosie se wysters; die karakters se toenemende spanning en vermoeienis word sodoende lineêr aan die leser oorgedra.

“Die slottonele en ontknoping het my soos ’n fratsgolf getref. Dit bekruip jou ongemerk, slaan jou voete onder jou uit en spoeg jou, snakkend na jou asem, op die spreekwoordelike strand uit. Die gepastheid van die titel en die relevantheid van die woorde op bladsy 175 kom ook dan tot hulle volle reg: ‘En ek weet wat trauma aan ’n mens kan doen. Dat dit jou heeltemal verander. Dis asof dit in jou DNS inklim en alles rondskuif, totdat jy jouself kwalik kan herken.’

“Die verkeerde vrou is ’n aanwins vir die spanningsgenre in Afrikaans en messel die naam van Ami Prinsloo stewig in die annale vas.”

Op Netwerk24 (19 September 2022) is Stefaans Coetzee die resensent: “Hierdie hoogs gesofistikeerde krimi lees in die ervare skrywer van nege spanningsromans se hand soos ’n Piet Byleveld-ondersoek met Ami se skerp waarnemingsvermoë. Die skrywer se jarelange ondervinding as joernalis skemer deur.

“Van al die skrywer se boeke is dié my groot gunsteling. Dit kan alleenstaande gelees word, maar om die volheid van die storie in te asem, beveel ek aan dat Minder as niks eerste gelees word. Welgedaan, Irma Venter!”

“Venter speel natuurlik ’n bietjie met die leser en soms voel alles soos ’n wilde jaagtog na nêrens,” skryf Adele Vorster (Netwerk24, 23 Oktober 2022). “Die skrywer skroom nie om moeilike vrae te vra nie. Sy is bereid om in die psige van mense te delf en te kyk na wat trauma aan ’n mens kan doen; hoe dit amper in jou DNS inklim en alles rondskuif totdat jy jouself nie kan herken nie (bladsy 175).

“Die rol van sosiale media en hoe ’n mens se reg op privaatheid verdwyn, is nog ’n belangrike tema in die boek. Roer hierby die aspek van ’n genetiese dobbelsteen wat soms verkeerd val en jy het ’n roman wat baie meer is as net ’n oppervlakkige krimi.

Die verkeerde vrou is by tye erg grieselrig en sekere tonele sal by my bly spook. In ’n stadium is die spanning letterlik en figuurlik op ’n naaldpunt. Die pas bly snel en die dialoog help om alles lewendig te hou.

“Die titel van die roman begin eers baie naby aan die einde sin maak. Wanneer al die legkaartstukke in plek val, voel die leser uitasem en geskok, maar ook verlig omdat alles uiteindelik sin maak. ’n Mens kyk ook dan met nuwe oë na die motto voor in die boek wat Sinéad O’Connor aanhaal: ‘“Crazy” is a word that does some dirty cultural work … it’s also a slippery label that has little to do with how a person’s brain works and everything to do with how she is culturally received. Calling someone crazy is the ultimate silencing technique.’

“Venter se nuutste is nog ’n blitsblaaier by uitstek – met pitkos vir die kieskeurige leser.”

Publikasies:

Publikasie

Skoenlapper

Publikasiedatum

  • 2012
  • 2019 (6de druk)

ISBN

9780798156738 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken

2013-wenner van ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur

Vertalings

  • 2017 Turks
  • 2020 Engels onder die titel Hard rain; vertaal deur Elsa Silke

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Skrapnel

Publikasiedatum

  • 2013
  • 2019 (5de druk)

ISBN

9780798170055 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2014-finalis Huisgenoot Tempo-toekenning vir Letterkunde

Vertalings

2021 Engels onder die titel Man down; vertaal deur Karin Schimke

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Sondebok

Publikasiedatum

  • 2014
  • 2018
  • 2019

ISBN

9780798167383 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Skarlaken

Publikasiedatum

  • 2015
  • 2016

ISBN

9780798178020 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2016-kortlys vir ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur

Vertalings

2022 Engels onder die titel Red tide

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Sirkus

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780798174411 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2018-kortlys vir ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur

Vertalings

2018 Engels onder die titel Circus; vertaal deur Karin Schimke

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Sondag

Publikasiedatum

2018

ISBN

97807981 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2019-kortlys vir ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur

Vertalings

2018 Engels onder die titel Blue Sunday; vertaal deur Karin Schimke

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Sewe-en-veertig

Publikasiedatum

  • 2019
  • 2019 (2de druk)

ISBN

9780798178242 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2020-kortlys vir ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Minder as niks

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780624092292 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die verkeerde vrou

Publikasiedatum

2022

ISBN

9780624093213 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2022 Woordtrofee vir topverkoper: fiksie
  • 2023 wenner ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Artikels oor Irma Venter:

Artikels deur Irma Venter:

Irma Venter se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2022-08-11 gepubliseer.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
  • My dank aan die skrywer vir haar hulp met die opstel van die Skrywersalbum

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top