Irma Venter: Sondag – uitgegee deur NB Uitgewers
’n Resensie deur Riette Rust, uitgesaai in Boekkeuse op Fine Music Radio onder leiding van Amanda Botha
Reeds met haar eerste roman, Skoenlapper, het kenners voorspel dat Irma Venter een van ons groot spanningskrywers sou word. Noudat haar nuwe roman, Sondag, in haar sg S-reeks verskyn het, blyk dié voorspelling waar te wees.
Sondag is ’n boeiende misdaadroman, of meer korrek: ’n polisiedrama van formaat, en tog minder verwikkeld as Venter se vorige romans.
’n Gesinstragedie wat by Stables Estate in Pretoria-Oos afspeel, herinner aan die werklike Van Breda-moorde wat by Kleine Zalze op Stellenbosch gepleeg is.
In Sondag is Lafras van Zyl, ’n bekende sakeman, in ’n koma ná ’n inbraak, terwyl die res van die gesin verdwyn het. Sy seun Willem word met suspisie bejeën, terwyl sy dogter Maria, wat haarself Cath noem, se bekommerde ma ’n kamera in haar kamer laat aanbring.
Die leser wonder waarskynlik die meeste oor die ma-figuur. Katerien is ’n vryduiker met ’n Amerikaanse paspoort. Sy word reeds ses weke lank vermis. Terselfdertyd is die joernalis Alex Derksen en die fotograaf Ranna Abramson op die spoor van Martina Buitendag, ’n 17-jarige van Stilfontein. Sy het weer uit Johannesburg verdwyn. Die enigste leidraad is ’n tas met R20 000 kontant in, asook enkele foto’s.
Indien jy Venter se vorige romans gelees het, sal jy gou tuis voel tussen bekende karakters, soos kaptein AJ Williams uit Sondebok, en die joernalis Alex Derksen uit Skoenlapper. Ranna Abramson (alias Frankie Beekman), die fotograaf, word steeds saam met Derksen wakker. Sy gaan versigtig met die lewe om omdat sy steeds – dog verkeerdelik – met verskeie moorde verbind word. Alex en Ranna probeer die gebeure op die landgoed as ’n goeie nuusstorie oopvlek. Wat het van Katerien geword en waar is haar kinders? Sarah Fourie, ’n vurige kuberkraker, werk nagte deur op soek na antwoorde.
Soos die titel Sondag suggereer, handhaaf die roman ’n rustiger pas. Dis ’n lekkerleesverhaal, maar allesbehalwe vervelig.
Die fokus is op polisiebedrywighede, waaronder ondervraging en forensiese ondersoeke. Wat sou ’n misdaadstorie gewees het sonder ’n sug na geld, ’n seksklub en mensehandel?
Die vroulike karakters is sterk en nie bang om ’n rewolwer te hanteer nie, terwyl die antagoniste meestal mans is.
Venter se taalgebruik is sonder fieterjasies, tog is beskrywings in die kol. Sy skryf byvoorbeeld tannie Driekie se Afrikaans is “so droog en afgeskuur soos haar stem. Klink of sy van die Noord-Kaap of Namibië kom.”
Die verhaal word vanuit die eerstepersoonsperspektief vertel. Kaptein Williams en die joernalis Derksen deel hul belewenisse op dié manier, terwyl Cath se perspektief tussendeur voorkom. Die wisselende ek-vertellers laat die spanningslyn styf trek, veral wanneer mens besef dat Cath aangehou word, met ’n beperkte kos- en watervoorraad.
Venter se navorsing is deeglik en die feite betowerend. Ook wat algemene inligting betref. Nie alle lesers weet waarskynlik dat ’n motor die veiligste plek in ’n swaar Hoëveldstorm is nie.
Die milieu skep die perfekte ambience. Soos hier waar Venter skryf: “Die straat se bome dra die letsels van die buurt se vooruitgang, as mens dit so kan noem. Die jakarandas wat altyd so dig was, staan uitgedun, vermink, tot op die been gesnoei.”
Humor sorg regdeur vir die nodige speserye.
Ná meer as 400 bladsye smelt die hoofverhaallyne en afdraaipaaie netjies saam. Die roman se afloop neem ’n onverwagse wending.
Jy hoef nie voorheen ’n Venter-roman te gelees het nie; Sondag is ’n verhaal wat op sy eie sin maak. Dis trouens ’n boeiende blitsblaaier wat ek heelhartig aanbeveel.
Kommentaar
Soos haar ander boeke. Skitterend.
Aweeeee