Die verkeerde vrou
Irma Venter
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624093213
“[D]ie beeld wat mens na buite uitstraal as jy bekend is, is amper nooit die regte een nie. Dis ’n fasade, saamgestel uit selektiewe waarhede wat as ’n somtotaal aangebied word. Dis nie noodwendig ’n leuen nie, dit ignoreer net die meer ongemaklike waarhede …” (27)
Liela Oloffson is beeldskoon, beroemd en word alom bewonder as aktrise en filantroop. Sy is ook vermis. Na ’n argument met haar verloofde het sy in haar motor geklim en by ’n winkel stilgehou, waar sy kleinighede gekoop het net voor sy in die niet verdwyn het. Vrou-alleen op ’n Vrydagaand in Johannesburg laat misdaadklokke lui, maar die bloed aan haar nek ten tye van haar laaste sien in die winkel krap dié andersins aanvaarbare verklaring deurmekaar en wys veroordelende vingers na haar verloofde.
Ami Prinsloo is ’n misdaadjoernalis. Maar sy is ook die produk van haar verlede. Sy was eenmaal ’n legendariese Olimpiese swemmer. Die donker tyd wat haar loopbaan beëindig het, is ook nie haar enigste Achilles-hiel nie; die moord op haar jonger suster, Leen, jare gelede gooi steeds ’n skaduwee oor haar lewe. Veral omdat die moordenaar se hofsaak eersdaags begin. Sy benodig fokus, iets wat haar aandag sal behou en terselfdertyd haar loopbaan sal bevorder, en daarom aanvaar sy die aanbod vir ’n simbiotiese verhouding met die SAP-ondersoeker na Liela se verdwyning: In ruil vir inligting publiseer sy aanlyn berigte wat hopelik van hulp met die soektog kan wees.
Ami se weersin in passiwiteit en haar joernalistieke nuuskierigheid weerhou haar egter van onbetrokkenheid. Met haar 1,8 meter lange lyf, nommer 9-stewels en haar geliefde Triumph-motorfiets betrek sy die leser by ’n mallemeulerit deur Johannesburg: van gesprekke met getuies en familielede, die oopkrap van die verlede, nog ’n vermiste persoon, drie lyke en CCTV tot ’n verlate huis, die stille bewaker van ’n gruwelike geheim.
Die joernalis as ondersoeker in misdaad- en spanningsfiksie is nie ’n ongewone verskynsel nie en het die internasionale mark met mening getref tydens die destydse verskyning van Stieg Larsson se Millennium-trilogie. Mikael Blomkvist se vaardighede as ondersoekende joernalis het aan hom kultusstatus as fiksieheld verskaf. Die eienskappe wat sinoniem is met ’n waardige joernalis – inherente nuuskierigheid; die gawe om inligting uit onwillige bronne te trek; toegang tot anonieme informante; en die bevraagtekening van beweerde feite – dra by tot die geloofwaardigheid en motivering van die protagonis. Ook in modern Afrikaanse fiksie is dit nie ’n seldsame tegniek nie – Venter se eerste romans het ’n joernalis, Alex Derksen, as hoofkarakter en die onlangse Buit deur Dibi Breytenbach (Kwela 2022) het Phoebe Maritz.
Ami is ’n volronde karakter wat beurtelings bewondering, empatie en ongeloof by die leser ontlok. As selferkende adrenalienverslaafde waag sy kanse wat die gemiddelde mens nie eers sal oorweeg nie en reageer dikwels impulsief, sonder behoorlike oorweging van die moontlike gevolge, soos om die uitdaging vir ’n motorfietsjaagtog deur spitsverkeer te aanvaar; oor mure te klouter en alleen in ’n onbewoonde huis rond te snuffel. Sy is egter ook beredeneerd – parkeer doelbewus agter ’n polisiemotor om ’n verskoning te hê om na bewysstukke te loer wanneer sy, onafwendbaar, gevra word om haar motorfiets te verskuif – en is ’n uiters fyn waarnemer met ’n oog vir besonderhede wat oplet dat iemand se hare “onlangs kort geskeer (is) en (dat) songebrande rooi ore verklap dat sy vel nog nie gewoond is aan die verandering nie” (89); wat “fyn plooitjies” om ’n mond raaksien as getuienis van ’n “jarelange rookgewoonte” (54–5)”; en wat ’n getuie kan beskryf as ’n “middeljarige man met ’n teleurgestelde mond en ’n dun, bleek, geplooide nek” (113).
Haar verhoudings met medekarakters, veral haar susters, die georganiseerde Beth en die kunstige Ginny, en Geo, die “swembadman”, dra by tot die skepping van ’n realistiese en oortuigende karakter. Relevante en eietydse situasies wat subtiel by die teks ingesluit word – soos die etiese dilemma aangaande vergoeding in ruil vir inligting; om iemand se spore deur sosiale media te volg; die tragiese waarheid dat alle menselewens nie gelykwaardige sosiale gewig dra nie; die publiek se antagonisme en agterdog teenoor joernaliste; en selfs die verdwyning van die gewilde Chocolate Log- sjokolade, verleen addisionele tekstuur en outensiteit aan die roman.
Ami se betrokkenheid by die ondersoek na haar suster se moordenaar, en haar eie lewensverhaal, wat deur middel van terugflitse geopenbaar word, word volledig in Venter se vorige roman, Minder as niks (Tafelberg 2021) weergegee, maar die lees van laasgenoemde is geensins ’n voorvereiste hier nie. Haar ondersoek na die “balletmoordenaar” was wel meer persoonlik as haar soektog na Liela, maar dit is nietemin eweneens die verhaal van diep betrokkenheid: “Stories oor mense wat verdwyn, is anders as om ’n rooftog of huisbraak te dek. Daardie misdade gebeur en is verby. Vermiste mense trek jou in en maak van jou ’n deelnemer, of jy dit wil hê of nie” (255).
’n Bonus is die insluiting van die enigmatiese kuberkraker Sarah Fourie, die rooikop wat reeds diep in Venter se lesers se harte gekruip het. Sy is so aweregs en ondiplomaties, maar ook so briljant en vermaaklik soos Larsson se Lisbeth Salander, en voeg ongetwyfeld volume tot Ami se klankbaan by.
Die roman is verdeel in nege dele wat elkeen ’n spesifieke dag, ’n letterlike 24-uur-siklus, verteenwoordig. Die opening is die Maandag na Liela se verdwyning, gevolg deur die daaropvolgende dae tot die Sondag. Die uiteindelike afloop is vervat in kort hoofstukke, naamlik die daaropvolgende Dinsdag en Saterdag. Die afgebakende tydsverloop verhoog die spanningslyn in ooreenstemming met die aanskuif van die horlosie se wysters; die karakters se toenemende spanning en vermoeienis word sodoende lineêr aan die leser oorgedra.
Die slottonele en ontknoping het my soos ’n fratsgolf getref. Dit bekruip jou ongemerk, slaan jou voete onder jou uit en spoeg jou, snakkend na jou asem, op die spreekwoordelike strand uit. Die gepastheid van die titel en die relevantheid van die woorde op bladsy 175 kom ook dan tot hulle volle reg: “En ek weet wat trauma aan ’n mens kan doen. Dat dit jou heeltemal verander. Dis asof dit in jou DNS inklim en alles rondskuif, totdat jy jouself kwalik kan herken.”
Die verkeerde vrou is ’n aanwins vir die spanningsgenre in Afrikaans en messel die naam van Ami Prinsloo stewig in die annale vas.